Totale bladsykyke

Dinsdag 24 Maart 2020

’n Ander kyk na taal: die wortels van taal


n Ander kyk na taal: die wortels van taal

Language is everywhere. It permeates our thoughts, mediates our relations with others, and even creeps in our dreams. Most human knowledge and culture is stored and transmitted in language, which is so ubiquitous that we take it for granted. Without it, however, society as we know it would be impossible. (Ronald W. Langacker, 1967, Language and its structure).

Vra ’n mens die vraag “Wat is taal?”, is die antwoord meestal “Dit is ’n kommunikasiemedium.” Dit is waar, maar dit is slegs ’n klein stukkie van die waarheid. Daar mag mense wees wat sou sê dat dit nét ’n kommunikasiemedium is, gewoonlik om ’n onverskillige houding jeens taal te verontskuldig, of bloot uit onkunde. Sodanige bewering is absoluut vals.
Deur die eeue het taalkundiges en ander belanghebbendes en belangstellendes ook die vraag probeer beantwoord teen die agtergrond van die veronderstelling dat hoe meer ons van taal weet, hoe makliker kom ons by die uiteindelike antwoord uit.
En ons weet – op grond van die bemoeienis van die voorgaande taalbetrokkenes – ongelooflik baie van taal, maar nie alles nie. Langacker beweer selfs dat “not even professional linguists can claim to understand it fully.”
Hoekom weet ons nie alles van taal nie?
Die rede daarvoor is onder andere te vind in die feit dat taal ’n mens-verskynsel is. En ons weet ook baie van die verskynsel ‘mens’ – maar ook nie alles nie. Ook hieroor sê Langacker in hierdie verband: “Anyone who wishes to know and understand himself must come to understand in some measure the character of the linguistic system that plays such a fundamental role in his mental and social life.”
Wat weet ons dan alles van taal?
’n Volledige inventaris is onmoontlik, maar laat ons ’n paar van ons taal-weet-dinge noem.
Ons weet dat taal dít is wat ons praat, en wat ons skryf eintlik net ’n weergawe van taal is.
Ons weet dat enige taal ’n beperkte aantal klanke het wat toepaslik is vir die betrokke taal, én waarmee ons deur verskillende rangskikkings van die klanke in staat is om ’n oneindige aantal woorde te vorm – maar dat nie al die moontlike rangskikkings sinvolle woorde is nie.
Ons weet dat ’n taal woorde bevat, sommiges enkelvoudig en ander meer kompleks.
Ons weet dat komplekser woorde uit sinvolle dele bestaan en verskillende verbindings van dele verskillende betekenisse tot stand bring.
Ons weet dat die verskillende rangskikkings van woorde verskillende sinne tot gevolg het, en dat nie enige willekeurige rangskikking sinvol is nie. En dan weet ons ook dat die beginsel van rangskikking ons in staat stel om ’n oneindige aantal sinvolle sinne tot uitdrukking te bring.
Ons weet dat woorde en sinne betekenis het.
Ons weet dat die omgewing waarin taal gebruik word meestal bepalend is ten opsigte van die betekenis van die betrokke taaluitdrukking.
Ons weet dat langer opeenvolgings van sinne ook omvattender betekenisse (temas) kan onderlê.
Ons weet dat taal ook misverstaan kan word.
Ons weet dat elke taal ’n geskiedenis het, dat taal nie staties is nie en voortdurend ontwikkel en verander (soms nie ingrypend nie).
Ons weet dat verskillende tale tot verskillende taalfamilies behoort.
Ons weet dat binne dieselfde taalgemeenskap verskillende variasies van die betrokke taal kan bestaan en indien die variasies ingrypend van die taal se standaardvorm verskil, ons van verskillende dialekte van die taal praat.
En so sou ons kon aangaan.
Taal is egter ook ’n doen-ding, ’n belangrike aspek van taal wat baie lank min aandag gekry het, alhoewel die vermaarde Nederlandse taalkundige, Anton Reichling, reeds in die jare veertig van die vorige eeu beweer het dat “mijn spreken (dus taal) … zelf ook een handeling (is). Het is een handeling van een bijzonder soort.” Gedurende die jare vyftig van die vorige eeu het die Britse taalfilosoof, J.L. Austin, ’n omwenteling teweeggebring toe hy voortgebou het op die gedagte van die doen-funksie van taal toe hy die doen-eienskappe van taal uitgestippel het in sy nou bekende “Speech Acts Theory”.
Maar wat doen taal en hoe doen taal dit?
Wanneer die kunsskilder sy of haar kwas gebruik, in verskillende kleure doop, verskillende skakerings voortbring om uiteindelik op die doek vas te lê, word die kwas die instrument. Dit wat op die doek verskyn, is nie slegs die versmelting van strepe en kleure nie. Dit is meestal die neerslag van iets wat binne die psige van die kunstenaar gesmag het om sy lê te kry.
So is dit ook die geval met taal.
Taal is ’n instrument.
As instrument kan taal neutraal, koud en klinies wees.
As instrument kan taal warm, vriendelik, sag, intiem, gevoelvol, deernisvol, meelewend, empaties en simpatiek wees.
As instrument kan taal hard, wreed, meedoënloos, onsimpatiek en hardvogtig wees.
As instrument kan taal verdelend of saambindend wees.
As instrument kan taal inspirerend of aftakelend wees.
As instrument kan taal oorlog verklaar of vrede sluit. Taal kan dus verwoestend of helend wees.
Die instrumentdoelwitte van taal is legio. Ons sou kon aangaan en aangaan om nog en nog te noem.
Die voorgaande eienskappe is meestal ook menslike eienskappe: vanuit en gerig tot. Dit verbaas nie, want taal en mens is heg verweef met mekaar: taal is mens en mens is taal. Ons is gedrenk in (moeder)taal.
Daarom dra taal ook menslike intensies en ontbloot of verhul dikwels mensstrategieë.
Daarom moet die soeke wees na die begronding van taal – taal se psigiese wortels,  vasgelê in die proses van taalverwerwing en taalontwikkeling. Wat onder die oppervlakte van taal binne die mens se bewuste en onbewuste lê, is dus net so wesenlik taal as wat die taaluitdrukking self taal is.
Taal instigeer begrip en begrip is meestal taal, en nie noodwendig altyd uitgesproke begrip nie. Om dit anders te stel: As ek om my kyk, sien ek talle dinge wat deur taal benoem kan word, wat dus ’n taalpotensiaal het. En wanneer ek iets vreemds opmerk, is die vreemdheid meestal geleë in die feit dat ek dit nie talig kan benoem nie.
Die begripeienskap van taal hang saam met dit wat ons kognisie noem, letterlik ons rasionele vermoë om te weet, te redeneer en te argumenteer. Ons rasionaliteit is egter nie rigied te onderskei van ons emosionaliteit nie. Sodanige bespreking sal moet wag vir ’n ander dag.
Ons kognisie stel ons in staat om begrippe te vorm. Begrippe “soek” na woorde, dus taal. Omgekeerd kan gesê word dat wanneer woorde gebruik word, hulle op hulle beurt weer reik na begrippe. So kan dit dan dikwels gebeur dat dieselfde woord by verskillende persone verskillende begrippe oproep. So mag dit gebeur dat indien ek die (abstrakte) woord vrug gebruik, dat dit by die meeste mense moontlik die begrip wat aan ’n appel gekoppel word, sal oproep. Ander mag miskien die lemoenbegrip in gedagte hê.
Die komplekse verhouding wat daar tussen taal en kognisie bestaan, is al baie jare gelede herken en erken en baie taalkundiges en ander vakkundiges het hierdie verband nougeset ondersoek en teorieë daaroor geformuleer.
Een van die mees toonaangewende teorieë van die onlangse verlede was dié van die Amerikaanse taalkundige Noam Chomsky. Hy het van die veronderstelling uitgegaan dat binne die mens se kognitiewe sisteem daar ’n afsonderlike vermoë bestaan waarmee die mens gebore word, wat dus biologies vasgelê is. Hy het dit die “language faculty” genoem.
Baie taalkundiges het in navolging van Chomsky nog subteorieë geformuleer en baie navorsing daaroor gedoen.
In die jare tagtig van die vorige eeu is Chomsky se idee van ’n taalsegment binne die mens se kognitiewe sisteem ernstig bevraagteken deur onder andere die taalkundiges Ron Langacker en George Lakoff van die Universiteit van Kalifornië, respektiewelik verbonde aan die kampusse van San Diego en Berkley. Hulle was goed onderlê in Chomskyaanse taalkunde. Dit was waarskynlik die rede waarom hulle Chomsky se “language faculty”-teorie begin bevraagteken het.
In samewerking met taalkundiges vanoor die hele wêreld het hulle soveel tale as moontlik empiries ondersoek.
[Die WAT beskryf empiries soos volg: “Betreffende, gegrond op, afgelei van, handelend oor ervaring of proefneming; wat nie op teorie, berekening of redenering berus nie; proefondervindelik”.]
Hulle gevolgtrekking, veral gegrond op navorsing oor die aard en wese van die metafoor in verskillende tale, was dat taal die gehele kognitiewe sisteem van die mens betrek – dus nie net ’n segment daarvan nie.
Twee ander interessante bevindinge wat hulle gemaak het, was die volgende:
·       Daar bestaan twee soorte metafore: taalmetafore en begripsmetafore. Begripsmetafore lê onder die oppervlakte van taal en is dus nog nie taal nie. Ons kan dit taalmetafories een van die wortels van taal noem.
·       Op ’n dieperliggende vlak – dit wat George Lakoff die kognitiewe onbewuste noem – kom skemas voor, skemas wat gebaseer is op die mens se (eerste) ervarings van die wêreld om hom/haar. Dit is nog nie begrip nie, maar is instrumenteel in die verwerwing van begrip. Dit word dan tereg ook prekonseptuele ervarings genoem, dus ervarings wat die begrip (konsep) voorafgaan. Kom ons noem dit die tweede wortel van taal.
’n Voorbeeld sal moontlik hierdie twee vlakke duideliker illustreer.
Die woord moeilik het ’n abstrakte betekenis, en dié betekenis is moeilik (!) te omskryf. Maar ons verstaan wat moeilik beteken, byvoorbeeld in uitdrukkings soos die volgende:
1.     Daar kom moeilikheid.
2.     Hy is in diep moeilikheid.
Die kind se eerste ervaring van die wêreld is ruimte, en dan ook ’n paar subervarings van ruimte, soos onder andere oriëntasie in ruimte, beweging in/deur ruimte, houers as/in ruimte, nabyheid in ruimte en nog ook ’n aantal ander ruimtelike ervarings. Hulle word almal skemas genoem – en daar bestaan ook nog ander skemas wat nie noodwendig ruimtelik van aard is nie – omdat hulle nog nie begrippe is nie, maar elkeen van hierdie skemas dien as bron van verskillende soorte ruimtelike begrippe.
Laat ons terugkom na die moeilikheid-voorbeelde. Die eerste voorbeeld koppel ons op grond van die bewegingswerkwoord kom aan beweging, dus ’n ding wat beweeg en rigting het. In die tweede voorbeeld word moeilikheid gekoppel aan die skema houer.
Indien ons nie die aard van die moeilikheid weet nie, verstaan ons dus die woord moeilikheid (op die taaloppervlakte) vanuit die kognitiewe onbewuste (vlak 1) via die begripsvlak (vlak 2). Dit word dan ’n konseptuele metafoor (begripsmetafoor) genoem.
Ek sal in ’n ander betoog die aard van konseptuele metafore uitspel. Die besonderhede is vir die doel van hierdie argument nie nodig nie.
Wat dus tot hier toe betoog is, is dat ’n taaluitdrukking ’n verskynsel op die oppervlakte is – slegs die “oortjies van die seekoei”, óf dan die punt van die ysberg. Sonder die begripsvlak en die beeldskematiese vlak (wat diep binne die kognitiewe onbewuste geleë is) is taal nie moontlik nie. Ten minste is betekenis dan nie moontlik nie.
Waarom dan hierdie hele betoog?
Daar word deesdae baie gewag gemaak van moedertaalonderrig en die feit dat beginnerleerlinge wat nie in hulle moedertaal aanvangsonderrig ontvang nie, oor die algemeen nie presteer nie.
Laat my eers dit sê. In die proses van taalverwerwing en taalontwikkeling binne verskillende kulture is die begripsvlak van tale nie identies nie. Daar bestaan baie voorbeelde uit verskillende tale om dit te illustreer. In twee van die tale wat in Nigerië gepraat word (Hausa en Djerma) sou ’n uitdrukking soos die volgende verskillend geïnterpreteer word as wat dit die geval in Westerse tale sou wees:
Die hond is agter die boom.
In Westerse tale sou die hond te vinde wees agter die boom asof die boom ’n mens-oriëntasie het wat na die spreker kyk.
In Hausa en Djerma het die boom ook ’n mens-oriëntasie, maar ’n oriëntasie wat in dieselfde rigting kyk as die spreker.
Afhangend deur wie en met wie gepraat word, sal die hond dus op twee verskillende plekke gevind kan word.
Daar bestaan ook talle ander voorbeelde van kultuurverkskille wat begripsverskille onderlê. Tyd word byvoorbeeld deur die begripsmetafoor tyd is beweging verstaan, maar in bepaalde kulture is die genoemde beweging na die spreker, selfs verby die spreker, terwyl in andere kulture die tydsbeweging altyd verstaan word as beweging weg van die spreker.
Ek wil nie nog voorbeelde en nog voorbeelde noem nie, maar ek wil ’n metafoor gebruik om my uiteindelike argument te stel.
Laat ons die beginnerleerling ’n jong plantjie noem, ’n plantjie waarna deernisvol en met omsigtigheid talig omgesien moet word, want die proses van verwerwing en ontwikkeling van sy/haar taal is kardinaal ten opsigte van sy/haar hele menswees, veral gesien vanuit die aangehaalde stelling van Langacker aan die begin van hierdie betoog.
Om dus die moedertaalspreker aan nie-moedertaalonderrig bloot te stel in sy/haar aanvangsjare, is om hom/haar te ontneem van sy/haar taalwortels (waaroor dit in hierdie betoog gegaan het) en hom/haar in te ent in wortels wat nie syne/hare is nie. In sommige gevalle sal die intenting geslaagd wees en die plantjie mag gedy. In ander gevalle mag die plantjie verlep.
Oor die moraliteit daarvan wil ek my nie uitspreek nie.

Donderdag 05 Maart 2020

Waarom taalkunde?


Waarom taalkunde?
’n Mens kan tereg vra wat die sin van taalkundestudie is. Ongelukkig is dit nie ’n vraag wat in enkele reëls beantwoord kan word nie. Hoekom nie? Omdat die spektrum wat deur taalkundestudie gedek word, so ’n wye spektrum is. Vir eers moet ’n mens gaan kyk na al die verskillende vlakke waarop taal funksioneer. Taalkundestudie sal dan ook al hierdie verskillende taalvlakke in berekening moet bring. Dink maar aan hoedat taal die spreker se identiteit openbaar. Ons dink onder andere aan fisiese identiteit, psigiese identiteit, sosiale identiteit, kulturele identiteit, geografise identiteit en historiese identiteit. Maar taal stel ons ook in staat om die werklikheid (en denkbeeldigheid) te ervaar en daaroor te praat. Taal is dus ook die instrument waardeur ons ons emosies tot uitdrukking kan bring. Taal struktureer ook ons gedagtegang.
En wanneer ons van gedagtes praat, praat ons van kognisie. In die engste sin van die woord beteken kognisie ’n geestesproses wat ons in staat stel om te weet. Dit sluit dus bewussyn (om bewus te wees van, om te besef), waarneming, beredenering en oordeel in. En as ons mooi daaroor nadink, impliseer al die bogenoemde prosesse taal. Want ons giet dit wat ons van bewus is of besef, in taal; ons formuleer gewoonlik ons waarnemings in taal; ons beredeneer deur taal; en ons oordeelvellinge geskied gewoonlik deur taal. Maar al hierdie kognitiewe prosesse word gekleur deur ons totale menswees, wat ons ruimtelike, kulturele, sosiale en psigiese plasing binne ’n werklikheid impliseer.
Om dus terug te kom na ’n antwoord op die vraag oor die sin van taalkundestudie, kan ons sê dat taalkundestudie ons ook insig bring in bepaalde aspekte van ons menswees – aspekte van menswees wat verband hou met ons vermoë tot kommunikasie: taalkommunikasie. Maar dit is natuurlik baie algemeen gestel. Die studie van verskillende segmente van taal (wat uiteindelik almal geïntegreer is ten opsigte van mekaar) bied aan ons insig oor spesifieke aspekte van taalkommunikatiewe gedrag. Dit gee byvoorbeeld vir ons antwoorde op die hoe van taalkommunikasie en wat daarmee saamhang, byvoorbeeld:
·     Hoe werk betekenis? Hoe kry taal dit dus reg om te beteken?
·     Hoe werk konteks ten opsigte van taal? Watter kontekstuele faktore het dus ’n invloed op die betekenisse wat ons deur taal oordra?
·     Hoe werk sinne in ’n taal? Hoe kry ons dit dus reg om ’n oneindige hoeveelheid grammatikale sinne te produseer terwyl baie van die sinne wat ons daagliks gebruik, nog nooit voorheen deur ons gebruik is nie?
·     Hoe werk die woordstruktuur van ’n taal? Op grond waarvan is ons dus in staat om byvoorbeeld nuwe woorde in ’n taal te skep?
·     Hoe werk klanke in ’n taal? Hoekom maak alle tale dus nie van presies dieselfde klanke gebruik nie?
Maar dit voorsien aan ons ook antwoorde op die waar van taal, byvoorbeeld:
·     Waar kom taal vandaan?
·     Waar kom spesifieke tale vandaan?
·     Waar hoort ’n spesifieke taal binne ’n besondere taalfamilie?
·     Waar kom bepaalde woorde vandaan?
·     Waar kom bepaalde betekenisse vandaan?
·     Waar kom bepaalde taalkonstruksies vandaan?
Maar kennis as sodanig het min sin as dit nie toepassingswaarde het nie. En taalkundekennis en taalkunde-insig het op verskeie vlakke en terreine toepassingswaarde, byvoorbeeld:
·     Kennis van die sintaksis van ’n taal verhoog ons begrip van bepaalde diskoerse, sy dit ’n gedig, ’n drama, ’n stuk prosa, ’n regsdokument, ’n wetenskaplike artikel, ’n koerantberig, of watter soort skryfwerk ook al. Maar dit stel ons ook in staat om in ons eie taalgebruik meer genuanseerd te formuleer, om presies te sê wat ons wil sê. Dit verfyn ook ons vermoë tot analise (of meer algemeen gestel: tot probleemoplossing), want sinsbegrip berus op (formele of informele) sinsanalise.
·     Semantiekkennis verhelder ons begrip ten opsigte van samehangende betekenisstrukture binne enige teks of diskoers. Dit verfyn ook ons eie woordkeuses. Dit stel ons in staat om funksionele betekenisskakels (kohesie-elemente) binne diskoerse raak te sien of self te bewerkstellig. Daardeur word ons eie formuleringsvaardighede verbeter. 
En so kan ons voortgaan om die toepassingswaarde van elke komponent van die taalkunde te beskryf. Maar dit is nie die doel van hierdie oorsig nie. Dit sal ook die denkende individu die geleentheid ontneem om self bewus te word van bepaalde toepassingsvlakke.
Kom ons noem nog net enkele belangrike aspekte met betrekking tot taalkundestudie.Die mens is dinamies – en omdat taal so wesenlik deel van die mens is, is taal ook dinamies. Daarom ondergaan ’n taal (of tale) deur die jare verandering. Ons kan dus ons fokus plaas op die veranderinge wat ’n taal (of tale) deur die jare ondergaan het. Hierdie veranderinge kan op ’n oorsigtelike vlak bestudeer word, maar die taalkundige stel veral belang in die besonderhede van die veranderinge, byvoorbeeld grammatikale veranderinge (klankgrammatika, woordgrammatika, sinsgrammatika), maar ook in betekenisveranderinge. Wanneer ons met die historiese dimensie van taalkundestudie besig is, bestudeer ons taal diachronies.
’n Ander dimensie van taalkundestudie is die sinchroniese. Die Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal beskryf dit as “(w)at in die tyd saamval; gelyktydig”. Dit is dus “taalstudie wat die taal op 'n bepaalde oomblik van sy bestaan bestudeer, sonder om rekening te hou met die historiese ontwikkeling”.
Omdat taal soveel dimensies het – en omdat taal sistematies is – behoort die studie van taal ook vanuit ’n bepaalde sistematiek bestudeer te word. Daarom bestaan daar ’n tradisie vir die studie van taalkunde, ’n tradisie wat taalkundekomponente onderskei. Hierdie komponente hou verband met die klanklike aspek van taal (Fonologie), die woordbou van ’n taal  (Morfologie), die sinsbou van ’n taal (Sintaksis) en die betekenis van woorde en sinne in ’n taal (Semantiek). Hierdie tradisionele verdeling maak egter nie voorsiening vir die studie van konteks as ’n betekenisveranderlike met betrekking tot taal nie; ook nie vir kognitiewe faktore wat betekenisgewing, betekenisoordrag en betekenisbegrip bepaal nie. Daarom voeg ons vir hierdie oorsig nog twee komponente by, naamlik Pragmatiek en Kognitiewe Linguistiek. Daar moet natuurlik onmiddellik opgemerk word dat al word hierdie komponente ter wille van die studie van mekaar onderskei, daar ’n hegte verhouding tussen hulle binne die taalrealiteit bestaan. Daarom is dit ook nodig om die samehang tussen hierdie komponente onder oë te neem.

Dinsdag 30 April 2019

Oor taal - 'n meningstuk


Oor taal – ’n meningstuk
Die vraag word dikwels gestel: Wat is taal? ’n Leke-antwoord sou wees dat taal ’n kommunikasiemiddel / -medium is. Dit is waar, maar dit is slegs ’n baie klein gedeeltetjie van die waarheid. ’n Raker beskrywing sou wees: Dit is óók ’n kommunikasiemedium.
Taal is abstrak en die woord taal verwys na hierdie abstraksie. ’n Meer tegniese beskrywing sou wees om die woord taal as ’n ontologiese metafoor te beskryf.
Wat beteken dit?
Na die voorbeeld van (ons ervaring van / kennis van) konkrete entiteite (sake / dinge) wat in die reële wêreld bestaan, hanteer ons taal as ’n reële entiteit (saak / ding). Die betekenis van die woord ontologie kan as “kennisleer” beskryf word. Die metafoorstatus van taal kan dus soos volg voorgestel word: “taal = ’n konkrete saak / ding / entiteit”. Op grond van ons kennis van konkrete sake / dinge / entiteite kan ons dus ook van taal praat as my / ons / die / ... ens. taal; selfs van ’n lewende / dooie / uitgestorwe / onderdrukkende / ... ens. taal, indien ons die metafoor verder wil verpersonifieer.
Op grond van die metafoor-aard van die woord taal gebeur dit dan ook dat taal toegeëien word deur die gebruik van besitlike voornaamwoorde soos my, ons, julle, hulle ... ensovoorts in verbinding met die woord taal, as sou taal besit word. Die besitlikheid van besitlike voornaamwoord is eintlik ’n verkeerde interpretasie waar dit gebruik word in verhouding tot die woord taal, want taal word deur niemand besit nie. Ons sou hoogstens kon sê ons beskik oor taal (wat nie beteken “Ons het taal” of “Ons besit taal” nie). Dit sou eintlik meer korrek gewees het om te sê: Ons beskik oor die vermoë om taal te gebruik en taal te verstaan, sy dit moedertaal of ander tale – en hierdie taalvermoë is diep ingebed in ons kognitiewe, affektiewe en konatiewe ervaringswêreld, selfs binne ons kognitiewe onbewuste.
Die personifiërende beskrywings lewende / dooie / uitgestorwe / onderdrukkende / ... ens. taal dui eintlik op die status van ’n betrokke taal – en status is nie ’n inherente eienskap van taal nie; dit is ’n mens-eienskap / menslike eienskap / mensgemaakte eienskap. Die verpersoonliking van taal deur die gebruik van allerlei adjektiewe om taal te beskryf, stel die gebruiker van sodanige adjektiewe in staat om manipulerend bepaalde kulturele, godsdienstige, politieke ... ensovoorts doelwitte na te jaag. Omdat (moeder)taal so heg verweef is met die (moedertaal)spreker se psigiese, fisiese en ruimtelike wese, kan die negatiewe of positiewe gebruik van sodanige adjektiewe vernietigend of inspirerend op die gees van die (moedertaal)spreker inwerk – en baie manipuleerders wéét dit!
Ek het iewers gelees dat iemand skryf dat taal nie onskuldig is nie – andermaal ’n verpersoonliking van taal. Die skuld of onskuld lê nie in die aard van taal nie. Die arsenaal wat taal bied ten opsigte van sy klanke, woorde, woorddele, woordbetekenisse en sinne stel die gebruiker van taal in staat om kwetsend, veroordelend, vleiend, vertroostend, of wat ook al binne bepaalde kontekste te wees, waar die konteks ook grootliks bydra tot die effek wat deur die betrokke taalgebruik tot stand gebring word. Dit is dus nie taal wat skuldig of onskuldig is nie!
Binne verskillende gemeenskappe bestaan daar verskillende variëteite van bepaalde tale op grond waarvan ons praat van taalgemeenskappe. Omdat taal grootliks aangeleer word “na die voorbeeld van” gebeur dit dat daar noodwendig ooreenstemmende taalgebruik binne bepaalde geografiese, sosiale, kulturele en ander gemeenskappe sal voorkom. Wanneer ’n variëteit sodanig van die standaardtaal afwyk dat dit nie meer as ’n variëteit daarvan beskou kan word nie, verkry dit die status van ’n dialek. Dialekstatus word onder andere bepaal op grond van die gebruik daarvan naas die gebruik van die betrokke standaardvorm binne die bepaalde gebied. Dialektologie is ’n interessante maar ook komplekse studieterrein. Binne die twee klein landjies België en Nederland saam word daar byvoorbeeld nie minder nie as vier-en-twintig dialekte naas Standdaardnederlands onderskei. Wat belangrik is, is die feit dat dialekstatus hoofsaaklik bepaal word op grond van die standaardvorm wat as norm dien. Voorheen het die standdaardvorm van ’n betrokke taal ongelukkig ook as “algemeen-beskaaf” bekendgestaan. Die gebruik van die adjektief beskaaf in die betrokke beskrywing, verwysend na die sprekers daarvan en nie die taal as sodanig nie, is ongelukkig waarde-beoordelend en nie neutraal nie. Daarom is binne die taalkunde van sodanige beskrywing afgesien. Die gebruik van “algemeen-beskaaf” het bly vassteek by sommige gebruikers van bepaalde tale (soos Afrikaans) en het daardeur tot gevolg gehad dat die standaardvorm gestigmatiseer is. Gevolglik klink die wekroep tot herstandaardisering op. Ironies is die feit dat pleitstukke in hierdie verband in Standaarafrikaans geskied – en waarskynlik emosioneel-gedrewe en nie taalkundig-gedrewe is nie.
’n Volgende meningstuk sal onder die titel “Hoekom taalkunde?” verskyn.






Saterdag 19 Mei 2018

Is dekolonialisasie/dekolonialisering 'n mite?

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR

Is dekolonialisering/dekolonialisasie ’n mite[1]?
Willem J. Botha
Emeritusprofessor: RAU/UJ
Vooraf
Betogings, opstand en (dikwels) voortspruitende geweld gaan gewoonlik gepaard met slagkrete en slagspreuke. Slagkrete en slagspreuke is self ook dade (taaldade), alhoewel daar waarskynlik ’n intensiteitsverskil tussen ’n slagkreet en ’n slagspreuk bestaan. Na die postuum-verskyning van die Oxford-taalfilosoof se How to do things with words in 1962 het daar talle navorsingsartikels verskyn wat die aard van die taaldaad ondersoek het; ook het daar sedertdien navorsingsresultate oor die gespreksveranderlikes wat bepaalde taaldade (taalhandelinge) instigeer en onderhou, verskyn. Hieruit het geblyk dat die taaldaad nie net die fisiese (en psigiese) dade voorafgaan nie, maar heg geïntegreer is met die gepaardgaande fisiese/psigiese dade.
Die woorde slagkreet[2] en slagspreuk het die fisiese daad “om (letterlik) te slaan” in hulle betekenisse ingebou, as selfstandige naamwoorde van die werkwoord slaan. In die Afrikaanse woordeboek. Verklarend met woordafleidings word slagkreet byvoorbeeld gedefinieer as “geroep nadat ’n slag gelewer is, oorlogskreet, uitroep om aandag te trek”. In die geval van die woord slagspreuk word die betekenis verruim om weens “... frekwensie van gebruik verbind (te) word aan ’n groep, party, vereniging”, aldus dieselfde wooordeboek. Vergelyk ook woorde soos slagveld, slagoffer en ander.
Die betekenisinhoud van ’n besondere slagkreet instigeer meestal die rigting en/of aard van die gepaardgaande fisiese handelinge, maar verbleek (semanties) dikwels later tot slegs slagspreuk, die semantiese vangnet  vir die vergestalting van verskillende fisiese/psigiese opwellings as gemene deler. In hierdie opsig kan verwys word na hoedat die #FeesMustFall-slagkreet (September/Oktober 2016) op grond van die geweld wat daarmee gepaard gegaan het, gemene deler geword het van #ScienceMustFall-, #WhitenessMustFall- #AfrikaansMustFall- en ander tersaaklike slagkrete – en vir hierdie betoog relevant: Westerse universiteitsonderwys moet gedekolonialiseer en geafrikaniseer[3] word. Daar sou ’n saak daarvoor uitgemaak kon word dat binne die betrokke geweldskontekste die rassistiese #WhitenessMustFall-slagkreet die onderbou van die #X-MustFall-slagkrete konstitueer – én dat dekolonialisasie ’n natuurlike uitvloeisel van sodanige eis is.
Vervolgens word die semantiek van die woord dekolonialisasie ondersoek teen die agtergrond van resente beskouings en navorsing oor woordsemantiek.
Hoe beteken woorde?
Woordbetekenis kan veral vanuit drie gesigspunte benader word.
Die eenvoudigste benadering sou wees om die betekenis van ’n woord gelyk te stel aan ’n saak/sake (referent/e) wat buite die wêreld van taal bestaan. In sodanige geval sou die woord in relasie staan tot ’n saak wat ’n eksemplaar (of eksemplare) van ’n bepaalde kategorie verteenwoordig. Op ’n universiteitskampus sou die woord student byvoorbeeld na ’n bepaalde individu binne ’n bepaalde kontekstuele kategorie verwys. Subkategorieë, soos byvoorbeeld betogende studente, is maklik onderskeibaar op grond van optrede. Hierdie benadering werk goed indien die moontlike referente konkreet is; vir abstrakte en fiktiewe referente is hierdie benadering onhoudbaar, soos in die geval van dekolonialisasie.
’n Abstrakter benadering hou in dat die betekenis van ’n woord beoordeel word op grond van die bepaalde woord se betekenisrelasies met ander woorde in die betrokke leksikon (teoretiese woordeboek van ’n taal) – ’n taalinterne benadering. Sodanige relasies vind gestalte in eentalige woordeboeke en tesourusse van die betrokke taal, maar ook in vertalings van die betrokke woorde in ander tale omdat daar nie noodwendig ’n een-tot-een-betekenisverhouding tussen die woorde van verskillende tale bestaan nie en betekenisverskille verhelderend kan wees. Die abstrakte aard van hierdie benadering berus op die feit dat onder andere rekening gehou moet word met betekenisimplikasies, die verskynsel dat een woord meerdere betekenisonderskeidings mag hê (polisemie), betekenisoorvleueling (sinonimie), betekenisteenoorgesteldheid (antonimie), betekenisinsluiting (hiponimie) en woordafleidings en woordsamestellings (morfologiese verskynsels).
Vanuit die voorgenoemde benadering sou die betekenis van die woord dekolonialisasie beoordeel kon word op grond van onder andere die woord se betekenisontwikkeling, wat uiteraard die struktuurontwikkeling van die woord insluit: dekolonialisasie < kolonialisasiekoloniseer/kolonialiseer < kolonie. Hierby word ook ingesluit die woord se afgeleide adjektiwiese vorme, soos gedekolonialiseerde, gedekoloniseerde en koloniale – en ook afgeleide substantiewe soos Kolonianer, kolonialis, kolonialisme, kolonie, kolonis, kolonisasie.
As vertrekpunt vir ’n ontleding van die betekenis van die onderhawige woord (dekolonialisasie) word die werkwoord koloniseer as uitgangspunt geneem, met inagneming van die feit dat die koloniseringshandeling spruit uit ’n kolonialisasie-ideologie. Koloniseer benoem die prosesse/handelinge (polities ook genoem imperialisme) wat aan die begin van die 15de eeu ’n aanvang geneem het met die ontdekkingsreise van die Portugese en Spanjaarde, later gevolg deur die Engelse, Nederlanders, Franse en Duitsers. Vir die doel van hierdie bespreking word koloniseringshandelinge in antieke tye nie betrek nie. Sodanige handelinge is so oud soos die mensdom self, onder andere baie duidelik waarneembaar indien die historiese verbreiding en ontwikkeling van tale onder die loep geneem word.
’n Paar leksikale definisies van die woord koloniseer word eers te ontleed.
Die woord koloniseer is afgelei van die Latynse woord colere, wat “to inhabit” (“om te bewoon”) beteken – ’n neutrale term sonder enige politieke of emosionele lading.
Binne meer resente tye word die woord onder andere beskryf as “to send colonists to or establish a colony in (an area); to settle in (an area) as colonists; (tr) to transform (a community, etc.) into a colony” (Collins English Dictionary); “tot koloniën maken; betekenisverwante termen: hyperonieminlijv en synoniem(en): kolonialiseren (figuurlijk) in beslag nemen, inpikken” (Van Dale-aanlyn); “’n volksplanting vestig in; jou in ’n kolonie vestig; kolonialiseer” (HAT).
Ander sinonieme vir koloniseer (uit verskillende woordeboeke) dui op die wye spektrum betekenisonderskeidings wat binne verskillende kontekste geaktiveer kan word, onder andere “people”, “populate”, “pioneer”, “open up”, “found” “overrun”, “occupy”, “take over”, “seize”, “capture”, “take possession of”, “annex”, “subjugate”, “hegemonize”.
Van die voorgaande leksikale definisies, wat baie algemeen geformuleer word om so omvattend as moontlik die betrokke woord se betekenis te omskryf, hou ’n paar betekenisimplikasies in. Die definisies dui eerstens op verskillende versweë agente van die handeling:
·      diegene wat mense stuur,
·      diegene wat gestuur word,
·      diegene wat uit eie wil vestig.
’n Tweede betekenisimplikasie (vergestalt in die komplementwerkwoordkonstruksie-betekenisbeskrywings[4] “to transform” en “tot koloniën maken”) dui op ’n sekere politieke of ideologiese opset met betrekking tot ’n te stigte kolonie, dus as resultaat van die ideologie van kolonialisme.
’n Derde betekenisimplikasie het te make met die wye spektrum betekenisonderskeidings wat die betrokke woord kan hê. In hierdie opsig tree koloniseer op as ’n semanties leë woord: hoe meer ’n woord kan beteken, hoe minder beteken dit eintlik. Sodanige woorde se betekenismoontlikhede lei tot ’n magdom uiteenlopende betekenisbeskouings ten opsigte van dit waarna die woord potensieel verwys. Dit hou verband met die konseptuele betekenisbenadering, ’n aspek van betekenis wat verder aan bespreek word.
Die meeste van die betrokke definisies is egter moreel neutraal geformuleer ten opsigte van die aard van die koloniseringsdaad. Van Dale en HAT beskou kolonialiseren/kolonialiseer as sinonieme van koloniseer sonder dat daar ’n noemenswaardige aanduiding van betekenisverskil is, alhoewel Van Dale tog kolonialiseren as figuurlike gebruik aandui. Daarteenoor word die betekenis van kolonialiseer (kolonialisieren) in Duits beskryf as ’n handeling uitgevoer om ’n bepaalde objek se politieke of sosiale status te verander: “ein Volk kolonialisieren”. Op grond van die feit dat die fokus van die handeling van subjek (agent) na ’n objek (diegene wat die handeling ondergaan) verskuif, suggereer iets van ’n moraliteit wat die handeling betref. Daarom behoort kolonialiseer eerder saamgelees te word met die afgeleide naamwoord kolonialisme, wat HAT soos volg omskryf: “1. Ekonomiese, politieke en maatskaplike beleid waardeur ’n groot moondheid sy kontrole oor landstreke en volke handhaaf of uitbrei; beleid waardeur kolonies verkry en behou word. 2. Minagtende benaming deur jong state gebruik om die optrede van Westerse moondhede teenoor hulle vroeëre kolonies aan te dui.” Van Dale beskryf kolonialisme as ’n “systeem waarbij de rijkdommen en de arbeidskracht van een wingebied worden geëxploiteerd ten voordele van de vreemde overheerser”. In teenstelling met koloniseer impliseer kolonialiseer dus ook ’n moraliteitsdimensie – én ’n moontlike negatiewe ervaring deur die geaffekteerdes van die handeling.
’n Gevolgtrekking wat hieruit gemaak kan word, is dat daar ’n hegter semantiese betrekking tussen kolonialisme en kolonialiseer bestaan as wat daar tussen kolonialiseer en koloniseer bestaan. Die kolonialiseringshandeling spruit uit ’n filosofie (politieke denkrigting) van kolonialisme. Alhoewel daar in Engels afgeleide vorme van colonialism bestaan (colonialist, colonial, colonialistic), word die ooreenstemmende werkwoordvorm (colonialize: vaag gedefinieer as “to make colonial” [Dictionary.com] – eerste optekening tussen 1860-1865) nie in die meeste standaard-Engelswoordeboeke aangetref nie.
Opsommend kan gesê word dat waar daar sprake van ’n magshebber is, die handeling van kolonisering nie net gepaard gaan met eksterne handelinge nie, maar dat dit ook geïntegreer is met (dikwels verskuilde) kolonialiseringshandelinge. Die koloniseringshandeling geskied dus vanuit die motief van die kolonialiseerder om voordeel daaruit te put. In gevalle waar koloniste uit eie vrye wil ’n bepaalde gebied koloniseer om bepaalde persoonlike redes, sou die handeling meestal nie óók ’n kolonialiseringshandeling wees nie. Daar kan geredeneer word dat die Afrikanerdiaspora ’n ooreenstemmende handeling kan wees en akkulturasie binne nuwe lewensomstandighede ’n soortgelyke resultaat tot gevolg het.
Die betekenisverskil tussen koloniseer en kolonialiseer word duideliker wanneer die omgekeerde handelinge, vergestalt in die werkwoorde dekoloniseer en dekolonialiseer, onder oë geneem word. Dekolonisering vind meestal plaas op grond van toegewing deur die koloniseerder en sy gevolglike bestuur van die proses. In die geval van dekolonialisering vind die inisiatief daarvoor – en die gepaardgaande handelinge – veral plaas vanuit die beheersende punt van die gekolonialiseerdes.
Vervolgens word, teen die voorgaande agtergrond, die semantiek van dekolonialisasie (dekolonialisasie) in meer besonderhede onder die loep geneem.
Allereers is dit nodig om daarop te let dat die voorvoegsel (prefiks) de- gewoonlik die volgende betekeniswaarde kan hê in ooreenstemming met die betekenis van die daaropvolgende selfstandige naamwoord: “omkeer”; dus die proses van kolonialisering omkeer, óf die proses van kolonisering omkeer. Die etimologie van die prefiks de- dui ook op ’n sekere negatiewe betekeniswaarde, deur die Online Etymology Dictionary beskryf as “a prefix in Latin usually meaning “down, off, … , down from,” but also “down to the bottom, totally” hence “completely” (intensive or completive)”. Dit stem ooreen met die oriëntasiemetafore wat Lakoff & Johnson (1980) onderskei, waarvolgens, op grond van die menslike liggaamlike ruimtelike oriëntasie, bo dikwels as positief ervaar word en onder as negatief. Hulle gee toe dat dit natuurlik van kultuur tot kultuur kan verskil.
Daar is reeds gepostuleer dat kolonialisering en kolonisering, en hulle omgekeerdes, nie na dieselfde prosesse verwys nie. Die betekenis van die een (kolonialisering) is meestal ingesluit by die betekenis van die ander (koloniseer). Gebruiksvoorbeelde toon dat daar by bepaalde (Afrikaanse) taalgebruikers weinig onderskeid getref word en dat die twee woorde afwisselend sinonimies gebruik word. Dit kan moontlik toegeskryf word aan Engelse invloed waar colonize en decolonize albei betekenisse (“colonialize” en “decolonialize” respektiewelik) by hulle betekenisse ingesluit het. Vergelyk byvoorbeeld hoedat dekolonisering en dekolonialiseer (werkwoordvorm van dekolonialisasie) in die volgende voorbeelde sinonimies gebruik word ten opsigte van dieselfde konteks sonder aanduiding van noemenswaardige betekenisverskil:
(1) “Maar dit is presies ook die rede waarom ons moet omgee oor dekolonisering van die wetenskap.” (Rapport Weekliks, 23 Oktober 2016, p. 4)
(2) “Dit is die rede waarom ’n doelbewuste poging om wetenskap te dekolonialiseer waardevol is en Suid-Afrikaanse universiteite het die geleentheid  om die proses te lei.” (Rapport Weekliks, 23 Oktober 2016, p. 4)
Die behoefte aan die benoeming van dekolonisering/dekolonialisasie sou eers ontstaan toe die bewussyn van die proses die eerste keer sy verskyning gemaak het. Op grond daarvan postuleer die Online Etymology Dictionary dat die woord decolonization die eerste keer in 1853 vanuit ’n politieke konteks in Amerikaanse Engels gebruik is alhoewel die VSA sy onafhanklikheid van Brittanje reeds in 1776 verklaar het. Vroeër was die woord slegs ’n mediese term.
Verwysing na die historiese konteks waarbinne die woord sy ontstaan te danke het – en ter ondersteuning van die betekenisbeskrywing van die woord dekolonialisasie – bring ons by ’n volgende benadering op grond waarvan die betekenis van woorde ondersoek kan word, naamlik die begripsbenadering (ook genoem konseptuele benadering). In kort beteken hierdie benadering dat die betekenis van ’n woord gelykgestel word aan die begrip of begrippe wat dit by die taalgebruiker oproep deur die gebruik van ’n bepaalde woord. Die woord dekolonialisasie se betekenis staan dus in noue veband met die begrip dekolonialisasie.
Verknoop aan die begrip dekolonialisasie – en vir die verstaan daarvan – is dit nodig om verskeie veranderlikes ter oorweging te neem. Dit sluit onder andere die volgende in: historiese, kulturele, politieke, sosiale, kontekstuele, talige (alhoewel talige by implikasie die meeste hiervan ondervang omdat taal denke struktureer) en ander faktore.
Vervolgens word daar aandag geskenk aan die woord se begripstatus teen die agtergrond van die feit dat die Engelse woord decolonization, alhoewel dit dubbelsinnig verstaan kan word, binne die huidige tydsgewrig as dekolonialisasie bedoel word op grond van die feit dat Afrikastate sedert die sestigerjare van die vorige eeu hulle onafhanklikheid verkry het as gevolg van ’n proses van dekolonisering en dus nie meer behoefte aan dekolonisering het nie.
Wat beteken dit dus om polities/staatkundig gedekoloniseer te wees maar nie gedekolonialiseer nie?
Wat beteken dit as die eis opklink dat die huidige Westerse universiteitsonderwys gedekolonialiseer en geafrikaniseer moet word?
Die laasgenoemde eis word meestal vanuit ’n swartbewussynsperspektief gestel. In ’n artikel getitel “Decolonising the mind and restoring the dignity of black people” skryf ene Boy Menzi Shongwe (2016) onder andere die volgende met betrekking tot (gekolonialiseerde) onderwys:

The anguish of seeing black people relinquishing their mother tongue in the former model c schools just to have a better education as most believe so, blacks in such schools do English as a ‘home language’ and do their real home language as a first additional language if they are lucky enough, not to do Afrikaans as a first additional language. When such thing is done one must know that the identity of the black person has been taken away or has been altered, because one’s home language is his/her identity … if at school they say to a black child do English as home language then … the identity of that child has been altered.”

Dit herinner aan die woorde van Charlemagne (Karel die Grote): “To have another language is to possess a second soul.” Beteken dit dan dat hierdie kinders hulle lewens hoofsaaklik moet inrig ooreenkomstig die “second soul”?
In sy betoog gaan hy verder deur te sê: “Black people had become foreigners and employees in their own land which is basically their home. The African land that was supposed to be owned and controlled by Africans was taken away from them through colonisation, apartheid, black genocide and etc” (sic).
Die laasgenoemde uitspraak getuig daarvan dat die konseptuele betekenis van woorde ook ’n beheersendepuntverskynsel is (“vantage point phenomenon”). Hy impliseer vanuit sy beheersende punt onder andere dat wit inwoners van Suid-Afrika steeds koloniste is wat op hulle beurt kolonialisme voortsit, dat hulle nie die reg het om as inheems beskou te word nie, dat hulle lot gesien moet word as deel van die proses van dekolonialisering. Hierdie beskouing sluit direk aan by een van die #XmustFall-slagkrete, naamlik #WhitenessMustFall.
Talle reste van kolonialisme is steeds in Suid-Afrika aanwesig, en sal waarskynlik steeds bly voortbestaan. Die rede daarvoor is te vind in die feit dat dekolonisering ’n proses is wat op ’n bepaalde stadium voltrek behoort te wees, terwyl dekolonialisering op verskeie vlakke werksaam is. Op die eerste vlak gaan dit gepaard met dekolonialisering op grond van die feit dat van sigbare koloniale simbole afstand gedoen word. Op die meer subtiele (en meestal onsigbare) vlak is die proses nie so eenvoudig nie. In hierdie opsig kan na verskillende koloniale kultuurreste verwys word, onder andere regeringsvorme, regstelsels, ekonomiese stelsels, onderwysstelsels, fisiese infrastruktuur en nog baie meer – meestal so verknoop in/aan ’n globale wêreld dat ’n samelewing daarsonder ondenkbaar is.
Ter illustrasie van die kompleksiteit van die dekolonialiseringsproblematiek op die interne/intrinsieke vlak word die posisie van die Afrikaner/Afrikaans kortliks in die soeklig geplaas. Die Afrikaner/Afrikaans is gekolonialiseer.
Die Afrikaner/Afrikaans en dekolonialisasie
Ten opsigte van die Afrikaner/Afrikaans kan twee vlakke van kolonialisering onderskei word: ekstern en intern.
Die eksterne kolonialisering van die Afrikaner/Afrikaans het eintlik na die Anglo-Boereoorlog sy beslag gekry in ’n brief wat die destydse superintendent van onderwys in Transvaal en die Oranjerivierkolonie, E.B. Sargant, aan lord Alfred Milner, Britse hoë kommissaris vir Suid-Afrika, geskryf het:
“We must appeal to England, and ask the sisters and daughters of those who have been fighting for the Empire to come out and complete that part of the work which their male relatives are unable to accomplish. Our military police had gathered the greater part of the child population into these camps and ... I feel that the opportunity during the next year of getting them all to speak English is golden”. (Vergelyk J.C. Steyn [litnet-artikel] in hierdie verband.)
Hierdie oproep is ’n duidelike illustrasie van die leksikale definisie wat die Advanced English Dictionary onder andere vir die betekenis van colonialism gee: “exploitation by a stronger country of weaker one”.
Die ontwikkeling van Afrikaans se posisie tot amptelike status en daarna val nie binne die bestek van hierdie artikel nie. Wat wel ter sake is, is die feit dat Afrikaans na 1994 sy 50%-aandeel as amptelike taal kwyt was, met die onpraktiese veronderstelling dat hy gelyke amptelike status met tien ander tale sou hê. Die gevolge was nie moeilik voorspelbaar nie: Afrikaans se verlies aan hoë funksies, ook die ander amptelike Afrikatale se verswakkende posisie ten opsigte van die de facto- amptelike taal, Engels. Baie redes kan hiervoor aangevoer word, maar dit is nie nou ter sake nie. [’n Terloopse vraag. Hoe “amptelik” kan ’n taal wees as sy amptelike gebruike doelbewus vernietig word – en ander nog nie die vermoë tot amptelikheid bereik het nie?]
Kolonialisasie van Afrikaans – nou nie meer deur bewindhebbers nie, maar as gevolg van die intrinsieke krag van Engels as wêreldtaal – was egter ook ingrypend ten opsigte van Afrikaans se interne grammatikale en leksikale strukture. Voorbeelde daarvan is talryk en kan nageslaan word in The influence of English on Afrikaans deur B.C. Donaldson. Dat Afrikaans wel ook ’n invloed op Suid-Afrikaanse Engels gehad het, is waar.
Dekolonialisasie van Afrikaans se interne grammatikale en leksikale strukture is dus nie moontlik nie en ook nie wenslik nie.
Teen hierdie agtergrond het die eis tot gedekolonialiseerde onderwys waarskynlik ook nie te doen met die indringing van Engels in Afrikatale nie, óók nie ten opsigte van die feit dat daar weggedoen moet word met Engels (as koloniale taal!) nie, want eintlik is Engels tans die draer van die eis tot dekolonialisasie in onderwys.
Die eis om dekolonialisering van die onderwys het te doen met die dekolonialisering van denke.
Is dit egter moontlik om taal en denke te skei?
Taal en denke
Die kognitiewe (taal)wetenskap het die afgelope dertig tot veertig jaar talle nuwe en insiggewende bevindinge oor die verhouding tussen taal en denke die lig laat sien. Enkele van hierdie insigte word kortliks aangestip ter ondersteuning van die inhoud van hierdie betoog.
Daar word beraam dat daar tussen drieduisend en tienduisend tale op aarde bestaan. ’n Presiese syfer is nie moontlik nie omdat daar tale is wat uitsterf en dan is daar ook nie altyd konsensus oor die dialektiese status van bepaalde taalvariëteite nie, synde selfstandige taal of dialek.
Normale taalgebruikers het die kognitiewe (en ander) vermoë(ns) om taal aan te leer en te gebruik. Die makro- en mikro-omgewings (ruimtelik, kultureel, sosiaal en andersins) waarbinne die taalontwikkeling en taalgebruik geskied, verskil egter van taal tot taal. Dit impliseer dat onderliggende denkstrukture soortgelyk, maar óók gevarieerd, ontwikkel, sommiges meer ooreenstemmend terwyl ander geheel van mekaar sal verskil op grond van hulle taalfamiliale verbintenisse.
Op grond van die feit dat ’n pasgeborene in enige taalomgewing die betrokke taal as moedertaal kan aanleer, laat vermoed dat daar sekere universalia moet bestaan wat die aanleer moontlik maak. Sodanige universalia bestaan wel, maar nie noodwendig as taaluniversalia nie – wel as ervaringsuniversalia. Die begrips- en taalaanlerende individu berg vanuit die staanspoor ervarings (bekend as beeldskemas) in die kognitiewe onbewuste, “the vast system of concepts and cognitive mechanisms that operates beneath the level of consciousness, structuring both our experience and our mode of conceptualizing the world”, volgens Lakoff & Johnson (1997). Die kognitiewe onbewuste bevat onder andere prekonseptuele ervarings van ruimte, ruimtelike oriëntasie, deel-geheel-relasies, proksimitieit (nabyheid/verwydering) en nog ’n aantal ander.
Die begrips-/taalaanlerende individu se liggaamlike (ruimtelike) ervaring van die werklikheid kry in hierdie proses kognitief beslag. Die werklikheid waarin hy/sy geplaas is, kom aanvanklik as ’n diffuse (vespreide/onsamehangende) kontinuum voor. Deur taal kry hy/sy ’n kognitiewe greep op die werklikheid, want deur taal word die “elemente van die werklikheid” benoem. Die werklikheid word dus gekategoriseer. Daar vind dus ’n bewuswording van sy/haar onmiddellike werklikheid plaas, die eie indentiteit en diegene wat na aan die eie identiteit funksioneer, die onmiddellike ruimtelike omgewing – en later die tydsdimensie. Later word hierdie bestaanskoördinate (identiteit, ruimtelike plasing en tydsplasing) na abstrakter dimensies getransponeer, juis ook omdat hierdie koördinate as sodanig baie abstrakte elemente bevat. Op grond van verskillende kulture waarin tale bestaan – en as sodanig die draers van die onderskeie kulture is – spreek dit vanself dat die taalneerslag van taal tot taal sal verskil.
Die proses van konseptualisering (en dus ook benoeming deur taal) vind dus divers plaas in ooreenstemming met die besondere taalgebruiker se unieke en gemeenskaplike lewenswerklikheid. Op grond van die wisselwerking tussen lewenswerklikheid en taalomgewing word die besondere taal se begripstrukture eintlik inherent deel van die taalaanlerende individu se kognitiewe apparatuur.
Vervolgens word slegs enkele voorbeelde oorsigtelik genoem om aan te dui hoedat deur taal verskillende tale se taalgebruikers se ervaring van die werklikheid verskil. ’n Volledige bespreking van die voorbeelde val nie binne die bestek van hierdie betoog nie.
Ruimtelike ervaring
Op grond van kulturele en ander faktore bestaan daar tale wat nie die behoefte aan ruimtelike verwysing in die onmiddellike omgewing van die spreker het nie. Windrigtingaanduidings is vir hulle voldoende.
Dan is daar ook tale (soos Hausa en Djerma wat in Nigerië gepraat word) wat ’n teenoorgestelde verwysingsisteem het – in vergelyking met Westerse tale –  wanneer daar na die lokaliteit van ’n objek in verhouding tot ’n ander objek verwys word. Die uitdrukking “voor die boom” sal byvoorbeeld na ’n teenoorgestelde lokaliteit verwys as wat dit die geval in Afrikaans of Engels sou wees.
Tydervaring
Op grond van liggaamlike oriëntasie word in sommige tale na die verlede verwys as “agter” en na die toekoms as “voor”. In ander tale is die proses omgekeerd. In sommige tale word die beweging van tyd begripsmatig van links na regs ervaar, terwyl ander dit weer andersom (regs na links ervaar) in ooreenstemming met die rigting waarin geskryf word. Verskillende tale het ook verskillende tydmodelle op grond waarvan die beweging van tyd in verhouding tot die ego ervaar word.
Kleurwaarneming
Daar kom baie voorbeelde in die literatuur voor van tale wat verskil ten opsigte van die aantal kleure wat hulle benoem. Hierdie verskynsel illustreer baie duidelik dat die kategorieë wat ons waarneem, nie as sodanig in die objektiewe werklikheid bestaan nie. Die onderskeiding van die betrokke kategorieë is ’n kultuurverskynsel wat deur die aanleer van die betrokke moedertaal verwerf word.
Ons sou kon voortgaan om verskille te lys wat deur die ontleding van taal aandui dat sprekers van verskillende moedertale verskillende begripservarings van die werklikheid het. Wat egter vir hierdie betoog van belang is, is die feit dat wanneer kolonialisering van ’n bepaalde grondgebied en hulle inwoners plaasvind, die kolonialiseerder se moedertaal een van die eerste elemente is wat op die gekolonialiseerdes afgedwing word. Dit beteken dat die kolonialiseerder se kognitiewe taalapparatuur deel word van die gekolonialiseerder se begripsweefsel, dikwels radikaal teenstrydig met byvoorbeeld die begripsmetafore (en natuurlik grammatikale strukture) wat binne die onderskeie tale bestaan. Wanneer dit eers deel geword het van die gekolonialiseerde se denkwêreld (gewoonlik omdat hy/sy onder dwang is om die hoër funksies van die kolonialiseerder se moedertaal te bemeester om binne die nuwe sosiale, maatskaplike, regs- en ander terreine te funksioneer), word die bewindhebber se moedertaal geredelik aanvaar en van geslag tot geslag oorgedra, selfs lank na dekolonisering. Vergelyk byvoorbeeld die amptelike tale van verskeie Afrikastate wat lank reeds gedekoloniseer is (in bepaalde gevalle naas die inheemse taal van die streek), onder andere Burkina Faso (Frans), Burundi (Frans), Kameroen (Engels en Frans), Republiek van die Kongo (Frans), Gaboen (Frans), Gambië (Engels), Ghana (Engels), Kenia (Engels), Mosambiek (Portugees), Namibië (Engels), Suid-Afrika (Engels) – en nog andere ook.
Bogenoemde indringing van koloniale tale binne die Afrikakonteks is in ’n sekere sin verklaarbaar as in ag geneem word dat die onderskeie koloniale tale onder meer onderlinge kommunikasie moes moontlik maak in ’n vasteland waarin daar ongeveer 2 000 tale gepraat word (vergelyk https://en.wikipedia.org/wiki/Languages_of_Africa#cite_note-0). Dieselfde bron skryf ook die ontwikkeling van kreooltale aan onder andere koloniale invloed toe: “Due partly to its multilingualism and its colonial past, a substantial proportion of the world’s creole languages are to be found in Africa.” Daar bestaan by bepaalde taalkundiges die opvatting dat Afrikaans ook ’n kreooltaal is. Tasch (1995:28) beweer byvoorbeeld: “Afrikaans ist gemäss neueren Untersuchenen eine ‘kreolisierte’ germanische Sprache, die hauptsächlich in der Republik Südafrika, Namibia, Zimbabwe und vereinzelt auch in Botswana und Swaziland gesprochen wird.”
In die geval van tale wat uit kreolisering ontstaan het, is daar waarskynlik geen sprake van dekolonialisering van die betrokke tale nie.
Ten slotte
Die voorgaande oorsig word saamgevat:
Woorde verwys na konkrete, fiktiewe of abstrakte sake (referente) binne ’n buitetalige werklikheid.
Die aanleer van ’n moedertaal (hier ter sake woorde uit die betrokke taal se woordeskat) word betrek by ’n komplekse en geïntegreerde aaneenskakeling van prekonseptuele ervarings (dus prelinguistiese ervarings) met konseptuele ervarings in ooreenstemming met die benoeming deur talige simbole (byvoorbeeld die voorsetsel in vir ruimte/houer-ervarings).
In die geval van abstrakte sake (referente) dien die woord se betekenisrelasies met ander woorde binne dieselfde betekenisdomein as betekenisverklaring.
Elke spreker van ’n (moeder)taal het egter ook ’n konteks waaruit hy/sy kom, wat onder andere historiese en kulturele determinante insluit vir die konstituering van ’n begripsbetekenis (konseptuele betekenis) van ’n betrokke woord.
Tale verskil van mekaar ten opsigte van die wyse waarop hulle kognitief (konseptueel wat woorde betref) universele ervarings talig benoem, wat bevestiging is van diverse lewensruimtes waarin hulle hulle bevind. In hierdie opsig speel die konseptuele metafoor (begripsmetafoor) – wat binne die bestek van hierdie betoog nie bespreek kon word nie – ’n belangrike rol in die verstaan van abstrakte begrippe. Die volgende uitspraak van Lakoff en Johnson (1997) suggereer dat baie konseptuele metafore in ’n groot mate taalspesifiek en kultuurspesifiek is, dus ook die kognitiewe weefsel van die betrokke moedertaalspreker:
“What metaphor does is to allow us to reason about abstract domains using inferences from concrete domains that are highly structured in our experience. It allows us to map inference patterns from concrete to abstract domains. All metaphorical inference, it appears, is a projection of sensorimotor inference patterns onto abstract domains. Neural projections from sensorimotor areas of the brain to areas responsible for abstract reason appear to be responsible for metaphorical thought: they permit us to take nonmetaphorical inference mechanisms from the sensorimotor areas and put them to use in carrying out abstract inferences. … The linguistic function of metaphor is secondary.”
Opmerking. In hierdie bespreking is die kompleksiteit van die (soms radikale) grammatikale verskille tussen tale – ook deel van elke taalgebruiker se kognitiewe apparatuur – nie betrek nie.
Gevolgtrekking
Teen die voorgaande uiteensetting kan tereg gevra word: Wat beteken “Westerse universiteitsonderwys moet gedekolonialiseer en geafrikaniseer word ...”?
Die feit dat Westerse universiteitsonderwys teenoor afrikanisering gestel word, bevestig die argument wat in hierdie betoog gestel is: twee denkstrukture (kognitiewe sisteme wat in taal en deur taal tot stand kom), kom teenoor mekaar te staan. Die Westerse sisteem verteenwoordig denkstrukture wat vreemd aandoen in vergelyking met wat as Afrika-denkstrukture beskou word. Die woord afrikaniseer impliseer die aanpassing en transformasie van die koloniale denkpatrone, wat positief bejeën sou kon word – in teenstelling met dekolonialiseer wat “afbreek” as betekeniswaarde in sy betekenis dra.
Een van die treffendste voorbeelde van die begrip AFRIKANISEER is te vind in die Afrikaanse taal: Afrikaans is geafrikaniseerde Nederlands, wel onder invloed van ander tale, maar tale wat hulle invloed op die Afrikaanse bodem laat geld het.
Dit is ironies dat die instrument wat veronderstel is om die proses van dekolonialisasie moet dra, die koloniale taal Engels is, wat impliseer dat kolonialisme eintlik uitgebou en in stand gehou word deur die aandrang van onderrig in Engels.
Werklike intrinsieke dekolonialisasie (verandering van inherente denkstrukture) bly dus ’n onbereikbare ideaal vir diegene wat dit begeer, onmoontlik omdat kolonialisme in taal gedrenk is – ’n mite,  omdat in die strewe daarna die wese van kolonialisme eintlik bevorder word.
Die slagkreet “dekolonialisasie van universiteitsonderwys” se eintlike betekenis lê net in die taalhandelingskrag van die eis, omdat die uitdrukking as sodanig in ’n sekere sin as ’n semanties leë sambreelterm gebruik word (vergelyk Botha, 1975, oor die semantiek van semanties leë woorde) wat van konteks tot konteks een of meer van die teendele moet aktiveer van wat as betekenisonderskeidings van kolonialiseer geld, soos vroeër onderskei.
Verwysings
Advanced English Dictionary – elektroniese kopie
Botha, W.J. 1975. Die leë werkwoord in Afrikaans. Unisa: Ongepubliseerde Magisterverhandeling.
Donaldson, Bruce C. 1988. The Influence of English on Afrikaans: A Case Study of Linguistic Change in a Language Contact Situation. Pretoria: Serva Publishers.
Hanks, Patrick (ed.). 1979. Collins Dictionary of the English Language. Londen & Glasgow: Collins.
Lakoff, George & Mark Johnson. 1980. Metaphors we live by. Chicago & Londen: University of Chicago Press.
Lakoff, George & Mark Johnson. 1997. Philosophy in the flesh. Ongepubliseerde elektroniese kopie.
Shongwe, Boy Menzi. 16 May 2016. Decolonising the mind and restoring the dignity of black people. Article no: 5, News24.
Steyn, J.C. Oktober 2016 geraadpleeg. Die taalstryd na die Anglo-Boereoorlog. http://www.oulitnet.co.za/taaldebat/steynjc2.asp.
Tasch, Meike. 1995. Empirische Untersuchung zu Sprechereinstellungen in Südafrika. Duisburg: Gerhard-Mercator – Gesamthochschule – Duisburg.
Taylor, John R. 1995. Linguistic categorization. Prototypes in linguistic theory. Oxford: Clarendon Press.
Wikipedia. Oktober 2016. Languages of Africa. (https://en.wikipedia.org/wiki/Languages_of_Africa#cite_note-0).




[1]Daar bestaan ’n subtiele betekenisverskil tussen die woorde dekolonialisering en dekolonialisasie. Eersgenoemde benoem die proses terwyl laasgenoemde die verskynsel benoem. In die onderhawige betoog word die twee woorde afwisselend gebruik sonder onderskeid in betekenis omdat die betekenisverskil nie vir die onderhawige argument ter sake is nie.
[2]Woordstatus word met kursivering aangedui. Begripstatus word met klein-hoofletters aangedui.
[3] Die semantiek van die woord Afrikaniseer val nie binne die bestek van hierdie bespreking nie. Dit is egter nodig om daarop te wys dat die die onderhawige woord semanties as leeg beskou kan word (vergelyk Botha, 1975). ’n Semanties-leë woord se betekenisbestek is so omvattend dat dit eintlik niks spesifiek beteken nie: hoe meer dit kán beteken, hoe minder betéken dit. 
[4]’n Komplementwerkwoordkonstruksie bestaan uit ’n oorganklike werkwoord (waarvan die betekenis verandering impliseer, ’n voorwerpnaamwoordstuk en ’n (eksplisiete of implisiete) komplement. Die komplement dui die aard van die verandering aan wat die voorwerpnaamwoordstuk as gevolg van die veranderingswerkwoord ondergaan.