Totale bladsykyke

Dinsdag 24 Maart 2020

’n Ander kyk na taal: die wortels van taal


n Ander kyk na taal: die wortels van taal

Language is everywhere. It permeates our thoughts, mediates our relations with others, and even creeps in our dreams. Most human knowledge and culture is stored and transmitted in language, which is so ubiquitous that we take it for granted. Without it, however, society as we know it would be impossible. (Ronald W. Langacker, 1967, Language and its structure).

Vra ’n mens die vraag “Wat is taal?”, is die antwoord meestal “Dit is ’n kommunikasiemedium.” Dit is waar, maar dit is slegs ’n klein stukkie van die waarheid. Daar mag mense wees wat sou sê dat dit nét ’n kommunikasiemedium is, gewoonlik om ’n onverskillige houding jeens taal te verontskuldig, of bloot uit onkunde. Sodanige bewering is absoluut vals.
Deur die eeue het taalkundiges en ander belanghebbendes en belangstellendes ook die vraag probeer beantwoord teen die agtergrond van die veronderstelling dat hoe meer ons van taal weet, hoe makliker kom ons by die uiteindelike antwoord uit.
En ons weet – op grond van die bemoeienis van die voorgaande taalbetrokkenes – ongelooflik baie van taal, maar nie alles nie. Langacker beweer selfs dat “not even professional linguists can claim to understand it fully.”
Hoekom weet ons nie alles van taal nie?
Die rede daarvoor is onder andere te vind in die feit dat taal ’n mens-verskynsel is. En ons weet ook baie van die verskynsel ‘mens’ – maar ook nie alles nie. Ook hieroor sê Langacker in hierdie verband: “Anyone who wishes to know and understand himself must come to understand in some measure the character of the linguistic system that plays such a fundamental role in his mental and social life.”
Wat weet ons dan alles van taal?
’n Volledige inventaris is onmoontlik, maar laat ons ’n paar van ons taal-weet-dinge noem.
Ons weet dat taal dít is wat ons praat, en wat ons skryf eintlik net ’n weergawe van taal is.
Ons weet dat enige taal ’n beperkte aantal klanke het wat toepaslik is vir die betrokke taal, én waarmee ons deur verskillende rangskikkings van die klanke in staat is om ’n oneindige aantal woorde te vorm – maar dat nie al die moontlike rangskikkings sinvolle woorde is nie.
Ons weet dat ’n taal woorde bevat, sommiges enkelvoudig en ander meer kompleks.
Ons weet dat komplekser woorde uit sinvolle dele bestaan en verskillende verbindings van dele verskillende betekenisse tot stand bring.
Ons weet dat die verskillende rangskikkings van woorde verskillende sinne tot gevolg het, en dat nie enige willekeurige rangskikking sinvol is nie. En dan weet ons ook dat die beginsel van rangskikking ons in staat stel om ’n oneindige aantal sinvolle sinne tot uitdrukking te bring.
Ons weet dat woorde en sinne betekenis het.
Ons weet dat die omgewing waarin taal gebruik word meestal bepalend is ten opsigte van die betekenis van die betrokke taaluitdrukking.
Ons weet dat langer opeenvolgings van sinne ook omvattender betekenisse (temas) kan onderlê.
Ons weet dat taal ook misverstaan kan word.
Ons weet dat elke taal ’n geskiedenis het, dat taal nie staties is nie en voortdurend ontwikkel en verander (soms nie ingrypend nie).
Ons weet dat verskillende tale tot verskillende taalfamilies behoort.
Ons weet dat binne dieselfde taalgemeenskap verskillende variasies van die betrokke taal kan bestaan en indien die variasies ingrypend van die taal se standaardvorm verskil, ons van verskillende dialekte van die taal praat.
En so sou ons kon aangaan.
Taal is egter ook ’n doen-ding, ’n belangrike aspek van taal wat baie lank min aandag gekry het, alhoewel die vermaarde Nederlandse taalkundige, Anton Reichling, reeds in die jare veertig van die vorige eeu beweer het dat “mijn spreken (dus taal) … zelf ook een handeling (is). Het is een handeling van een bijzonder soort.” Gedurende die jare vyftig van die vorige eeu het die Britse taalfilosoof, J.L. Austin, ’n omwenteling teweeggebring toe hy voortgebou het op die gedagte van die doen-funksie van taal toe hy die doen-eienskappe van taal uitgestippel het in sy nou bekende “Speech Acts Theory”.
Maar wat doen taal en hoe doen taal dit?
Wanneer die kunsskilder sy of haar kwas gebruik, in verskillende kleure doop, verskillende skakerings voortbring om uiteindelik op die doek vas te lê, word die kwas die instrument. Dit wat op die doek verskyn, is nie slegs die versmelting van strepe en kleure nie. Dit is meestal die neerslag van iets wat binne die psige van die kunstenaar gesmag het om sy lê te kry.
So is dit ook die geval met taal.
Taal is ’n instrument.
As instrument kan taal neutraal, koud en klinies wees.
As instrument kan taal warm, vriendelik, sag, intiem, gevoelvol, deernisvol, meelewend, empaties en simpatiek wees.
As instrument kan taal hard, wreed, meedoënloos, onsimpatiek en hardvogtig wees.
As instrument kan taal verdelend of saambindend wees.
As instrument kan taal inspirerend of aftakelend wees.
As instrument kan taal oorlog verklaar of vrede sluit. Taal kan dus verwoestend of helend wees.
Die instrumentdoelwitte van taal is legio. Ons sou kon aangaan en aangaan om nog en nog te noem.
Die voorgaande eienskappe is meestal ook menslike eienskappe: vanuit en gerig tot. Dit verbaas nie, want taal en mens is heg verweef met mekaar: taal is mens en mens is taal. Ons is gedrenk in (moeder)taal.
Daarom dra taal ook menslike intensies en ontbloot of verhul dikwels mensstrategieë.
Daarom moet die soeke wees na die begronding van taal – taal se psigiese wortels,  vasgelê in die proses van taalverwerwing en taalontwikkeling. Wat onder die oppervlakte van taal binne die mens se bewuste en onbewuste lê, is dus net so wesenlik taal as wat die taaluitdrukking self taal is.
Taal instigeer begrip en begrip is meestal taal, en nie noodwendig altyd uitgesproke begrip nie. Om dit anders te stel: As ek om my kyk, sien ek talle dinge wat deur taal benoem kan word, wat dus ’n taalpotensiaal het. En wanneer ek iets vreemds opmerk, is die vreemdheid meestal geleë in die feit dat ek dit nie talig kan benoem nie.
Die begripeienskap van taal hang saam met dit wat ons kognisie noem, letterlik ons rasionele vermoë om te weet, te redeneer en te argumenteer. Ons rasionaliteit is egter nie rigied te onderskei van ons emosionaliteit nie. Sodanige bespreking sal moet wag vir ’n ander dag.
Ons kognisie stel ons in staat om begrippe te vorm. Begrippe “soek” na woorde, dus taal. Omgekeerd kan gesê word dat wanneer woorde gebruik word, hulle op hulle beurt weer reik na begrippe. So kan dit dan dikwels gebeur dat dieselfde woord by verskillende persone verskillende begrippe oproep. So mag dit gebeur dat indien ek die (abstrakte) woord vrug gebruik, dat dit by die meeste mense moontlik die begrip wat aan ’n appel gekoppel word, sal oproep. Ander mag miskien die lemoenbegrip in gedagte hê.
Die komplekse verhouding wat daar tussen taal en kognisie bestaan, is al baie jare gelede herken en erken en baie taalkundiges en ander vakkundiges het hierdie verband nougeset ondersoek en teorieë daaroor geformuleer.
Een van die mees toonaangewende teorieë van die onlangse verlede was dié van die Amerikaanse taalkundige Noam Chomsky. Hy het van die veronderstelling uitgegaan dat binne die mens se kognitiewe sisteem daar ’n afsonderlike vermoë bestaan waarmee die mens gebore word, wat dus biologies vasgelê is. Hy het dit die “language faculty” genoem.
Baie taalkundiges het in navolging van Chomsky nog subteorieë geformuleer en baie navorsing daaroor gedoen.
In die jare tagtig van die vorige eeu is Chomsky se idee van ’n taalsegment binne die mens se kognitiewe sisteem ernstig bevraagteken deur onder andere die taalkundiges Ron Langacker en George Lakoff van die Universiteit van Kalifornië, respektiewelik verbonde aan die kampusse van San Diego en Berkley. Hulle was goed onderlê in Chomskyaanse taalkunde. Dit was waarskynlik die rede waarom hulle Chomsky se “language faculty”-teorie begin bevraagteken het.
In samewerking met taalkundiges vanoor die hele wêreld het hulle soveel tale as moontlik empiries ondersoek.
[Die WAT beskryf empiries soos volg: “Betreffende, gegrond op, afgelei van, handelend oor ervaring of proefneming; wat nie op teorie, berekening of redenering berus nie; proefondervindelik”.]
Hulle gevolgtrekking, veral gegrond op navorsing oor die aard en wese van die metafoor in verskillende tale, was dat taal die gehele kognitiewe sisteem van die mens betrek – dus nie net ’n segment daarvan nie.
Twee ander interessante bevindinge wat hulle gemaak het, was die volgende:
·       Daar bestaan twee soorte metafore: taalmetafore en begripsmetafore. Begripsmetafore lê onder die oppervlakte van taal en is dus nog nie taal nie. Ons kan dit taalmetafories een van die wortels van taal noem.
·       Op ’n dieperliggende vlak – dit wat George Lakoff die kognitiewe onbewuste noem – kom skemas voor, skemas wat gebaseer is op die mens se (eerste) ervarings van die wêreld om hom/haar. Dit is nog nie begrip nie, maar is instrumenteel in die verwerwing van begrip. Dit word dan tereg ook prekonseptuele ervarings genoem, dus ervarings wat die begrip (konsep) voorafgaan. Kom ons noem dit die tweede wortel van taal.
’n Voorbeeld sal moontlik hierdie twee vlakke duideliker illustreer.
Die woord moeilik het ’n abstrakte betekenis, en dié betekenis is moeilik (!) te omskryf. Maar ons verstaan wat moeilik beteken, byvoorbeeld in uitdrukkings soos die volgende:
1.     Daar kom moeilikheid.
2.     Hy is in diep moeilikheid.
Die kind se eerste ervaring van die wêreld is ruimte, en dan ook ’n paar subervarings van ruimte, soos onder andere oriëntasie in ruimte, beweging in/deur ruimte, houers as/in ruimte, nabyheid in ruimte en nog ook ’n aantal ander ruimtelike ervarings. Hulle word almal skemas genoem – en daar bestaan ook nog ander skemas wat nie noodwendig ruimtelik van aard is nie – omdat hulle nog nie begrippe is nie, maar elkeen van hierdie skemas dien as bron van verskillende soorte ruimtelike begrippe.
Laat ons terugkom na die moeilikheid-voorbeelde. Die eerste voorbeeld koppel ons op grond van die bewegingswerkwoord kom aan beweging, dus ’n ding wat beweeg en rigting het. In die tweede voorbeeld word moeilikheid gekoppel aan die skema houer.
Indien ons nie die aard van die moeilikheid weet nie, verstaan ons dus die woord moeilikheid (op die taaloppervlakte) vanuit die kognitiewe onbewuste (vlak 1) via die begripsvlak (vlak 2). Dit word dan ’n konseptuele metafoor (begripsmetafoor) genoem.
Ek sal in ’n ander betoog die aard van konseptuele metafore uitspel. Die besonderhede is vir die doel van hierdie argument nie nodig nie.
Wat dus tot hier toe betoog is, is dat ’n taaluitdrukking ’n verskynsel op die oppervlakte is – slegs die “oortjies van die seekoei”, óf dan die punt van die ysberg. Sonder die begripsvlak en die beeldskematiese vlak (wat diep binne die kognitiewe onbewuste geleë is) is taal nie moontlik nie. Ten minste is betekenis dan nie moontlik nie.
Waarom dan hierdie hele betoog?
Daar word deesdae baie gewag gemaak van moedertaalonderrig en die feit dat beginnerleerlinge wat nie in hulle moedertaal aanvangsonderrig ontvang nie, oor die algemeen nie presteer nie.
Laat my eers dit sê. In die proses van taalverwerwing en taalontwikkeling binne verskillende kulture is die begripsvlak van tale nie identies nie. Daar bestaan baie voorbeelde uit verskillende tale om dit te illustreer. In twee van die tale wat in Nigerië gepraat word (Hausa en Djerma) sou ’n uitdrukking soos die volgende verskillend geïnterpreteer word as wat dit die geval in Westerse tale sou wees:
Die hond is agter die boom.
In Westerse tale sou die hond te vinde wees agter die boom asof die boom ’n mens-oriëntasie het wat na die spreker kyk.
In Hausa en Djerma het die boom ook ’n mens-oriëntasie, maar ’n oriëntasie wat in dieselfde rigting kyk as die spreker.
Afhangend deur wie en met wie gepraat word, sal die hond dus op twee verskillende plekke gevind kan word.
Daar bestaan ook talle ander voorbeelde van kultuurverkskille wat begripsverskille onderlê. Tyd word byvoorbeeld deur die begripsmetafoor tyd is beweging verstaan, maar in bepaalde kulture is die genoemde beweging na die spreker, selfs verby die spreker, terwyl in andere kulture die tydsbeweging altyd verstaan word as beweging weg van die spreker.
Ek wil nie nog voorbeelde en nog voorbeelde noem nie, maar ek wil ’n metafoor gebruik om my uiteindelike argument te stel.
Laat ons die beginnerleerling ’n jong plantjie noem, ’n plantjie waarna deernisvol en met omsigtigheid talig omgesien moet word, want die proses van verwerwing en ontwikkeling van sy/haar taal is kardinaal ten opsigte van sy/haar hele menswees, veral gesien vanuit die aangehaalde stelling van Langacker aan die begin van hierdie betoog.
Om dus die moedertaalspreker aan nie-moedertaalonderrig bloot te stel in sy/haar aanvangsjare, is om hom/haar te ontneem van sy/haar taalwortels (waaroor dit in hierdie betoog gegaan het) en hom/haar in te ent in wortels wat nie syne/hare is nie. In sommige gevalle sal die intenting geslaagd wees en die plantjie mag gedy. In ander gevalle mag die plantjie verlep.
Oor die moraliteit daarvan wil ek my nie uitspreek nie.

Donderdag 05 Maart 2020

Waarom taalkunde?


Waarom taalkunde?
’n Mens kan tereg vra wat die sin van taalkundestudie is. Ongelukkig is dit nie ’n vraag wat in enkele reëls beantwoord kan word nie. Hoekom nie? Omdat die spektrum wat deur taalkundestudie gedek word, so ’n wye spektrum is. Vir eers moet ’n mens gaan kyk na al die verskillende vlakke waarop taal funksioneer. Taalkundestudie sal dan ook al hierdie verskillende taalvlakke in berekening moet bring. Dink maar aan hoedat taal die spreker se identiteit openbaar. Ons dink onder andere aan fisiese identiteit, psigiese identiteit, sosiale identiteit, kulturele identiteit, geografise identiteit en historiese identiteit. Maar taal stel ons ook in staat om die werklikheid (en denkbeeldigheid) te ervaar en daaroor te praat. Taal is dus ook die instrument waardeur ons ons emosies tot uitdrukking kan bring. Taal struktureer ook ons gedagtegang.
En wanneer ons van gedagtes praat, praat ons van kognisie. In die engste sin van die woord beteken kognisie ’n geestesproses wat ons in staat stel om te weet. Dit sluit dus bewussyn (om bewus te wees van, om te besef), waarneming, beredenering en oordeel in. En as ons mooi daaroor nadink, impliseer al die bogenoemde prosesse taal. Want ons giet dit wat ons van bewus is of besef, in taal; ons formuleer gewoonlik ons waarnemings in taal; ons beredeneer deur taal; en ons oordeelvellinge geskied gewoonlik deur taal. Maar al hierdie kognitiewe prosesse word gekleur deur ons totale menswees, wat ons ruimtelike, kulturele, sosiale en psigiese plasing binne ’n werklikheid impliseer.
Om dus terug te kom na ’n antwoord op die vraag oor die sin van taalkundestudie, kan ons sê dat taalkundestudie ons ook insig bring in bepaalde aspekte van ons menswees – aspekte van menswees wat verband hou met ons vermoë tot kommunikasie: taalkommunikasie. Maar dit is natuurlik baie algemeen gestel. Die studie van verskillende segmente van taal (wat uiteindelik almal geïntegreer is ten opsigte van mekaar) bied aan ons insig oor spesifieke aspekte van taalkommunikatiewe gedrag. Dit gee byvoorbeeld vir ons antwoorde op die hoe van taalkommunikasie en wat daarmee saamhang, byvoorbeeld:
·     Hoe werk betekenis? Hoe kry taal dit dus reg om te beteken?
·     Hoe werk konteks ten opsigte van taal? Watter kontekstuele faktore het dus ’n invloed op die betekenisse wat ons deur taal oordra?
·     Hoe werk sinne in ’n taal? Hoe kry ons dit dus reg om ’n oneindige hoeveelheid grammatikale sinne te produseer terwyl baie van die sinne wat ons daagliks gebruik, nog nooit voorheen deur ons gebruik is nie?
·     Hoe werk die woordstruktuur van ’n taal? Op grond waarvan is ons dus in staat om byvoorbeeld nuwe woorde in ’n taal te skep?
·     Hoe werk klanke in ’n taal? Hoekom maak alle tale dus nie van presies dieselfde klanke gebruik nie?
Maar dit voorsien aan ons ook antwoorde op die waar van taal, byvoorbeeld:
·     Waar kom taal vandaan?
·     Waar kom spesifieke tale vandaan?
·     Waar hoort ’n spesifieke taal binne ’n besondere taalfamilie?
·     Waar kom bepaalde woorde vandaan?
·     Waar kom bepaalde betekenisse vandaan?
·     Waar kom bepaalde taalkonstruksies vandaan?
Maar kennis as sodanig het min sin as dit nie toepassingswaarde het nie. En taalkundekennis en taalkunde-insig het op verskeie vlakke en terreine toepassingswaarde, byvoorbeeld:
·     Kennis van die sintaksis van ’n taal verhoog ons begrip van bepaalde diskoerse, sy dit ’n gedig, ’n drama, ’n stuk prosa, ’n regsdokument, ’n wetenskaplike artikel, ’n koerantberig, of watter soort skryfwerk ook al. Maar dit stel ons ook in staat om in ons eie taalgebruik meer genuanseerd te formuleer, om presies te sê wat ons wil sê. Dit verfyn ook ons vermoë tot analise (of meer algemeen gestel: tot probleemoplossing), want sinsbegrip berus op (formele of informele) sinsanalise.
·     Semantiekkennis verhelder ons begrip ten opsigte van samehangende betekenisstrukture binne enige teks of diskoers. Dit verfyn ook ons eie woordkeuses. Dit stel ons in staat om funksionele betekenisskakels (kohesie-elemente) binne diskoerse raak te sien of self te bewerkstellig. Daardeur word ons eie formuleringsvaardighede verbeter. 
En so kan ons voortgaan om die toepassingswaarde van elke komponent van die taalkunde te beskryf. Maar dit is nie die doel van hierdie oorsig nie. Dit sal ook die denkende individu die geleentheid ontneem om self bewus te word van bepaalde toepassingsvlakke.
Kom ons noem nog net enkele belangrike aspekte met betrekking tot taalkundestudie.Die mens is dinamies – en omdat taal so wesenlik deel van die mens is, is taal ook dinamies. Daarom ondergaan ’n taal (of tale) deur die jare verandering. Ons kan dus ons fokus plaas op die veranderinge wat ’n taal (of tale) deur die jare ondergaan het. Hierdie veranderinge kan op ’n oorsigtelike vlak bestudeer word, maar die taalkundige stel veral belang in die besonderhede van die veranderinge, byvoorbeeld grammatikale veranderinge (klankgrammatika, woordgrammatika, sinsgrammatika), maar ook in betekenisveranderinge. Wanneer ons met die historiese dimensie van taalkundestudie besig is, bestudeer ons taal diachronies.
’n Ander dimensie van taalkundestudie is die sinchroniese. Die Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal beskryf dit as “(w)at in die tyd saamval; gelyktydig”. Dit is dus “taalstudie wat die taal op 'n bepaalde oomblik van sy bestaan bestudeer, sonder om rekening te hou met die historiese ontwikkeling”.
Omdat taal soveel dimensies het – en omdat taal sistematies is – behoort die studie van taal ook vanuit ’n bepaalde sistematiek bestudeer te word. Daarom bestaan daar ’n tradisie vir die studie van taalkunde, ’n tradisie wat taalkundekomponente onderskei. Hierdie komponente hou verband met die klanklike aspek van taal (Fonologie), die woordbou van ’n taal  (Morfologie), die sinsbou van ’n taal (Sintaksis) en die betekenis van woorde en sinne in ’n taal (Semantiek). Hierdie tradisionele verdeling maak egter nie voorsiening vir die studie van konteks as ’n betekenisveranderlike met betrekking tot taal nie; ook nie vir kognitiewe faktore wat betekenisgewing, betekenisoordrag en betekenisbegrip bepaal nie. Daarom voeg ons vir hierdie oorsig nog twee komponente by, naamlik Pragmatiek en Kognitiewe Linguistiek. Daar moet natuurlik onmiddellik opgemerk word dat al word hierdie komponente ter wille van die studie van mekaar onderskei, daar ’n hegte verhouding tussen hulle binne die taalrealiteit bestaan. Daarom is dit ook nodig om die samehang tussen hierdie komponente onder oë te neem.