Totale bladsykyke

Dinsdag 30 April 2019

Oor taal - 'n meningstuk


Oor taal – ’n meningstuk
Die vraag word dikwels gestel: Wat is taal? ’n Leke-antwoord sou wees dat taal ’n kommunikasiemiddel / -medium is. Dit is waar, maar dit is slegs ’n baie klein gedeeltetjie van die waarheid. ’n Raker beskrywing sou wees: Dit is óók ’n kommunikasiemedium.
Taal is abstrak en die woord taal verwys na hierdie abstraksie. ’n Meer tegniese beskrywing sou wees om die woord taal as ’n ontologiese metafoor te beskryf.
Wat beteken dit?
Na die voorbeeld van (ons ervaring van / kennis van) konkrete entiteite (sake / dinge) wat in die reële wêreld bestaan, hanteer ons taal as ’n reële entiteit (saak / ding). Die betekenis van die woord ontologie kan as “kennisleer” beskryf word. Die metafoorstatus van taal kan dus soos volg voorgestel word: “taal = ’n konkrete saak / ding / entiteit”. Op grond van ons kennis van konkrete sake / dinge / entiteite kan ons dus ook van taal praat as my / ons / die / ... ens. taal; selfs van ’n lewende / dooie / uitgestorwe / onderdrukkende / ... ens. taal, indien ons die metafoor verder wil verpersonifieer.
Op grond van die metafoor-aard van die woord taal gebeur dit dan ook dat taal toegeëien word deur die gebruik van besitlike voornaamwoorde soos my, ons, julle, hulle ... ensovoorts in verbinding met die woord taal, as sou taal besit word. Die besitlikheid van besitlike voornaamwoord is eintlik ’n verkeerde interpretasie waar dit gebruik word in verhouding tot die woord taal, want taal word deur niemand besit nie. Ons sou hoogstens kon sê ons beskik oor taal (wat nie beteken “Ons het taal” of “Ons besit taal” nie). Dit sou eintlik meer korrek gewees het om te sê: Ons beskik oor die vermoë om taal te gebruik en taal te verstaan, sy dit moedertaal of ander tale – en hierdie taalvermoë is diep ingebed in ons kognitiewe, affektiewe en konatiewe ervaringswêreld, selfs binne ons kognitiewe onbewuste.
Die personifiërende beskrywings lewende / dooie / uitgestorwe / onderdrukkende / ... ens. taal dui eintlik op die status van ’n betrokke taal – en status is nie ’n inherente eienskap van taal nie; dit is ’n mens-eienskap / menslike eienskap / mensgemaakte eienskap. Die verpersoonliking van taal deur die gebruik van allerlei adjektiewe om taal te beskryf, stel die gebruiker van sodanige adjektiewe in staat om manipulerend bepaalde kulturele, godsdienstige, politieke ... ensovoorts doelwitte na te jaag. Omdat (moeder)taal so heg verweef is met die (moedertaal)spreker se psigiese, fisiese en ruimtelike wese, kan die negatiewe of positiewe gebruik van sodanige adjektiewe vernietigend of inspirerend op die gees van die (moedertaal)spreker inwerk – en baie manipuleerders wéét dit!
Ek het iewers gelees dat iemand skryf dat taal nie onskuldig is nie – andermaal ’n verpersoonliking van taal. Die skuld of onskuld lê nie in die aard van taal nie. Die arsenaal wat taal bied ten opsigte van sy klanke, woorde, woorddele, woordbetekenisse en sinne stel die gebruiker van taal in staat om kwetsend, veroordelend, vleiend, vertroostend, of wat ook al binne bepaalde kontekste te wees, waar die konteks ook grootliks bydra tot die effek wat deur die betrokke taalgebruik tot stand gebring word. Dit is dus nie taal wat skuldig of onskuldig is nie!
Binne verskillende gemeenskappe bestaan daar verskillende variëteite van bepaalde tale op grond waarvan ons praat van taalgemeenskappe. Omdat taal grootliks aangeleer word “na die voorbeeld van” gebeur dit dat daar noodwendig ooreenstemmende taalgebruik binne bepaalde geografiese, sosiale, kulturele en ander gemeenskappe sal voorkom. Wanneer ’n variëteit sodanig van die standaardtaal afwyk dat dit nie meer as ’n variëteit daarvan beskou kan word nie, verkry dit die status van ’n dialek. Dialekstatus word onder andere bepaal op grond van die gebruik daarvan naas die gebruik van die betrokke standaardvorm binne die bepaalde gebied. Dialektologie is ’n interessante maar ook komplekse studieterrein. Binne die twee klein landjies België en Nederland saam word daar byvoorbeeld nie minder nie as vier-en-twintig dialekte naas Standdaardnederlands onderskei. Wat belangrik is, is die feit dat dialekstatus hoofsaaklik bepaal word op grond van die standaardvorm wat as norm dien. Voorheen het die standdaardvorm van ’n betrokke taal ongelukkig ook as “algemeen-beskaaf” bekendgestaan. Die gebruik van die adjektief beskaaf in die betrokke beskrywing, verwysend na die sprekers daarvan en nie die taal as sodanig nie, is ongelukkig waarde-beoordelend en nie neutraal nie. Daarom is binne die taalkunde van sodanige beskrywing afgesien. Die gebruik van “algemeen-beskaaf” het bly vassteek by sommige gebruikers van bepaalde tale (soos Afrikaans) en het daardeur tot gevolg gehad dat die standaardvorm gestigmatiseer is. Gevolglik klink die wekroep tot herstandaardisering op. Ironies is die feit dat pleitstukke in hierdie verband in Standaarafrikaans geskied – en waarskynlik emosioneel-gedrewe en nie taalkundig-gedrewe is nie.
’n Volgende meningstuk sal onder die titel “Hoekom taalkunde?” verskyn.