Totale bladsykyke

Vrydag 25 November 2016

’n Oorlog teen metafore?

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR

’n Oorlog teen metafore?[1]

Willem Botha

We do not realize what tremendous power the structure of a habitual language has. … (I)t enslaves us through the mechanism of semantic reactions and … the structure which a language exhibits, and impresses on us unconsciously, is automatically projected upon the world around us (Alfred Korzybski, 1879 – 1950)[2].

Abstract

Because of its speech act structure language shapes war. This phenomenon becomes very clear when one examines the immediate circumstances prior to military action against Iraq. In this regard resolution 1441, which put certain restrictions on Iraq with regard to weapons of mass destruction, acted as an instigator of disagreement – not only revealed by language, but also conveyed by the force structure of language. This article examines different speech acts related to resolution 1441 – but also to the resulting proposed resolution which would have enabled the USA and Britain (with their allies) to take military action within the preconditions of the Security Council of the United Nations. As an ultimatum to Saddam Hussein it became a secondary force in relation to primary language forces dividing members of the Security Council, as well as other potential role players within the wider context of an evolving war. The exploitation of the ontological metaphorical status of the concepts ‘terrorist’, ‘terror’ and ‘terrorism’ is also scrutinized.  

Ongeveer ’n week na die 11 September-terreuraanvalle in New York maak die Britse eerste minister, mnr. Tony Blair, die volgende dramatiese stelling – ’n stelling wat, eienaardig genoeg, min prominensie geniet het: “Whatever the technical and legal issues about a declaration of war, the fact is that we are at war with terrorism.” 

Vroeg in die jaar 2003, na ’n bewering van mnr. Mohamed Al Baradei, hoof van die internasionale atoom-energiekorporasie, dat Noord-Korea die VN se verbod op kernwapenprogramme oortree en voor die VN-veiligheidsraad gedaag sal word, reageer president Kim Jong Il (van Noord-Korea) daarop deur te sê dat die VN se optrede op ’n oorlogsverklaring neerkom.

In dieselfde tydperk, nadat die wapeninspekteurs ’n Al-Samoed-missiel met ’n reikafstand van baie meer as 150 km (die reikafstand wat ’n VN-resolusie Irak toelaat) in Irak ontdek het, kondig die Withuis-woordvoerder, mnr. Ari Fleischer, aan dat die VSA en Brittanje reeds die volgende week ’n nuwe resolusie kan indien waarin die VN gevra word om militêre optrede goed te keur. 

Bogenoemde oorsig van bepaalde handelinge deur taal illustreer by implikasie die intrinsieke rol wat taal in die aanloop tot, maar uiteindelik ook ín enige reële oorlog speel. Dit maak die taalarsenaal net so ’n deel van oorlog soos wat enige veldslag, opmars, lugaanval, bombardement en verwante sake deel van ’n werklike oorlog is. Per definisie het oorlog te doen met georganiseerde kragte wat deur bepaalde groepe teenoor mekaar gestel word met die oog op strukturele verwoesting en die neem van menselewens. Die voorgenoemde uitsprake sluit nou aan by sodanige kragdimensie van oorlog, maar in hulle hoedanigheid as taaldade met ’n bepaalde seggingskrag ten opsigte van die werklikheid waarin dit gebruik word en waarna dit verwys. In die bespreking wat volg, sal die taalkrag van sodanige uitinge onder die loep geneem word. Ten slotte word die eksploitasie van die metafoor teen die agtergrond van die krag van taal in oënskou geneem.

Dat taal meer doen as net die oordrag van bepaalde inligting, word bevestig deur Hayakawa (1962:vii) se formulering van die intieme verhouding wat daar tussen taal, denke en gedrag bestaan: “between how we talk, therefore how we think, and therefore how we act.” Dit hou verband met die omwenteling wat die verskyning van J.L. Austin se boek How to do things with words in 1962  gebring het ten opsigte van opvattings oor betekenis en die krag van taaluitinge. Austin se beskouing kom daarop neer dat alle taaluitinge eintlik as taalhandelinge beskou moet word – dat die aard van die uiting en die konteks waarin dit gebruik word uiteindelik die relatiewe taalkrag daarvan sal bepaal. Breedweg sou enige taaluiting deur een of meer van die volgende handelingskategorieë ondervang kan word: stellings, evaluerings, ekspressiewe (houdingshandelinge), direktiewe, gesagsuitinge en verbintenisse. 

Daar moet verder op gelet word dat elke taalhandeling ’n bepaalde effek op die aangesprokene(s) het – dit wil sê krag op die aangsprokene(s) uitoefen – en dat sodanige effek weer instigator is van verdere taal- of ander handelinge. Die doel met enige taalhandeling is inderdaad om ’n bepaalde uitwerking te hê in ooreenstemming met die bedoeling van die spreker(s). In sy voorlegging op 5 Februarie 2003 aan die VN-veiligheidsraad, waarin hy optrede teenoor Irak aanmoedig, illustreer generaal Colin Powell die bedoeling met resolusie 1441 onomwonde met die volgende woorde: “The purpose of that resolution was to disarm Iraq of its weapons of mass destruction.”

Die relatiewe status van die spreker dra by tot die relatiewe krag van die betrokke taalhandeling. In die aanloop tot die konvensionele oorlog teen Irak het verskillende rolspelers opgetree om oor die hele taalhandelingspektrum bepaalde oorlogsdade te stig of teen te staan. Sy status as president van die VSA – die moondheid wat oor die kragtigste oorlogsmasjinerie beskik – bepaal dat George Bush se woorde hoegenaamd nie lig opgeneem kon word nie. Uiteraard is die intrinsieke krag van sy taaluitinge gedelegeer na verteenwoordigende rolspelers, soos ’n Colin Powell, ’n Donald Rumsfeld, Withuiswoordvoerders en andere. Alhoewel Bush by verskeie geleenthede te kenne gegee het dat die VSA sonder steun vir ’n nuwe resolusie bereid sou wees om eensydig teen Irak op te tree, sou ander rolspelers se talige verbintenis – en die resulterende morele (en militêre?) verbintenis – tot sodanige optrede sy saak versterk. Daarom was dit vir hom belangrik dat ’n Tony Blair, die VN, Navo en die Europese Unie hulle steun moes uitspréék. Dit het diplomatieke inisiatiewe op verskillende taalhandelingsvlakke meegebring – en taal is waarskynlik een van die belangrikste onderdele van enige diplomatieke handeling. Anders gestel: diplomasie is ook die taalvergestalting van bepaalde kommunikasiestrategieë – strategieë wat nie altyd positief bejeën word nie: “behendige sluwheid in de omgang” (Van Dale, 2001).

Dit was belangrik vir Bush dat verskillende taalhandelingstrategieë uiteindelik kulmineer in ’n koalisie se gesamentlike “oorlogsverklaring”, alhoewel ’n formele talige verklaring nie ’n voorvereiste vir oorlog is nie. Brittanje het byvoorbeeld nooit formeel oorlog teen die Falkland-eilande verklaar nie; ook is daar nooit ’n oorlog tussen die VSA en Vietnam verklaar nie. Dat ’n oorlog ook implisiet verklaar kan word as uitvloeisel van ander taalhandelinge, blyk uit die vroeëre verwysing na Noord-Korea se president Kim Jong Il se beskouing dat indien Noord-Korea voor die VN-veiligheidsraad gedaag sou word (natuurlik in taal), dit op ’n oorlogsverklaring sou neerkom. In Bush se geval sou morele regverdiging vir ’n oorlog deur kollektiewe optrede versterk word, terwyl verdere skade aan die VSA se beeld as internasionale paaiboelie daardeur versag kan word.

Uit die verskeidenheid taalhandelinge van verskillende rolspelers in die aanloop tot die oorlog teen Irak blyk die kompleksiteit van Bush se aanvanklike (voorlopige) “oorlogsverklaring”[3]. In hierdie opsig was VN-resolusie 1441 die sentrifugale krag. Die taalaard van die genoemde resolusie spreek uit die woordeboekdefinisie van resolusie: “a formal expression of the consensus at a meeting, arrived at after discussion and usually as the result of a vote” (my kursivering). Die krag van sodanige uitdrukking spreek uit ’n verdere betekenisbeskrywing: “a firm decision to do something” (Encarta World English Dictionary). VN-resolusie 1441 (onder andere ’n verbod op die ontwikkeling van missiele wat ’n bepaalde reikafstand oorskry) is ’n duidelike voorbeeld van ’n gesagstaalhandeling. Daarteenoor gee dr. Hans Blix, hoofwapeninspekteur, sy bevindinge nie net in stellingstaalhandelinge weer nie – hy maak ook van evalueringshandelinge gebruik. Dit is inderdaad hoedat generaal Colin Powell dit interpreteer as een van die motiverings vir sy eie voorlegging aan die VN-veiligheidsraad: “… to support the core assessments made by Dr. Blix ...” (my kursivering).

Maar die opvolg-konsepresolusie, waarin militêre optrede teen Irak gevra is, is ontkrag deur oorredingstrategieë wat nie die gewenste uitwerking het nie, onder andere die aanbieding van die “waarheid” in stellings en evaluerings. Die tweede rede wat die Amerikaanse minister van buitelandse sake, generaal Colin Powell, aangevoer het vir sy voorlegging aan die VN-veiligheidsraad op 5 Februarie 2003, ter motivering van dié verdere resolusie vir militêre optrede teen Irak, getuig daarvan“My second purpose today is to provide you with additional information (stellings), to share with you what the United States knows about Iraq’s weapons of mass destruction as well as Iraq’s involvement in terrorism (evaluering), which is also the subject of Resolution 1441 and other earlier resolutions.” Hier moet in gedagte gehou word dat taalstrategieë dikwels saamhang met die aard, betekenis- en struktuurinhoud van bepaalde taaluitinge. Die taalhandelingskrag van Powell se voortspruitende stellings en evaluerings word gedra deur geïntegreerde stelsinne (struktuur) wat vanuit ’n bepaalde waarheidsbeskouing (ten opsigte van betekenis) op ’n waar-vals-skaal beoordeel kan word. In hierdie opsig was mnr. Tony Blair se ywer vir die daarstelling van die betrokke resolusie natuurlik kontraproduktief met die onthulling dat die inhoud van ’n langverwagte dossier wat die Irak-“waarhede” moes rugsteun, op ou inligting berus het. Die International Action Center stel dit onomwonde: “Blair’s ‘dossier’ publicity stunt flops as tide turns against war” (http://www.iacenter.org/).

Ten spyte van die verbintenistaalhandelinge deur EU-staatshoofde en Navo ter ondersteuning van VSA-optrede, het ’n antipatie ten opsigte van militêre optrede by die breë publiek regoor die wêreld toegeneem. Dit word duidelik gesuggereer deur van die metafore wat in die media gebruik is, byvoorbeeld “Bush’s push for war” en “Muddy road to war”. Dit kan egter ook toegeskryf word aan die feit dat die emosie van 11 September 2001 aan die afneem en die (emosionele) realiteite van ’n konvensionele oorlog aan die toeneem was. Houdingshandelinge, gepaard met algemene “war talk” (gebruik van oorlogsmetafore), het nie meer die nodige taalhandelingsvrugte afgewerp nie.

Op Vrydag 7 Maart 2003 is die krag van taalhandelinge op die spits gedryf tydens ’n debat in die Veiligheidsraad waarin die Britse minister van buitelandse sake, mnr. Jack Straw, ’n gewysigde resolusie ingedien het wat op ’n ultimatum aan Irak neergekom het: om te ontwapen of oorlog in die gesig te staar. ’n Ultimatum is natuurlik ’n klassieke voorbeeld van ’n direktief: final demand: a demand accompanied by a threat to inflict some penalty if the demand is not met” (Encarta World English Dictionary)Tydens die debat wat as “emosioneel” en “dramaties” beskryf is – ’n debat wat volgens sommige kommentators selfs die voortbestaan van die VN in gedrang kon bring – dien mnr. Straw dié resolusie in. Kommentators se beskrywing van sy toespraak as “hartstogtelik” en “emosioneel” illustreer die oorkoepelende ekspressiewe taalhandelingskrag daarvan – en dit herinner aan die taalhandelinge na 11 September 2001, dié soort taalhandelinge waarvan mnr. George Bush hom ook bedien het in sy aanvanklike oproep tot ’n oorlog teen Irak, wat van die Britse kommentators laat opmerk het dat die Britte skepties staan teenoor iemand wat mense met die instinkte van Bush volg. Selfs in sy finale toespraak voor die inval, op 18 Maart 2003, handhaaf hy die terroris-fiksasie: “Saddam Hussein and his terrorist allies could choose the moment of deadly conflict when they are strongest.”

Die krag van Straw se oorkoepelende houdingshandelinge, wat natuurlik in inhoud grootliks die hele taalhandelingspektrum bestryk het, was verknoop aan die ultimatum aan Irak – maar meer nog. Dit was ook ’n strategie ter oorreding: om nie-permanente lede van die Veiligheidsraad te oortuig om vir die bepaalde resolusie te stem, en lande met ’n vetoreg nie daardie reg te laat gebruik nie. ’n Veto as sodanig is sowel ’n direktief as ’n gesagshandeling, en die gebruik daarvan hef die verbintenis tot ’n bepaalde resolusie op. Dít is waaroor dit uiteindelik gegaan het: die Veiligheidsraad se verbintenis tot optrede! En in teenstelling met die effek wat ander kategorieë taalhandelinge het, naamlik dat die aangesprokenes se toekomstige gedrag daardeur beïnvloed kan word, affekteer ’n verbintenishandeling die toekomstige gedrag van diegene wat sodanige handeling pleeg – en lande soos Frankryk, Rusland en China het nie daarvoor kans gesien nie.

Die voorgestelde konsepresolusie se inherente seggingskrag het ’n netwerk taalhandelinge tot gevolg gehad – taalkragte gerig op oortuiging, teenstand, protes, misleiding, verwyt, meelewing, vrees, konsensus, veroordeling, selfregverdiging, verontskuldiging, en talle ander[4]. Word dié resolusie onder oë geneem, moet opgemerk word dat die taalhandelingskrag daarvan bepaal word deur die magsposisie van die koalisie vir oorlog wat dit voorgestel het, maar ook deur die lede van die VN-veiligheidsraad se magsrolle binne die raad. Alhoewel die uitwerking van ’n aanvaarde resolusie gerig is op optrede teen Hussein, sou ’n aanvaarding van die resolusie – deur ’n meerderheids- of vetostem – ’n ernstige verbintenishandeling vir die voorstellers van die resolusie tot gevolg hê, juis omdat ’n resolusie nié ’n meningsopname weerspieël nie, maar ’n verbintenis is tot die taalkrag daarvan: ’n vir-krag of ’n teen-krag. Dit is dan ook nie vreemd dat die voorstellers na aanduidings van die stemuitslag uiteindelik nie die resolusie tot stemming wou bring nie. Dit het hulle op verskeie vlakke in staat gestel om die minder oorloggerigte resolusie 1441 te eksploiteer ter regverdiging van oorlog.

Met die voorgaande uiteensetting van die middelpuntvliedende krag van taalhandelinge in die aanloop tot ’n oorlog as agtergrond, bly die vraag (waarom die VSA so behep was met ’n oorlog teen Irak) steeds onbeantwoord. Op 24 Oktober 2002 berig die Boulder Daily Camera (http://www.commondreams.org/) dat Bush twee redes het vir sodanige oorlog: “The first is that Saddam is determined to acquire nuclear weapons, already has biological and chemical weapons, and may use any of them. The second is that a link exists between the regime in Iraq and the al-Qaida network.”

Bush keer egter self die orde in ’n persverklaring om, uitgereik deur die Withuis op 5 Desember 2002. Die eerste deel van die verklaring bevat frases soos die volgende: “there’s no bigger issue than to win this war against the terrorists”; “(i)t’s a different kind of war”; “(t)his is a different kind of enemy”; “I cannot imagine what was going through their mind when they hit America”; “(t)hese people are scattered in 60 different countries”; “September 11th, 2001, completely changed the strategic calculations of this country”; en “(t)he battlefield is here”. En dan eers kom die skakel en die verskuiwing van die slagveld: “We’ve got to be wise about how we view the world and make sure that the new arrangements, the new alliances aren’t allowed to develop. An alliance, for example, where a nation that has weapons of mass destruction uses a shadowy terrorist network as a forward army, perhaps encouraging them to attack America without leaving any fingerprints. … And that’s why I started talking about Iraq and Saddam Hussein.”

Die aanloop is dus ongetwyfeld 11 September 2001. Dít is trouens die motivering wat Bush daarvoor vind. Ten spyte van talle ander motiewe wat deur kommentators voorgehou is, kan die impak wat 11 September op die kollektiewe psige van die Amerikaners gehad het, nie onderskat word nie. 

Die laaste gedeelte van die voorgenoemde persverklaring word gewy aan die motivering van optrede teen Irak.  Daar word eksplisiet melding gemaak van Saddam Hussein en Irak. Word dit saam gelees met Tony Blair se stelling oor oorlog (“Whatever the technical and legal issues about a declaration of war, the fact is that we are at war with terrorism.”) en Bush se eie verwysing van die stryd teen terreur (“fighting terror and all forms of terror”), blyk dit dat sowel Bush as Blair oorlog verklaar teen terreur / terroriste / terrorisme. Op grond van hulle status as staatshoofde kan hulle woorde inderdaad as ’n kategoriese oorlogsverklaring beskou word. Ook die formulering van dié oorlogsverklaring is baie direk.

Die beginsels en praktyke van terreur, op grond waarvan die woord terrorisme afgelei is, is talryk – en vindingryk, soos wat 11 September 2001 van getuig. Maar om terreur en terrorisme te beveg, kom neer op ’n oorlog teen metafore – want albei hierdie woorde (as substantiewe) se status is dié van ontologiese metafore. As sodanig is hulle begripswerktuie wat ons in staat te stel om verskillende handelinge en idees onder ’n sambreelterm saam te groepeer sodat ons dit begripsmatig en taalmatig in verskillende kontekste kan hanteer. 

Maar hoe voer ’n mens ’n konvensionele oorlog teen ’n abstraksie sonder om Don Quixote te speel?  Hiervoor bied die eksploitasie van ’n bepaalde dimensie van die metafoor ’n oplossing.

Omdat die begripsmetafoor ons in staat stel om vanuit konkreter ervarings abstrakter ervarings te beleef, kan ons die begripsroete ook omkeer om bepaalde abstraksies selektief te verkonkretiseer. Sodanig kan die woord terroris makliker hanteerbaar gemaak word. Alhoewel die terroris dikwels staatloos is – en in ’n sekere sin ook gesigloos is – stel die woord ons in staat om die begripsambreel oop te maak oor wie ons ook al daarvoor geskik mag vind. En dit is presies wat Bush doen met die identifisering van Saddam Hussein: “And that’s why I started talking about Iraq and Saddam Hussein.” Dit moet gesien word teen die agtergrond van die mislukte aanslag teen Osama bin Laden (binne hierdie konteks die prototipe van die begrip ‘terroris’) in Afganistan. Die verkonkretisering van die begrip ‘terroris’ in die persoon van Saddam Hussein stel Bush in staat om die slagveld (in sy woorde: “(t)he battlefield is here”) ook te verskuif na Irak – en sodanige lokaliteit is geskik vir ’n konvensionele oorlog! Dit val byvoorbeeld op hoeveel keer Bush in die genoemde persvrystelling Hussein en Irak eksplisiet noem: nou bestaan daar dus ’n reële antagonis en ’n werklike slagveld. 

In teenstelling met die begrip ‘terroris’ is die begrippe ‘terreur’ (“fighting terror and all forms of terror” – Bush) en ‘terrorisme’ (“we are at war with terrorism” – Blair) nié verkonkretiseerbaar nie. Metaforiese eksploitasie van die woord terroris bied die Bush/Blair-alliansie aan die een kant ’n oplossing vir die probleem van ’n oorlog teen metafore(!), en aan die ander kant die geleentheid tot verhulling van ander motiewe.


Verwysings

Austin, J.L. 1962. How to do things with words. Oxford: Clarendon.
Encarta® World English Dictionary © & (P) 1999 Microsoft Corporation. Developed for Microsoft by Bloomsbury Publishing Plc.
Hayakawa, S.I. 1962. The use and misuse of langaugeGreenwich: Fawcett.
Van Dale. 2001. Van Dale Groot Woordenboek der Nederlandshe Taal. Utrecht / Antwerpen: Van Dale lexicografie (elektroniese uitgawe).





[1] Hierdie artikel is op 20 Maart 2003 voltooi, die dag toe militêre optrede teen Irak ’n werklikheid geword het. Die verwysings na taaldade sluit dus die daaropvolgende tydperk uit.
[2] Soos aangehaal deur Hayakawa (1962:ix).
[3] Uiteindelik was sy ultimatum aan Saddam Hoessein en sy seuns om Irak te verlaat, opgevolg deur ’n uitlating in sy toepsraak op 18 Maart 2003 (“Free nations have a duty to defend our people by uniting against the violent, and tonight, as we have done before, America and our allies accept that responsibility.”)  indirekte oorlogsverklarings, geformaliseer in sy skriftelike kennisgewing aan die Amerikaanse kongres op 19 Maart 2003.
[4] Die ruimte wat vir hierdie artikel afgestaan word, maak nie daarvoor voorsiening dat eksplisiete voorbeelde aangehaal kan word nie. Daar kan ook nie aandag geskenk word aan gesags- en verbintenishandelinge agter die skerms om nie-permanente lede van die Veilgheidsraad te oortuig om vir die betrokke resolusie te stem nie – en ander se pogings om ’n stemming daartéén te kry nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking