Totale bladsykyke

Vrydag 25 November 2016

Afrikaansontmagtiging en moraliteit

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR

Afrikaansontmagtiging en moraliteit[1]
Willem J. Botha – taalkundige: semantikus (emeritusprofessor – RAU/UJ) E-posadres: wjb03@telkomsa.net
1.     Inleiding
“Ons is gebind / aan die lot in die stink kloaak van hierdie Ryk, / en die vuil van hierdie tyd spoel oor ons almal.” 
Dit is woorde deur keiser Tiberius (in die drama Germanicus, deur N.P. van Wyk Louw) gebruik, verwysend na die immorele tyd en omstandighede waarin hy vereensaamde slagoffer word op grond van sy eie immorele dade. Binne baie kontekste mag hierdie woorde waar wees ten opsigte van bepaalde tyd-ruimtelike omstandighede. In die huidige Suid-Afrika word baie ooreenkomstige verwyte gehoor ten opsigte van die toedrag van sake tans – maar soortgelyk ook verwyte ten opsigte van die vorige Suid-Afrikaanse bedeling. Op grond van bepaalde ideologiese beskouings was en is die lot van Afrikaans heg verweef met die morele vergrype van die verlede (Afrikaans as sogenaamde apartheidstaal) en die hede (Afrikaans as sogenaamde obstruksie vir tansformasie). 
Die Suid-Afrikaanse Grondwet (1996) is onder andere geskryf om immoraliteite van die verlede te besweer deur bepaalde regstellende meganismes daarin te inkorporeer. Afrikaans het nie onaangeraak gebly nie!
Soos in enige gemeenskap was daar ook geïnstitusionaliseerde en nie-geïnstitusionaliseerde simbole wat ’n bepaalde bindingskrag ten opsigte van die gemeenskap en sekere sektore van die gemeenskap gehad het. Die belangrikste geïnstitusionaliseerde simbole is vervang, ander het gebly – en nog ander het gebly en is gestigmatiseer. Afrikaner[2] en Afrikaans is onder andere van dié simbole wat (afgeskaal) gebly het en gestigmatiseer is op grond van ’n negatiewe moraliteit[3] wat daaraan toegeskryf is – sowel van binne as buite die gemeenskap wat tradisioneel as die Afrikanergemeenskap (vanuit bepaalde gesigspunte) bekendgestaan het. Die betekenis en rol van die Afrikaner is sistematies afgeskaal (ook as gevolg van die Afrikanerdiaspora) – maar bowenal het die afskaling van Afrikaans as hoëfunksietaal drasties en dramaties plaasgevind (tans teen ’n ongekende tempo) en meestal op grond van eksplisiete of implisiete oordeelvellinge met betrekking tot die morele status daarvan.
Wat moontlik tot sodanige afskaling kan/kon bydra, het onder andere ook te doen (gehad) met besluitnemers (oor die status van Afrikaans) se opvattings oor die aard van (die Afrikaanse) taal. 
’n Taamlik algemene opvatting wil dit hê dat taal slegs ’n kommunikasiemedium is. Verder van die waarheid kan ’n mens kwalik wees. 
Taal is óók ’n kommunikasiemedium, maar taal is baie meer as dit: taal ontwikkel en struktureer kognisie (begrip); taal bind kultuur, sosiale samesyn, identiteit en nog talle ander aspekte van ’n bepaalde taalgemeenskap saam (óf verdeel dit somtyds); taal is geïntegreer in emosionele en wilsgedrag; taal onthul en taal verbloem; taal bring dade tot stand, maar ’n taaluitdrukking is self ook ’n daad; taal is simbolies maar ook ’n simbool; en so sou ’n mens kon voortgaan om nog baie funksies van die komplekse verskynsel “taal” te beskryf.
Teen die voorgaande agtergrond word hierdie betoog gewy aan die ontmagtiging van Afrikaans as hoëfunksietaal in die verlede en toenemend tans op grond van onder andere bepaalde moraliteitsbeskouings.
2.     Betekenisse van die woord Afrikaans
Natuurlik is Afrikaans óók dit wat alles hier bo genoem is. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die woord Afrikaans binne verskillende kontekste heelwat verskillende betekenisonderskeidings oproep – soos dit ook die geval is met woorde vir die benoeming van ander tale en ander sake. 
Verskillende gebruikskontekste bepaal of die betekenis van die woord veralgemeen word, gespesifiseer word, gemetaforiseer of gemetonimiseer word – normale taalkreatiewe prosesse. In sodanige gevalle staan die sentrale (prototipiese) betekenis van die woord in die sentrum en die ander gebruiksbetekenisse vorm ’n betekenisnetwerk daar rondom heen – ook genoem ’n radiale netwerk. Die konteks van gebruik bepaal die betekenisonderskeiding(s) wat geaktiveer word.
Die woord Afrikaans het nie ’n konkrete referent (saak) waarna dit in die reëele wêreld verwys nie. As (ontologiese) metafoor (Afrikaans is ’n entiteit[4]) kan dit beskryf word as ’n abstraksie wat dui op ’n versameling abstrakte grammatikale, betekenis- en ander strukture wat taalgebruikers in staat stel om sinvol betekenis te skep, oor te dra en te verstaan – ’n taal wat uit sewentiende-eeuse Nederlands en onder invloed van ander tale in Suid-Afrika ontstaan en ontwikkel het. Dit sou as die sentrale (prototipiese) betekenis van die woord beskryf kon word. Die volgende gebruiksvoorbeelde uit die Beeld-argief dui op sodanige betekenisonderskeiding:
·       “Afrikaans [ENTITEIT] in visier op transformasieberaad”
·       “Verwarring het vandeesweek ontstaan oor die lot van Afrikaans [ENTITEIT] by die US”
Op ’n diepliggende kognitiewe vlak word die taalgebruiker in staat gestel om ’n verskeidenheid taalmetafore te skep wat gebaseer is op enkele begripsmetafore (konseptuele metafore) en begripsubmetafore.
Vergelyk onder andere hoedat die volgende taalmetafore (voorbeelde ook uit Beeld-argief versamel) onderlê word deur die begripsmetafoor Afrikaans is ’n lewende entiteit, tot stand gekom teen die agtergrond van die prekonseptuele skematiese ervaring van ‘krag’/‘beweging’:
·       “Afrikaans mag nie die slagoffer van verkiesingspolitiek word nie …”
·       “Nog ’n begrafnisbrief vir Afrikaans”
·       “(D)at Afrikaans sonder sy gekleurde sprekers nie sal oorleef nie …”
·       “(O)m Afrikaans die doodsteek te gee …”
·       “Afrikaans kry ’n skop in die tande
Oorvereenvoudig kan dit soos volg voorgestel word:
Diagram 1. Denke en taal
Onbewuste betekenisprosessering:
geskied binne kognitiewe onbewuste
Taaluitdrukking van betekenis:
bewustelike proses       
Fase 1
Fase 2
Fase 3
Skema:
'krag' / 'beweging'[5] >
Begripsvorming:
Afrikaans is ’n (lewende) entiteit >
Taaluitdrukkings:
“Nog ’n begrafnisbrief vir Afrikaans”;
“Afrikaans kry ’n skop in die tande; ens.
3.     Afrikaans as simbool
Heg verweef met die betekenisverruiming of betekenisinperking van ’n woord – máár nie gekonvensionaliseer soos in die geval van die voorgenoemde betekenisonderskeidings nie – is die gebruiksfunksies van die woord(e): esteties, informatief, faties – en vir hierdie bespreking affektief en direktief.
Die affektiewe funksie van woorde (dikwels ook die assosiatiewe funksie genoem) dui daarop dat woorde se betekenisse “gelaai” word met inligting wat nie verwant is aan die konvensionele betekenisonderskeidings (woordeboekbetekenisse) van die betrokke woorde nie, maar wat bepaalde houdings van die gebruiker van die woorde weerspieël. In hierdie opsig hou dit direk verband met die direktiewe funksie van taal, naamlik beïnvloeding van die toekomstige gedrag van diegene tot wie die bepaalde taaluitdrukking(s) gerig word om hulle dienooreenkomstig die betrokke taalgebruiker se houdings, vooroordele, emosie ensovoorts te rig. Die proses van affektiewe lading kan met ’n maansverduistering vergelyk word. In bepaalde gevalle – na gelang van die individu of groep se ervaringsraam (wat onder andere ideologie, godsdiens, kultuur, emosie, vooroordeel en binne hierdie konteks Afrikaansverwante ervarings insluit) – kan die sentrale betekenis van die woord gedeeltelik of algeheel verduister word, waar in laasgenoemde geval net ’n skynsel van die sentrale betekenis nog sigbaar mag wees. Sodanige verduistering van die sentrale betekenis van die betrokke woord (eintlik die begrip) kan daartoe bydra dat die betrokke woord (begrip) uiteindelik die status van ’n simbool verwerf: meer sentrale betekenis, minder affektiewe betekenis; meer affektiewe betekenis, minder sentrale betekenis – en binne bepaalde (veral ideologiese) kontekste uiteindelik simboolstatus; en die emosionele en morele begronding van ’n simbool (vanuit ’n bepaalde ideologiese raamwerk) maak ’n rasionele gesprek daaroor uiters moeilik. Die semantikus Geoffrey Leech (1974:52/53) beskryf dit so: “(T)he greatest dangers to intelligent communication come with cases where the affective meaning becomes a major part of, if not the whole of, the message.”
In gevalle waar Afrikaans negatief bejeën word, kom die simboolwaarde daarvan onder andere tot stand – en word in stand gehou – deur die woord (begrip) te stigmatiseer deur onder meer na Afrikaans te verwys as apartheidstaalverdrukkerstaaluitsluitingstaal en nog vele andere. Binne die huidige Suid-Afrikaanse samelewing (2016) sou dit dus nie vergesog wees nie om te beweer dat die aanslag vanuit bepaalde oorde teen Afrikaans – ook implisiet – onder andere (soms uitsluitlik) gerig word teen Afrikaans as simbool. Vanuit ’n bepaalde perspektief word ’n negatiewe simboolwaarde aan Afrikaans toegeken deur die abstraksie Afrikaans te personifieer (’n metafoor) as ’n dader (doener), en in die lig van beskuldigings teen Afrikaans wel ’n immorele dader. Houdings, vooroordele en emosies word dan assosiatief deel van die affektiewe betekenis van die woord – in so ’n mate dat dit die sentrale betekenis van die woord heeltemal verbleek. Verder aan in hierdie betoog word die morele implikasies daarvan uitgespel. 
Omgekeerd het die woord Afrikaans vir ander ’n positiewe emosionele betekenisinhoud en ook simboolstatus. Giliomee (2004:329) se verwysing na D.F. Malan wat in 1925, na die verheffing van Afrikaans tot die status van ampstaal, verklaar het dat Afrikaans die “simbool … van die volk, van sy bestaan (is)” bevestig ’n historiese simboolwaarde wat Afrikaans vanuit die staanspoor gehad het. Die verband tussen simbool en emosie word ook onderskryf deur Malan se woorde na die statusverhoging van Afrikaans tot amptelike taal, naamlik dat dit “beteken ’n voldoening aan die diepste gevoelens en hoogste aspirasies”, soos aangehaal deur Giliomee (2004:329).
Vir wie is die betrokke simboolstatus reg? Vir wie is dit verkeerd? Vir wie is dit goed? Vir wie is dit sleg? 
Die morele basis van sodanige simbole is dus uiteenlopend en kompleks. Rasionele argumente ter beslegting van die teenstrydige emosionele belewenisse van ’n bepaalde simbool is uiters moeilik. Oor sodanige emosionele aanslag sê Leech (1974:50): “We only have a certain feeling that we are being called upon to respond emotionally, a feeling that may be difficult to put into words, and which may be even more difficult to counteract by argument.”   
Alhoewel die neurowetenskaplike, Antonio Damasio (1994:xxii), die problematiek van rasionele versus emosionele ‘argumente’ erken (“emotions and feelings can cause havoc in the processes of reasoning under certain circumstances”), is hy van mening dat “emotions and feelings may not be intruders in the bastion of reason at all: it may be enmeshed in its networks: for worse and for better”. Hiermee wil Damasio beklemtoon dat emosie en rasionaliteit nie as afsonderlike komponente binne die menslike psige bestaan nie. Dit beteken egter ook dat rasionaliteit (óf irrasionaliteit) en emosie in relatiewe verhouding tot mekaar staan (of met mekaar geïntegreer is), én dat dit van persoon tot persoon en van groep tot groep verskil – óók wat hulle (morele/immorele) belewenisse en strategieë betref.
4.     Afrikaansontmagtiging
Tans bevind Afrikaans hom in die sentrum van besluitneming wat hom gestroop laat van funksies wat voorheen as vanselfsprekend gegeld het. Afrikaans word ontmagtig – én die moedertaalsprekers van Afrikaans word ontmagtig!
    Ontmagtiging dui hier op die doelbewuste (geïnstitusionaliseerde) afskaling van die kollektiewe en individuele gebruiksfunksies van Afrikaans binne verskillende taalomgewings – taalomgewings waarbinne Afrikaans voorheen dominante status gehad het, maar óók taalomgewings waarbinne Afrikaans gelyke status met Engels gehad het. Sodanige ontmagtiging vind op twee vlakke plaas. Eerstens word Afrikaans (as abstraksie) ingeperk met betrekking tot die hoër funksies van gebruik en ontwikkeling, dít wat Afrikaans onder andere akademiese taal, wetenskapstaal, regstaal, kanseltaal, tegnologietaal (vergelyk maar Microsoft se erkenning van Afrikaans binne Microsoft-programmatuur) en nog vele ander gemaak het. Om ’n metafoor te gebruik, sou ’n mens kon sê: ’n Lewende taal word sy suurstof ontneem! In die tweede plek word moedertaalsprekers van Afrikaans as moedertaal-individue binne sodanige omgewings (die realiteitsvlak) ontmagtig om Afrikaans te ervaar en te gebruik. Soos reeds genoem, is Damasio van oordeel dat daar ’n intrinsieke integrerende verhouding tussen rasionaliteit en emosie bestaan. Moedertaalontmagtiging impliseer dus dat (van die) moedertaalsprekers[6] se emosioneel-rasionele ontwikkeling binne gevestigde ontwikkelde emosioneel-kognitiewe strukture ingeperk word.  
Enige doelbewuste besluit oor die status van ’n bepaalde taal sny dus diep in die wese van taal as abstraksie (veral óók wat sy voortgesette ontwikkeling betref), maar ook in die wese (en ontwikkeling) van menige individuele moedertaalspreker van daardie taal. Maar besluite oor taal is in die verlede geneem, word tans geneem en sal in die toekoms ook geneem word. 
Besluitnemers se dilemmas is veelvuldig:
·     Besluit ons op grond daarvan dat Afrikaans (as abstraksie) se formele (hoër) gebruiksfunksies sodanig gekwyn het (met die veronderstelling dat Engels tog maar die verstektaal in Suid-Afrika is) dat ons die formele gebruik daarvan binne ’n bepaalde omgewing kan afskaal, uiteindelik totaal reduseer? Watter morele implikasies hou dit in?
·     Besluit ons oor Afrikaans se status op grond van die negatiewe of positiewe simboolwaarde wat daaraan geheg word? Wat is die morele implikasies van so ’n besluit?
·     Wie se ‘waarheid’ oor die ervaring van Afrikaans aanvaar ons as die basis van ons besluit, en met watter morele gevolge – óf word die taalbepaling binne die Suid-Afrikaanse Grondwet as ‘dié waarheid’ aanvaar, met die stipulasie “redelikerwys doenlik” (met verwysing na onderrigmedium van keuse) as morele skuiwergat?
Werklikheidskwessies ten opsigte van Afrikaans waarmee besluitnemers ook moet rekening hou, is van die sake wat reeds in die openbare domein gedebatteer is en word, sake wat morele implikasies inhou. Enkele sake word genoem. 
Indien dit ’n natuurlike verdringing van Afrikaans deur Engels was, iets wat juis geïnstigeer kan word deur doelbewuste ontmagtiging van Afrikaans, sou die moraliteit van ontmagtiging nie so duidelik in die kollig gestaan het nie. Dan sou die moraliteit van statistiese regverdiging beredeneer moes word. Hierdie bespreking word nie daaraan gewy nie.
As moralitieitskwessie het die saak egter ook ’n ander kant. Argumente ter regverdiging van Afrikaansontmagtiging hou in dat Afrikaans mense uitsluit; Afrikaans word dus as ’n obstruksie (blokkasie) beskou, ’n opvatting wat toenemend veld wen. 
Aansluitend by bogenoemde argument word toenemend geredeneer dat Afrikaans in die pad van transformasie staan. Dit is dus ook nodig om binne hierdie konteks aandag aan die begrip ‘transformasie’ te skenk. Dit word verder aan gedoen.
’n Verdere argument word gevoer (binne byvoorbeeld die tersiêre sfeer) dat moedertaalsprekers van Afrikatale Engels as onderrigtaal kognitief uitdagend vind en dit dus net regverdig sal wees dat Afrikaans-moedertaalsprekers dieselfde uitdaging gebied word. Engels-moedertaalsprekers word dan geag neutraal te wees binne hierdie morele spanningsveld. 
Die moraliteitskwessie word verder gekompliseer indien die kunsmatige spanning wat tussen Afrikaans en Engels geskep word, geweeg word teen die werklike “amptelikheid” van die ander Afrikatale. Hierdie saak sal ook nie verder bespreek word nie.
Moraliteitskompromisse is natuurlik ook moontlik. Binne hoër onderwys vergestalt tolking byvoorbeeld sodanige kompromis. Dit impliseer dat ’n bepaalde individu of groep die handeling as nie-reg en nie-goed, óf reg maar nie goed nie, óf goed maar nie reg nie ervaar, maar ter wille van versoening of ordelike funksionering en gedeelde doelwitte die ervaring daarvan versag. Uiteraard sal emosie hier in gedrang kom, dikwels die krag wat die moraliteitspendulum in beweging hou.
5.     Moraliteit en ontmagtiging
Uit die voorgaande uiteensetting blyk dit dat die begripskonfigurasie ‘moraliteit’ ’n paar dinge impliseer: die daad (om Afrikaans se status en gebruik af te skaal) word as reg óf verkeerd, goed óf sleg beoordeel; die nie-daad (om die status quo ten opsigte van Afrikaans en Engels te handhaaf) word as reg óf verkeerd, goed óf sleg beoordeel; die beoordeling vind plaas op grond van verskillende individue of groepe se agtergrondbeskouings wat onder andere berus op unieke of gedeelde ervarings. Binne die kognitiewe taalkunde staan hierdie kennisnetwerk bekend as ’n konseptuele raam (begripsraam) wat verskillende ervaringsdomeine met mekaar skakel wanneer ’n bepaalde begrip eksplisiet (by wyse van ’n bepaalde taaluitdrukking) of implisiet ervaar word. Die ervaringsdomeine mag feite, halwe waarhede, mites, kulturele waardes en norme – en nog meer – insluit. Dit sluit nou aan by die individu of groep se belewenis van relatiewe waarheid – wat reeds in die voorgaande betoog genoem is en nie hier in besonderehde bespreek kan word nie. Hier kan net genoem word dat wat waarheid (feitelikheid) betref, minstens drie vlakke van waarheid onderskei kan word, naamlik:
·      universele waarheid, byvoorbeeld Die aarde wentel om die son – vir alle bekende plekke en tye waar, terwyl die ontkenning daarvan vir alle bekende plekke en tye vals is;
·       objektiewe waarheid, byvoorbeeld Die son skyn vandag of Die son skyn nie vandag nie – waar of vals na gelang van die tyd- en plekomstandighede;
·    etiese oordeel, dikwels as kategoriese waarheid aangebied ten spyte daarvan dat die waarheid daarvan moeilik objektief verifieerbaar is, byvoorbeeld Afrikaans staan in die pad van transformasie.
    Die bespreking geskied verder met inagnemeing van wat Lakoff en Johnson (1999:3) as die drie belangrikste onlangse ontdekkings van die kognitiewe wetenskap beskou, naamlik: “The mind is inherently embodied. Thought is mostly unconscious. Abstract concepts are largely metaphorical.”
Teen hierdie agtergrond word moraliteit primêr gesien as die bevordering van menslike welstand, veral dié van ander. Daarom is dit nie vreemd nie dat sogenaamde “folk-theories” – binne hierdie konteks die fenomenologiese vlak van waarheidservaring – ten opsigte waarvan menslike welstand beoordeel word, as die begronding van morele metafore geld. In ooreenstemming hiermee is een van die mees basiese begripsmetafore op grond waarvan moraliteit verstaan word, die sogenaamde “moral accounting”-metafoor – waarvan die taalmetafoor “morele bankrotskap” onder andere getuig.
Die beliggaamde oorsprong van hierdie metafoor is nie moeilik agterhaalbaar nie. Daar is vroeër daarop gewys dat beeldskematiese strukture ’n verbeeldingstruktuur onderlê wat begripsvorming moontlik maak – vóórdat dit ’n taaluitdrukking word. Vergelyk byvoorbeeld hoedat die volgende uitdrukkings almal verstaan word in ooreenstemming met ’n ewewigsverhouding, geskoei op die menslike liggaamlike ervaring van balans: “in die reine bring”, “’n geskil besleg”, “skuld vereffen”, “opoffer vir”, “die orde herstel”, “’n daad of optrede vergeld”, “verantwoording doen van”, “verantwoordelik hou vir” en “ongeregtighede regstel”. Kognitief dieperliggend is die “moral accounting”-begripsmetafoor op sodanige ‘ewewig’-beeldskema gebaseer.
Die bogenoemde uitdrukkings is by implikasie die manifestasie van ’n aantal basiese ervaringskemas op grond waarvan die metafoor morele boekhouding (die morele boeke balanseer) verstaan word. Dit is belangrik om hier weer te benadruk dat die begrip metafoor hier nie na taal verwys nie – dit is ’n dieperliggende begripservaring wat deur verskillende taaluitdrukkings gemanifesteer word, soos wat dit byvoorbeeld in die voorafgaande paragraaf geïllustreer is.
Lakoff en Johnson (1999:293-298) onderskei onder andere die volgende (intermediêre) skemas wat die betrokke metafoor onderlê: ‘morele wisselwerking’, ‘retribusie/vergelding’, ‘restitusie/herstel’, ‘altruïsme’, ‘die-ander-wang-draai-ervaring’, ‘karma’ en ‘billikheid’. Dit is nie die bedoeling om die bepaalde skemas hier in besonderhede te bespreek nie. Wat egter wel op gewys moet word, is die feit dat morele gedrag, deur watter skema ook al talig gerealiseer in die betekenis van die metafoor die morele boeke balanseer, deur twee beginsels onderlê word (aldus die genoemde outeurs), naamlik:
·     Morele optrede veronderstel die gee van iets met positiewe waarde, terwyl immorele optrede die gee van iets met ’n negatiewe waarde impliseer.
·     Morele optrede vooronderstel dat morele skuld vereffen sal word, terwyl immorele optrede die ontduiking van morele skuld impliseer.
    Die beginsels klink goed, maar moraliteit met betrekking tot die morele-boeke-balanseer-metafoor raak problematies in die geval van negatiewe optrede, soos wanneer retribusie of vergelding ter sprake is. Deur iemand byvoorbeeld te na te kom, plaas die lydende party onder die morele verpligting om dienooreenkomstig negatief teenoor die gewer van die negatiewe handeling op te tree om die “morele boeke te balanseer” – om die morele skuld te vereffen! Tree die lydende party nie sodanig op nie, word hy voor die morele dilemma gestel dat hy die morele skuld nie vereffen het nie. Dit kan natuurlik tot die rekursiwiteit van immoraliteit in die naam van moraliteit lei. Die kompleksiteit van sodanige morele problematiek is treffend in die drama Germanicus (deur N.P. van Wyk Louw) raak te lees. Germanicus word voor die morele keuse gestel om te kies: immorele optrede teenoor Tiberius, terwille van ’n morele verpligting teenoor die volk, óf immorele optrede teenoor die volk (gevolglik moreel teenoor Tiberius) in die naam van moraliteit, om die immoraliteit van verraad te ontduik – in sy eie woorde: “Ek is getrou. Ek is aan trou gewoond” (Germanicus, 1961:9). Germanicus kan immoraliteit nie ontsnap nie. Hy kan die morele boeke nie laat klop nie!
6.     Waarheid, moraliteit en Suid-Afrika
Om die hedendaagse posisie van Afrikaans in perspektief te stel, is dit nodig om dit te weeg teen die historiese en kontemporêre omstandighede in Suid-Afrika.
Die morele situasie in die huidige Suid-Afrika is nie minder kompleks as wat dit die geval was met Germanicus se belewenis van ’n morele krisis nie.
Binne die historiese en hedendaagse kompleksiteit van ’n diverse Suid-Afrikaanse samelewing is daar woorde wat binne hulle betekenisse ’n moraliteitsdimensie “ingebou” het. Vergelyk byvoorbeeld woorde soos waarheidmenslikheidregstellingtransformasiemag, bemagtigontmagtigrassismekolonialisme en ander, woorde waarvan die moraliteitisdimensie in die geval van sommiges ’n noue historiese verbintenis met die gestigmatiseerde woord apartheid het. In sodanige gevalle het ons inderwaarheid nie met woordbetekenis te doen nie, maar met begripsbetekenis, gedagtig daaraan dat begripsbetekenis meer inhou as die konvensionele woordeboekbetekenis van ’n woord. Vergelyk maar hoedat die woord korrupsie binne die Suid-Afrikaanse konteks verskillende begrippe aktiveer – én natuurlik bepaalde moraliteitskemas. Daar is byvoorbeeld al die opmerking gemaak dat die woord korrupsie Westerse opvattings verteenwoordig – maar nie genoem dat die begrip daarvan geweeg moet word teen ’n Westersgeoriënteerde grondwet nie.
Die jaar 1994 en daarna het vir baie Suid-Afrikaners bepaalde waarheidservaringe gebring. Verhale vertel tydens die verrigtinge van die Waarheid-en-versoeningskommissie het die waarheid baie gesigte gegee, veral wat ‘menslikheid’ betref. Soos reeds genoem, hou moraliteit ten nouste verband met die bevordering van menslike welstand, veral dié van ander, dus: menslikheid!
Talle veronderstelde waarheidsverkondigers se geloofwaardigheid het in die gedrang gekom omdat ’n omkeer van die waarheid valsheid impliseer; maar dit het ook ’n agterdog gebring ten opsigte van wat in die toekoms as waarheid mag geld. 
Op ’n ander vlak het nuwe besinning oor waarheid ’n wye spektrum emosionele ervaringe teweeggebring, en gepaard hiermee ’n profilering van wat as reg en verkeerd gegeld het – én wat in die toekoms as reg en verkeerd behoort te geld. In die sentrum hiervan het die beleid van afsonderlikheid gestaan. As ’n moraliteitsopenbarende krag is dit gedra deur die gebruik van die uiters gestigmatiseerde woord apartheid, en bejeën as ’n manifestasie van die omvattender gestigmatiseerde begrip ‘rassisme’. Die praktyk daarvan is oor ’n wye spektrum as immoreel ervaar, beskryf, bely en teengestaan.
    Vir baie vorige ondersteuners van apartheid het die nuwe bedeling die intrinsieke morele spanning tussen wat as reg en goed voorgehou is in verhouding tot ’n inherente gevoel van wat verkeerd en sleg is, opgehef. By ander is die spanning tussen “reg maar nie goed nie” verbreek. Nog ander was verlig dat dit wat as verkeerd en sleg beskou is, uit die weg geruim is. Dit was nie ongewoon om dikwels te hoor dat mense ’n gevoel van morele bevryding na 1994 beleef het nie. En dan was en is daar ook diegene wie se morele sintuig weinig aangeraak is.
  Na 1994 moes baie Suid-Afrikaners met ’n gekneusde waarheidservaring die morele kompas verstel. Die impak wat die beleid van afsonderlikheid op individue se totale menswees gehad het, kan nie geringgeskat word nie. Die huidige opwelling van onrus, geweld, insidente, verwyte, teregwysings en vermanings met rassistiese ondertone verraai ’n rasstempel (“racial imprint”) waarvan baie – oor die hele spektrum – nog nie ontdaan is nie. Dit kan onder andere teruggevoer word na die feit dat die ontwikkeling van rassisme (in die vorm van afsonderlike ontwikkeling) een van die mees basiese ruimtelike ervaringskemas betrek, naamlik in die geval van die Suid-Afrikaanse samelewing die doelbewuste ideologiese objektivering van die ‘proksimiteitskema’. Die skematiese ervaring van nabyheid en verwydering word al heel vroeg in die kind se ontwikkeling van taal gemanifesteer deur nabyheidswoorde en -uitdrukkings soos hier en hierdie X en afstandswoorde en -uitdrukkings soos daar en daardie X. Taylor (1995:134) wys tereg daarop dat die “degree of emotional involvement and the possibility of mutual influence are understood in terms of proximity”. Die beleid van afsonderlikheid het in sy wese die gewaande morele regverdiging vir distansiëring gedra.
7.     Transformasie[7]
In 1996 word Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika aangeneem. In die Aanhef word onder andere gestipuleer dat dit daarop gerig is om “(d)ie verdeeldheid van die verlede te heel en ’n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep”. Die suiwerheid van die morele motiewe wat deur hierdie woorde gedra word, staan bo verdenking.
Om te kan “heel” en te kan “skep”, moet meganismes egter voor gebruik word – en die gebruik van meganismes veronderstel dat iemand of iets as agent van die handeling met behulp van die betrokke meganismes (instrumente) moet optree. En watter beter woord is daar – wat deur sy inhoud die voorgenoemde veronderstellings dra – as transformasie. ’n Ontleding van die betekenisinhoud van die woord transformasie onthul die opeenvolging van die volgende betekeniseienskappe wat in sowel die letterlike as metaforiese gebruik van die woord ’n betekenisgestalt vorm: ’n bron instigeer ’n handeling; die handeling versoorsaak verandering van ’n konkrete of abstrakte objek; ’n entiteit tree as agent van die verandering op; die agent het mag oor instrumente vir verandering; die bron voorsien die instrument van mag; die verandering volg ’n roete; die roete vir verandering geskied vanaf ’n vertrekpunt na ’n bestemming; die verandering kan oor ’n grens geskied – of dit kan ’n hele domein omvat; die verandering word binne ’n bepaalde tydsbestek voltrek; die verandering het ’n nuwe struktuur tot gevolg.
Dit is nie vreemd nie dat die betekeniskompleksiteit van die woord transformasie – veral wat sy metaforiese gebruik betref – talle interpretasies tot gevolg gehad het. Mense se reëele ervaring van die begipsinhoud daarvan het ook talle nuwe metaforiese betekenisinhoude daaraan toegevoeg, soos die volgende aangetekende begripsmetafore (deur taalmetafore vergestalt) byvoorbeeld aandui: transformasie is ’n lewende organisme, … ’n bewegende organisme, … ’n militêre handeling, … ’n beperkende entiteit, … ’n bewegende entiteit, … ’n teenstander, … ’n krag, … ’n allesomvattende handeling, … ’n opofferende aktiwiteit, … ’n voertuig, … ’n geïnstigeerde handeling, … ’n roete, en nog talle ander. 
Die betekeniskompleksitieit van die woord transformasie spruit onder andere uit die betrokke woord se superordinaatstatus binne ’n leksikale betekenisveld. ’n Superordinaat staan in ’n óf…óf-implikasieverhouding tot sy hiponieme[8]. In die onderhawige geval beteken dit transformasie as superordinaat impliseer (vanuit bepaalde beheersende punte) óf regstelling, óf (swartbemagtiging, óf (witontmagtiging, óf …, óf … ensovoorts, ensovoorts as hiponieme binne die kontemporêre Suid-Afrikaanse samelewing. Omgekeerd beteken dit dat talle hiponieme binne die bepaalde politieke en ideologiese werklikheid “gekies” kan word om op grond van ’n eensydige implikasieverhouding die begrip ‘transformasie’ te impliseer en as die woord transformasie benoem te word. Omdat die betekenis van die woord transformasie as superordinaat op ’n hoër en abstrakter (algemener) kognitiewe vlak as die betrokke woord se hiponiembegrippe ervaar word, word die gebruik daarvan semanties “leeg”: hoe meer sake die woord (kan) benoem, hoe minder “beteken” die woord. Daarom juis laat dit as benoeming ’n verskeidenheid hiponimiese begrippe toe, na gelang van watter begrip die spreker ook al mag kies om met die woord transformasie te benoem. Dit is dus nie vreemd nie dat transformasie vir verskillende mense verskillende dinge kan beteken.
Superordinaatgebruik is ’n baie algemene gesprekstrategie wat oor die ganse spektrum van taalgebruik voorkom. Dit stel die spreker in staat om vaag of algemeen te benoem na gelang van die kontekstuele omstandighede – maar as sambreelterm kan ’n spesifieke metaforiese gebruik daarvan binne bepaalde omstandighede kognitief dieper as die hiponiemvlak die prekonseptuele kragbeeldskema ‘kragblokkasie’ aktiveer in die metaforiese taaluitdrukking “Afrikaans staan in die pad van transformasie”. Dienooreenkomstig aktiveer die metaforiese uitdrukking “Afrikaans sluit uit” die (rudimentêre) prekonseptuele kragbeeldskema ‘teenkrag’. Herhaalde en voortdurende gebruik van metafore wat die bepaalde kragskemas aktiveer, bewerkstellig dat die betrokke skemas op die taalbewussynsvlak geobjektiveerde[9] “werklikhede” word. Indien Lakoff en Johnson (1999:3) se beskouing dat “(t)he mind is inherently embodied” – en dat abstrakte denke dienooreenkomstig gerig word – in ag geneem word, volg hieruit dat sodanige uitsprake omgekeerd as ’n feitlik “liggaamlike betekenisbelewenis” ervaar kan word. Taalstrategies is hierdie soort metafore van die kragtigste meganismes wat teen Afrikaans gebruik kan word – ook op grond van die morele gewig wat die begrip ‘transformasie’ binne ’n Suid-Afrikaanse konteks dra.
Aansluitend hierby kan genoem word dat die “liggaamlike betekenisbelewenis” van die betrokke metafoor versterk word deur wat Sweetser (2003:16) gebare-metafore noem: “Examination of language and gesture side-by-side provides strong added support for the cognitive reality of mental space structures. Gesture maps Real Space ... onto mental spaces of expressed content.” Betogings (soms gewelddadig) teen die gebruik van Afrikaans binne bepaalde onderrigsfere – gepaard met die eksplisiete of implisiete taalhandeling(e) van ’n eis – tree kollektief (ongenuanseerd as verruimde gebare-metafore) as die liggaamsmetafoor verset op – onder andere tot stand gekom op grond van die prekonseptuele ervaringskema ‘teenkrag’, ’n subordinaat van die kragbeeldskema. In sodanige gevalle is die aanslag teen Afrikaans drieledig van aard, gedra deur ’n taalmetafoor, ’n liggaamsmetafoor en taalhandelinge! En taalhandelinge (soms gepaard met geweld-liggaamsmetafore) rig diegene tot wie dit gerig is – subtiel of kras – se toekomstige gedrag[10]!         
Alhoewel die letterlike gebruik van die woord transformasie neutraal is ten opsigte van moraliteit, word by implikasie ’n aantal integrerende moralitetsbeginsels binne die Suid-Afrikaanse konteks tot die begripsinhoud daarvan toegevoeg deur onder andere die bogenoemde metaforiese uitbreidings – maar veral ook omdat die woord transformasie moet dien as sambreel vir moraliteitsimpliserende begrippe soos vervat in onder meer ‘regstellende aksie’, ‘swart bemagtiging’, ‘gelyke geleenthede’ en ander (soos reeds genoem) – wat die moraliteit van billikheid as gemeenskaplike onderbou behoort te hê. Daarom word die frase “verbind tot transformasie” beskou as ’n morele verbintenis. Om nie tot transformasie verbind te wees nie, sou dan immoreel wees. Maar transformasie deur wetgewing afgedwing, verander natuurlik die aard van die moraliteitservaring by bepaalde individue en groepe.  
Die kompleksiteit van die billikheidskema wat die begrip ‘transformasie’ onderlê, maak die uitlewing daarvan nie eenvoudig nie – én die toenemende wekroep dat Afrikaans in die pad staan van transformasie (transformasie dus blokkeer) verhef ’n onderliggende ervaringskema tot ’n geobjektiveerde inhoudlose realiteitservaring, dié soort propagandataal wat deur emosie rasionaliteit verswelg. Hierdeur word die begrip ‘transformasie’ die middelpuntvliedende krag, met in die sentrum daarvan die simbool Afrikaans, met ’n menigte pejoratiewe verwysings daaraan vasgedruk – in so ’n mate dat menings, opvattings en vooroordele uiteindelik as objektiewe feite aanvaar word. Dermate kom inleidingsinne soos die volgende al hoe meer dikwels voor wanneer negatiewe simboolwaardes aan die woord Afrikaans gekoppel word: “Soos ons almal weet, het Afrikaans …” – en dan volg die aanklag! Die simbool Afrikaans, die abstraksie Afrikaans – en alle eksponente van Afrikaans – word dus in ’n permanente immorele defensiewe staat geplaas.
Sou’n meer genuanseerde waarheid enigsins sodanige immoraliteitsbeskouing kon versag? In hierdie stadium van Afrikaansaftakeling kan dit moeilik voorsien word, tensy besinning en besluitneming op die billikheidskema gebaseer is. 
8.     Die billikheidskema       
Soos by implikasie genoem, betrek die begrip ‘transforamsie’ die moraliteitskema ‘billikheid’, soos uitgestippel in die Handves van regte binne Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. In subartikel 9(5) word gestipuleer dat “(d)iskriminasie ... onbillik (is), tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is”. Dit laat die weg oop vir “onbillike” praktyke in die naam van billikheid – want wie se oordeel bepaal billikheid? Encarta World English Dictionary beskryf diskriminasie byvoorbeeld onder andere as “UNFAIR treatment of one person or group” terwyl Webster's New World Dictionary & Thesaurus se beskrywing daaarvan die betekenisonderskeiding “onbillikheid” ook noem in die definisie “partiality, or bias, in the treatment of a person or group, which is UNFAIR …” (my uitheffing – WJB). Dit bring mee dat die uitdrukking “billike diskriminasie” eintlik ’n contradictio in terminis is: “’n billike onbillikheidshandeling”. 
’n Verdere probleem wat verband hou met sodanige uitleef van die ‘billikheidskema’ het te doen met die feit dat dit gedra word deur die oordeelsadjektief billik. Die term ‘oordeelsadjektief’ impliseer dat algemene konsensus oor die eienskap wat die betrokke adjektief benoem, nie sonder meer bestaan nie. Wat die begrip ‘billik’ verder kompliseer, hou verband met die feit dat dit geïntegreer is in bepaalde sosiale modelle. Lakoff en Johnson (1999:296/297) wys byvoorbeeld op die verskillende billikheidsmodelle wat teen die agtergrond van die morele-boeke-balanseer-metafoor verstaan word, naamlik: ‘billikheid ten opsigte van gelyke verdeling’, ‘billikheid met betrekking tot geleenthede’; ‘billikheid ten opsigte van prosessuele verdeling’; ‘billikheid gegrond op regte’; ‘billikheid gegrond op behoeftes’; ‘billikheid gegrond op verdienste’; ‘billikheid bepaal deur kontraktuele ooreenkoms’; ‘billikheid ten opsigte van gelyke aanspreeklikheid’; ‘billikheid in ooreenstemming met die graad van verantwoordelikheid geweeg teen die aard van ’n individu se vermoë’; en ‘billikheid ten opsigte van die gelyke verdeling van mag’. Hulle merk tereg op dat “(m)any of our moral disagreements arise from conflicts between two or more of these conceptions of fairness” … en “there is typically no overarching neutral conception of fairness that can resolve the conflict of values”. Die Nederlandse gemeenskap ondervang die billikheidsproblematiek met die beginsel van positiewe diskriminasie (“voorkeursbehandeling van gediscrimineerden”, volgens Van Dale Groot woordenboek der Nederlandse taal). Of dit minder problematies is, is debatteerbaar.
Al die moraliteitsimpliserende begrippe wat deur die inhoud van die begrip ‘transformasie’ gedra word, kan nie hier bespreek word nie. Vir hierdie bespreking verdien kontensieuse aspekte met betrekking tot Afrikaans se status vermelding. Teen die agtergrond van die moraliteitskema ‘billikheid’ word die model van regte tans toegepas op die status van Afrikaans as amptelike en onderrigtaal. Daar is al by verskeie geleenthede die opmerking gemaak dat Afrikaans in die pad van transformasie staan (soos ook hier bo genoem) omdat dit leerlinge en studente hulle reg om in die taal van hulle keuse onderrig te ontvang, skaad. In sodanige kontekste is die behoud van Afrikaans as enkelmedium van onderrig dus by implikasie onbillik en immoreel. Om die morele boeke te balanseer, word daar dus vereis dat Afrikaans se status afgeskaal word. Hier beweeg die ‘billikheidskema’ gevaarlik na aan die ‘vergeldingskema’. Vanuit ’n ander perspektief word dit bejeën as ’n negatiewe handeling ten opsigte van Afrikaans – veral as diegene wat onderrig in Afrikaans ontvang het, en dit so verkies het, uiteindelik onbillik van hierdie reg ontsê word. 
Om Afrikaans se “immorele” status te perpetueer, word daar ook dikwels gewag gemaak van Afrikaans se sogenaamde “ongelukkige verlede”, terwyl etikette soos verdukkerstaal (en ander pejoratiewe benaminge – per definisie immorele handelinge: die gee van iets met negatiewe waarde) ook talryk is. Die feit dat Afrikaans in 1976 deur die toenmalige regering aan leerlinge opgedwing is as medium van onderrig in bepaalde vakke – en dat dit as een van drie redes aangevoer word vir die Soweto-opstand (vergelyk Muller, 1979) – kan moeilik moreel geregverdig word. 
Aangesien hierdie soort immorele praktyke (in die naam van die abstraksie Afrikaans) uit ’n ryk geskiedenis van taalontwikkeling uitgesonder, uitgehef en lewend gehou word, beteken dit enersyds dat Afrikaans se morele status deurgaans verdedig moet word (morele optrede ter wille van Afrikaans: om die morele boeke te balanseer). In hierdie opsig word moraliteit en immoraliteit teenoor mekaar geweeg met argumente soos die volgende:
·     Indien immorele status as ’n fenomenologiese waarheid vir enige taal sou kon geld, hoedanig is die immorele gewig wat aan Afrikaans toegesê word in vergelyking met dié van Europese tale wat kolonialisme in Afrika moes dra?
·    Watter morele regverdiging is daar vir die stigmatiserende etikettering van die kode waaarin ’n moedertaalspreker se eerste gedagtes gevorm is – die kode waarin hy/sy in die eerste plek kognitief bemagtig is?
     Andersyds hou dit in dat Afrikaans stilswyend of luidkeels as “immoreel” aanvaar moet word (om die morele boeke te balanseer) ter vereffening van toegesegde morele skuld. Indien dit nie gebeur nie, word dit dan as ontduiking van morele skuld geag. Vanuit ’n ander perspektief word dít dan weer as immoreel beskou – op grond van die eerste beginsel wat vroeër na aanleiding van Lakoff en Johnson (1999:298) genoem is met betrekking tot die basis van die betrokke metafoor:  immorele optrede deur die gee van iets met ’n negatiewe waarde. Dit spreek vanself dat hier ’n nimmereindigende kettingreaksie kan ontstaan.
     Suid-Afrika het vir ’n tyd lank in die gees van versoening gestaan! 
     Die begrip ‘versoening’ balanseer die morele boeke op grond van die skematiese ervaring ‘morele wisselwerking’: die morele boeke word gebalanseer omdat die gee van iets met positiewe waarde in ewewig gebring word met die ontvang van iets met positiewe waarde – en die ontvang van iets met positiewe waarde word in ewewig gebing met die gee van iets met positiewe waarde.
  Binne ’n land met elf erkénde amptelike tale sou die bevordering van veeltaligheid juis die manifestasie van hierdie skema binne die betrokke metafoor wees. Hierin lê ongelukkig ook ’n klomp angels opgesluit, wat nie binne hierdie bestek in besonderhede beredeneer kan word nie.
    Suid-Afrika het tot in ’n stadium ver gevorder op die pad van versoening – en die Suid-Afrikaanse gemeenskap is dit beny deur bepaalde konflikgeteisterde gemeenskappe wat nog nie tot by die morele-boeke-balanseer-metafoor gekom het nie, veral hulle wat nog nie die boeke kon balanseer ooreenkomstig die skema ‘morele wisselwerking’ nie. Dit kan onder andere toegeskryf word aan die feit dat ’n geglobaliseerde wêreld baie kulture met hulle eie opvattings van die waarheid naas mekaar en teenoor mekaar te staan gebring het. En bedreigings teen wat as waarheid bejeën word, gee meestal aanleiding tot die ontketening van kragte met ’n sterk moraliteitsbasis – en hoe meer fundamentalisties die waarheidservaring, hoe meer ongenuanseerd is die morele skema wat gepaardgaande optrede onderlê. Daarom is negatiewe gebeurtenisse soos die volgende meestal manifestasies van die ‘vergeldingskema’ in ’n poging om die morele boeke te laat klop: terreur van 11 September 2001; die oorlog in Irak; terreuraanvalle in Parys, Brussel en elders; en nog baie meer.
   En nou in Suid-Afrika: geweld – onder andere omdat Afrikaans nog hoegenaamd ’n plekkie op universiteitskampusse het! 
   Oor wat as waarheid beskou word, sal daar nooit eenstemmigheid wees nie – ook nie in Suid-Afrika nie! En daarom het die oorgang na ’n nuwe bedeling hier te lande meestal ook nie in ooreenstemming met die uitlewing van ‘morele wisselwerking’ geskied nie. Vir baie is die morele boeke ook nog nie behoorlik gebalanseer nie – veral nie wat Afrikaans se status betref nie! Daarom sal die uitlewing van die ‘billikheidskema’ met groot omsigtigheid moet geskied, ook wat die ontmagtiging van Afrikaans betref – anders mag dit net wees dat die morele boeke (ook op ander terreine) nooit werklik gaan klop nie!
9.     Slotwoord
Aan die begin van hierdie betoog is daarop gewys dat Afrikaans (soos ander tale) nie slegs ’n kommunikasiemedium is nie. Indien as uitgangspunt geneem word dat Afrikaans slegs kommunikasiemedium is, word die morele implikasies ten opsigte van besluite oor die toekoms van Afrikaans se hoër funksies omseil.
Daar is ook op gewys dat die betekenis van die woord Afrikaans nie eenduidig is nie – én dat ideologies-gedrewe simboliese “betekenis” tot die konvensionele betekenisonderskeidings in die verlede toegevoeg is, op die oomblik toegevoeg word en in die toekoms toegevoeg sal word.
Verder is aangetoon hoedat Afrikaans in die spervuur was en is op grond van die metafoorstatus afrikaans is ’n lewende entiteit – en op grond daarvan is affektiewe konnotasies tot Afrikaans se betekenis toegevoeg. Daarom is Afrikaans om bepaalde redes (ideologies en andersins) negatief verknoop aan die transformerende kragte én magte van ’n veranderende Suid-Afrika. 
Besluite oor die status van Afrikaans se hoër funksies wat reeds geneem is, óf in die proses is om geneem te word, het in die verlede en sal in die toekoms verreikende gevolge vir Afrikaans (as táál en nié noodwendig as simbool nie) inhou. Dit is feitlik vanselfsprekend dat die aard van die besluite ook kritieke implikasies vir die hoërfunksie-ontwikkeling van die ander Afrikatale sal hê. Daarom is sodanige besluite (tans oor Afrikaans as onderrigmedium aan tersiêre inrigtings) vanuit morele oorwegings nie ’n maklike taak nie. Die aard van die kompleksiteit van hierdie dilemma kan weer eens aan die hand van die drama Germanicus geïllustreer word, juis omdat N.P. van Wyk Louw hom in sy dramas (en ook van sy gedigte) bemoei het met die aard van die daad (veral die daad wat taal is) en die morele implikasies daarvan. In dié drama word die intrinsieke spanning tussen die elemente van moraliteit en immoraliteit tot breekpunt gevoer wanneer dit wat reg is nie noodwendig goed is nie, en wat goed is nie noodwendig reg is nie. Dit kulmineer in verskillende opvattings van mens-wees teen die agtergrond van diens aan en instandhouding van die Romeinse Ryk – in Piso se woorde uitgedruk as: “... ‘liefde’, ‘vriendskap’, ‘menslikheid’, dít is jul woorde - nooit meer ‘eer’ en ‘plig’ ...” (Germanicus, 1961:41).
Teen die agtergrond van die gehele voorgaande bespreking behoort daar dus, voordat ingrypende besluite oor Afrikaans se hoëfunksiestatus geneem word, eers antwoorde gevind te word op onder andere die volgende vrae:
·       Word die besluit(e) ten opsigte van Afrikaans geneem op grond van wat ons wéét reg of verkeerd, goed of sleg is, óf wat ons dínk reg of verkeerd, goed of sleg is, óf wat ons gló reg of verkeerd, goed of sleg is, óf wat ons vóél reg of verkeerd, goed of sleg is – of op grond van emosiebelaaide eise, ondersteun deur taalmetafore, konseptuele metafore, liggaamsmetafore en konfronterende taalhandelinge? 
·       Word besluite geneem op grond van simboolwaardes (meestal op grond van ideologiese eise) wat aan Afrikaans toegedig word – óf staan Afrikaans se sentrale betekenis in die sentrum van besluitneming? In laasgenoemde geval sal rekening gehou moet word met die feit dat Afrikaans oor ’n gesofistikeerde moderne grammatika beskik, ’n rykdom aan idiomatiese uitdrukkings het wat net in Afrikaans werklik seggingskrag het, ’n internasionaal-gerespekteerde letterkunde het, oor ’n woordeboekskat beskik wat verskillende terreine van die wetenskap en tegnologie bestryk, oor uitnemende vakliteratuur beskik … en so kan daar voortgegaan word om die bestaansreg van Afrikaans as hoëfunksietaal te beskryf. Met die afskaling en ontmagtiging van Afrikaans sal al hierdie wesenselemente (of metafories gestel: hierdie sielselemente) van Afrikaans stagneer en uiteindelik kwyn – nie onmiddellik nie, maar gestadig. Op grond hiervan behoort hoëronderwysinrigtings hulle dan ook te vergewis van die moontlikheid van ’n paradoksale bestaan: ontsluiting van kennis versus verarming van kennis.
Die belangrikste oorweging wat egter behoort te geld, hou verband met die moraliteitskemas op grond waarvan besluite geneem word: morele wisselwerking, of watter skema ook al. Dan moet ook in gedagte gehou word dat moedertaalsprekers van Afrikaans se besluitneming moontlik deur ander moraliteitskemas gerig sal word as wat dit die geval mag wees ten opsigte van niemoedertaalsprekers as besluitnemers.
Of … speel morele oorwegings hoegenaamd ’n rol? 
Verwysings
Accent Software International. 1998. Webster’s New World Dictionary & Thesaurus (Version 2), Macmillan Publishers: elektroniese uitgawe.
Botha, Willem J. 2002. Die Afrikanerprototipe. In Eep Francken & Ariane van Santen (reds.), Pinguïns en pikkewyne. Leiden, Nederland: SNL (bl. 77 – 95).
Botha, Willem J. 2004. The semantics of transformation. 2004. CD-publikasie – Identity and Creativity in Language Education. Proceedings of the 21st World Congress of the World Federation of Modern Language Associations / Fédération Internationale des Professeurs de Langues Vivantes (FIPLV), 2 – 5 July 2003, RAU, Johannesburg, South Africa. ISBN 0-620-31884-8. Publisher: RAU.
Botha, Willem J. 2007. Linguistic mechanisms of power and force: two case studies. 2007. In Larissa Manerko (ed.), Cognitive Linguistics: New Problems of Cognition, Мocквa (Moskou): Pязaнь, 14 – 20. 
Damasio, Antonio. Descartes’ errorEmotion, Reason and the Human Brain. Londen: Vintage Books.
Geeraerts, Dirk (ed.). Van Dale Groot Woordenboek der Nederlandse taal (version 1.1 Plus). Utrecht: elektroniese uitgawe.
Giliomee, Hermann. Die Afrikaners’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers Beperk.
Lakoff, George & Mark Johnson. 1999. Philosophy in the FleshThe Embodied Mind and Its Challenge to Western Thought. New York: Basic Books.
Leech, Geoffrey. 1974. Semantics. Harmondsworth: Penguin Books Ltd.
Louw, N.P. van Wyk. 1961. Germanicus. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel.
Microsoft. 1999. Encarta World English Dictionary. Seattle: elektroniese uitgawe. 
Muller, C.F.J. (red.) 1979. Vyfhonderd jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis. Logos Library System: elektroniese uitgawe. 
Taylor, John R. 1995. Linguistic CategorizationPrototypes in Linguistic Theory. Oxford: Clarendon Press. Wet 108 van 1996. 
Republiek van Suid-Afrika. 1996. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.
Sweetser, Eve. 2003. Levels of meaning in in speech and gesture: Real space mapped onto epistemic and speech-interactional mental spaces. Keynote lecture, 8th International cognitive linguistics conference: Cognitive Linguistics, Functionalism, Discourse Studies: Common ground and new directions. University of La Rioja, Spain: Logroňo.

18 April 2016 






[1] Van die gedagtes in hierdie artikel uitgespreek, is ook vervat in die ongepubliseerde artikel N.P.van Wyk Louw: krag, mag, moraliteit en die daad – ter insae op die volgende blog: http://www.vanuitdietaalkunde.blogspot.co.za
[2] Vergelyk Botha (2002) vir ’n bespreking van die begrippe ‘Afrikaner’, ‘Afrikanerskap’, ‘Afrikanerdom’ en ‘Afrikanerprototipe’.   
[3] Teen die agtergrond van die kompleksiteit van die begrip ‘moraliteit’ impliseer negatiewe moraliteit iets anders as immoraliteit.
[4] Begripsmetafore word in klein-hoofletters geskryf om dit te onderskei van taalmetafore.
[5] Beeldskematiese strukture word tussen enkel-aanhalingstekens geskryf, naas enkel-aanhalingstekens wat vir uitheffing (van woorde en frases) gebruik word. Enkel-aanhalingstekens dui ook begripstatus aan.
[6] Om veralgemeende stellings ten opsigte van moedertaalsprekers as sodanig te maak, is natuurlik misleidend (veral ook wat leeromgewings betref) omdat dit nie rekenskap gee van die feit dat daar intelligensieverskille, opvoedingsverskille, kultuurverskille, motiveringsverskille en ander persoonlikheidsverskille bestaan wat elkeen se ervaring van ’n spesifieke taalsituasie verskillend maak. Dit behoort ook as ’n belangrike veranderlike beskou te word wanneer daar sonder meer taalbesluite op grond van statistiese data geneem word.
[7] Vergelyk Botha (2004) en Botha (2007) vir ’n omvattender bespreking van die begrip ‘tansformasie’.
[8] Die woord blom is byvoorbeeld ’n superordinaat van die hiponieme roosangelierdahlia ensovoorts. Dit beteken roos impliseer blomangelier impliseer blomdahlia impliseer blom, ... ensovoorts. Omdat die implikasieverhouding egter eensydig is, beteken dit omgekeerd dat blom óf roos, óf angelier, óf dahlia, óf ... ensovoorts impliseer.
[9] Langacker (1990:7) gebruik die terme geobjektiveerde en gesubjektiveerde konstruering om aan te dui dat “an entity construed subjectively is implicit and hence non-salient … whereas the objectively-construed entity is salient by virtue of being placed onstage as the focus of attention.”
[10] Dit was nie soseer die taalmetafoor #fees must fall wat die onlangse sukses (?) van betogings teen universiteitsfooie bewerkstellig het nie. Die resultaat van die betogings was eintlik die gevolg van die eksplisiete vergestalting van die liggaamsmetafoor verset.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking