Totale bladsykyke

Saterdag 17 Desember 2016

Naamgewing en naamsverandering

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR. KLIK OP DIE PYLTJIE BY NOVEMBER VIR TOEGANG.
Naamgewing en naamsverandering
 W.J. Botha

1.  Naamgewing

Naamgewing (of benoeming) is ’n natuurlike menslike (taal)verskynsel. Die taalgebruiker doen dit om betekenis te gee aan die “dinge” (of sake) in sy leefwêreld – hetsy aan konkrete, abstrakte of fiktiewe entiteite in hierdie wêreld; om deur benoeming grense vir ’n kategorie te skep, om daaroor te kan praat (of om daarna te kan verwys). Alhoewel daar verskillende metodes bestaan op grond waarvan entiteite benoem word, is daar veral twee wat van besondere belang is:

1.1. ’n Begrip (konsep) ontwikkel – ook in kompleksiteit – en “vra” eintlik om ’n naam. Dit het byvoorbeeld gebeur met die ontwikkeling van die konsep “Afrikaans”. Dit is afwisselend benoem met ’n waarde-beoordelende benaming soos “Plat-Hollands” en skriftelike benoemings soos “Transvaals” (1887), “Afrikaander Taal” (1901), “The Taal” (na 1902), “Burensprache” (1904), “Boer Dutch” (ongeveer 1904), “Le Langue des Boers” (1911) en “Zuid-Afrikaansch” (vergelyk Nienaber, 1949: 98-100). Die aangehaalde benoemings illustreer by implikasie twee baie belangrike benoemingsbeginsels, naamlik prototipebenoeming en beheersendepuntoordeel.
 
1.1.1. Prototipe van ’n kategorie. Om van enige kategorie betekenissin te maak, word ’n prototipe van die kategorie geïdentifiseer op grond waarvan lede van die kategorie herken word. Die identifikasie van sodanige prototipe is ’n natuurlike menslike konseptualiseringsverskynsel wat ons verder in staat stel om oor kategorieë te praat, om betekenis te gee aan kategorieë – om kategorieë, dus ons leefwêreld, te begryp. Langacker (1987: 371) beskryf ’n prototipe as “a typical instance of a category, and other elements are assimilated to the category on the basis of their perceived resemblance to the prototype; there are degrees of membership based on degrees of similarity”. In gevalle waar kategorieë konkrete entiteite groepeer, bepaal omgewings- en kulturele faktore die mees prominente/sentrale (dit wil sê die mees prototipiese) lede van die kategorie. So sal die referente van appel, pruim, vy, olyf ensovoorts in verskillende kontekste onderskeidelik as die prototipes van die woord vrug optree. In die geval van abstrakte kategorieë word die saak egter veel komplekser, want dan moet prototipiese eienskappe (nié prototipe-elemente nie) verteenwoordigend van die kategorie word.

1.1.2. Ten opsigte van die beheersende punt wys MacLaury (1991: 59) daarop dat die mate waarin ’n prototipe óf ’n gemiddelde lid, óf ’n toonbeeld (volmaakte lid) van die kategorie kan wees, saamhang met die gesigs- of beheersende punt waaruit die kategoriseerder beoordeel:

      “Different individuals place importance on distinct attributes of the members of a category. As a conse­quence they select different members as prototypical, they rank members at different values, and they contract or dilate a category to different extents.”
           
   Uiteraard impliseer die beheersende punt veel meer as ’n lokaliteit. Dit omvat kulturele, ideologiese, emosionele, rasionele, historiese en ander veranderlikes, aspekte waarop nie in hierdie oorsig uitgebrei kan word nie.

1.2. ’n Nuwe entiteit kom tot stand en word benoem (soos dit die geval was met die Randse Afrikaanse Universiteit). Verskeie benoemingsveranderlikes kan in sodanige geval ’n rol speel, onder andere die koördinate tyd, ruimte en entiteit – vereenvoudig saamgevat as identiteit (later “karakter”). Dit spreek vanself dat in die geval van ’n universiteit die genoemde dimensies geïntegreerd baie gou ’n identiteitskompleksiteit in die hand werk. Dit word teweeggebring deur veranderlikes soos die volgende:

·     universiteitspesifieke akademiese prestasies;
·     universiteitspesifieke sportprestasies;
·     universiteitspesifieke navorsingsprestasies;
·     universiteitspesifieke navorsingsbetrokkenheid;
·     internasionalisering van die besondere universiteit;
·     gemeenskapsdiens van die spesifieke universiteit;
·  onderrigmodelle van die spesifieke universiteit; en nog vele ander.

Hieruit ontwikkel ’n stel prototipiese eienskappe van die betrokke universiteit wat baie meer impliseer as wat deur enige individu of groep individue as prototipe-element(e) verteenwoordig kan word. Hierdie prototipiese eienskappe vorm saam ’n gestalt. Lakoff & Johnson (1980: 478-481) noem byvoorbeeld dat by abstrakte kategorieë die definiërende eienskappe van ’n kategorie ’n prototipeparadigma daarstel. Ons konseptuele ervaring daarvan is egter dié van ’n gestalt, omdat “the complex of properties occurring together is more basic to our experience than their separate occurrences.” Sodanige prototipegestalt stel ons dan in staat om die konsep op ander ervaringsdomeine (ook subdomeine) wat minder prototipies kan wees, toe te pas. Dit is belangrik om daarop te let dat sodanige gestalt veral op grond van kwaliteite (en nié noodwendig kwantiteite nie) tot stand kom. In die geval van ’n eienaam (soos die Randse Afrikaanse Universiteit of RAU – laasgenoemde ’n akroniem, of letterwoord, met eienaamstatus) tree die gestalt op as ’n deskriptiewe betekenisagtergrond (“descriptive backing”) op (vergelyk Searle, 1969 – soos na verwys deur De Klerk, 1978: 66). Eenvoudig gestel verteenwoordig dit die “beeld” van die universiteit.

2. Naamsverandering

In die lig van die voorgaande kort (en uiteraard onvolledige) oorsig spreek dit vanself dat die Shakespeariaanse naamsopvatting “What's in a name? That which we call a rose by any other name would smell as sweet” ’n konseptuele mite is.

Wanneer ’n naam verander word (byvoorbeeld die Randse Afrikaanse Universiteit) sal dus rekening gehou moet word met die volgende faktore:

· Omdat ’n naamservaring ’n konseptuele ervaring is, is sy prototipiese gestalt eenvoudig nie klakkeloos oordraagbaar nie. Die nuwe naam sal sy eie gestalt moet ontwikkel.
· Die verlede onder die noemer Randse Afrikaanse Universiteit is nie ophefbaar deur die gebruik van ’n nuwe naam nie. Konseptueel sal Randse Afrikaanse Universiteit dus minstens vir die afsienbare toekoms bly voortbestaan in kontras met die “nuwe universiteit”, geïmpliseer deur die nuwe naam. Dit kan meebring dat die Universiteit eintlik onder ’n ou en ’n nuwe noemer met homself in wedywering is, wat die natuurlike gestalt-ontwikkeling van die Universiteit binne ’n nuwe politieke orde aan bande kan lê.
· Daar word gewag gemaak van die “bagasie” wat die huidige naam met hom saamdra. Die term is ideologies omstrede omdat dit enersyds ’n bepaalde beheersende punt (van die dag) impliseer, en andersyds die suggestie dra dat die huidige prototipegestalt gedrenk is in wat as “bagasie” beskou word. Dit impliseer dat die onderrig, wetenskapsbeoefening en gemeenskapsdiens van die verlede deur ’n bepaalde ideologie gedra is, wat natuurlik die wetenskaplike integriteit van almal wat onder daardie noemer gefunksioneer het, in die gedrang bring. Anders kan “bagasie” geïnterpreteer word as alles wat met Afrikaans saamhang, wat die begrip nog meer omstrede maak omdat Afrikaans dan gelykgestel word met ’n eng siening van dié Afrikaner – ’n subkategorie wat as Afrikanergestalt nooit bestaan het of bestaan nie (in ’n artikel ter perse brei ek daarop uit).
·  Die gronde vir ’n naamsverandering – kwalitatief of kwantitatief – behoort duidelik verreken te word. Indien dit kwantitatief van aard sou wees, behoort die verhouding “aandeelhouers” (verwerwers van RAU-grade) en “potensiële aandeelhouers” (potensiële verwerwers van RAU-grade) teenoor mekaar verreken te word. Sodanige uitgangspunt sal egter hoegenaamd nie rekening hou met die prototipiese gestalt van die Universiteit nie. Dit sou één eienskap wat uiteiendelik tot die gestalt-aard bydra, tot dominante eienskap uithef!


Verwysings


De Klerk, W.J. 1978. Inleiding to die semantiek. Durban: Butterworth.
Lakoff, G. & M. Johnson. 1980. Conceptual metaphor in everyday language. In: The journal of philosophy, LXXVII:8, 453-486.
Langacker, R.W. 1987. Foundations of cognitive grammar. Stanford: Stanford University Press.
MacLaury, R. E. 1991. Prototypes revisited. In: Annual reviews Anthropology 20, 55-74.
Nienaber, G.S. 1949. Oor Afrikaans. Johannesburg: APB.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking