AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR. KLIK OP DIE PYLTJIE BY NOVEMBER VIR TOEGANG.
Perspektiewe op rassisme
Te oordeel
aan daaglikse beriggewing is rassisme in Suid-Afrika aan die orde van die dag –
dít ten spyte van ’n grondwet wat die beginsel van gelykheid vooropstel.
Meestal hou
sodanige beriggewing verband met ervarings van “beweerde” rassisme. Daar kan
inderdaad van “beweerde” gepraat word omdat die beoordeling van die betrokke
verskynsel nie altyd ’n konsensussaak is nie. Dikwels is dié “in the eye of the
beholder”-verskynsel toe te skryf aan die feit dat die woord rassisme
nie ’n werkwoord-ekwivalent het nie – soos wat dit trouens die geval met seker
die meeste van die -isme-woorde is. Beoordelaars van die verskynsel doen
dit dus op grond van hulle evaluerings of ervarings van handelinge of praktyke
wat as “rassisties” geëtiketteer word. Die mees tipiese praktyke wat in hierdie
vangnet tuishoort, word ondervang deur handelinge wat in die werkwoord diskrimineer
gemanifesteer word. Ook hierdie woord kan egter ’n sambreel wees vir baie
aanstootgewende en diskrediterende aktiwiteite. Maar in die betekenis van diskrimineer
is baie meer en ook baie minder as rassisme opgesluit. Dit blyk duidelik
uit talle woordeboekdefinisies van die woord diskrimineer.
Daar
bestaan ook ’n opvatting – miskien alreeds mities – dat die rigting van handelinge
wat onder die verskynsel rassisme geklassifiseer kan word, eenrigtinghandelinge
is. Die Suid-Afrikaanse praktyk weerspieël die teendeel.
Word die
handelinge wat onder die begrip ‘rassisme’ gelys word, onder oë geneem, blyk
dit dat ’n hele aaantal faktore daartoe bydra. In hierdie opsig kan die
volgende genoem word:
· ’n Rassistiese handeling veronderstel die
toepassing van ’n onderskeidende kriterium wat vir die individue van die groep
waarop dit toegepas word, individuele en/of kollektiewe nadelige gevolge inhou
ten opsigte van sy/haar/hulle fisiese, materiële, psigiese, sosiale, kulturele
en ander aspekte van hulle welstand.
· ’n Rassistiese handeling word as sodanig
benoem uit die aard van die effek wat die handeling op ’n individu of groep het
op grond van ’n werklike/gewaande natuurlike of geïnstigeerde weerloosheid.
· Rassistiese handelinge geskied vanuit ’n
posisie van mag, gewaande mag of vergeldende mag.
· Binne
’n bepaalde samelewing kan rassistiese handelinge geïnstitusionaliseerd of nie-
geïnstitusionaliseerd bedryf word. ’n Hedendaagse opvatting ten opsigte van die
klassifikasie van rassistiese handelinge maak voorsiening vir die onderskeiding
van ’n sogenaamde ‘kulturele rassisme’ – wat oor die grense van die
eersgenoemde onderkeiding sny.
Binne die
Suid-Afrikaanse konteks is dit miskien nodig om vraagstukke soos die volgende
grondig te ondersoek:
1. Wat beteken die begrip ‘rassisme’?
2. Maak die Grondwet voldoende voorsiening vir
’n nie-rassistiese samelewing?
3. Wat is die aard van rassistiese handelinge
binne die Suid-Afrikaanse samelewing?
4. Wat bied ’n historiese perspektief (meer as
net die onmiddellike Suid-Afrikaanse verlede) op rassisme?
5. Watter rol speel moraliteit en die
moraliteitstoonaangewers ten opsigte van die uitwissing van rassistiese
praktyke?
6. Hoe moet die beginsel van bemagtiging ter
uitwissing van rassisme beoordeel word – as die ontwikkeling van geleenthede
ter bemagtiging, óf ’n verrysing uit die as van die ontmagtigdes?
W. Botha
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking