Totale bladsykyke

Saterdag 24 Desember 2016

Metaforiese versmelting van intieme digterlike ruimte en wêreld in die poësie van Rika Cilliers

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR. KLIK OP DIE PYLTJIE BY DIE BETROKKE MAAND VIR TOEGANG.




Saterdag 17 Desember 2016

Naamgewing en naamsverandering

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR. KLIK OP DIE PYLTJIE BY NOVEMBER VIR TOEGANG.
Naamgewing en naamsverandering
 W.J. Botha

1.  Naamgewing

Naamgewing (of benoeming) is ’n natuurlike menslike (taal)verskynsel. Die taalgebruiker doen dit om betekenis te gee aan die “dinge” (of sake) in sy leefwêreld – hetsy aan konkrete, abstrakte of fiktiewe entiteite in hierdie wêreld; om deur benoeming grense vir ’n kategorie te skep, om daaroor te kan praat (of om daarna te kan verwys). Alhoewel daar verskillende metodes bestaan op grond waarvan entiteite benoem word, is daar veral twee wat van besondere belang is:

1.1. ’n Begrip (konsep) ontwikkel – ook in kompleksiteit – en “vra” eintlik om ’n naam. Dit het byvoorbeeld gebeur met die ontwikkeling van die konsep “Afrikaans”. Dit is afwisselend benoem met ’n waarde-beoordelende benaming soos “Plat-Hollands” en skriftelike benoemings soos “Transvaals” (1887), “Afrikaander Taal” (1901), “The Taal” (na 1902), “Burensprache” (1904), “Boer Dutch” (ongeveer 1904), “Le Langue des Boers” (1911) en “Zuid-Afrikaansch” (vergelyk Nienaber, 1949: 98-100). Die aangehaalde benoemings illustreer by implikasie twee baie belangrike benoemingsbeginsels, naamlik prototipebenoeming en beheersendepuntoordeel.
 
1.1.1. Prototipe van ’n kategorie. Om van enige kategorie betekenissin te maak, word ’n prototipe van die kategorie geïdentifiseer op grond waarvan lede van die kategorie herken word. Die identifikasie van sodanige prototipe is ’n natuurlike menslike konseptualiseringsverskynsel wat ons verder in staat stel om oor kategorieë te praat, om betekenis te gee aan kategorieë – om kategorieë, dus ons leefwêreld, te begryp. Langacker (1987: 371) beskryf ’n prototipe as “a typical instance of a category, and other elements are assimilated to the category on the basis of their perceived resemblance to the prototype; there are degrees of membership based on degrees of similarity”. In gevalle waar kategorieë konkrete entiteite groepeer, bepaal omgewings- en kulturele faktore die mees prominente/sentrale (dit wil sê die mees prototipiese) lede van die kategorie. So sal die referente van appel, pruim, vy, olyf ensovoorts in verskillende kontekste onderskeidelik as die prototipes van die woord vrug optree. In die geval van abstrakte kategorieë word die saak egter veel komplekser, want dan moet prototipiese eienskappe (nié prototipe-elemente nie) verteenwoordigend van die kategorie word.

1.1.2. Ten opsigte van die beheersende punt wys MacLaury (1991: 59) daarop dat die mate waarin ’n prototipe óf ’n gemiddelde lid, óf ’n toonbeeld (volmaakte lid) van die kategorie kan wees, saamhang met die gesigs- of beheersende punt waaruit die kategoriseerder beoordeel:

      “Different individuals place importance on distinct attributes of the members of a category. As a conse­quence they select different members as prototypical, they rank members at different values, and they contract or dilate a category to different extents.”
           
   Uiteraard impliseer die beheersende punt veel meer as ’n lokaliteit. Dit omvat kulturele, ideologiese, emosionele, rasionele, historiese en ander veranderlikes, aspekte waarop nie in hierdie oorsig uitgebrei kan word nie.

1.2. ’n Nuwe entiteit kom tot stand en word benoem (soos dit die geval was met die Randse Afrikaanse Universiteit). Verskeie benoemingsveranderlikes kan in sodanige geval ’n rol speel, onder andere die koördinate tyd, ruimte en entiteit – vereenvoudig saamgevat as identiteit (later “karakter”). Dit spreek vanself dat in die geval van ’n universiteit die genoemde dimensies geïntegreerd baie gou ’n identiteitskompleksiteit in die hand werk. Dit word teweeggebring deur veranderlikes soos die volgende:

·     universiteitspesifieke akademiese prestasies;
·     universiteitspesifieke sportprestasies;
·     universiteitspesifieke navorsingsprestasies;
·     universiteitspesifieke navorsingsbetrokkenheid;
·     internasionalisering van die besondere universiteit;
·     gemeenskapsdiens van die spesifieke universiteit;
·  onderrigmodelle van die spesifieke universiteit; en nog vele ander.

Hieruit ontwikkel ’n stel prototipiese eienskappe van die betrokke universiteit wat baie meer impliseer as wat deur enige individu of groep individue as prototipe-element(e) verteenwoordig kan word. Hierdie prototipiese eienskappe vorm saam ’n gestalt. Lakoff & Johnson (1980: 478-481) noem byvoorbeeld dat by abstrakte kategorieë die definiërende eienskappe van ’n kategorie ’n prototipeparadigma daarstel. Ons konseptuele ervaring daarvan is egter dié van ’n gestalt, omdat “the complex of properties occurring together is more basic to our experience than their separate occurrences.” Sodanige prototipegestalt stel ons dan in staat om die konsep op ander ervaringsdomeine (ook subdomeine) wat minder prototipies kan wees, toe te pas. Dit is belangrik om daarop te let dat sodanige gestalt veral op grond van kwaliteite (en nié noodwendig kwantiteite nie) tot stand kom. In die geval van ’n eienaam (soos die Randse Afrikaanse Universiteit of RAU – laasgenoemde ’n akroniem, of letterwoord, met eienaamstatus) tree die gestalt op as ’n deskriptiewe betekenisagtergrond (“descriptive backing”) op (vergelyk Searle, 1969 – soos na verwys deur De Klerk, 1978: 66). Eenvoudig gestel verteenwoordig dit die “beeld” van die universiteit.

2. Naamsverandering

In die lig van die voorgaande kort (en uiteraard onvolledige) oorsig spreek dit vanself dat die Shakespeariaanse naamsopvatting “What's in a name? That which we call a rose by any other name would smell as sweet” ’n konseptuele mite is.

Wanneer ’n naam verander word (byvoorbeeld die Randse Afrikaanse Universiteit) sal dus rekening gehou moet word met die volgende faktore:

· Omdat ’n naamservaring ’n konseptuele ervaring is, is sy prototipiese gestalt eenvoudig nie klakkeloos oordraagbaar nie. Die nuwe naam sal sy eie gestalt moet ontwikkel.
· Die verlede onder die noemer Randse Afrikaanse Universiteit is nie ophefbaar deur die gebruik van ’n nuwe naam nie. Konseptueel sal Randse Afrikaanse Universiteit dus minstens vir die afsienbare toekoms bly voortbestaan in kontras met die “nuwe universiteit”, geïmpliseer deur die nuwe naam. Dit kan meebring dat die Universiteit eintlik onder ’n ou en ’n nuwe noemer met homself in wedywering is, wat die natuurlike gestalt-ontwikkeling van die Universiteit binne ’n nuwe politieke orde aan bande kan lê.
· Daar word gewag gemaak van die “bagasie” wat die huidige naam met hom saamdra. Die term is ideologies omstrede omdat dit enersyds ’n bepaalde beheersende punt (van die dag) impliseer, en andersyds die suggestie dra dat die huidige prototipegestalt gedrenk is in wat as “bagasie” beskou word. Dit impliseer dat die onderrig, wetenskapsbeoefening en gemeenskapsdiens van die verlede deur ’n bepaalde ideologie gedra is, wat natuurlik die wetenskaplike integriteit van almal wat onder daardie noemer gefunksioneer het, in die gedrang bring. Anders kan “bagasie” geïnterpreteer word as alles wat met Afrikaans saamhang, wat die begrip nog meer omstrede maak omdat Afrikaans dan gelykgestel word met ’n eng siening van dié Afrikaner – ’n subkategorie wat as Afrikanergestalt nooit bestaan het of bestaan nie (in ’n artikel ter perse brei ek daarop uit).
·  Die gronde vir ’n naamsverandering – kwalitatief of kwantitatief – behoort duidelik verreken te word. Indien dit kwantitatief van aard sou wees, behoort die verhouding “aandeelhouers” (verwerwers van RAU-grade) en “potensiële aandeelhouers” (potensiële verwerwers van RAU-grade) teenoor mekaar verreken te word. Sodanige uitgangspunt sal egter hoegenaamd nie rekening hou met die prototipiese gestalt van die Universiteit nie. Dit sou één eienskap wat uiteiendelik tot die gestalt-aard bydra, tot dominante eienskap uithef!


Verwysings


De Klerk, W.J. 1978. Inleiding to die semantiek. Durban: Butterworth.
Lakoff, G. & M. Johnson. 1980. Conceptual metaphor in everyday language. In: The journal of philosophy, LXXVII:8, 453-486.
Langacker, R.W. 1987. Foundations of cognitive grammar. Stanford: Stanford University Press.
MacLaury, R. E. 1991. Prototypes revisited. In: Annual reviews Anthropology 20, 55-74.
Nienaber, G.S. 1949. Oor Afrikaans. Johannesburg: APB.


Vrydag 16 Desember 2016

Perspektiewe op rassisme

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR. KLIK OP DIE PYLTJIE BY NOVEMBER VIR TOEGANG.

Perspektiewe op rassisme

Te oordeel aan daaglikse beriggewing is rassisme in Suid-Afrika aan die orde van die dag – dít ten spyte van ’n grondwet wat die beginsel van gelykheid vooropstel.
Meestal hou sodanige beriggewing verband met ervarings van “beweerde” rassisme. Daar kan inderdaad van “beweerde” gepraat word omdat die beoordeling van die betrokke verskynsel nie altyd ’n konsensussaak is nie. Dikwels is dié “in the eye of the beholder”-verskynsel toe te skryf aan die feit dat die woord rassisme nie ’n werkwoord-ekwivalent het nie – soos wat dit trouens die geval met seker die meeste van die -isme-woorde is. Beoordelaars van die verskynsel doen dit dus op grond van hulle evaluerings of ervarings van handelinge of praktyke wat as “rassisties” geëtiketteer word. Die mees tipiese praktyke wat in hierdie vangnet tuishoort, word ondervang deur handelinge wat in die werkwoord diskrimineer gemanifesteer word. Ook hierdie woord kan egter ’n sambreel wees vir baie aanstootgewende en diskrediterende aktiwiteite. Maar in die betekenis van diskrimineer is baie meer en ook baie minder as rassisme opgesluit. Dit blyk duidelik uit talle woordeboekdefinisies van die woord diskrimineer.
Daar bestaan ook ’n opvatting – miskien alreeds mities – dat die rigting van handelinge wat onder die verskynsel rassisme geklassifiseer kan word, eenrigtinghandelinge is. Die Suid-Afrikaanse praktyk weerspieël die teendeel.
Word die handelinge wat onder die begrip ‘rassisme’ gelys word, onder oë geneem, blyk dit dat ’n hele aaantal faktore daartoe bydra. In hierdie opsig kan die volgende genoem word:
·  ’n Rassistiese handeling veronderstel die toepassing van ’n onderskeidende kriterium wat vir die individue van die groep waarop dit toegepas word, individuele en/of kollektiewe nadelige gevolge inhou ten opsigte van sy/haar/hulle fisiese, materiële, psigiese, sosiale, kulturele en ander aspekte van hulle welstand.
·  ’n Rassistiese handeling word as sodanig benoem uit die aard van die effek wat die handeling op ’n individu of groep het op grond van ’n werklike/gewaande natuurlike of geïnstigeerde weerloosheid.
·  Rassistiese handelinge geskied vanuit ’n posisie van mag, gewaande mag of vergeldende mag.
· Binne ’n bepaalde samelewing kan rassistiese handelinge geïnstitusionaliseerd of nie- geïnstitusionaliseerd bedryf word. ’n Hedendaagse opvatting ten opsigte van die klassifikasie van rassistiese handelinge maak voorsiening vir die onderskeiding van ’n sogenaamde ‘kulturele rassisme’ – wat oor die grense van die eersgenoemde onderkeiding sny.
Binne die Suid-Afrikaanse konteks is dit miskien nodig om vraagstukke soos die volgende grondig te ondersoek:
1.   Wat beteken die begrip ‘rassisme’?
2.   Maak die Grondwet voldoende voorsiening vir ’n nie-rassistiese samelewing?
3.   Wat is die aard van rassistiese handelinge binne die Suid-Afrikaanse samelewing?
4.  Wat bied ’n historiese perspektief (meer as net die onmiddellike Suid-Afrikaanse verlede) op rassisme?
5. Watter rol speel moraliteit en die moraliteitstoonaangewers ten opsigte van die uitwissing van rassistiese praktyke?
6. Hoe moet die beginsel van bemagtiging ter uitwissing van rassisme beoordeel word – as die ontwikkeling van geleenthede ter bemagtiging, óf ’n verrysing uit die as van die ontmagtigdes?

        W. Botha


Saterdag 26 November 2016

Die metafoor: 'n oorsig

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR

My toenmalige letterkundekollega, prof. Willie Burger (tans hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria), het my destyds gevra om ’n gaslesing oor die metafoor vir sy letterkunde-honneursstudente aan te bied. Wat hier onder volg, is aantekeninge wat ek gemaak het ter voorbereiding van die lesing.
Die metafoor: ’n oorsig
W.J. Botha
Thomas did not realize at the time that metaphors are dangerous. Metaphors are not to be trifled with. A single metaphor can give birth to love. (Kundera, 1984).
1.  Enkele beskouings ten opsigte van die metafoor
Dirven (1994) wys daarop dat die definisie van ’n metafoor eintlik self ’n metafoor is: die Griekse woord meta-ferein beteken “om oor te dra”.
Aristoteles: “Metafoor is die toepassing op een saak van ’n naam behorende aan ’n ander saak, die oordrag kan wees óf van genus na spesie óf van spesie na genus, óf van spesie na spesie, óf op grond van analogie” (Poetica: XXI,4).
Kittay (1987): “Metaphor is not a unit of discourse, but a use of discourse, and as such belongs to pragmatics”. 
Volgens Tourangeau (1982) behels die metafoor die oorspronklike siening van twee onderwerpe, op ’n oorspronklike manier voorgestel, en laat die metafoor ons verbande tussen twee domeine op ’n nuwe manier insien: “(P)art of filling out a metaphor consists of viewing a subject from the vantage point of a particular domain; … beliefs about the one subject must be altered in several ways to fit the other.”
Tradisioneel: substitusie (m = l); vergelyking.
2.  Kognitiewe beskouing van die metafoor
Max Black (1962)
Die kognitiewe benadering tot die metafoor het reeds sy beslag gekry in Black (1962) se interaksieteorie oor die metafoor. Black wou met sy interaksiebeskouing wegbeweeg van die tradisionele substitusie- en vergelykingsverklarings. Vereenvoudig gestel impliseer hierdie beskouing dat by die gebruik van die metafoor twee gedagtes oor verskillende dinge gesamentlik geaktiveer word en deur ’n enkele woord of uitdrukking gedra word, waarvan die betekenis die resultaat van die interaksie is. Hy gebruik die term “fokale woord” vir die betrokke metafoorwoord/frase wat betekenisuitbreiding ondergaan as gevolg van die interaksie. In ’n gegewe metaforiese konteks (byvoorbeeld reënboognasie) verkry die fokale woord (nasie) ’n nuwe betekenis, wat nie eintlik die betekenis daarvan in die letterlike gebruik is nie, en ook nie eintlik die betekenis is wat enige letterlike substituut sou hê nie. Die betekenisdomein wat deur betekenisuitbreiding as resultaat van die interaksie tot stand gekom het, noem hy die metafoorraam: die nuwe konteks. Om die metafoor te begryp, moet die ontvanger dus sowel die ou as nuwe betekenisse van die woord saam interpreteer.
Vir die metafoor onderskei Black ’n “system of commonplaces”, kennis wat die ontvanger nodig het op grond waarvan sekere brokkies inligting deurgelaat word of gekeer word. In die geval van die reënboognasie-metafoor filtreer en transformeer die metafoor vanuit die “system of commonplaces” inligting sodanig dat ’n nuwe betekenisstruktuur tot stand kom ten opsigte waarvan nasie verstaan word: die versmelting van verskillende etniese kleurgroepe met behoud van kleuroutonimiteit. Die “system of commonplaces” verwys nie noodwendig na die woordeboekdefinisie van die woord nie; dit kan selfs halwe waarhede of valse opvattings ten opsigte van die betrokke woord se betekenis impliseer. Kortom: die “system of commonplaces” is gemeenskap- of kultuurgebonde.
Kartering
Die kognitiewe benadering tot die metafoor sluit nou by die interaksiebeskouing van Black aan, alhoewel bepaalde terme binne die twee benaderings verskillende verwysingsmoontlikhede het, byvoorbeeld die begrip “raam”. Binne eersgenoemde beskouing bied die begrip konseptuele metafoor ’n funksionele beskrywingsraam vir die metafoor. Die metafoor word hiervolgens beoordeel as ’n konseptuele karteringsproses: “(t)he basic logic of (a) donor domain (brondomein) … is applied to a different area of experience, the receptor domain (doelwitdomein)” (Taylor, 1995).
Vergelyk die volgende voorbeelde:
Some say love (doelwitdomein), it is a river (brondomein) / that drowns the tender reed.
Some say love (doelwitdomein), it is a razor (brondomein) / that leaves your soul to bleed.
Some say love (doelwitdomein), it is a hunger (brondomein), / an endless aching need.
I say love (doelwitdomein), it is a flower (brondomein) / and you, its only seed (brondomein).
Die betreklike bysinne en nabepalings by die betrokke brondomein-naamwoordstukke (byvoorbeeld that drowns the tender reed en andere) funksioneer as verdere spesifikasies van die referente van die brondomeine, meestal ter verdere verkonkretisering. Hierdie aspek sal nie verder bespreek word nie.
Taylor wys verder daarop dat dié proses ’n aantal metaforiese uitvloeisels (“entailments”) tot gevolg het – wat ons by konseptuele versmelting bring.
Konseptuele versmelting (“blending”)
Die kognitiewe struktuur van ’n metafoor berus verder op die beginsel van konseptuele versmelting, “a general cognitive process … that operates over mental spaces as inputs” (Fauconnier & Turner, 1996). Oakley (1998) wys daarop dat konseptuele versmelting sodanig werk dat dit agtergrondaannames in ooreenstemmende taalvorme neerslag laat vind. Hy beskryf die proses soos volg:
“Working over an array of mental spaces – online conceptual packets built up as we think, talk, and understand – blending occurs when two or more input spaces in cooperation with a generic space project partial structure into a fourth space known as the blend. The blend inherits partial structure from each input space and develops its own emergent structure.”
Gevolglik word die metafoor teen die agtergrond van die konseptuele versmelting verstaan.
In die Black-beskouing word in hierdie verband na  die “metafoorraam” verwys: die nuwe konteks. Die betekenisstruktuur van die resulterende versmelte ruimte (“blend”) put egter ook uit ’n generiese ruimte, “a distinct mental space operating at a low level of description which can provide the category, frame, role, identity, or image-schematic rationale for cross-domain mapping” (vergelyk Oakley, 1998). In ’n oppervlakkige vergelyking sou generiese ruimte aan Black se “system of commonplaces” gelykgestel kon word. Die Black-term impliseer egter meer as generiese ruimte. Dit omvat ook wat binne die kognitiewe opvatting as “raam” bekend staan (“configurattions of culture-based knowledge ... knowledge which is shared, or which is believed to be shared, by at least some segment of a speech community” – vergelyk Taylor, 1995); asook die term “kulturele script”, “de culturele waarden en normen voor een of ander aspect of fragment van het gedrag van de mens in een bepaalde cultuur” (vergelyk Dirven & Verspoor, 1999).
Konseptuele metafore (subkategorie van die konvensionele metafore)
Wat is vreemd aan die volgende illustrasie?



                            
Op grond van en gebaseer op die meeste mense se (geografiese) kennis van die ruimtelike kaartuitdrukking van windrigtings word noord is bo as ’n konseptuele metafoor ervaar – getransponeer vanuit die ruimtelike oriëntasie van die menslike liggaam. Daarom sal die bostaande voorstelling vir die meeste mense vreemd aandoen.
Dit is in ooreenstemming met die Lakoff & Johnson-uitspraak (1980): “Our concepts structure what we perceive, how we get around in the world, and how we relate to other people. Our conceptual system thus plays a central role in defining our everyday realities. If we are right in suggesting that our conceptual system is largely metaphorical, then the way we think, what we experience, and what we do every day is very much a matter of metaphor.”
Op grond van die bostaande insig word drie soorte konvensionele metafore onderskei, wat op die oog af na letterlike taalgebruik lyk. Dit ontken nie die bestaan van kreatiewe metafore nie, maar albei soorte kan dikwels eksemplare wees van dieselfde algemene metafoor. Vergelyk die volgende respektiewelik kreatiewe en konvensionele metafore wat albei gebaseer is op die volgende algemene metafoor: teorieë is geboue:
-       Sy teorie oor X het baie gange (kreatiewe metafoor / taalmetafoor)
-       Hy het sy teorie oor X baie sistematies gestruktureer (konvensionele metafoor)
Onderverdeling van konvensionele metafore
-       Strukturele metafore / konseptuele metafore
Vergelyk die volgende konseptuele metafore uit die Bybel:
Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in [liefde is ’n vuller] ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik (1 Johannes 4:12).
En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly [liefde is ’n houer], bly in God en God bly in hom (1 Johannes 4:16).
In hierdie voorbeelde word die ervaring van liefde (’n abstraksie) verstaan en weergegee in meer konkrete begripservarings van vullers en houers, gebaseer op prekonseptuele beeldskematiese ervarings in die proses van taalverwerwing.            
Soortgelyk word liefde (’n abstraksie) verstaan op grond van prekonseptuele kragervarings – liefde is ’n krag:
Die liefde van Christus dring [liefde is ’n krag] ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het (2 Korintiërs 5:14).
Uiteindelik struktureer ’n hele konstellasie konseptuele metafore (die besonderhede daarvan kan nie hier uitgespel word nie) kontekstueel die volgende metafoor in die Bybel: God is liefde.
-       Fisiese (ontologiese) metafore      
Fisiese metafore – word dikwels ook ontologiese [“the nature of being”] metafore genoem.
Ontologiese metafore dui op metafore “wat entiteits- of substansiestatus afbeeld op konsepte wat nie hierdie status het nie (bv. metafore soos IDEES IS ENTITEITE en WOORDE IS HOUERS)”. Ontologiese metafore word veral gebruik “om kunsmatige grense op entiteite te projekteer wat andersins nie ’n diskrete of fisiese gebonde karakter het nie, d.i. wesentlik nie as substansies of entiteite bestaan nie (bv. berge, straathoeke, heinings, pryse, woede, liefde, angs, ens.). Die kognitiewe noodsaak vir hierdie projeksies is dat dit die mens in staat stel om na hierdie ongebonde entiteite te verwys, hulle te kategoriseer, te groepeer en te kwantifiseer; kortom: om op ’n rasionele wyse met hierdie konsepte om te gaan. Gebeure en handelinge word metafories byvoorbeeld gekonseptualiseer as voorwerpe, aktiwiteite as substansies en toestande as houers”. Personifikasie vorm ’n subklas van ontologiese metafore deurdat nie-menslike entiteite as menslike entiteite gekonseptualiseer word en sodoende dus binne die menslike begripsveld gebring word, bv. Tyd heel wonde.
-       Oriëntasiemetafore
Oriëntasiemetafore struktureer nie die een konsep in terme van ’n ander nie, maar organiseer ’n hele sisteem konsepte in terme van mekaar. Heelwat basiese betekenisstrukture is terugherleibaar na die individu se perseptuele en liggaamlike interaksie met sy omgewing. Kinders se belewing van byvoorbeeld die beweging en vorms van voorwerpe, die tekstuur van objekte en interaksies met ander mense lei tot basiese skematiese strukture (beeldskemas) waarvolgens eerste fundamentele belewings georganiseer word. Oriëntasiemetafore verwys dus in besonder na metafore waar die brondomein gekoppel kan word aan die mens se belewing van sy ruimtelike oriëntasie. Hierdie basiese ruimtelike oriëntasie van die brondomein word dan ook oordragtelik in die doeldomein weerspieël. Die tipes metafore wat veral onder hierdie tipe metafoor ressorteer, is byvoorbeeld metafore wat ’n voor/agter-, in/uit-, op/af-, diep/vlak-, sentrum/periferie-, naby/ver- en links/regs-oriëntasie as basis het.
Vergelyk die polarisasie t.o.v. verskillende oriëntasies waar bo, voor en regs positief en onder, agter en links negatief gemerk word in Afrikaans talig vergestalt:
POSITIEF: bo, voor, regs                       NEGATIEF: onder, agter, links
voorspoed                                               agterbaks
voorreg                                                    agteraf
vooraanstaande                                      agterstraat
voorkeur                                                  agterdog
die boonste sport                                    onderduims
boontoe streef                                         ondergrawe
bobaas                                                    ondergang
hou die blink kant bo                              die onderspit delf
iemand se regterhand                            linkse streke
iemand met twee regterhande               iemand met twee linkerhande
nie links wees nie                                   links van die regering wees
Neuralenetwerkteorie
Vergelyk die volgende uitsprake van Lakoff & Johson (Philosophy in the flesh):
“The first and most important thing to realize about categorization is that it is an inescapable consequence of our neural makeup. We are neural beings. Our brains each have 100 billion neurons and 100 trillion synaptic connections. It is common in the brain for information to be passed from one dense ensemble of neurons to another dense ensemble via a relatively sparse set of connections. Whenever this happens, the pattern of activation distributed over the first set of neurons is too great to be represented in a one-to-one manner in the sparse set of connections. Therefore, the sparse set of connections necessarily groups together certain input patterns in mapping them across to the output ensemble. Whenever a neural ensemble provides the same output with different inputs, there is neural categorization.”
“What metaphor does is to allow us to reason about abstract domains using inferences from concrete domains that are highly structured in our experience. It allows us to map inference patterns from concrete to abstract domains. All metaphorical inference, it appears, is a projection of sensorimotor inference patterns onto abstract domains. Neural projections from sensorimotor areas of the brain to areas responsible for abstract reason appear to be responsible for metaphorical thought: they permit us to take nonmetaphorical inference mechanisms from the sensorimotor areas and put them to use in carrying out abstract inferences. … The linguistic function of metaphor is secondary.”
Gebaremetafore
Eve Sweetser van die Department of Linguistics, University of California at Berkeley, beweer onder andere die volgende wat gebaremetafore betref:
-       Handgebare impliseer meer genuanseerde “betekenisse” as wat algemeen as “body language” bekend staan.
-       In ooreenstemming met een van die belangrike beginsels van metafore – om abstraksies meer konkreet voor te stel – dien handgebare onder andere as metafore.
-       Die gebareruimte (“gesture space”) konstitueer belangrike “betekenis-onderdele”.
3.  Enkele slotgedagtes
-       Die metafoor is in die eerste plek ’n begripsinstrument, ’n kognitiewe werktuig wat in taal gemanifesteer word – omdat die wyse waarop ons konseptualiseer, metafories van aard is.
-       Die wese van die metafoor is: “… understanding and experiencing one kind of thing or experience in terms of another” (Lakoff & Johnson, 1980).
-       Ons volstaan met die volgende beskrywing van die metafoor, aldus Lakoff (1990:49):
Wat die metafoor tot stand bring, is nie soseer ’n besondere woord of uitdrukking nie. Die metafoor kom tot stand op grond van ontologiese en epistemiese kartering wat vanaf ’n brondomein na ’n doelwitdomein geskied. Dit is dus nie slegs taal wat die metafoor konstitueer nie - maar ook denke en rede. Die taal vergestalt slegs die karteringsproses.

Opmerking: ’n Bronnelys word nie hier weergegee nie omdat hierdie oorsig as onderrigaantekeninge gegeld het en dit dus nie ’n wesenlike artikel is nie. 

Vrydag 25 November 2016

Diversiteit binne identiteit, en identiteit binne diversiteit

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR

Hoofreferaat tydens die internasionale SAALA/LSSA -kongres: Diversiteit in identiteit, en identiteit in diversiteit. Pietermaritzburg, Suid-Afrika, 9 Julie 2002.
Diversiteit binne identiteit, en identiteit binne diversiteit
Inleidende opmerkings
Omdat ek nie weet hoe goed u vertroud is met die kognitiewe linguistiek nie, wil ek aanvanklik ’n paar inleidende opmerkings oor die bepaalde dissipline as sodanig maak. 
Ek baseer hierdie kort uiteensetting op ’n opmerking wat Langacker in 1993 gemaak het ten opsigte van die verhouding wat daar bestaan tussen taalstruktuur en fundamentele geestesprosesse. Hy stel dit soos volg: 
“(C)ognitive linguistics ... claims, in particular, that fundamental cognitive abilities and experientially derived cognitive models have direct and pervasive linguistic manifestations, and, conversely, that language structure furnishes important clues concerning basic mental phenomena”.
Hy onderskei vervolgens die volgende relevante begrippe: beeldskemas; kragdinamika; gesubjektiveerde versus geobjektiveerde konstruering; kognitiewe verwysingspunte; en verbandlegging tussen kognitiewe domeine (“mental spaces”).
Langacker se opmerking moet oorweeg word teen die agtergrond van prinsipiële beskouings soos die volgende: 
Dirven gee ’n omvattende beskrywing van taal as hy beweer: “Language is shaped by our perception of our ecological world, by cognition, by culture”.
Lakoff en Johnson (1997) in ’n elektroniese voor-publikasie-manuskrip (Philosophy in the flesh) laat geen twyfel oor die ingrypende bevindinge van die kognitiewe linguistiek ten opsigte van die toekomstige rol daarvan nie. Hulle stel dit soos volg: 
“The mind is inherently embodied. Thought is mostly unconscious. Abstract concepts are largely metaphorical. These are three of the major findings of cognitive science in the late twentieth century. Because of them philosophy can never be the same again”. 
Hulle verwys in hierdie verband na die Anglo-Amerikaanse filosofiese tradisie.
Teen hierdie agtergrond wil ek vervolgens kortliks aandag skenk aan die voorgenoemde geestesprosesse (en die intrinsieke verhouding van elkeen ten opsigte van taal), voordat ek enkele toepassings maak
Taalvergestalting van fundamentele geestesprosesse
Beeldskemas
Ons begrip van die wêreld word onderlê deur ’n beliggaamde struktuur en ’n  verbeeldingstruktuur. Daarom is beliggaming ’n kernbeginsel van die kognitiewe linguistiek. Dit kom daarop neer dat ons abstraksies modelleer op grond van ons liggaamlike ervaring van die werklikheid in terme van ’n verbeeldingstruktuur wat saamgestel is uit beeldskematiese strukture. Sodanige beeldskematiese strukture hou verband met die menslike liggaamlike ervaring van onder andere die volgenderuimtekragsensasiebasiesevlakobjekte.
Hierdie prekonseptuele strukture word (verbeeldingsmatig) veral op twee maniere na die abstrakte denke getransponeer, naamlik by wyse van analogie en metaforiek. In hierdie opsig bestaan daar ’n parallelisme tussen beliggaming en die prototipebeginsel vir sover konkrete ervaring dien as verwysingsdomein op grond waarvan ander (abstrakte) ervarings by wyse van ekstensie gekonstrueer word. 
Kategorie-ervaring (en gevolglik ook basiesevlakobjekte) hou direk hiermee verband – omdat kognisie berus op die vermoë om te kategoriseer, om te oordeel of ’n item (’n referent) ’n voorbeeld is van ’n besondere kategorie - dus: om ’n referent te benoem – op grond van konseptuele identifikasie! 
Die prototipebeginsel speel in hierdie opsig ’n belangrike rol. Die prototipeteorie hou verband met die twee asse van kategorisering [vergelyk die plant-diagram in Figuur 1]: die entiteit/ referent wat as prototipe van die kategorie optree, staan op die “horisontale vlak” in verhouding tot sy ko-hiponieme, maar op die “vertikale vlak” staan dit in verhouding tot ’n superordinaat op ’n hoër hiërargiese vlak, óf tree dit as superordinaat op ten opsigte van hiponieme op ’n laer hiërargiese vlak.
In aansluiting by die ervaringsbasis van betekenis word die prototipeteorie verder verfyn om die beheersendepuntteorie (“vantage point theory”) in te sluit. Dit beteken dat sprekers kategorieë kognitief konstrueer, in stand hou en verander na analogie van die wyse waarop hulle hul eie posisie ruimtelik ervaar en verstaan. 
Afgesien van basiesevlakobjekte (en sensassie) wat skematies gestruktureer is, kan ons twee groepe beeldskemas onderskei wat nou saamhang met beliggaming, naamlik ruimtebeeldskemas en die kragbeeldskemas. [Vergelyk Figuur 1.]
Hulle is so diep gewortel deel van menslike ervaring is dat hulle universele prelinguistiese strukture daarstel. En die meeste skemas hou verband met ons ervaring van die menslike liggaam. 
Kragdinamika
’n Alomteenwoordige ervaringsdimensie hou met kraginteraksie verband. Ons daaglikse bestaan word gekenmerk deur die ERVARING van kragte wat ons uitoefen, kragte wat op ons uitgeoefen word, en kragte wat in ons omgewing op mekaar inwerk. Sodanige kragte baan as tipiese patroonmatige ervarings hulle weg tot in ons betekenissisteem, ons taaluitdrukkingstruktuur en in ons talige kommunikasie as sodanig. In hierdie opsig tree hulle dus as beeldskemas op. 
Gesubjektiveerde versus geobjektiveerde konstruering
Grammatikalisering hou verband met subjektivering. Sodanige grammatikaliseringsprosesse is die mees algemene vorm van betekenisverandering. Namate ’n element meer gegrammatikaliseer raak, beweeg dit op ’n leksikaal-grammatikaal-kontinuum vanaf leksikaal na grammatikaal. In die mate waarin die konseptualiseerder dus kognitief minder bewus word van die leksikale inhoud van ’n element – as gevolg van die vermindering van konseptuele inhoud – word die konstruering van die element maksimaal subjektief (dus gegrammatikaliseer). Die term subjektief word hier in ’n bepaalde tegniese sin gebruik. 
Kognitiewe verwysingspunte
Teen die agtergrond van wat hy beeldskematiese vermoëns noem (op ’n abstrakter vlak as beeldskemas as sodanig) beskryf Langacker die verwysingspuntverskynsel as “the ability to invoke the conception of one entity for purposes of establishing mental contact with another, i.e., to single it out for individual conscious awareness”. Hy voer verder aan dat die verwysingspuntvermoë benede die vlak van eksplisiete waarneming funksioneer. Die verwysingspuntverskynsel is ’n fundamentele en alomteenwoordige fenomeen, alhoewel ons grootliks onbewus daarvan bly – en as sodanig hou dit direk verband met DEIKSIS.
Verbandlegging tussen kognitiewe domeine
Binne die kognitiewe beskouing bied die begrip “konseptuele metafoor” ’n funksionele beskrywingsraam vir die metafoor. Die metafoor word hiervolgens beoordeel as ’n konseptuele karteringsproses: “(t)he basic logic of the donor domain … is applied to a different area of experience, the receptor domain” –  volgens Taylor.
Die kognitiewe struktuur van ’n metafoor berus verder op die beginsel van konseptuele versmelting.
Toegepaste kognitiewe linguistiek
In hierdie gedeelte word die taalmanifestasie van bogenoemde verskynsels toegepas op bepaalde taaluitingskontekste. In die lig van die kongrestema (Vennote in diversiteit) word twee Suid-Afrikaanse identiteitskwessies onder die loep geneem. Die eerste hou verband met diversiteit binne identiteit (met verwysing na Afrikaneridentiteit), terwyl die tweede betrek is by nasiebou en nasiewording binne ’n multikulturele samelewing – dit wil sê identiteit binne diversiteit.
Afrikaneridentiteit
’n Nuwe politieke orde in Suid-Afrika het vir die Afrikaner verlies van mag oor die hele politieke en maatskaplike spektrum meegebring. Magsverlies het die bindingskrag wat Afrikanernasionalisme op die Afrikaner gehad het uitermate verswak. Gepaard hiermee het bevindinge van die Waarheid-en-Versoeningskommissie die morele behoefte aan selfondersoek na vore gebring, veral met betrekking tot die kollektiewe aard van die Afrikaner. Dit het ’n intense debatvoering binne Afrikanergeledere oor die wese van die Afrikaner tot gevolg gehad – ’n debat wat telkens weer opflikker.
In wese handel die debat oor Afrikaneridentiteit, dit wil sê die definiërende eienskappe van die kategorie ‘Afrikaner’.
Afrikaans en die Afrikaner
Afrikaneridentiteit is heg verweef met ’n bewuste belewenis van Afrikaans as kultuurtaal. ’n Historiese relaas van die wisselwerkende ontwikkeling van ’n Afrikaner- en Afrikaansbewussyn onderskryf dit – ’n aspek waarop ek ongelukkig nie binne hierdie oorsig kan ingaan nie. Wat ek egter wel wil noem, is dat die woord Afrikaner aanvanklik konseptueel redelik probleemvry was as gevolg van die wye verwysingspektrum waarvoor dit gebruik is. 
Afrikaans. Wat die taal ‘Afrikaans’ betref, het daar egter heelwat konseptuele verwarring geheers. Van der Merwe twyfel byvoorbeeld of die benaming ‘Afrikaans’ hoegenaamd in die agtiende eeu reeds bekend was. Nienaber se uiteensetting van vroeëre naamgewingspogings in hierdie verband bevestig dit grootliks. Die samestelling ‘Kaaps-Hollands’ is die naam wat aanvanklik gebruik is vir hierdie dialek of ‘variant van Hollands op Kaapse bodem’ –  naamgewing wat op ’n konseptuele integrasie dui: lokalisering en besondersheid ten opsigte van die historiese en gemeenskaplike.
Namate die benaming ‘Kaaps-Hollands’ onder Afrikaansgesindes begin verdwyn het, het dit buite die groep en by buitelanders bly vassteek. Dit is afgewissel met ’n waardebeoordelende benaming soos ‘Plat-Hollands’ en skriftelike benoemings soos ‘Transvaals’ (1887), ‘Afrikaander Taal’ (1901), ‘The Taal’ (na 1902), ‘Burensprache’ (1904), ‘Boer Dutch’ (onge-veer 1904), ‘Le Langue des Boers’ (1911) en ‘Zuid-Afrikaansch’.
Afrikaner. Van die eerste pogings om die kategorie ‘Afrikaner’ formeel te omskryf, kom van die Patriot-Woordeboek, wat die woord Afrikaner in 1902 soos volg beskryf: ‘white man born in Africa’. Vroeëre woordeboeke, soos die Woordenboek der Nederlandsche taal wat in 1882 gepubliseer is, bevat nog nie die inskrywing Afrikaner nie. Die woord Afrikaner kom wel in Van Dale sedert 1917 voor: “in Zuid-Afrika geboren blanke van Europeeschen oorsprong”. Van die Afrikaanse taal is daar hoegenaamd nie sprake nie.
Vergelyk ons verskillende Nederlandse woordeboekdefinisies sedert 1917, vind ons dat afgesien van die WNT-supplement die Nederlandse woordeboeke deurgaans die Afrikaanse taal as ’n kenmerk van die Afrikaner verswyg. Dit kom, daarenteen, in die bekendste Afrikaanse woordeboeke as ’n kardinale onderdeel van die betekenisbeskywing van die woord voor.
In die ontwikkeling van ’n kollektiewe ideologiese bewussyn sou die Afrikaanse taal egter die bindingskrag wees vir die manifestasie daarvan in ’n nasionale bewussyn wat as Afrikanernasionalisme bekend sou staan. Afrikaans sou die gemene deler word op grond waarvan bepaalde groepervaringe en groepemosies ideologies saamgetrek sou word. 
Oor die konsep ‘Afrikanernasionalisme’ kan ek ongelukkig ook nie hier aandag skenk nie. Die ideologiese impak daarvan het egter in ’n groot mate die kategoriestatus van die konsep ‘Afrikaner’ help bepaal.
Die kategorie ‘Afrikaner’
Die konsep ‘Afrikaans’, onder andere vanweë die ontkenning van sy outonome status as taal, is aanvanklik nie heg met die konsep ‘Afrikaner’ verbind nie. Die konseptuele voedingsbron sou later veral in twee afgeleide konsepte lê, geleksikaliseer as Afrikanerskap en Afrikanerdom – met noodwendige inperking van die verwysingspektrum. Die konsep ‘Afrikanerskap’ het op grond van ideologiese redes sodanig ontwikkel dat dit later as kriterium van insluiting tot of uitsluiting van die kategorie ‘Afrikaner’ gedien het. Dit hou verband met konseptuele verryking van die begrip ‘Afrikanerskap’, en by implikasie die kategorie ‘Afrikaner’, deur die ontwikkeling van ’n gepaardgaande kulturele ‘script’ – ‘de culturele waarden en normen voor een of ander aspect of fragment van het gedrag van de mens in een bepaalde cultuur’ – volgens Dirven & Verspoor. Die huidige besinning oor Afrikaneridentiteit het grootliks te make met die begripsinhoude van die woorde Afrikanerdom en Afrikanerskap, maar verál laasgenoemde, omdat dit as identiteitskriterium vir kategorielidmaatskap gegeld het.   
Die ‘Afrikaner-prototipegestalt’
Op grond van die betekenisskakerings van die woordafleidings Afrikanerskap en Afrikanerdom – en die rol wat Afrikanernasionalisme in die konseptuele verryking daarvan gespeel het – omvat die kategorie waarna die woord Afrikaner tans verwys, ’n ryk konseptuele inhoud. Desondanks word die betekenisse van hierdie woordafleidings nie in die standaard- verklarende woordeboeke beskryf nie. Om die konseptuele inhoud van die woord Afrikaner dus te deurgrond, moet ontledings van die woordeboekdefinisies daarvan, gepáárd met uitsprake en beskouings oor die kategorie ‘Afrikaner’ en sy afgeleide kategorieë in oorweging geneem word. Dit impliseer dat ook kennis geneem word van geïntegreerde kulturele ‘scripts’ wat die betrokke kategorieë konseptueel verryk het.
Om van enige kategorie betekenissin te maak, word ’n prototipe van die kategorie geïdentifiseer op grond waarvan lede van die kategorie herken word – soos vroeër aangedui.
 Die meeste prototipebeskouings verreken die prototipe-element as kriterium vir kategorisering. Op grond van sy dinamiese aard is die kategorie ‘Afrikaner’ ’n hoogs gekompliseerde kategorie en kan geen enkele individu op enige stadium as ’n prototipe-element van die kategorie beskou word nie. Sekere groepe Afrikaners het nogtans die kategorie op grond van hulle respektiewelike groepidentiteite in hierdie opsig konseptueel versterk. 
Die prototipe-Afrikaner is dus ’n abstraksie, en hierdie abstraksie berus per definisie op prototipiese eienskappe van die kategorie wat vanuit verskeie gesigspunte geabstraheer word, soos byvoorbeeld vanuit die gesigspunte van die onderskeie ‘homogene’ groepe, maar ook vanuit die gesigspunte van meer heterogene groeperinge. Dit is dus noodsaaklik om naas die prototipiese element prototipiese eienskappe van die kategorie te onderskei. Alhoewel die konseptuele inhoude van die woorde Afrikanerdom en Afrikanerskap heg met mekaar verweef is, het die ontwikkeling van die kategorie ‘Afrikanerdom’ veral saamgehang met die abstrahering van prototipiese elemente, terwyl die kategorie ‘Afrikanerskap’ die abstraksie van prototipiese eienskappe verteenwoordig het.
Prototipiese eienskappe vorm saam ’n gestalt. Sodanige prototipegestalt stel ons in staat om die konsep metafories of andersins op ander ervaringsdomeine (ook subdomeine) wat minder prototipies kan wees, toe te pas.
Woordeboekdefinisies sou ’n logiese vertrekpunt wees om die prototipiese eienskappe van ’n bepaalde kategorie te agterhaal. Woordeboekdefinisies van die woord Afrikaner is egter om verskeie redes ontoereikend ten opsigte van die betekenisbeskrywing ter onderskeiding van die prototipegestalt van die kategorie ‘Afrikaner’. 
’n Eerste rede daarvoor lê by die leksikale definisie se ambivalente aard. Om ’n prototipeparadigma te omskryf, word vereis dat konseptuele verryking van die definisie noodwendig verwysingsinperking teweegbring. Om egter die hele kategorie se verwysingspektrum in die betekenisbeskrywing te ondervang, moet die onderhawige definisie konseptueel ingeperk word, wat meebring dat die definisie ’n skematisering word – in die sin waarin Langacker dit onderskei van die prototipebeskrywing as “an abstract characterization that is fully compatible with all the members of the category it defines (so membership is not a matter of degree); it is an integrated structure that embodies the commonality of its members”. Iewers op die kontinuum vergestalt die leksikale definisie gewoonlik ’n soort middeweg.
’n Tweede leemte van die woordeboekdefinisie is in die onderhawige geval te vind in die feit dat in die geval van ’n komplekse kategorie soos ‘Afrikaner’ nie al die beheersende punte waaruit die kategorie beoordeel kan word, ondervang word nie – en dat dit selfs onder die gunstigste omstandighede moeilik is om ’n eie beheersendepuntbeskrywing te ontduik. MacLaury wys byvoorbeeld daarop dat die mate waarin ’n prototipe óf ’n gemiddelde lid, óf ’n toonbeeld (volmaakte lid) van die kategorie kan wees, saamhang met die gesigs- of beheersende punt waaruit die kategoriseerder beoordeel. 
Vroeër is gewys op die eertydse wisselende benoemings ten opsigte van die kategorie ‘Afrikaans’, byvoorbeeld ‘Kaaps-Hollands’, ‘Plat-Hollands’, ensovoorts. Hierdie benoemings is sprekend van verskillende beheersende punte waaruit die betrokke konsep beoordeel is.
Word Nederlandse en Afrikaanse woordeboeke se leksikale definisies van die woord Afrikaner vergelyk, word dit duidelik dat die betekenisbeskrywings twee baie duidelik onderskeibare beheersende punte vergestalt. Die keuse van definiërende eienskappe (of die weglating van bepaalde eienskappe) in verskillende woordeboekdefinisies se betekenisbeskrywings van die woord Afrikaner is opvallend in hierdie verband. Die Nederlandse definisies handhaaf oor die algemeen etnisiteit en lokaliteit as gemene delers, aangevul deur verskillende gesigspunte ten opsigte van die Afrikaner se herkoms. Die beskrywings “Europeeschen oorsprong” en “Boeren-afkomst” in die Nederlandse definisies is onderskeidelik duidelike voorbeelde van die uitbreiding en inperking van die kategorie, terwyl die verswyging van Afrikaans as ’n Afrikaner-eienskap die kategoriegrense noodwendig wyer span. Dit is dus ’n duidelike poging tot skematisering.
Vanuit ’n heel ander beheersende punt – vanúit die betrokke kategorie – benadruk die definisies in die Afrikaanse woordeboeke, byvoorbeeld in die Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal, Afrikaans as moedertaal van die Afrikaner, terwyl etnisiteit en die eksplisiete verwysing na ’n bepaalde herkoms verswyg word. Alhoewel die kategoriegrense deur die vermelding van Afrikaans nouer getrek word, bly hierdie definisies steeds skematiserings.
Uiteraard kompliseer graadeienskappe die konseptuele aard van ’n kategorie, soos in die geval van ‘Afrikaner’. As derde leemte in woordeboekdefinisies kan dus genoem word dat dit nie die graadeienskappe van die kategorie ‘Afrikaner’, waaruit die ‘Afrikaner-prototipegestalt’ ontwikkel het, verteenwoordig nie – eienskappe wat nou saamhang met die beoordeling vanuit verskillende uiteenlopende beheersende punte (byvoorbeeld die gesigspunt van Afrikanernasionalisme). Binne die vorige Suid-Afrikaanse politieke bestel is Afrikaners onder andere na aanleiding van hulle graad van Afrikanerskap gegradeer op ’n kontinuum wat gestrek het van “verkramp” tot “verlig”, en op die tipiese ideologiese spektrum is “regse” en “linkse” Afrikaners onderskei, afgesien van tiperings soos “liberale” en “konserwatiewe” Afrikaners; en so kan voortgegaan word met die opnoem van “subkategorieë”, wat eintlik benoemings is van afsonderlike prototipeparadigmas op grond van verskuiwings van die beheersende punt binne of buite die kategorie.
As abstraksie moet die ‘Afrikaner-prototipegestalt’ konseptuele sin maak van die kategorie ‘Afrikaner’, moet dit taalgebruikers in staat stel om die woord Afrikaner te verstaan. Soos aangetoon, lei beoordeling vanuit uiteenlopende beheersende punte daartoe dat verskillende bundels eienskappe geabstraheer word op grond waarvan die betrokke kategorie beskryf en verklaar word. Die status van die afsonderlike eienskapbundels word binne hierdie betoog prototipipeparadigmas genoem, op grond van hulle geobjektiveerde konseptuele ervaring vanuit verskillende beheersende punte, maar ook op grond van die feit dat hulle afsonderlik nie dié ‘Afrikaner-prototipegestalt’ verteenwoordig nie. Kollektief word hulle konseptueel versmelt in die abstraksie ‘Afrikaner-prototipegestalt’, maar hulle stel weer die ‘Afrikaner-prototipegestalt’ (as abstraksie) in staat om voedingsbron te wees vir die abstrahering van nuwe paradigmas – in die mate waarin die besondere paradigmas ’n bepaalde verwysingspektrum of konseptuele kompleksiteit verteenwoordig. Die vermelde woordeboekdefinisies illustreer dat vanuit die ‘Afrikaner-prototipegestalt’ beperkte paradigmas geabstraheer kan  word om die verwysingspektrum te vergroot. Die ‘Afrikaner-prototipegestalt’ maak egter ook daarvoor voorsiening dat op grond van ’n bepaalde geobjektiveerde ervaring van ’n geselekteerde eienskapbundel die etiket Afrikaner ook ander persepsies of ervarings van die kategorie kan ondervang, byvoorbeeld die Afrikanerkarikatuur, ’n paradigma wat konseptueel sodanig verskraal is dat dit lei tot stereotipering. 
Nieteenstaande die feit dat die kategorie ‘Afrikaner’ nie ’n enkele prototipe-element op enige gegewe tydstip gehad het nie, het in die ontwikkeling van die betrokke kategorie Afrikanereksponente as “goeie” voorbeelde (in teenstelling met die tipiese prototipestrukturering van “beste” voorbeelde) gedien ter konseptuele verryking van die kategorie as sodanig, en dus noodwendig vir die daarstelling van prototipeparadigmas – en uiteindelik die abstraksie ‘Afrikaner-prototipegestalt’. Sodanige gestalt sou egter weinig hoop op kognitiewe aanraking en gevolglike bindingskrag gehad het indien dit nie ook konseptueel gevoed is deur wat Taylor “folk definitions” noem nie. In hierdie verband noem Taylor dat binne dieselfde taalgebruiker alternatiewe voorstellings van dieselfde kategorie saam kan bestaan: een gebaseer op ’n prototipe en die ander op ’n skema.
Eersgenoemde staan bekend as ’n “folk category” (of natuurlike kategorie) terwyl laasgenoemde ’n “expert category” genoem word. Binne die konteks van hierdie betoog word Taylor se “prototipe” gelyk gestel aan “Afrikanereksponente”, terwyl “expert category” nie net na woordeboekdefinisies verwys nie, maar ook na die geobjektiveerde besinning oor en ervaring van Afrikanerskap (as kulturele “script”) en die bewustelike beoordeling van elemente van die betrokke kategorie in ooreenstemming met die abstraksie ‘Afrikaner-prototipegestalt’. Hieruit het ’n dominante prototipeparadigma ontwikkel wat konseptueel ’n eie kategoriestatus verkry het, naamlik ‘Afrikanerskap’.
Besinning oor Afrikaneridentiteit is nie ’n nuwe verskynsel nie. Die huidige debat handel egter primêr oor die konseptuele inhoud van die bogenoemde mees dominante prototipeparadigma (eienskapbundel), wat dermate konseptueel ontwikkel het dat dit geleksikaliseer is as Afrikanerskap. Konseptueel is dit ’n natuurlike verskynsel omdat prototipes rekursief funksioneer en dus nuwe kategorieë tot gevolg het: “prototypicality is itself a prototype category”, volgens Taylor, in navolging van Geeraerts. Die konsepte ‘Afrikanerdom’ en ‘Afrikanerskap’ is voorbeelde van sodanige kategorie-uitbreiding op grond van prototipeparadigmas wat inherent so sterk ontwikkel het dat die abstraksie ‘Afrikaner-prototipegestalt’ te ruim voorsiening sou maak vir hulle eksklusiewe en direktiewe aard. 
Hierdie konsepte het egter ’n ooreenstemmende konseptuele roete as die kategorie ‘Afrikaner’ geloop. Verskillende groeperinge Afrikaners, byvoorbeeld uit sowel die “verkrampte” as die “verligte” dampkring, kon op Afrikanerskap aanspraak maak. In die lig van die voorgaande bespreking volg dit dat sodanige aansprake gebaseer was op bepaalde onderskeidende prototipeparadigmas wat elke groepering uit die ‘Afrikanerskapgestalt’ sou objektiveer, ook ter versterking van die ‘script’-dimensie van die betrokke paradigma. In hierdie opsig het die intensiteitsverskil van direktiewe kragte in die onderskeie groeperings ter verdere onderskeiding van prototipeparadigmas gedien. Vanuit ’n meer “verkrampte” beheersende punt was die kategorie ‘Afrikanerskap’ se kategoriegrense deur die dwang van eksklusiwiteit minder vloeibaar. 
Die Afrikanerdebat is dus eintlik ’n illustrasie van ’n geobjektiveerde belewenis van die dominante prototipeparadigma van die kategorie ‘Afrikaner’, by implikasie die afgeleide kategorie ‘Afrikanerskap’.
Ek vertrou dat ek met hierdie uiteensetting die diversiteit van die konsep ‘Afrikaner’ kon belig. Vervolgens vestig ek die aandag op ’n konsep wat ’n nog komplekser diversiteit impliseer – soos reeds vermeld: identiteit binne diversiteit, vergestalt in die woord Afrikaan (“African”). Die bespreking daarvan geskied an die hand van die I am an African-toespraak van die toenmalige Adjunkpresident Thabo Mbeki op 8 Mei 1996, tydens die aanvaarding van die Grondwet.
Die reënboognasie
Voor 1994 het die apartheidsideologie rigiede grense binne die Suid-Afrikaanse gemeenskap gevestig en in stand gehou. Die nuwe politieke orde, gepaard met ’n nuwe grondwet, sou hierdie ideologies-gefundeerde kategorieë ophef. 
Alhoewel die Grondwet nasiewording onderskryf, maak dit ook op verskillende vlakke voorsiening vir diversiteit. Die “reënboognasie”-metafoor ondervang hierdie oënskynlike teenstrydigheid.
Die voorgenoemde I am an African-toespraak van die toenmalige Adjunkpresident Thabo Mbeki op 8 Mei 1996, tydens die aanvaarding van die Grondwet, kan onder andere gelees word as ’n poging om die gedagte van ’n “reënboognasie” te stimuleer. Die toespraak sentreer in die “metafoor” I am an African. Verskeie taalkundige strategieë ondersteun die krag van die spesifieke “metafoor”.
Die metafoorstatus van die frase I am an African word in hierdie bespreking onder die loep neem. Die fokus val op die konseptuele uitbreiding van die metafoordomeinbegrippe (“I” en “African”) as resultaat van verskeie kontekstuele veranderlikes, onder andere plasing, frekwensie en konseptuele versmelting. 
Binne die betrokke konteks staan die eerstepersoonsvoornaamwoord ek (“I”) as gevolg van sy “ongewone” kollektiewe verwysing egter ook in ’n besondere verhouding tot sy meervoudsvorm ons (“we”). Daarom is dit nodig om ook statisties na die relatiewe voornaamwoord-swaartepunte binne die betoog te verwys, alhoewel die implikasies daarvan nie in hierdie ontleding volledig aandag sal kry nie.
Die kontekstuele gebruik van die voornaamwoordkategorieë ek en ons
Struktuur van die Mbeki-toespraak
Die Mbeki-toespraak bevat 2 042 woorde, saamgevoeg in drie-en-sestig paragrawe. Vir die daarstelling van ’n statistiese beeld van die gebruikstendens van die eerstepersoonsvoornaamwoord in die enkelvoud en meervoud word die toespraak in vyf eweredige dele verdeel. Vir die doel van die ontleding word die onderwerp-, voorwerp- en possessiewe gebruike van elke kategorie saam gegroepeer. Die grafiek in Figuur 2 stel die ontleding voor.


                            
Die gebruiksfrekwensie van die eerstepersoonsvoornaamwoord in die meervoud mag ietwat misleidend wees indien nie in ag geneem word dat die possessiewe ons (“our”) elf van die vyftien voorkomste verteenwoordig nie. Ten opsigte hiervan moet egter genoem word dat die possessiewe ons (“our”) as verwysingspunt optree vir die denkroete na die konseptuele doelwit: die naamwoorde binne die betrokke naamwoordstukke. Vergelyk byvoorbeeld die volgende naamwoordstukke uit die toespraak: “our native land” (vier keer); “our frosts”; “our latter-day snows”; “our sunshine”; “our day”; “our country”; “our freedom and dependence”; “our memories”.
Die tendensgrafiek dui onteenseglik op ’n opwaartse neiging ten opsigte van die gebruik van die eerstepersoonsvoornaamwoord in die meervoud, terwyl die gebruik van die eerstepersoonsvoornaamwoord in die enkelvoud afwaarts neig. Dit hou duidelik verband met Mbeki se primêre ideologiese doelwit: verskillende groepidentiteite, gewoonlik aangedui deur die voornaamwoorde ons (“we”) en hulle (“they”), behoort verenig te word. En dit hou direk verband met die konseptuele lading van ek (“I”) in die uitdrukking I am an African. Die gebruiksfrekwensie van variante van die eerste persoon meervoud in die slotparagraaf van die toespraak onderskryf by implikasie die genoemde gekontekstualiseerde konseptuele lading; vergelyk:
(1) “Whoever we may be, whatever our immediate interest, however much we carry baggage from our past, however much we have been caught by the fashion of cynicism and loss of faith in the capacity of the people, let us err today and say –  nothing can stop us now!”
Die eksplisiete gebruik van die eerstepersoonsvoornaamwoord in die meervoud volg dus eintlik uit die ongewone konseptuele manipulasie van die eerstepersoonsvoornaamwoord in die enkelvoud, gemanifesteer in die uitdrukking I am an African. Die genoemde konseptuele manipulasie hou direk verband met bepaalde verskuiwings van die beheersende punt deur die spreker, vergestalt in die verwysingsvariasies van ek (“I”).
Verskuiwing van die beheersende punt deur voornaamwoordgebruik
Die voornaamwoord ek (“I”) het ’n deurslaggewende konseptuele funksie in die uitdrukking I am an African – soos reeds vermeld. Deur die gebruik daarvan eksploiteer Mbeki sy deiktiese rol: die voornaamwoord ek (“I”) dui op die taalhandelingsrol en die identiteit van die spreker. In hierdie hoedanigheid dien dit as implisiete kognitiewe verwysingspunt met die doel om kognitiewe aanraking (“mental contact”) met die aangesprokene(s) te bewerkstellig.
Die spreker maak doelbewus van die voornaamwoord ek (“I”) gebruik om verskuiwings ten opsigte van verskillende beheersende punte te bewerkstellig. Binne ’n multikulturele en multi-etniese samelewing vereenwelwig hy hom baie intiem met verskillende subgroepe deur die gebruik van die voornaamwoord ek (“I”); vergelyk die volgende voorbeelde: 
(2)      “I owe me being to the Khoi and San …”; “I am formed of the migrant who left Europe …”; “I am the grandchild of the warrior men and women …”; “I am the grandchild who lays fresh flowers on the Boer graves of St Helena …”; “I come of those who were transported from India and China …”; ens.
Op grond van Mbeki se vereenselwigingstrategie moet die betrokke aangesprokenes die nodige konseptuele aanpassings maak. Die vereenselwiging kulmineer in sy eie verduideliking daarvan: 
(3)      “Being part of all these people, and in the knowledge that none dare contest that assertion, I shall claim that – I am an African!”
Deur die bewerkstelliging van konseptuele koherensie, soos in die voorgaande uiteensetting beskryf, kan hy nou die uitdrukking I am an African metafories benut om sy onderliggende kommunikasiedoelwitte te verrryk en te versterk. 
Die metafoorstatus van I am an African
Kognitiewe beskouing van die metafoor
Taylor wys daarop dat die kognitiewe benadering tot die metafoor reeds sy beslag gekry het in Black se interaksieteorie oor die metafoor in 1962. Ek kon ongelukkig nie in hierdie betoog daaraan aandagskenk nie.
Die kognitiewe benadering tot die metafoor sluit nou by die interaksiebeskouing van Black aan, alhoewel bepaalde terme binne die twee benaderings verskillende verwysingsmoontlikhede het, byvoorbeeld die begrip “raam”. 
Binne die kognitiewe beskouing bied die begrip “konseptuele metafoor” ’n funksionele beskrywingsraam vir die metafoor. Die metafoor word hiervolgens beoordeel as ’n konseptuele karteringsproses: die betekenisstruktuur van die brondomein word op ’n ander ervaringsdomein toegepas – die doelwitdomein.
Die kognitiewe struktuur van ’n metafoor berus verder op die beginsel van konseptuele versmelting, “a general cognitive process … that operates over mental spaces as inputs”, volgens vergelyk Fauconnier & Turner. Oakley wys daarop dat konseptuele versmelting sodanig werk dat dit agtergrondaannames in ooreenstemmende taalvorme neerslag laat vind. Hy beskryf die proses soos volg: 
“Working over an array of mental spaces – online conceptual packets built up as we think, talk, and understand – blending occurs when two or more input spaces in cooperation with a generic space project partial structure into a fourth space known as the blend. The blend inherits partial structure from each input space and develops its own emergent structure.” 
Gevolglik word die metafoor teen die agtergrond van die konseptuele versmelting verstaan. 
Alhoewel verskeie kontekstuele faktore die metafoorstatus van die uitdrukking I am an African kan bepaal, word die aandag op die volgende gevestig: betekenismanipulasie (van ek) deur perspektiefverskuiwing, eksploitasie van die generiese ruimte, die aard en rigting van metaforiese kartering, en die aard  en kontekstuele rol van die resulterende konseptuele versmeltings.
Die uitdrukking I am an African
Buite konteks is die uitdrukking I am an African inderdaad géén metafoor nie!
Lyons wys daarop dat soortgelyke frases (“X is Y”) semanties drieledig vertolk kan word: om die identifikasie van een entiteit met ’n ander aan te dui (byvoorbeeld “I am Mbeki”); ter aanduiding van klaslidmaatskap (byvoorbeeld “I am a member of Parliament”); of om klasinsluiting te veronderstel (byvoorbeeld “We are Africans”). Mbeki kon inderdaad die klasinsluitende nie-metaforiese uitdrukking “We are Africans” gebruik het omdat dít juis is waarop hy met die toespraak mik – soos vergestalt in die frekwensietendensgrafieke van ek en ons respektiewelik (vergelyk Figuur 2). Daardeur sou hy egter die potensiële kommunikatiewe krag van die “metafoor” ingeboet het.
Hy verkies egter om die uitdrukking I am an African te gebruik. Hierdeur skep hy ’n metafoorraam waarin African as die fokale woord betekenisuitbreiding ondergaan – wat van die aangesprokene vereis om sowel die “ou” as “nuwe” betekenis van African met mekaar te versoen om die metafoor ten volle te kan begryp. 
Teen die agtergrond van sy betekenismanipulasie van die voornaamwoord ek skep Mbeki egter deur hierdie frase vir die betrokke konteks ’n ryk, komplekse en kragtige metafoor wat teenoorgesteld ’n dieperliggende kartering vanaf ek na African veronderstel – juis omdat die gekontekstualiseerde ek-ervaring aan die hart van die betrokke metafoor lê.
As metafoor funksioneer I am an African dus op meer as een vlak. ’n Kognitiewe ontleding van dié gekontekstualiseerde metafoor onthul die betekenisintensie “We are Africans” – wat minstens drie onderliggende geïntegreerde metafoorvlakke veronderstel.
Op ’n eerste vlak verenig die uitdrukking I am an African ’n hele konstellasie metafore wat die brondomein ek onderlê. Op grond van sy konseptuele manipulasie van die eeerste persoon enkelvoud skep hy metafore wat die fokale kategorie African subkategoriseer maar ook verenig: verskillende groepidentiteite word sistematies (konseptueel) op ’n bepaalde ego-identiteit gekarteer; anders gestel: “understanding and experiencing one kind of thing or experience in terms of another”, volgens Lakoff en Johnson. Enkele van die subkategorië word vervolgens genoem. By elkeen volg die relevante aanhaling uit die toespraak:
A:      Ek is ’n Khoi en San (“I owe me being to the Khoi and San …”)
B:      Ek is ’n wit immigrant (“I am formed of the migrant who left Europe …”)
C:      Ek is ’n inheemse (van Afrika) (“I am the grandchild of the warrior men and women …”)
D:      Ek is ’n Boer (“I am the grandchild who lays fresh flowers on the Boer graves of St Helena …”)
E:       Ek is ’n Suid-Afrikaanse Indiër/Sjinees (“I come of those who were transported from India and China …”)
F:       Ek is ’n voormalige onderdrukte (“I am born of a people who would not tolerate oppression.”)
Ensovoorts.
Hy definieer die subkategorieë van African baie versigtig deur die gebruik van implisiete metafore soos “I am formed …”, “I come of those …”, “I have seen …”, “I am born of …”, ensovoorts – en vermy dus in hierdie gevalle die eksplisiete gebruik van die “I am X”-frase. Hierdeur verenig hy ’n konseptuele konstellasie kategorieë wat uiteindelik die metafoor I am an African onderlê – ondervang deur sy eie uitspraak: “Being part of all these people, and in the knowledge that none dare contest that assertion, I shall claim that – I am an African!”
Die kommunikatiewe krag van hierdie uitdrukking (metafoor) berus egter by die voorafgaande beheersendepuntverskuiwings wat bewerkstellig is deur die gebruik van die eerste persoon enkelvoud. Deur identiteitstransformasies word hy dus in staat gestel om verskillende groepsidentiteite konseptueel binne te dring. Op grond hiervan word verskillende aangesprokenes gedring om perspektief- en gesigspuntverskuiwings ter uitbreiding van hulle kategorieë te maak. Kategoriegrense word dus konseptueel opgehef.
Op die tweede vlak ondersteun die metafoor I am an African hierdie perspektief- en gesigspunttransformasies: die saamgestelde identiteit (soos nou verteenwoordig deur die konsep ek) word op die ruimte-afgeleide konsep African (as ruimtelike vereniging) gekarteer. Hieruit volg dat op ’n derde vlak die konsep African op elke individuele groep gekarteer word, soos verteenwoordig deur ek – met die uiteindelike betekenis: “We are Africans”. Maar laasgenoemde uitdrukking is geen metafoor nie, en as sodanig sou dit nie die kommunikatiewe krag van die metafoor hê nie.
Die effektiwiteit van die metafoor kan dus eerstens toegeskryf word aan die gebruik ek in plaas van ons. Die eerste persoon enkelvoud tree in hierdie gevalle as ’n prominente verwysingspunt op. In sy hoedanigheid as ’n prominente Suid-Afrikaner benut hy die identiteitsonthullende ek as ’n strategiese konseptuele verwysingspunt om telkens verskillende kategorieë te verteenwoordig – om uiteindelik die solidariteit van ’n “ons” te skep.
Verder moet daar gewys word op die aard en rigting van kartering ten opsigte van verskillende ervaringsdomeine. Soos vroeër vermeld, lyk dit met die eerste oogopslag of die konseptuele ervaring van African as invoerruimte 1 dien (die brondomein), terwyl die konseptuele ervaring van ek (“I”) as invoerruimte 2 (die doeldomein) dien. Hierdie invoerruimtes word wel betrek, maar omgekeerd – en op ’n intermediêre vlak in die konseptuele ontwikkeling van die betrokke metafoor in die tersaaklike konteks. 
Op die eerste kognitiewe ontwikkelingsvlak word die konseptuele integrasie van verskillende groepidentiteite gekarteer op die ego-identiteit van die spreker. Die toespraakkonteks dien as ’n soort kolligmeganisme op grond waarvan aspekte uit die generiese ruimte (naamlik kategorie, rol en identiteit) konseptueel uitgehef word. Gevolglik het dit ’n gedeelde raamstruktuur met die invoerruimtes gemeen: verskillende Afrika-groepidentiteite (kategorieë) word op grond van bepaalde rolvereistes verenig in ’n deiktiese identiteit – die versmelte konseptuele ruimte. Fauconnier & Turner merk tereg op: “Once the blend is established, we can operate cognitively within that space, which allows us to manipulate the various events as an integrated unit.” 
Daarom kan dit op die tweede kognitiewe ontwikkelingsvlak as invoerruimte dien. Op hierdie vlak tree die konseptuele ervaring van die versmelte ruimte (“blend”) van die eerste vlak dus as invoerruimte 1 op – op grond waarvan ’n saamgestelde deiktiese identiteit op ’n verenigde Afrika-identiteit gekarteer word.
Die konseptuele ervaring van die versmelte ruimte van vlak twee (African as kolletiewe ervaring van individuele groepidentiteite) tree op kognitiewe ontwikkelingsvlak drie as invoerruimte op vir kartering op individuele groepidentiteite. Hieruit ontwikkel die versmelte konseptuele ervaring: “We are Africans”.
Gevolgtrekking
Die uitdrukking I am an African se metafoorstatus lê nie op die oppervlak nie. Die metafoorstatus van die uitdrukking word bepaal deur die betekenis- en verwysingsmanipulasie van die eerste persoon enkelvoud – sodanig dat dit onderliggend as katalisator optree om konseptuele identiteitservarings te wysig en te verenig in die kollektiewe eerste persoon meervoud ons (“we”).
Samevatting
Kognitiewe linguistiek bied ’n beskrywingsmodel van die verhouding wat daar bestaan tussen taal en die menslike waarneming van die wêreld waarin hy ruimtelik funksioneer; kortom: kognitiewe linguistiek lê verbande tussen taal en kognisie. 
In die voorgaande uiteensetting het ek probeer aantoon hoedat hierdie beskrywingsmodel ons in staat stel om bepaalde insigte te verifieer (of tot bepaalde insigte te kom) ten opsigte van die taalbelewenis – en dus ook ons kognitiewe belewenis – van twee identiteitskwessies: identiteitskwessies wat in die diverse Suid-Afrika nog van fundamentele belang kan wees.