Totale bladsykyke

Vrydag 25 November 2016

N.P. van Wyk Louw: krag, mag, moraliteit - en die daad

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR

Ongepubliseerde N.P. van Wyk Louw-gedenklesing wat op
Donderdag 10 September 2009
in die Raadsaal van die Universiteit van Johannesburg gelewer is.

N.P. VAN WYK LOUW:
KRAG, MAG, MORALITEIT – EN DIE DAAD
Willem J. Botha (taalkundige: semantikus)
1.   Inleidend
Die N.P. van Wyk Louw-lesingreeks het by drie vorige geleenthede taalkundiges – één ’n voormalige taalkundige – as sprekers gehad. Slegs in die lesing van prof. Francois Odendal (in 1987), getitel Kort taalkundige reis deur Van Wyk Louw, het dit werklik gegaan oor die táálkunde in Van Wyk Louw se taalgebruik. Odendal doen ’n ontleding, wat hy taal- en taalkundige opmerkings noem, van Van Wyk Louw se poësie. Hierin bestryk hy ’n hele grammatikale spektrum. Hy wys egter ook op Louw se leksikale kreatiwiteit, en binne hierdie konteks is daar myns insiens twee belangrike opmerkings wat Odendal oor Louw maak, naamlik:
·       “(I)emand wat só met ’n taal kan omgaan, ’n taal só ken, móét daardie taal tot in sy fynste vesels kén.”
·       “Van Wyk Louw (kom) ... tot ‘óp die grense" van die taal”; hy “(toets) die grense as’t ware”.
Met verwysing na die ongewone sintaktiese konstruksie as openingsreël in elegiese verse X in Tristia voel Odendal egter dat Louw hom sintakties te buite gegaan het. Vergelyk (1):
 (1)    Bruin asters staan aan ’t verwelk word in 'n vaas wat blou is ... (Tristia, bl. 90)
Ek haal Odendal in hierdie verband aan: “Dat hier iets ongrammatikaals in sit, is vir my duidelik, en hoe om die reël te ‘red’ weet ek nie mooi nie.” In ’n artikel getitel Bruin asters staan aan ’t verwelk wordoorspanne sintaktiese spanning? wat in 1988 verskyn, kom Odendal en ekself egter tot die versreël se redding deur binne bepaalde sintaktiese parameters aan te dui dat Louw sintaktiese reëls in die onderhawige geval tot breekpunt voer op grond van passiefindringing in ’n koppelwerkwoordkonstruksie – maar dat hy nie ongrammatikaal optree nie.
Odendal maak in sy lesing ook gewag van die feit dat in Louw se werk ’n verskeidenheid funksiewisselinge gestalte kry – hier ’n manifestasie van sy sintaktiese kreatiwiteit. Andermaal toon ons in 1989 in ’n artikel getitel Hierdie die aan hoedat Louw byvoorbeeld die betekenisaspekte van die tradisionele bepaalde lidwoord die ontgin in sy gebruik van die betrokke woord – onder andere as referensiële anafoor, as ’n predeterminant-element in uitgebreide naamwoordstukke, as ’n antesedent, as ’n deiktiese demonstratief en as ’n beklemtoonde lidwoord. Vergelyk die volgende voorbeelde ter illustrasie daarvan:
 (2)    (a) Sy legioenedie het self gepraat (Germanicus, 1961:18)
          (b) Vir dié van ons wat oud sal word … (Germanicus, 1961:47)
          (c) … maar dié / wat skoonheid en hoogheid dra as las … (Raka, 1962:12)
          (d) Dis opstand dié. So ‘t ek dit nie verwag. (Germanicus, 1961:20)
          (e) ons vaar suid van die land, dié harde land, dié land wat ons getart het … (Dias, 1963:22)
In hierdie lesing sou ek kon voortgaan en uitbrei op dit wat Odendal gedoen het om Louw as taal-kundige (taal-koppelteken-kundige) te beskryf. Dit sou egter min sin hê. As semantikus wil ek my eerder bepaal by Van Wyk Louw as betekenis-kundige (let wel: nie semantikus nie). Ek wil eintlik aantoon hoedat Louw betekenis tot in die fynste nuanses ontgin in enkele van sy kreatiewe werke. Ek wil dit doen teen die agtergrond van twee van Louw se eie uitsprake oor sy werk, naamlik oor waarheid en betekenis. Albei hang natuurlik nou saam met die belewenis van betekenis.
·     Oor waarheid sê Louw (1970:87): “(M)y enigste stryd, my lewe lank, was die vraag: ‘Wat is wáár? Wat kan ek wéét, wat kan ek glo? Waaraan kan ek vashou?’”
Die konsep waarheid is natuurlik self uiters kompleks en problematies. Lakoff en Johnson (1999) onderskei byvoorbeeld drie vlakke op grond waarvan konseptualisering ’n beliggaamde herkoms het, naamlik die neurale vlak, die fenomenologiese vlak van bewuste ervaring en die vlak van die kognitiewe onbewuste. Die kompleksiteit van die begrip waarheid blyk ondere andere daaruit dat dié vlakke, wat waarheidservaring betref, dikwels in ’n kontradiktoriese verhouding tot mekaar staan – soos ook blyk uit die Van Wyk Louw-werke onder bespreking.
Wanneer dit om die soeke na waarheid gaan, gaan dit eintlik oor die tot-taal-bring van konsepte wat ons ervaring van waarheid behoort te onderlê. Binne die konteks van Germanicus beweer Cloete (1963:93) byvoorbeeld ten opsigte van Louw se taalgebruik dat die woord – myns insiens eintlik die konsep – “self dramatiese figuur, handelingsmoment” word en dat die “karakters ... maklik agter hulle woorde (verdwyn)”. By implikasie verwys Cloete na wat ek Louw se ‘waarheidskonsepte’ wil noem – want die woord waarheid is eintlik maar ’n sambreelterm wat ons gebruik om na ’n heg-verweefde konseptuele raamwerk te verwys wat ons opvattings oor waarheid konstitueer.
Uiteraard sal ek nie al Louw se ‘waarheidskonsepte’ onder die loep kan neem nie. Daarom bepaal ek my by die konsepte kragmagmoraliteit en daad – veral omdat hulle betekenisse nie net meestal aaneenskakelend is nie, maar ook dikwels geïntegreerd in taal vergestalt word – en ook omdat hulle in ’n baie intieme semantiese relasie met – wat ons hier ‘waarheidskonsepte’ noem – staan. Binne hierdie lesing sal die fokus val op krag as onderbou van die konsep daad – en hoedat die daad die spil is vir die semantiese integrasie van mag en moraliteit
·     Oor betekenis sê Louw (1970:63/64) dat hy – weliswaar die digter binne hierdie konteks – “’n sekere gegewe isoleer en dit dan in so ’n mate aan ’n volgehoue ontginningsproses onderwerp dat nuwe en onvermoede betekenisse laag op laag daaruit opstaan” (my beklemtoning). Hierdie uitspraak sluit ook direk aan by die raamwerk waaruit ek na Louw se werk kyk.
Vir die doel van hierdie bespreking gaan ek dus nie in voëlvlug hier en daar iets oppik en semanties probeer ondervang nie, maar gaan ek my bepaal by die epiese gedig Raka en by enkele van Louw se dramas as verwysingsmateriaal. Dit sal dus in die eerste plek nie gaan om die meriete van die betrokke werke binne ’n besondere genre nie. Ten opsigte van die drama is dit eerder die wyse waarop die konsep drama betekenis konstitueerwat onder die loep sal kom – en in die bespreking sal die klem veral val op die inhoud van Germanicus.  
Die semantiek dien as vertrekpunt van my beskouings. Ek verlaat my grotendeels op insigte vanuit ’n dissipline wat sedert die vroeë tagtigerjare as kognitiewe linguistiek bekend staan. Dit sal dus eers vir my nodig wees om enkele gedagtes vanuit hierdie raamwerk kortliks aan die orde te stel.
2.   Betekenisbenaderings
Die verskynsel dat ons almal tekste nie noodwendig eenders ‘verstaan’ nie, spruit onder andere uit die feit dat ons betekenisbenaderings by die lees van die betrokke teks mag verskil. Taylor (2002) onderskei drie benaderings wat ek kortliks aanstip. Oor ’n vierde benadering (die taalhandelingsbenadering) sê ek later iets.  Dit is ’n benadering wat by uitstek geskik is vir die beoordeling van betekenis binne die drama.
’n Taal-wêreld-betekenisbenadering veronderstel dat die leser deur ’n bepaalde taaluitdrukking – dit wat Lyons (1977:177) die “referring expression” noem – ’n betrokke referent binne ’n bepaalde tyd-ruimtelike (werklike of fiktiewe) situasie identifiseer. Sodanige identifikasie hang nou saam met die ooreenkoms wat die onderhawige referent het met die prototipe van die kategorie waartoe die referent behoort. Sodanige eensydige betekenisbenadering het byvoorbeeld in die verlede aanleiding gegee tot opvattings oor allerlei simboliese verwysings wat Raka kon hê, júís as gevolg van die feit dat Raka na ’n unieke referent verwys – dus nie aan ’n prototipe gemeet kan word nie (in teenstelling met die referente van die sogenaamde simboliese verwysings wat eienskappe van Raka met hom deel en hom dus nadertrek aan die kategorie waartoe húlle behoort). Vergelyk die volgende passasie ter illustrasie van die Raka-prototipelose kategorie:
(3)     want Raka ’t hy geweet was ’n vreemde ding,meer as ’n dier, maar nog nie mens,iets dodeliks en duisters, aan ’n troebel grens,vir denke of daad onseker. (Raka, 1962:23)
Die taalinterne betekenisbenadering stel die leser in staat om op grond van die polisemie- en implikasie-betekenisbeginsels ooreenkomste in betekenis, verskille in betekenis en betekenisinsluitings te onderskei op grond waarvan die teks – en ook karakters binne die teks – kohesief en koherensief ’n betekenisstruktuur konstitueer. Vergelyk andermaal uit Raka hoedat sinonimiese en antonimiese betekenisrelasies byvoorbeeld Raka profileer.
Ten opsigte van Raka se fisieke eienskappe word sy voorkoms onder andere sinonimies deur die adjektiewe mooi en skoon beskryf, sy vermoëns deur die adjektiewe sterker en magtiger en sy optrede as vinnig en snel. Ten opsigte van sy inherente aard word hy sinonimies deur die adjektiewe donkerduister en swart beskryf wat voorkoms betref, dan dombot en afwesig wat vermoëns betref, en deur die adjektiewe snaaksvreedsaam en nie sleg ten opsigte van sy optrede beskryf.
Antonimiese adjektiwiese relasies word gebruik om die dualiteit ín Raka na vore te bring; vergelyk glad swaar, vinnig x sat, snel x triestig wat Raka se fisiese optrede betref, en ten opsigte van sy inherente aard en houding die volgende antoniempare: vreedsaam x beestelik; nie sleg x dodelik (slu); rusteloos x triestig (stil).
Die konseptuele betekenisbenadering beteken gewoon dat, soos Taylor (2002) dit stel, die betekenis van ’n uitdrukking gelykgestel word met die konseptualisering daarvan in die gedagtewêreld (Engels: “mind”) van die taalgebruiker. Dit impliseer dat vir die verstaan van ’n bepaalde konsep dit geanker word aan ’n betekenisbasis wat opgeroep word deur die taaluitdrukking wat vir die konsep gebruik word. Maar die betekenisbasis van die betrokke konsep is weer deel van omvattender ervaringsdomein wat Taylor (2002) beskryf as “a more generalized ‘background’ knowledge configuration against which conceptualization is achieved.”
Teen hierdie agtergrond keer ek vir ’n wyle terug na Raka. Louw (1970:28) sê self dat hy dikwels die volgende vrae oor Raka moes hoor: “Wat beteken Raka eintlik? Waarvoor staan Raka? Wat is die dieper betekenis van Raka?” Hierdie soort vrae het natuurlik ontstaan omdat daar geen betekenisbasis of ervaringsdomein bestaan het vir die verstaan van Raka nie, want Raka was “’n vreemde ding, / meer as ’n dier, maar nog nie mens”.
3.   Krag as ’n betekeniselement onder die oppervlakte van taal
Louw se beskouing – soos vroeër vermeld – dat betekenisse deur ontginning laag op laag uit ’n sekere geïsoleerde gegewe kan opstaan – hou direk verband met die konseptuele betekenisbenadering, maar ook met die verhouding wat daar bestaan tussen wat Dirven en Verspoor (1999:18) die begripwêreld en die taalwêreld noem.
Dit impliseer verder dat binne die begripwêreld sowel die prekonseptuele as konseptuele vlak (dus prelinguistieste vlak) betekenismatig verreken moet word, want dít word juis in taal gemanifesteer. Langacker (1993:1) beklemtoon dit as hy sê dat ons mees fundamentele kognitiewe vermoëns en ons ervaringsgebaseerde kognitiewe modelle direk en alomteenwoordig in taal gemanifesteer word; omgekeerd beskou, kan beweer word dat taalstruktuur belangrike leidrade bied met betrekking tot prekonseptuele ervarings soos kragdinamika, beeldskemas, gesubjektiveerde versus geobjektiveerde betekeniskonstruering, en verbandlegging tussen kognitiewe domeine of denkruimtes. Die konseptuele metafoor is onder andere ’n eksponent van laasgenoemde.
Lakoff en Johnson (1997) gaan selfs so ver om met betrekking tot menslike denkervaring ’n vlak te onderskei wat hulle die kognitiewe onbewuste noem, “the vast system of concepts and cognitive mechanisms that operates beneath the level of consciousness, structuring both our experience and our mode of conceptualizing the world”. Diagrammaties word dit in skyfie 5 na die bronverwysings weergegee.
Vervolgens wil ek my kortliks bepaal by die onderskeid wat Langacker tussen geobjektiveerde en gesubjektiveerde betekeniskonstruering tref én dit wat as prekonseptuele ervaring bekendstaan. Dit doen ek teen die agtergrond van die beskouing dat betekenis nie net deur ’n taalontvanger ervaar word nie, en dat taal nie net gebruik word om betekenis te dra nie, maar dat taal inderdaad gebruik word om betekenis te konstrueer en te struktureer – en as sodanig is die taalkunswerk (as holistiese betekenisnetwerk) die manifestasie van sodanige betekenisstrukturering.
3.1.     Geobjektiveerde en gesubjektiveerde betekeniskonstruering
Langacker (1990:7) gebruik die terme geobjektiveerde en gesubjektiveerde konstruering om aan te dui dat “an entity construed subjectively is implicit and hence non-salient … whereas the objectively-construed entity is salient by virtue of being placed onstage as the focus of attention.”
Hy verduidelik die tegniese gebruik van die onderhawige terme deur die volgende verklarende perseptuele voorbeeld met betrekking tot iemand wat bril dra: “Indien ek my bril afhaal, dit voor my hou om te ondersoek, dan is my konstruering daarvan maksimaal objektief, …, die bril funksioneer eksklusief en prominent as die objek van persepsie, en hoegenaamd nie meer as ’n gedeelte van my perseptuele apparatuur nie. Daarenteen is die konstruering van die bril maksimaal subjektief indien ek dit dra en gebruik om ’n ander objek te ondersoek. In sodanige geval vervaag die bril vanuit my bewustelik waarneming ten spyte van die bepalende rol wat dit speel ten opsigte van my perseptuele ervaring.” Dit is egter belangrik om te benadruk dat geobjektiveerde en gesubjektiveerde betekeniskonstruering ’n kontinuumverskynsel is – ook, en veral, wat die kreatiewe skryfproses betref – gesien in die lig van die betekenislae waaroor Louw dit het.
3.2.     Prekonseptuele betekeniservaring
Binne hierdie betoog word – wat prekonseptuele ervaring betref – slegs aandag geskenk aan krag as ’n beeldskematiese ervaring. Oor beeldskemas moet ons net vermeld dat dit ontstaan uit prekonseptuele beliggaamde sensoriese en perseptuele ervarings van die mens se interaksie mét en sy fisiese beweging ín die reële wêreld (vergelyk Evans & Green, 2006:178).
Talmy (1985:294) beskryf beeldskematiese kragervaring as ’n semantiese kategorie wat hy kragdinamika noem – volgens hom ’n fundamentele begripskategorie op grond waarvan betekenis gestruktureer en georganiseer word. Johnson (1987:44) benadruk die feit dat ons daaglikse bestaan gekenmerk word deur die ervaring van kragte wat ons uitoefen, kragte wat op ons uitgeoefen word, en kragte wat in ons omgewing op mekaar inwerk. Volgens hom baan sodanige kragte as tipiese patroonmatige ervarings hulle weg tot in ons betekenissisteem, ons taaluitdrukkingstruktuur en in ons talige kommunikasie as sodanig – dus in ooreenstemming met Talmy se beskouing. As sodanig tree kragte dus as beeldskemas op.
Alhoewel kragstrukture prelinguisties bestaan, dien hulle nie slegs as agtergrond waaruit betekenis ontwikkel nie; hulle vorm self deel van betekenis en begrip – hulle is op sigself betekenisstrukture. Hulle kry linguisties beslag op grond van die feit dat hulle in taal gegrammatikaliseer, geleksikaliseer en in diskoers gemanifesteer word.
In die geval van Raka, waar twee duidelike kragte teenoor mekaar gestel word, word die prekonseptuele ervaring van krag geobjektiveerd gekonstrueer in die eksplisiete vermelding daarvan in nie minder nie as tien gevalle. Ek haal slegs vier voorbeelde aan:
(4)     Die manne het daarna sy krag bemerk / aan die tekens van die groot bosse (Raka, 1962:7)
(5)     Die jagters wis / wat krag was en hulle het gevrees. (Raka, 1962:8)
(6)     Maar toe die stemme in die smoor nog hyg, / toe Koki weer: “En ek sal gaan,” / want in die skreeu het hy stil verstaan / dat dit sy krag wasnie sy woordewat hulle prys; (Raka, 1962:17)
 (7)    ’t hulle hom gekry / in die verskeurde papkuil en die poel waar hy / half in die modder getrap, op die skag / van sy stukkende spies gelê ’t, en die krag / en die woede van die swart dier kon hulle sien / aan die liggaam en die spore en die pap riet / en die skild wat geskeur was en diep ingetrap / in die koue klei ... (Raka, 1962:28)
Dat kragdinamika as semantiese kategorie binne die betrokke konteks egter ook deurgaans gesubjektiveerd prelinguisties bydra tot betekeniskonstruering, word onder andere deur die volgende versreëls geïllustreer:
 (8)   O skoonheid van die lyfjy slaat / óp uit die aarde soos die rooi vonk / uit die vuursteen springwild en jonk / is nog die skoonheid van die lyf op die swaar aarde / waaruit hy rankhy ken sy waarde / nog half maar en die ver blom nog nie / waarheen hy groei en reikmaar dié / wat skoonheid en hoogheid dra as las / en ver verlangeis ’n vreemde ras / van mense en bloot aan veel gevaar (Raka, 1962:12).
In die betrokke versreëls word verskeie taalmetafore gebruik om die liggaamskoonheid uit te beeld, feitlik almal hoofsaaklik onderlê deur kragdinamika; vergelyk skoonheid wat opslaan uit die aarde (’n voorbeeld van kragbemagtiging), die rooi vonk wat uit die vuursteen spring (andermaal ’n voorbeeld van kragbemagtiging), die swaar aarde (’n voorbeeld van teenkrag), rank uit die aarde (weer eens ’n voorbeeld van kragbemagtiging), hy groei en reik na die ver blom (’n voorbeeld van kragvoorstuwing / kragkompulsie) en skoonheid en hoogheid is ’n las (’n voorbeeld van teenkrag).
Die hoorspel Dias dien by uitstek as illustrasie van sodanige gesubjektiveerde betekeniskonstruering wanneer kragdinamika as semantiese kategorie in die wortelbetekenisse van modale hulpwerkwoorde beslag kry. In 1989 publiseer ek en kollegas Jac Conradie en wyle Rika Preller ’n artikel, getitel Modale hulpwerkwoorde in Dias. Daarin toon ons onder andere aan dat daar nie minder nie as honderd-en-dertig modale hulpwerkwoorde net in die Dias-gespreksbeurte voorkom.
Ek gaan nie ons ontleding van die kragvergestalting deur die betrokke werkwoorde hier herhaal nie. Ek haal egter ’n formulering oor die tema in Dias aan – as ek reg onthou, nog Rika Preller se formulering – wat duidelik die kragte werksaam ín die persoon van Dias suggereer:
Die tema in Dias is die strewe na buitengewone selfverwesenliking van ’n individu wat sy naam wil verewig in sy ‘poging om die aarde en die eeue oop te sluit’, ’n tydruimtelike ekspansie, slegs ten dele in die naam van God. Hieraan verknoop is die hubris van die hoofkarakter: trots, hoogmoed, oormoed, met die daarmee gepaardgaande blindheid, irrasionaliteit, selfoorskatting, ooreising van lojaliteite, ongeduld met swakhede …
En dan die volgende baie tersaaklike formulering vir die konteks van hierdie lesing:
Droom, drif en daad is saamgetrek in een persoon wat moet groei tot die besef dat die skeidslyn tussen ‘drang’ en ‘dwaasheid’ yl is.
Ek volstaan met die voorgaande enkele opmerkings oor kragverstalting deur modale hulpwerkwoorde in Dias. Ek wil egter nog Dias se slotgebed aanhaal en aandui dat kragskemas ook andersins op ’n gesubjektiveerde vlak geleksikaliseer en gegrammatikaliseer word – ook as onderbou van konseptuele metaforiese taaluitdrukkings, soos byvoorbeeld God is ’n krag; vergelyk (9), waarin krulhakies kragbematiging, ronde hakies teenkrag, blokhakies kragblokkasie en onderstreping kragvoortstuwing as onderliggende betekenismomente veronderstel:
 (9)   … Nou {kan ek bid}. God,{hou}
in hierdie laaste oomblik my gebed
{gesuiwer} soos dit nooit was in my dae:
vergeef my (sondes), want aan my
was áls (onwaar)(onheilig) en (besmet):
tót ook my bid, tót ook my noem, o Heer,
van U en van U heilige Naam – (onrein);
{leer} U {my} bid; bid, bid U self in my,
en {laat my} dank dat u my [vasgekeer]
het en [gevang], dat U my hart sy sin
[geweier] het tot op sy sterwensuur;
dat U tot op die laaste [onvervul]
en [onvoltooi gelaat] het, God, die hart
wat ek wou vul; dat ek my aan geen werk
[ooit kon versadig]{dat ek barre kuste
en leë hande alleen kon kry}.
                                                  En wees
by dié land, by {daardie eensaam land
wat ek gevind het} … (nie wou vind nie) -
                                                           net
om my smart; en wees by alle eensaam
dinge, en dié wat eensaam [sterwe] hier
rondom my; en wees, my God,
tot in die laaste skrik nog hier by my. (Dias, 1963:49)
         Sleutel:                krulhakies            { … }       = kragbematiging
                                      blokhakies           [ … ]        = kragblokkasie
                                      ronde hakies        ( … )        = teenkrag  
                                      onderstreping                   = kragvoortstuwing
Teen die agtergrond van wat ek alles oor kragdinamika gesê het, moet ek egter die volgende opmerking maak:
Louw het die tersaaklike inhoude sekerlik nie doelbewus linguisties só beplan nie. Máár ons moet rekening daarmee hou dat kragdinamika een van die digter en dramaturg se betekeniskonstrueringswerktuie is – én dat hy binne die kontinuum van geobjektiveerde en gesubjektiveerde betekeniskonstruering somtyds meer bewus en ander kere minder bewus van die betrokke semantiese kategorie sou wees – soos ook later in die geval van die drama Germanicus sal blyk.
3.3.     Modale hulpwerkwoorde en taalhandelinge
Ek keer vir ’n oomblik terug na modale hulpwerkwoorde. Modale hulpwerkwoorde se betekenisse is heg verweef met die illokusionêre krag van die taaluitinge waarin hulle voorkom.
Laat my eers iets oor taalhandelinge sê – die vierde soort betekenisbenadering waaroor ek vroeër gepraat het.
Elke taaluiting is ’n handeling. Daarom word elke taaluiting deur ’n taalhandelingskrag onderlê. In wese hou taalhandelinge verband met ’n spreker se intensie en bedoeling met die uiting. Sodanige bedoelings (tegnies ’n illokusie genoem) hou verband met kraggestalts (dus: kragdinamika), gemanifesteer in stellingshandelinge, ekspressiewe handelinge, evalueringshandelinge, direktiewe handelinge, gesagshandelinge en verbintenishandelinge.
Ter illustrasie van die taalvergestalting van krag deur taalhandelinge hou ek ’n voorbeeld uit Germanicus voor.
Ten tye van ’n veldslag in Noord-Frankryk naby die huidige Nederlande word Germanicus deur sy soldate onder druk geplaas om na die suide (Rome) uit te trek en in ’n verraadsaanval Tiberius te verslaan. Sonder om in besonderhede uit te wy, kan genoem word dat dit dus hier gaan om teenkragte wat verbaal in die dialoog vergestalt word. In ’n poging om tyd te wen, rig Germanicus hom tot die soldate met die volgende twee woorde:
 (10) “Eers noord!” (Germanicus, 1961:15)
Binne die bepaalde konteks vergestalt die bepaalde uiting nie net op ’n subtiele wyse twee taalhandelingskragte nie (naamlik ’n direktief en ’n verbintenishandeling), maar word daar ook uitdrukking gegee aan twee kragskemas, naamlik kragvoortstuwing (deur die bevel/opdrag) en kragherleiding (deur die implisiete belofte). Vergelyk Botha (1991) vir ’n vollediger bespreking.
Dit is interessant om daarop te let dat hierdie kragte (en dan natuurlik ook die vergestalting van mag deur die bevel) net ‘gedra’ word deur twee bywoorde – dus ’n sin wat gereduseer is tot twee bywoorde, ontdaan van ’n onderwerp en die res van die gesegde.
Ten opsigte van taalhandelinge bied die drama – wat wesenlik handeling, en in besonder taalhandeling deur dialoog veronderstel – dus die ideale konteks vir die taalvergestalting van kragdinamika, maar is dit ook gepredisponeer vir die uitbeelding van mag.
Laat ons vir die doel van hierdie betoog ’n redelik vereenvoudigde onderskeid tref tussen die krag van taal en die mag van taal (vergelyk Botha, 2007). Taalkragte verwys na dit waaroor ons dit tot op hede gehad het – die skematiese konseptuele modelle wat onder die bewussynsvlak taal struktureer – in ooreenstemming met Lakoff and Johnson (1997) se beskouing, dit wil sê die modelle wat ons gebruik om ons ervaring te konseptualiseer en daaroor te dink en te praat deur onder andere konseptuele metafore te gebruik. Die mag van taal verwys grootliks na die beheerinvloed en gesag wat mense het op grond van die gebruik van die kragdinamika van taal – in verhouding tot hulle relatiewe status. En sodanige status mag geïnstitusionaliseer wees, mag toegeëien wees, óf mag ’n gewaande status wees.
Alhoewel daar ’n onderskeid te tref is tussen die krag en die mag van taal, moet egter besef word dat hulle in baie gevalle interaktief funksioneer en nie maklik van mekaar te skei is nie – én dat mag meestal kontekstueel ‘gedra’ word deur verskillende nuanses van die daad, wat dan natuurlik ook die taaldaad veronderstel. Vervolgens word die aard van die daad onder die loep geneem.
4.   Die daad as manifestasie van krag, mag en moraliteit
Die sou nie veel betekenis gehad het om net te verwys het na Louw se geobjektiveerde en gesubjektiveerde gebruik van kragdinamika as semantiese kategorie nie. Ander skrywers het dit ook gedoen en doen dit nog steeds. Die betekenis daarvan – in die geval van Louw – is egter ingebed in wat ek vroeër sy ‘waarheidskonsepte’ genoem het.
Met die voorgaande gedagtes oor krag dus as agtergrond, wil ek my vervolgens by die daad bepaal – en, soos reeds gesê, die daad as spil vir die semantiese integrasie van mag en moraliteit. Louw het dit natuurlik ook oor ander sogenaamde ‘waarheidskonsepte’ wat intiem met die daad verweef is, waarna net vlugtig sal verwys kan word sonder enige bespreking, onder andere mens en menslikheid.
Laat ek eers drie oorvereenvoudige stellings maak – en vertrou dat dit in die volgende bespreking genuanseer sal word:
·       Sonder krag is daar nie mag nie.
·       Sonder krag en mag is daar nie ’n daad nie.
·       Sonder die daad – en dit sluit die taaldaad in – is daar nie sprake van moraliteit nie.
Eers moet ek iets oor die semantiek van die woord daad sê.
4.1.     Semantiek van die woord daad
Omdat die substantief daad in ’n afgeleide verhouding tot die werkwoord doen staan, spreek dit vanself dat daad se verhouding tot doen as vertrekpunt behoort te dien. Die feit dat doen ’n hele semantiese spektrum bestryk, impliseer dan dat daad, as afgeleide substantief, ’n ooreenstemmende semantiese aard openbaar – dat daad in feite alle fisiesepsigiese en ander moontlike dade (dus ook taaldade) binne sy betekenisbestek kan akkommodeer. Sodanige omvattende, vae betekenisonderskeiding van daad word bepaal deur die semantiese vlak waarop die woord veralgemenend verwys.
Op ’n ander vlak het die substantief daad, op grond van ’n afgeslote handeling in bepaalde vaste uitdrukkings ’n betekenisinperking ondergaan. In hierdie opsig beskryf Van Dale Groot woordenboek der Nederlandse taal die betekenis daarvan as ‘een met bewustheid gepleegde afgesloten handeling’, en noem onder andere voorbeelde soos die volgende (hier as die Afrikaans-ekwivalente weergegee): ‘geen woorde maar dade’; ‘die daad by die woord voeg’; ‘iemand met raad en daad bystaan’; ‘dade moet spreek, getuig’. Hierdie uitdrukkings reflekteer in die eerste plek die sterk onderskeid wat tussen die betekenisinhoude van daad en woord getref kan word – dat woordgebruik waarskynlik nie as dade geld nie en dat dade na een of ander fisiese handeling verwys. Die gebruik van hierdie betekenisonderskeiding impliseer ’n fisiese daad sonder enige verwysing na die spesifieke aard daarvan. Op grond van die skerp onderskeid wat tussen woorde en dade getref word, sal hierdie vlak waarskynlik die prototipe van die bepaalde kategorie waartoe dade gereken word, verteenwoordig. Dade word dan tipies beoordeel ‘on the basis of their perceived resemblance to the prototype’, aldus die beskrywing wat Langacker (1987:371) aan die begrip ‘prototipe’ heg. As subordinaat van hierdie soort daad geld spesifieke soorte fisiese handeling, wat met geweld gepaard gaan en ’n slagoffer as resultaat het – histories, kultureel of kontekstueel gedetermineer.
Om meer spesifieke betekenisonderskeidings van die woord daad te onderskei (en ook die metaforiese betekenisuitbreidings daarvan), is dit nodig om die onderhawige woord se betekenisonderskeidings kontekstueel te verifieer. Dit doen ek teen die agtergrond van die inhoud van Germanicus. Die keuse van hierdie konteks maak dit in hierdie opsig geskik op grond van die feit dat verskillende karakters (binne die drama) se besinning oor die aard van die daad dit ’n wesenlike geobjektiveerde ervaring binne die betrokke dramakonteks maak; byvoorbeeld:
(11)  (H)oe nederig is die daad, hoe groots die dood (karakter: Lucius; Germanicus, 1961:26)
(12)   Het ek nie daad, oorwinning, eer, mag / soos drank voel opstoot deur my sinne nie / en droë-keel geword van die begeerte / meer as een dag! (karakter: Germanicus; Germanicus, 1961:33)
(13)   Waarom spring ons van dag tot dag van daad / na daad? (karakter: Germanicus; Germanicus, 1961:41).
Die geobjektiveerde daad, soos na verwys deur verskillende karakters binne verskillende omstandighede in die voorgaande voorbeelde, funksioneer in Germanicus op ’n metaforiese vlak in verhouding tot die prototipiese betekenis van die betrokke woord.
Die onderhawige historiese drama vergestalt ’n tyd (dus: konteks) van opstand, geweld, veldslae en selfs moord – ’n tyd waarin die fisiese daad ’n belangrike beslegtingsmeganisme was. En wanneer Piso aan Germanicus sê
 (14)  Ruk jou weer los. Kom tot die daad, die daad. / Dít (= die daad – WJB) is ons ras se krag. (Germanicus, 1961:98)
en dié besondere daad rig op ’n bepaalde persoon, uitgespel in sy eis
(15)  Dat jy Tiberius slaan en hom vernietig –  (Germanicus, 1961:100),
word die daad vereenduidig op grond van die persoon van ’n slagoffer. Alhoewel daar die suggestie bestaan dat die werkwoorde slaan en vernietig – dit wil sê die daad, soos gebruik in (14) – in (15) dui op die dood van Tiberius, is die vereenduidiging geleë in die feit dat op ’n metaforiese vlak sowel die werkwoorde slaan as vernietig by implikasie gekarteer word op die werkwoord dood, sonder eksplisiete vermelding van laasgenoemde. Daar sou wel na sodanige handelinge(e) as ’n gewelddaad verwys kon word. Die verwagting sou tog seker in elk geval nie wees dat Germanicus, as veldheer, self die doodsdaad moes pleeg nie, maar dat hy net die instrument daarvan sou wees. In sodanige gevalle tree daad op ’n betekenisvlak op op grond waarvan ons van die metaforiese ekstensie van die betrokke substantief kan praat.
       En wanneer Germanicus die taaldaad pleeg teenoor Tiberius in die woorde
(16)  Ek neem dit aan. / Ek vat dit soos ek ook die dood aanvaar / en al wat menslik is (Germanicus, 1961:84),
in die wete dat hierdie opdrag van Tiberius aan hom sy (Germanicus se) dood beteken, tree daad op ’n nog abstrakter onderliggende vlak op. Nou gaan dit nie meer (geobjektiveerd) óór die daad nie, maar nou word Germanicus se wóórde (gesubjektiveerd) sélf die daad.
       Die voorgaande kursoriese oorsig van die verskillende betekenisonderskeidings van die woord daad in ’n bepaalde konteks – waarvan die besonderhede uitgespel word in Botha (2006) – bevestig ’n komplekse betekenisnetwerk, gekonstitueer deur die prototipiese betekenis van daad (synde ’n ongespesifiseerde fisiese daad – daad1), semanties ingeperk tot spesifieke soorte fisiese handelinge daad2, veralgemeen tot ongespesifiseerde dade – daad3, uiteindelik ekstensioneel verryk om ook dade op metaforiese vlak te vergestalt – daad4. Maar uiteindelik lê die daad ook opgesluit in die illokusionêre krag van die taalhandeling.
4.2.     Daad is ’n oordeelsnaamwoord
Nie alle doene word dade nie!
       By implikasie is die daad die beoordeling van die ‘resultaat’ van ’n bepaalde handeling. Die betekenisonderskeiding “resultaat” is daarom meestal by die betekenis van daad ingebed. Wanneer Dias byvoorbeeld vra
(17)  (L)aat ons noordwaarts vaar, drie dae, / en kyk of daar ’n teken kom’n wonder, / ’n teken dat ons welbehaaglik doen / in hierdie vaart (Dias, 1963:34),
kan sodanige taalhandeling tereg beskou word as ’n wens of ’n versoek, maar binne die konteks van die hoorspel, waar Dias ook konstateer
(18)  Ek is klaar verby die dowwe punt / waar my dwars wil geëindig het (Dias, 1963:35),
kan sy taalhandeling nie anders as ’n wanhoopsdaad beoordeel word nie. Dit berus dus by die oordeel van die spreker of hy/sy dit inderdaad as ’n daad – en as sodanige daad – sou wou benoem, soos byvoorbeeld ook by die seleksie van afgeleide naamwoorde soos wandaadweldaadmisdaad, ensovoorts om bepaalde afgeslote handelinge te beskryf. Ons sou in sodanige gevalle van ‘oordeelsnaamwoorde’ kon praat, in ooreenstemming met die term ‘oordeelsadjunk’ wat Ponelis (1978:309) gebruik om onder andere adjektiewe te beskryf waarvan die seleksie bepaal word deur die oordeel van die spreker, byvoorbeeld Die transaksie het gelukkig deur die mat geval.
Daarom kan ons ook praat van aakligebarbaarsedesperategemenegoeiegroothartigegrusamegruwelikelaakbarelaela fhartigeonbaatsugtigeonbesonneondeurdagteonhoudbareonmenslikeonsedelikepolitiekeselfbevestigendesinneloseskaamteloseskandelikeskokkendespontaneverskriklikewaansinnigewalglike dade – en ook van ’n daad van aggressie, … van boewery, … van deernis, … van duister vernuf, … van geweld, … van medelye, … van menslikheid, … van moord, … van opregte liefde, … van politieke korrektheid, … van sadisme, … van skending van menseregte, … van versoening / … ensovoorts, ensovoorts.
       Benoeming van ’n afgeslote handeling deur die woord daad – dus as ’n oordeelsnaamwoord – berus dus by die kontekstuele oordeel van die spreker – en meermale op grond van morele kriteria; dus ’n morele oordeel!
4.3.     Moraliteit en die daad
Van Wyk Louw laat die morele dimensie van die daad op verskillende vlakke figureer – onder andere deur die fisiese dade van sy karakters, deur geobjektiveerde besinning oor die daad deur sy karakters – en deur die taalhandelinge van sy karakters – maar lewer self nie direk kommentaar daarop in sy kreatiewe werk nie.
       Die relatiewe verhouding tussen die konsep moraliteit en morele oordeel – ook as subordinaat van moraliteit – word ook meermale deur Louw ontgin. Koki se dwaas daad is sprekend van ’n morele oordeel vanuit ’n bepaalde beheersende punt (Engels: “vantage point”); vergelyk die volgende versreëls:
(19)  Húlle ’t hom skamerig gevolg oor die warm en droë / stof van die kraal en nágestaar … / … en oral was die luide gepraat / van Koki en Raka en die dwaas daad, / en die geeste se toorn. (Raka, 1962:24)
Ook die volgende versreëls getuig van morele oordeel:
(20)  By die vure was woordeoud en wys, / van “Raka is vreedsaam”, “Raka is nie sleg”, (Raka, 1962:18)
      Vergelyk ook hoedat in Die held misdaad en heldedaad nie net teenoor mekaar gestel word nie, maar ook moreel beoordeel word in die woorde van dr. Ménard wanneer hy suggereer dat Louis Girod – die misdadiger – se doen (dit wil sê sy daad) ’n heldedaad kan wees:
 (21)  My seun, my seun. Jy doen ’n verskriklike ding. Maar dit is mooiVive la France. Jy is ook my Frankryk (Die held, 1970:35).
      Terloops, dit is nie net die daad as sodanig wat moreel beoordeel word nie. So byvoorbeeld word ook die konsepte mens en menslikheid binne verskillende konstekste aan morele oordeel onderwerp – heg verweef met dade waaraan hulle onderwerp is of word. Wanneer Dias byvoorbeeld sê “Die waarheid wurg my” (Dias, 1963:30), doen hy dit op grond van ’n ontnugtering wat hy ervaar wanneer hy besef sy “werk is deur die lot verstrik met mense”; dat wat hy wou bereik, onbereikbaar bly omdat wat “menslik” is, gedefinieer kan word as “verwardheid, vrees, nyd, dwarsheid van denk, selfsug, aparte paaie …” (Dias, 1963:31).
      Binne die Germanicus-konteks word die morele dimensie van sodanige waarheidservaring sterker aangeraak deur definiërende eienskappe van “menslikheid” en “onmenslikheid”, dít wat volgens menslike oordeel direk verband hou met die goed en kwaad, die reg en verkeerd van die menslike natuur. In hierdie drama word die intrinsieke spanning tussen die elemente van moraliteit en immoraliteit tot breekpunt gevoer wanneer dit wat reg is nie noodwendig goed is nie, en wat goed is nie noodwendig reg is nie. Dit kulmineer in verskillende opvattings van mens-wees teen die agtergrond van diens aan en instandhouding van die Romeinse Ryk – in Piso se woorde uitgedruk as: “... ‘liefde’, ‘vriendskap’, ‘menslikheid’, dít is jul woorde – nooit meer ‘eer’ en ‘plig’ ...” (Germanicus, 1961:41).
      En Tiberius probeer sy eie dade van “wreedheid en geweld” teenoor die mens moreel verantwoord wanneer hy Germanicus konfronteer met die opvatting dat die mens “dom en wild” is, omdat ín die mens “sy wreedheid” en “sy wellus” een is, omdat ín die mens “pyn en wellus” een is – omdat daar parings (verwysend na menslike eienskappe) is wat “gruwelik en verrukliker” is as wat Germanicus ken (Germanicus, 1961:83).
5.   Germanicus en die daad
Aan die begin van die lesing het ek genoem dat ek my wil toespits op Van Wyk Louw as betekenis-kundige, teen die agtergrond van wat hy self oor betekenis te sê gehad het. Ek het ook aangedui hoedat verskillende betekenislae deur die kunswerk gekonstitueer kan word. Ek het ook genoem dat ek my veral wil toespits op die inhoud van die drama Germanicus – juis omdat krag, mag en moraliteit so verstrengel word in die dade van verskillende karakters in die drama, maar bowenal omdat die betrokke drama vir my by uitstek Louw se ontginning van betekenis – en in besonder die betekenis van die woord daad – in en deur taal verteenwoordig[1]. Ek wil dit ook doen teen die agtergrond van toentertyd se literêre uitsprake oor die karakter van Germanicus.
      Pas na die verskyning van die versdrama Germanicus (in 1956) – en ook daarna – is hoog opgegee oor Germanicus se beweerde daadloosheid. Grové (1965:74) praat van sy “gebrek aan optrede”. Van Heerden (1967:31) beweer dat die “lang monoloë” ... “die handeling laat ‘stol’” as gevolg van die hoofkarakter se “basiese passiwiteit”. Cloete (1980:4) verwys na aanleiding van Piso se aanklag teen Germanicus – “Dis ál wat ons nog uit jou kry:  net woorde, / net praat en speel met moontlikheid” (Germanicus, 1961:98) – dat in Van Wyk Louw se oeuvre “die intellektualisme of besinning die daad uitskakel.” Conradie (1974:56) vind ’n rede vir Germanicus se nie-optrede in die bewering dat hy sou vrees dat indien hy die mag sou gryp, “hy onvermydelik ook in die vuil van Rome ingetrek sou word, dat hy ook soos Tiberius sou word”. Volgens Dekker (1963:366) weier Germanicus om ’n “aktiewe taak” te aanvaar in ’n wêreld waarin hy lotsverbonde is. Brink (1966:318) bring Germanicus se dadeloosheid in verband met die feit dat hy nie “skeppend (kan) optree teenoor die chaos nie” omdat hy “in sy hoogste ideaal ... onwetend ... onsuiwer is”, gemotiveer deur Germanicus se uiteindelike besef: “’n Mens die moet ook modderig wees / as jy wil mens-wees – óf as jy wil heers ...” (Germanicus, 1961:109).
      In die voorgaande uitsprake word die karakter van Germanicus sonder meer, en ongenuanseerd, as “daadloos” getipeer – dít ongeag die feit dat Louw, volgens Steyn (1998:403), reeds in November 1941 aan die drama begin werk het en dit eers in 1956 gepubliseer is. ’n Ontleding van Louw se in-diepte ontginning van veral die betekenis van die woord daad behoort na my oordeel aan te toon dat die bykans vyftien jaar wat dit geneem het voordat die drama gepubliseer is, ’n vrugbare betekenis-besinningstydperk was.
      Implisiete ondersteuning vir my standpunt vind ek in Antonissen (1963:181) se baie skerp uitspraak dat Germanicus “volstrek nie ‘passief’ is en hom ook nie passief gedra nie” Hy sê verder: “Dink of heilige-wees of strewe-na-heiligheid is nie passief nie, maar hoogste menslike aktiwiteit.” Sou Austin (1962) se baanbrekerswerk oor die aard van taalhandelinge in hierdie tyd reeds algemeen bekend gewees het, sou hy kon byvoeg dat taal meer doen as net om te verwys – dat taal in der waarheid self daad is en dat deur taaldade die wêreld verander word en kan word.
5.1.      Betekenisdimensies van die daad in Germanicus  
Omdat die bespreking verder gebaseer word op die verskillende betekenisvlakke van die woord daad – soos wat ons dit vroeër onderskei het – herhaal ons dit hier:
·       Daad1 dui op ’n afgeslote, ongespesifiseerde fisiese handeling, gewoonlik gekontrasteer met die woord woord.
·       Daad2 verwys na spesifieke soorte fisiese handelinge wat met geweld gepaard mag gaan en ’n slagoffer as resultaat mag hê.
·       Daad3 verwys na ongespesifiseerde fisiese, psigiese of ander soorte dade – dus eintlik na die kategorie daad.
·       Daad4 verwys na metaforiese uitbreidings van die woord daad.
      Dit is verder belangrik om daarop te let dat die onderskeie betekenisonderskeidings nie noodwendig rigied van mekaar te onderskei is nie. In die betrokke drama is die daad byvoorbeeld dikwels verknoop met ’n taalhandeling, sodanig dat dit gepaard kan gaan met ’n taalhandeling, die gevolg is van ’n taalhandeling, self ’n taalhandeling kan wees, of taalhandelinge of ander handelinge tot gevolg kan hê. En dan het die intensie, die instigasie of die sanksie van die daad dikwels ’n komplekser en dieper bron, wat noodwendig die bepaalde betekenisonderskeidings meer vloeibaar maak.
      Die konsep daad word deur die betrokke drama self ingegee – en verskillende karakters se besinning oor die aard van die daad maak dit ’n wesenlike geobjektiveerde ervaring binne die betrokke dramakonteks. Dit demonstreer ook baie duidelik hoedat Van Wyk Louw self geobjektiveerd oor die betekenis van die konsep daad besin het.
Enersyds bring Lucius byvoorbeeld die daad in verband met opstand, iets “waarna ons hele lewe uitgereik het / soos na geen vrou” (Germanicus, 1961:20); andersyds bring sy twyfel en vertwyfeling vir hom die doodsdrif as alternatief daarvoor in die woorde: “hoe nederig is die daad, hoe groots die dood” (Germanicus, 1961:26). Germanicus se versugting na die daad vind ons in sy eie woorde: “Het ek nie daad, oorwinning, eer, mag / soos drank voel opstoot deur my sinne nie / en droë-keel geword van die begeerte / meer as een dag!” (Germanicus, 1961:33); maar ook sy twyfel daaroor wanneer hy in Lucius se dood laasgenoemde verlos sien daarvan, en opmerk: “Waarom spring ons van dag tot dag van daad / na daad?” (Germanicus, 1961:41). ’n Ander dimensie van die daad vind ons in Clemens se woorde wanneer hy die oorsprong daarvan by Tiberius beskryf: “jou, Caesar, sal die waansin en die vrees / van daad tot daad dryf tot jy eensaam is” (Germanicus, 1961:77). Piso se motivering vir die daad spruit uit sy versugting na die herstel van die ou republiek, om Romein te wees en te heers “oor dié wat slap en nederig / dink” (Germanicus, 1961:25) – vergestalt in sy woorde aan Germanicus: “Ruk jou weer los. Kom tot die daad, die daad. / Dít is ons ras se krag” (Germanicus, 1961:98).
      Die geobjektiveerde daad, soos hier bo na verwys deur verskillende karakters binne verskillende omstandighede, funksioneer in Germanicus veral op betekenisvlak van daad3ongespesifiseerde fisiese, psigiese of ander soort dade: die kategorie daad. Die onderhawige historiese drama vergestalt ’n tyd van opstand, geweld, veldslae en selfs moord – ’n tyd waarin die fisiese daad ’n belangrike beslegtingsmeganisme was.
      Kennis van hierdie omstandighede konstitueer ’n “more generalized ‘background’ knowledge configuration” volgens Taylor (2002:195) – en dit is teen sodanige agtergrond (kennisdomein) wat konseptualisering – nie net in die geval van hierdie drama nie – plaasvind. Tiberius vat die betrokke agtergrond-kennisdomein saam met die woorde: “Ons is gebind / aan die lot in die stink kloaak van hierdie Ryk, / en die vuil van hierdie tyd spoel oor ons almal” (Germanicus, 1961:74). Sodanige konteks bring noodwendig mee dat die aard van die fisiese daad dikwels verskillende vorme aanneem. Daarom bly die woord daad in baie verwysings ongedefinieer, wat tot gevolg het dat die woord daad binne die betrokke konteks as ’n ontologiese metafoor gebruik word. Sodanig beskou, kry dit die status van ’n entiteit, op grond waarvan dit ons in staat stel “to refer to it, quantify it, identify a particular aspect of it, see it as a cause, act with respect to it, and perhaps even believe that we understand it”, volgens Lakoff & Johnson (1980:26). Germanicus motiveer dié status wanneer hy aan Piso sê: “Maar áls is ingewikkeld; selfs die daad / is nie, soos jy meen, enkeld” (Germanicus, 1961:100). Met hierdie uitspraak transponeer hy die betekenisinhoud van die woord daad egter na ’n nog hoër (en noodwendig abstrakter) konseptuele hiërargiese vlak, dus in die betekenis van daad4.
      En Piso se verwyt teenoor Germanicus, naamlik “Dis ál wat ons nog uit jou kry: net woorde” (Germanicus, 1961:98) – dus nie dade nie – reflekteer ook die betekenisinhoud van daad op hiërargiese vlak 1 (as daad1), terwyl hy eintlik suggereer, teen die agtergrond van die drama, dat sy verwagting is dat Germanicus die daad op hiërargiese vlak 2 (as daad2) moet pleeg. Die suggestie van die betekenisonderskeiding van daad2 is egter ook opgesluit in talle ander verwysings na die ongedefinieerde daad (daad1).
      Dit is betekenisvol – miskien ook ironies – dat, ten spyte van die verwyt van dadeloosheid, dít – vlak 2 (daad2) – tog ook die vlak is waarop Germanicus verskillende dade vergestalt, byvoorbeeld in die veldslag teen die Cheruskers. Die jong offisier rapporteer die geweld daarvan as ’n “jag ... op ménse; na die oë slaan / wat wit en bewerig smeek, en wéér en wéér / die swaard voel ínsink ...” (Germanicus, 1961:34), en hy verhaal ook Germanicus se optrede tydens die slag toe hy “sy helm weggesmyt (het) en oop / – soos 'n god –” (Germanicus, 1961:36) sy manskappe aangevoer het. Germanicus word verder ook eksplisiete eksponent van die daad van geweld met die neersteek van die soldaat om die eer van Julia te beskerm met die veelseggende woordkeuse “offer” in “Dis ek wat hierdie offer slag” (Germanicus, 1961:14).
      Binne die betrokke dramakonteks konstitueer daad2 ’n betekenisinhoud van die woord wat neerkom op verskillende manifestasies van geweld met die noodwendige implikasie van ’n slagoffer – soos met Germanicus se neersteek van die soldaat, die foltering en waarskynlike dood van die slaaf Clemens, en ook Livia se vernedering van die gevangene Thusnelda. En die kulminasie van geweldpleging deur die daad word gesuggereer deur Tiberius se verwysing na mense as “buit”; mense ook geïmpliseer in sy “moeras”-metafoor: “’n goor welsel uit die aarde / wat uit ’n honderd gate en skeure borrel” (Germanicus, 1961:71). Word die daad aan slagoffers gemeet, dan is Tiberius waarskynlik die beste eksponent van die daad in hierdie drama. Dis is ook insiggewend dat Piso se (waarskynlike) enigste geweld-daad (daad2) sy aandeel aan Germanicus se vergiftiging is – andersins tree hy taalhandelend op, dus nie binne een van die betekenisonderskeidings van die woord as leksikale item nie, wanneer hy byvoorbeeld van Germanicus eis (“Die man wat heers in Rome, moet hier heers” – Germanicus, 1961:12), wanneer hy Germanicus dreig (“en wie óns –  ek en julle – nie vertrou nie, / wip gouer uit die saal as hy geklim het” – Germanicus, 1961:12), wanneer hy  oprui en aanstig (“(V)annag het iets by ons gebreek. / ... / van nou af sal ons een-een dalk moet handel. / Word hy ’n Caesar, staan ons weer teen hóm” – Germanicus, 1961:22), en wanneer hy sy ontrouheid rugbaar maak in sy eis dat Germanicus Tiberius moet vernietig.
      Nieteenstaande Germanicus se gewelddadige optrede, soos hier bo na verwys, en ook die geweldpleging deur ander karakters, word die betekenisinhoud wat daad2 binne sy bestek het, deur die dramakonteks baie rigied begrens. Die status van die daad, soos van Germanicus vereis, word bepaal deur die identiteit van die slagoffer. Daarom hef ’n daad van geweld teen onbekende of mindere slagoffers nie sy beweerde dadeloosheid op nie. Die daad moet vereenduidig word op grond van die persoon van die slagoffer, soos uitgespel in Piso se eis: “Dat jy Tiberius slaan en hom vernietig –” (Germanicus, 1961:100).
      Germanicus verwys egter na die daad as nie “enkeld” nie!
      So ’n verwysing impliseer die daad op ’n abstrakter vlak van handeling – die taalhandelingsvlak. Hierdie vlak laat juis toe dat die daad op die kommunikatiewe vlak verskillende geaardhede en variasies kan hê. Dit bied meer beweegruimte binne die grense van die daad. So byvoorbeeld benut Germanicus op hierdie vlak die (taal)handeling strategies en misleidend deur sy twyfelagtige belofte: “Eers noord!” (Germanicus, 1961:15) – waarna reeds verwys is. Maar dit is ook op hierdie vlak wat Germanicus sy eie lot “kragdadig” verseël met die woorde aan Tiberius: “Ek neem dit aan. / Ek vat dit soos ek ook die dood aanvaar / en al wat menslik is” (Germanicus, 1961:84).
      Maar die verwysing na die nie-enkeldheid van die daad impliseer nie net ander soorte abstrakter dade as die fisiese nie. Dit verwys na iets wat verknoop is aan die daad in al sy manifestasies. Germanicus motiveer die nie-enkeldheid daarvan self as iets wat nie rasioneel agterhaalbaar is nie: “selfs die daad / is nie, ... , enkeld; en die denk / sit knoop aan knoop gekoek” (Germanicus, 1961:100); ook in nog woorde aan Piso: “Vir jou is alles enkeld; en vir my / ... veelvuldig alles, / en eindeloos vol spel en moontlikheid” (Germanicus, 1961:97/98). Dit sou nie vergesog wees om te vermoed dat Germanicus hier ook die kompleksiteit van die oorsprong van die daad in gedagte gehad het nie (verder terug as die intensie) – die rasionaal agter wat hom vroeër in die drama “al wat menslik is” nie laat aanvaar het nie – die morele instigasie van die daad!
5.2.      Die morele dimensie van die daad in Germanicus
Wanneer die daad na ’n menslike handeling verwys wat gepleeg word, is moraliteit noodwendig ’n latente element van die daad. Dienooreenkomstig moet mense as slagoffers van die daad (daad2) bejeën word in hierdie drama! Dié metafoor (slagoffers) word bykans verletterlik in Germanicus se woorde, soos in die vorige afdeling na verwys: “Dis ek wat hierdie offer slag” (Germanicus, 1961:14). Die demonstratief hierdie binne die naamwoordstuk hierdie offer impliseer juis dat daar meerdere offers is – en daar is! Die bestek van hierdie bespreking laat nie ’n volledige opgaaf toe nie. Eksemplaries is daar reeds na enkele van Germanicus se dade binne hierdie betekenisonderskeiding verwys. Vervolgens word die aandag gewy aan die betekenisonderskeiding ‘instrument van die daad’ (aanvullend tot ‘slagoffer van die daad’) wat deur die betekenisbestek van daad2 omspan word.
5.2.1.        Instrumente van die daad
In die veldtogte wat Germanicus onderneem, verloor onbekende slagoffers hulle lewens. Hierin tree Germanicus as instrument van die daad op. Die aard van dié daad beskryf hy self as “die swaar Ryk” wat “máál ... en bréék”, en hy sien homself as “die krag / wat op die ver uithoek hierdie werk” vir die Ryk doen, en besef: “hy (die Ryk) kon ook ander kragte / en ander hande vir sy duister arbeid / vind – en báie maal – ook sonder my” (Germanicus, 1961:46). Germanicus se verwysing na “duister arbeid” suggereer sy vertwyfeling oor die moraliteit van sy plig as soldaat en veldheer. Wanneer hy in desperaatheid teenoor Tiberius uitroep dat hy gru, dat hy vrees dat die Ryk hom “ook sal gryp / en ánders maak ... en minder ...” (Germanicus, 1961:74), in reaksie op Tiberius se minagting van die mens, wanhoop hy reeds aan die moraliteit van sy dade as soldaat. Uiteindelik kom hy tot die besef dat die omstandighede van die Ryk wat “met sy fondamente in die klei / van die haat en bitterheid” lê (Germanicus, 1961:80), sy eie “bloedige ambag” (dus: daad2) as soldaat sinneloos maak. Die relaas van die jong offisier van die vroeëre veldslag as ’n jag “op ménse; na die oë slaan / wat wit en bewerig smeek” (Germanicus, 1961:34), eggo, in ooreenstemming met Tiberius se minagting van die mensheid, die immoraliteit van die oorlogsdaad. Hierdie beskrywing beeld nie die vyand of teenstanders uit nie. Dit is ’n beskrywing van slagoffers!
En Germanicus kan die metafoor van die Ryk nie ontsnap nie! Tiberius versmelt hom dienooreenkomstig in die “swart donker dier wat skuil”, waarvan Tiberius “die kop” en Germanicus “die klou” is, en kom tot die gevolgtrekking: “Elkeen doen maar sy werk: jy, skoon; ek, vuil ...” (Germanicus, 1961:82). Die substantief werk is ’n spesifikasie van die doen (dus: die daad) waarvan Tiberius praat, maar werk as sodanig dra ’n verpligting in hom opgesluit – en dit is hierdie verpligting aan die Ryk wat Germanicus, nieteenstaande die wyse waarop hy instrument is, nie kan ontsnap nie. Dit bring die moraliteit van Germanicus se dade (in die betekenis van daad2) vir die Ryk onder verdenking.
’n Variasie van die klou-metafoor word gevind in die woord hande – as metafoor, óf binne metafore gebruik. Dit is dus nie vreemd nie dat hande, as tipiese instrumente van die fisiese daad, redelik frekwent in die betrokke drama voorkom. Wat in hierdie verband egter belangrik is, is die feit dat hierdie metafore draers word van verskillende morele dimensies van die daad.
Na die veldslag waarna die jong offisier verwys as die “jag ... op ménse”, veredel Agripinna byvoorbeeld die daad (daad2) met die “dapper hande” (dus: instrumente van geweld) van die soldate wat sy wil vat (Germanicus, 1961:38). Daarteenoor verteenwoordig Tiberius se verwysing na “Caesar se vuil hande” (Germanicus, 1961:74) ’n aanklag teen sy eie immoraliteit. Dit is insiggewend dat die verwysing na homself in hierdie verband in die derde persoon geskied. Onttrekking uit die deiktiese sentrum (distansiëring) word hier ’n ontsnapping van aanvaarding deur die self. Maar hande se metaforiese nuanses kry ook in Tiberius anders beslag wanneer hy tog verwys na “my eie hande is swart en eensaam voor my / waar ek tas” (Germanicus, 1961:80). Hierdie verwyt teen immoraliteit kan juis nie anders as om op die self gerig te wees nie – ook omdat dit gepaard gaan met ’n verwysing na ’n vernietigende emosionele gesteldheid (eensaamheid) wat die gevolg is van sy immoraliteit. Feitlik onmiddellik daarna onttrek hy die self weer uit die deiktiese sentrum met die derdepersoonsopmerking: “Dis werk vir die aasvoël, vir Tiberius” (Germanicus, 1961:80). Germanicus verwoord hierdie morele ambivalensie van Tiberius wanneer hy hom waarsku:  “(J)y gryp / met hande wat nie joune is, na mense, / ... dit kom uit die waansin” (Germanicus, 1961:83).
’n Volledige bespreking van al die instrumente van die daad val buite hierdie bestek.
Daar dien egter nog op gelet te word, teen die agtergrond van die voorgaande bespreking, dat die metafoor (vir die instrument van die daad, óf die daad self, óf die slagoffer van die daad) immoraliteit kan kondoneer. In hierdie opsig hang die moraliteitservaring saam met die beheersende punt waaruit dit beoordeel word. Daar is reeds gewys op Tiberius se onttrekking uit die deiktiese sentrum om die immorele aanslag gedeeltelik af te weer. Maar dan is daar ook verwysings na “die dooies” wat soos “koringstingels” lê (Germanicus, 1961:37) – in plaas van “slagoffers”; Tiberius se verwysing na mense as “buit” (Germanicus, 1961:71), waarin die metafoor hom moet ontdaan van enige gevoel van menslikheid; en Germanicus se verwysing na die daad (daad2) as “’n diens vandag verrig / wat die Ryk nie gou of ligweg kan vergeet nie”. Hierdie verskynsel, waarin immoraliteit deur die metafoor verbloem word, kulmineer in die metafoor wat Germanicus teenoor Piso gebruik as laasgenoemde homself identifiseer as “Romein, soldaat en offisier” (Germanicus, 1961:42), iemand wat sy plig ken en dit doen. Dít – die ontduiking van die waarskynlike woord “slagoffer” – antwoord hy op die vraag “Wat sien jy as jy steek?” (Germanicus, 1961:41), waarop Germanicus die aard van moraliteitsverhulling saamvat in: “Dis vreemd dat woorde so ’n kors kan maak / rondom die hart. Nooit raak mens aan die lewe / wat fyn en bewerig soos 'n kindjie sit nie (Germanicus, 1961:42). Hierin suggereer Germanicus ook sy eie morele bedenkinge ten opsigte van die oorlogsdaad.
Moraliteit betrek egter nie net die daad (daad2) self en die fisiese omstandigehde van die daad nie. Dit lê ook op ’n hoër en abstrakter vlak, wanneer die daad besinning en woorde word – die vlak van morele regverdiging.
5.2.2.        Morele regverdiging
Alhoewel Germanicus as soldaat binne die dade van geweld (daad2) – en dus die dampkring van immoraliteit – funksioneer, is die morele impak daarvan gering in vergelyking met sy immoraliteit wat daarin geleë is dat hy “nie gróót wou wees” nie maar “gewoon was” (Germanicus, 1961:112); dat hulle van hom geglo het “dat hy die Caesar-wortel uit sou grawe” (Germanicus, 1961:22), en hy hét nie – al hierdie bewerings deur Piso; en verder dat hy Piso se liefde wat hom verbind het aan “áls / wat enkeld suiwer was” (Germanicus, 1961:112), beskaam het. Vir Piso sou dié suiwerheid gestalte kry in die motief vir Tiberius se vernietiging, naamlik die herstel van die Ryk wat spruit uit ’n lojaliteit aan die Ryk.  
Maar dit is júís Germanicus se suiwerheid wat hom nie toelaat om Tiberius te vernietig nie, wat hom laat besef: “Ek was te helder. / ’n Mens die moet ook modderig wees / as jy wil mens-wees – óf as jy wil heers ...” (Germanicus, 1961:109). Germanicus is vasgevang in ’n kragveld wat gekonstitueer word deur “moral reasoning” en “moral behaviour”, in ooreenstemming met die onderskeid wat (Westen, 1996:557) tref. In teenstelling met Piso, wat ooreenkomstig “morality of constraint”, ... “of duty pure and simple” optree, beredeneer Germanicus die morele implikasies van sy moontlike daad-keuses. Binne hierdie verband gaan hy selfs so ver om binne die model van “morality of cooperation” (Westen, 1996:558), waarbinne morele reëls verander kan word, tevergeefs Tiberius tot ander morele insigte te bring met die woorde: “maar ek tas ... na ’n helderheid, / na iets so heerliks wat die Ryk kan word, / en U, U kan dit bring. Ek kan U dien” (Germanicus, 1961:82).
En uiteindelik kan Germanicus niks moreel regverdig nie. Germanicus kan immoraliteit nie ontsnap nie. Kies hy om getrou aan sy ideaal van suiwerheid en trou te bly (“Ek is getrou. Ek is aan trou gewoond” – Germanicus, 1961:9) en Tiberius nie die slagoffer van verraad (daad2) te maak nie, tree hy ontrou (immoreel) teenoor die volk op. Sou hy die daad van geweld teenoor Tiberius pleeg, sou dit ’n morele verpligting wees wat hy ten opsigte van die Ryk en sy mense nakom – maar hy sou ontrou (immoreel) teenoor Tiberius optree – én teenoor sy eie aard. En hoe swaar weeg verraad gepleeg teenoor ’n keiser, en boonop nog ’n familielid?
Daarom word Germanicus uiteindelik self slagoffer. Maar die instrument van sy slagofferskap is (in sy eie woorde) nie Piso nie, nie Livia nie, ook nie Plancina nie – maar hy “sterf aan hierdie tyd” (Germanicus, 1961:113). En “hierdie tyd” is ’n siek tyd, ’n immorele tyd – ’n tyd waarin die “die heilige siekte ... ons almal / wat mens is (beet het); hy skeur, hy laat ons skreeu en raas” (Germanicus, 1961:55), aldus Germanicus. Hierdie metaforiese beskrywing van dié besondere tyd is in ooreenstemming met Lakoff en Johnson (1999:291) se beskouing dat immoraliteit metafories dikwels as ’n aansteeklike siekte ervaar word. In hierdie woorde vind ons dus ook Germanicus se bekentenis van sy eie immoraliteit, omdat daar kragte is wat ook op die nie-sigbare vlak werksaam is – soos ’n siekte – wat hy self nie kan ontkom nie, maar ook nie kan bestry nie.
6.   Ten slotte
Op grond van die voorgaande betoog wil ek Odendal (1987) se gevolgtrekkings oor Van Wyk Louw se taal aanpas ten opsigte van betekenis – en sê:
·       Iemand wat só met betekenis kan omgaan, betekenis só ken, móét betekenis tot in sy fynste vesels kén.
·       Van Wyk Louw kom tot óp die grense van betekenis; hy toets die grense van betekenis as’t ware.
En dan my eie samevattting:
Van Wyk Louw was geen semantikus nie. Van Wyk Louw het nie oor moderne semantiese werktuie beskik om betekenis te konstrueer nie. Maar Van Wyk Louw het – geobjektiveerd én gesubjektiveerd – geweet dat betekenis nie eenduidig is nie, gewéét dat daar betekenisvlakke van die woord bestaan, ook geweet dat betekenis nie by die woord begin en eindig nie, en ook geweet dat betekenis-in-taal ons opvattings oor die groot waarhede moet dra. Trouens, Louw het ’n baie helder begrip gehad van hoedat betekenis in taal werk!
Maar nog meer as dit! Louw het nie gesê wat waarheid is nie. Hy het wel aangedui hoedat waarheid dieper lê as net in die betekenis van die woord – hoedat waarheid saamhang met universeel menslike verskynsels, verskynsels wat relevant was vir die voor-Christus-na-Christus-tydperk van ’n Germanicus, die ontdekkingstydperk van ’n Dias, die tydperk van wêreldoorlog en heldedom, die tydloosheid van ’n Raka – maar ook vir nou!
BRONVERWYSINGS
Antonissen, Rob. 1963. Kern en tooiKroniek van die Afrikaanse lettere 1951 – 1960. Kaapstad: Nasou.
Austin, J.L. 1962. How to do things with words. Oxford: Clarendon Press.
Botha, W.J. 1991. Taalhandelingsdeterminante in die onderrig. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 9(1): 24-29.
Botha, W.J., C.J. Conradie en R. Preller.  1989. Modale hulpwerkwoorde in Dias. In C.J. Conradie (red.), Onomheinde sinHuldigingsuitgawe vir F.F. OdendalSpits’n kritiese meningsblad, 5(2): 73 – 115.
Botha, W.J. 2006. Die aard van die daad: wat dóén Germanicus (nie) ... en waarom (nie)? Journal for Language Teaching / Tydskrif vir Taalonderrig 40/1, 164 – 176.
Botha, W. J. 2007. Linguistic mechanisms of power and force: two case studies. In Larissa Manerko (ed.), Cognitive Linguistics: New Problems of Cognition, Мocквa: Pязaнь, 14 – 20.
Brink, André P. 1966. Germanicus en Shakespeare. In: Nienaber, P.J. (red.) 1966. Beeld van ’n digterN.P. van Wyk Louw. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 311 – 323
Cloete, T.T. 1963. Op die woord af. Johannesburg, Port Elizabeth, Kaapstad, Bloemfontein: Nasionale Boekhandel.
Cloete, T.T. 1980. Van Wyk Louw se fundamenteel dramatiese instelling. Publikasiereeks van die Randse Afrikaanse Universiteit. A 126. Johannesburg: RAU.
Conradie, P.J. 1974. Die gebruik van antieke bronne in Van Wyk Louw se GermanicusSpanning en ewewig. Pretoria, Kaapstad: Academica.
Dekker, G. 1963. Afrikaanse literatuurgeskiedenisKaapstad: Nasou.
Dirven, René & Marjolijn Verspoor (red.). 1999. Cognitieve inleiding tot taal en taalwetenschap. Leuven / Amersfoort: Acco.
Evans, Vyvyan & Melanie Green. 2006. Cognitive linguistics. An introduction. Edinburgh: Edinburgh University Press.
Geeraerts, Dirk (red.) (2000). Van Dale Groot Woordenboek der Nederlandse taal (versie 1.0 Plus). Utrecht (cd-rom).
Grové, A.P. 1965. Oordeel en vooroordeel. Kaapstad: Nasou.
Johnson, M. 1987. The body in the mindThe bodily basis of meaning, imagination and reason. Chicago, Londen: University of Chicago Press.
Lakoff, George & Mark Johnson. 1980. Metaphors we live by. Chicago: University of Chicago Press.
Lakoff, George & Mark Johnson. 1999. Philosophy in the FleshThe Embodied Mind and Its Challenge to Western Thought. Ongepubliseerde elektroniese versie.
Langacker, Ronald W. (1990). Subjectification. Cognitive Linguistics 1(1): 5-38.
Langacker, Ronald W. 1993. Reference-point constructions. Cognitive Linguistics 4(1):1–38.
Louw, N.P. van Wyk. 1961. Germanicus. Vierde druk (eerste druk – 1956). Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.
Louw, N.P. van Wyk. 1962. Raka. Elfde druk (eerste druk – 1941). Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.
Louw, N.P. van Wyk. 1963. Dias. Vierde druk (eerste druk – 1952). Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.
Louw, N.P. van Wyk. 1970. Die held. Agste druk (eerste druk – 1962). Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
Louw, N.P. van Wyk. 1970. Rondom eie werk. Kaapstad: Tafelberg.
Lyons, J. 1977. Semantics I. Cambridge: Cambridge University Press.
Odendal, F.F. 1987. Kort taalkundige reis deur Van Wyk Louw. N.P. van Wyk Louw-gedenklesing 1987, ongepubliseerde elektroniese versie.
Ponelis, Frits A. (1978). Afrikaanse sintaksis. Pretoria: J.L. van Schaik.
Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw’n Lewensverhaal.  Deel I. Kaapstad: Tafelberg.
Talmy, L. 1985. Force dynamics in language and thought. Papers from the Parasession on Causatives and Agentivity. Chicago: Chicago Linguistic Society.
Taylor, J.R. 2002. Cognitive grammar. Ongepubliseerde elektroniese versie.
Van Heerden, Ernst. 1967. N.P. van Wyk LouwMonografieë uit die Afrikaanse letterkunde Nommer 3Elsiesrivier: Nasou.


Westen, Drew. 1996. Psychology. Mind, brain, & culture. New York: John Wiley & Sons.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking