Totale bladsykyke

Vrydag 25 November 2016

Hoe beteken taal? ’n Kognitiewe perspektief

AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR

Hoe beteken taal? ’n Kognitiewe perspektief[1]

W.J. Botha 
How does language create meaning? A cognitive perspective
Linguistics is the study of language, and language is a tool for conveying meaning. A traditional viewpoint emphasises the fact that linguistics, especially semantics, should regard meaning as something that exists in the objective world. But language is not only a tool for conveyeing meaning. It is an instrument with which meaning is created. And this point of view places the conceptualizer in the centre. Consequently, different cognitive mechanisms are applied when meaning is created. To mention three of the most distinct cognitive devices, one should consider the following: categorization, preconceptual image schemata, and metaphorical projection. These instruments are cognitively interlinked - in such a way that conceptual blending takes place in the process of meaning creation. In this regard they function on various levels of language, representing the ecological, cultural and ideological background of the language community in which they function to create meaning. The purpose of this article is to give an elaborated account of the preceding cognitive tools, in order to disclose an experiential view on meaning, but also to reveal the analytical significance of such an approach.
Taalkunde behels die studie van taal, en taal is die medium waardeur betekenis oorgedra word. Binne ’n tradisionele beskouing is die taalkunde, en in besonder die semantiek, betrek by ’n ontleding van betekenis wat in die objektiewe werklikheid bestaan. Taal is egter nie net die medium waardeur betekenis gedra word nie. Dit is dié instrument wat betekenis genereer. En in hierdie opsig staan die betekenisgewer (konseptualiseerder van die werklikheid) in die sentrum. Verskeie kognitiewe meganismes speel ’n beslissende rol in die totstandkoming van betekenis. Drie van die belangrikste kognitiewe instrumente is kategorisering, prekonseptuele beeldskematisering en metaforiese kartering. Die genoemde werktuie tree egter nie in isolasie op nie, juis omdat hulle intern struktureel skakel. En in hierdie opsig hou hulle aard, samestelling en funksionering op verskeie taalvlakke verband met die ekologiese, kulturele en ideologiese agtergrond van die taalgemeenskap waarin hulle betekenis genereer. In hierdie artikel word die genoemde kognitiewe uitgangspunte ten opsigte van betekenis uiteengesit, ter wille van ’n wyer bekendstelling van ’n empiries-gefundeerde betekenisbeskouing, maar ook om die aandag te vestig op die analitiese bruikbaarheid van hierdie teoretiese apparatuur.

Inleiding

Taalwetenskap word breedweg omskryf as ’n wetenskaplike studie van taal, dus ’n studie van die sistematiek van die reëls wat taal onderlê. Omdat taal sonder betekenis ondenkbaar is, impliseer dit ook reëls wat betekenis onderlê. Wierzbicka (1992:216) se bondige uiteensetting van die verhouding tussen taal en taalwetenskap onderskryf dit: 
Linguistics is the study of language, en (l)anguage is a tool for conveying meaning - more than that, it is a tool with which meaning is created.
Tot redelik onlangs het die semantiek - om verskeie redes - nie sy regmatige rol in hierdie opsig vertolk nie. Leech (1981:x) merk byvoorbeeld so onlangs as 1981 op:
In the last fifteen years ... there has been a swing away from a view of semantics as a messy, largely unstructured intellectual no-man’s land on the fringes of linguistics, and a tendency to accord to it a more and more central position in linguistic studies.
Hierdie gesigspuntverandering vind plaas te midde van die Chomskiaanse bloeitydperk. En Chomsky se invloed is nie te ontken nie, veral as die implikasies van een van sy grondargumente, naamlik dat alle natuurlike tale sekere algemene struktuurkenmerke met mekaar deel, in ag geneem word. 
Volgens Chomsky is die ooreenkomste tussen tale meer uitgebreid as wat aprioristies vermoed sou word. Hy verklaar die voorkoms van taaluniversalia aan die hand van genetiese oorerwing van intelligensiestrukture wat alle mense met mekaar deel. In hierdie opsig beskou hy die kognitiewe, intellektuele aspekte van menslike lewe as net so ’n wesenlike deel van die menslike biologie as wat die fisiologiese en anatomiese aspekte deel daarvan is (vergelyk Devine e.a., 1985:115). Die Chomskiaanse invloed het egter mettertyd afgeneem namate sy argumente ten opsigte van ingebore kennis van taal  (wat hy “competence” noem) in ’n groter mate bevraagteken is, ten koste van sy “performance”-beskouing (d.w.s. die gebruik van taal), wat sedert 1962, na die publikasie van How to do things with words, deur die Oxford-filosoof J.L. Austin, aanleiding gee tot die grondlegging en ontwikkeling van die pragmatiek - tans ’n sterk gevestigde taalbeskouing wat die interafhanklikheid van taal en konteks in die totstandkoming van betekenis benadruk.
Die kognitiewe linguistiek is nie soseer ’n uitvloeisel van die pragmatiek nie, alhoewel hulle tot op groot hoogte simbioties bestaan. Die opvatting bestaan natuurlik dat semantiek en pragmatiek as afsonderlike teoretiese dissiplines beskou moet word. Soos later in die oorsig sal blyk (met verwysing na kognitiewe implikasies met betrekking tot deiktiese kategorieë en die kraggestalts wat taalhandelinge onderê), hou so ’n opvatting nie stand nie. Vanparys (1993:241) se gevolgtrekkings na aanleiding van ’n ondersoek na die klassifikasie van illokusiewerkwoorde vanuit die perspektief van die kognitiewe linguistiek onderskryf hierdie standpunt.
Omdat taal as ’n produk van die menslike verstand gesien word, word dit deur dieselfde organiserende beginsels wat ander kognitiewe domeine onderlê, beheer (vegelyk Radden, 1992:513) - in teenstelling met die aanname wat onder Chomskiaanse invloed gemaak word, naamlik dat taal, omdat dit slegs een uit ’n aantal kognitiewe sisteme verteenwoordig, sy eie beginsels en reëls het, wat anderssoortig is as dié wat ander kognitiewe sisteme beheer. Daarom, gaan die argument verder, moet taal afsonderlik van die ander kognitiewe sisteme ontleed word (vergelyk Smith en Wilson, 1979:32).
Op grond van die ruimer kognitiewe benadering van taal kan die kognitiewe linguiste by monde van Lakoff (1987:xi) vrae soos die volgende vra:
·      Wat is rede?
·      Hoe word menslike ervaring sinvol vergestalt?
·  Wat is ’n konseptuele sisteem en op watter wyse word dit georganiseer?
·  Word alle menslike kognisie onderlê deur dieselfde konseptuele sisteem? Indien nie, watter algemene beginsels geld ten opsigte van die manier waarop mense dink?
Alhoewel hy erken dat die vrae niks nuuts inhou nie, maak hy daarop aanspraak dat die kognitiewe linguistiek wel met ’n aantal nuwe antwoorde vorendag kom. 
Die res van die uiteensetting word vervolgens gewy aan insigte vanuit die kognitiewe linguistiek op grond waarvan die hoe van betekenis verklaar word. Die fundamentele vertrekpunt van die kognitiewe linguistiek word in breë trekke uiteengesit, waarna drie van die belangrikste kognitiewe meganismes wat betekenis onderlê, bekendgestel word - juis om die aandag te vestig op die analitiese bruikbaarheid van sodanige teoretiese apparatuur.
Uitgangspunte van die kognitiewe linguistiek
Binne die linguistiek word die term kognitief gebruik om te verwys na die opvatting dat aspekte van menslike ervaring en kognisie ingrypend deur die struktuur van taal en die funksionering van taal weerspieël word (vergelyk Taylor, 1989:19); om dit omgekeerd in Jackendoff (1983:x) se woorde te stel: 
(T)here is no justification for a 'semantic' capacity independent of cognition; ... when we are studying semantics of natural language, we are by necessity studying the structure of thought.
Sodanige beskouing hou ernstige gevolge in vir die opvatting dat betekenis onafhanklik van die gebruikers van taal bestaan. As fundamentele vertrekpunt word sodanige uitgangspunt bevraagteken.
Besware teen die objektivistiese inperking van betekenis
Johnson (1987:ix) is feitlik radikaal uitgesproke wanneer hy ’n aanval op die sogenaamde Objektivisme loods. Hy noem dit ’n “skokkende feit” dat teorieë oor betekenis en rasionaliteit tot op hede 1987 geen ernstige aandag aan die menslike verbeeldingsvermoë skenk nie - ’n aspek waarsonder niks in die wêreld hoegenaamd betekenisvol kan wees nie. Die fundamentele uitgangspunt van die Objektivistiese oriëntasie, gevestig in die Westerse filosofiese en kulturele tradisie, beskryf Johnson (1987:x) soos volg:
The world consists of objects that have properties and stand in various relationships independent of human understanding.
Dit impliseer dat realiteit op ’n rasionele struktuur gegrondves is, onafhanklik van die geloof van enige persoon - en die korrekte/objektiewe rede weerspieël hierdie rasionele struktuur. En daarom word betekenis as objektief beskou, omdat dit slegs die verteenwoordiging is van die relasie wat daar bestaan tussen simbole en dinge in die wêreld, elkeen met sy eie eienskappe en relasies (volgens Johnson, 1987:x).
Reeds in 1983 opper Jackendoff ernstige besware teen so ’n beskouing wanneer hy die verband tussen betekenis en kognisie benadruk as hy sê: “One cannot perceive the ‘real world as it is'” (Jackendoff, 1983:26). Hy (1983:29) benadruk die feit dat hy die reële wêreld nie ontken nie, maar dat dit nie is wat ons sien nie! Wat ons sien, noem hy die geprojekteerde wêreld, die enigste wêreld waartoe ons bewustelik toegang het - die wêreld wat onbewustelik deur die menslike gees georganiseer word. En sy slotsom met betrekking tot betekenis en taal: “(T)he information conveyed by language must be about the projected world.” Vergelyk Jackendoff (1983:24,25).
Sonder om verder ’n eksplisiete uiteensetting te wy aan die tekortkominge van ’n objetivistiese benadering tot ’n betekenisteorie, kan dus gekonstateer word dat die antwoord op die vraag na die hoe van betekenis binne ’n kognitiewe beskouing opgesluit lê in ’n aanvaarding dat die totstandkoming van betekenis deur taal ’n subjektiewe basis het. Langacker (1990:5) vat dit soos volg saam: 
Recent years have nevertheless witnessed the emergence and continued elaboration of a reasonably explicit, empirically grounded subjectivist or conceptualist theory of meaning - in short, a true cognitive semantics. A foundational claim of cognitive semantics is that an expression's meaning cannot be reduced to an objective characterization of the situation described: equally important for linguistic semantics is how the conceptualizer chooses to construe the situation and portray it for expressive purposes.
Kognitiewe meganismes wat betekenis onderlê
In hierdie uiteensetting word aan drie kognitiewe betekenismeganismes aandag geskenk.
Kategorisering
Teen die agtergrond van die uiteensetting tot dusver kan aanvaar word dat een van die essensiële aspekte van kognisie verband hou met die vermoë om te kategoriseer (vergelyk Jackendoff, 1983:77), om te oordeel of ’n item (’n referent) ’n voorbeeld is van ’n besondere kategorie - dus: om ’n referent te benoem! Lakoff (1987:5) beskou die rol van kategorisering in betekenis so belangrik (veral as ons in ag neem dat in die meeste gevalle kategorisering verband hou met abstrakte entiteite) dat hy sê:
Categorization is not a matter to be taken lightly. There is nothing more basic than categorization to our thought, perception, action, and speech.
Binne ’n tradisionele opvatting (wat hier verwys na die objektivistiese benadering) is kategorisering ’n onproblematiese verskynsel. In so ’n benadering word daar vasgehou aan ’n beskouing wat sedert Aristoteles geld, naamlik: kategorieë is abstrakte houers, met items/dinge óf binne óf buite die kategorie (vergelyk Lakoff, 1987:6). Tot redelik onlangs is hierdie klassieke opvatting oor kategorieë as ’n aksioma beskou.
In 1945 het Ludwig Wittgenstein reeds die ontoereikendheid van hierdie opvatting besef (vergelyk Taylor, 1989:38). Dit is egter Rosch wat gedurende die tydperk 1973 tot 1975 op grond van empiriese ondersoeke na die strukture van natuurlike kategorieë die aandag vestig op die gradering van kategorie-eksemplare op grond van fokale (of prototipiese) eksemplare van die kategorie: die prototipe van die kategorie is dus die kategorielid wat as die mees tipiese eksemplaar van die kategorie beskou word, wat dus oor ’n maksimale aantal kenmerke van die kategorie beskik en oor ’n minimale aantal kenmerke van kontrasterende of aangrensende kategorieë (vergelyk MacLaury, 1991:57). So ’n beskouing hou heelparty implikasies in. Ek vestig die aandag op enkele sodanige implikasies:
·  Natuurlike kategorieë se grense is wasig (die sogenaamde ”fuzzy boundaries”) en kategorielede is nie noodwendig konstante eksemplare van die kategorie nie. Radden (1992:519) wys in hierdie opsig daarop dat aangenome moederstiefmoeder en surrogaatmoeder byvoorbeeld besondere tipes of uitbreidings is van die huisvroumoeder wat binne ’n Westerse beskouing as die definiërende of prototipe vir alle ander soorte moeders geld. Die prototipe dien dus as ’n soort kognitiewe verwysingspunt op grond waarvan die omliggende “swakker” voorbeelde van die kategorie gedefinieer word. Radden (1992:519) wys verder daarop dat selfs in kunsmatige kategorieë hierdie beginsel geld: die getal 7 is byvoorbeeld ’n beter voorbeeld van die kategorie onewe getal as wat die getal 23 is, wat weer ’n beter voorbeeld is as die getal 57 of 477.
·   Indien taalgebruikers gevra word om die lede van ’n kategorie te benoem, is hulle geneig om die meer prototipiese lede eerste te noem (vergelyk Taylor, 1989:45). Verskeie empiriese ondersoeke bevestig dit. Ek noem enkele voorbeelde:
à     stoel is ’n beter voorbeeld van die kategorie meubelstuk as wat bed is;
à     geweer is ’n beter voorbeeld van die kategorie wapen as wat  mes is;
à     mossie is ’n beter voorbeeld van die kategorie voël as wat volstruis is;
à  appel is ’n beter voorbeeld van die kategorie vrug as wat waatlemoen is.

   Selfs wat werkwoorde betref, het Pulman (1983:113) ten opsigte van Engels onder andere die volgende bevind:
à     murder is ’n beter voorbeeld van die kategorie kill as wat execute is;
à     lie is ’n beter voorbeeld van die kategorie deceive as wat  cheat is;
à     stride is ’n beter voorbeeld van die kategorie walk as wat pace is;
à     grasp is ’n beter voorbeeld van die kategorie hold as wat clutch is.
·  Die prototipeteorie hou verband met die twee asse van kategorisering: die entiteit/referent wat as prototipe van die kategorie optree, staan op die horisontale vlak in verhouding tot sy ko-hiponieme, maar op die vertikale vlak staan dit dit in verhouding tot ’n superordinaat op ’n hoër hiërargiese vlak, óf tree dit as superordinaat op ten opsigte van hiponieme op ’n laer hiërargiese vlak. ’n Bepaalde entiteit/referent kan dus op verskeie maniere gekategoriseer word: blomroosplant en rankroos (op verskillende hiërargiese vlakke) kan almal na dieselfde referent verwys. Maar een van hierdie woorde verwys na ’n vlak van kategorisering wat kognitief en linguisties meer opvallend is as die ander, naamlik roos. Dit word die basiese vlak van kategorisering genoem, die vlak waarop dinge as perseptuele en funksionele gestalts gekonseptualiseer word (vergelyk Taylor, 1989:48), die vlak waarop daar normaalweg oor die werklikheid gepraat word (vergelyk Downing, 1977, soos na verwys in Taylor, 1989:48). Daar is empiries bevind (vergelyk Radden, 1992:520) dat proefpersone geen enkele verbeeldingsvoorstelling met superordinate vereenselwig nie, byvoorbeeld met die superordinate boommeubelstukmusiekinstrument, ensovoorts - maar dat hulle baie duidelike en gedetailleerde kognitiewe beeld vorm van basiesevlakkategorieë, soos wilgerstoel en klavier. Die ernstigste beswaar teen die basiesevlakkategorie-opvatting is dat dit nie objektiewe status het nie, omdat die kompleksiteit van hiërargiese kennisstrukture van persoon tot persoon wissel. Hierdie beswaar onderskryf egter die kognitiewe opvatting dat kategoriesisteme nie objektief in die werklikheid bestaan nie, maar dat dit gevestig en ingebed is in menslike ervaring (vergelyk Radden, 1992:521).
· In aansluiting by die ervaringsbasis van betekenis word die prototipeteorie verder verfyn om die beheersendepuntteorie (”vantage point theory”) in te sluit. Volgens MacLaury (1991:62) word as vertrekpunt aanvaar dat sprekers kategorieë kognitief konstrueer, in stand hou en verander na analogie van die wyse waarop hulle hul eie posisie ruimtelik ervaar en verstaan. Langacker (1990:6) wys daarop dat enige uitdrukking se besondere betekenis (semantiese waarde) bepaal word deur die mate waarin die konseptualiseerder verkies om die taaluitingsituasie kognitief te konstrueer en tot uitdrukking te bring. En in hierdie opsig word die taaluitdrukking se besondere semantiese waarde deur verskillende kognitiewe konstrueringsmeganismes bepaal, waaronder die volgende:
à    die graad van bepaaldheid waarmee die situasie beskryf word;
à    agtergrondaannames en -verwagtinge;
à    relatiewe prominensie in verhouding tot verskillende entiteite;
à    die perspektief waaruit die situasie beskryf word.

    Deiksis en beheersende punt kan as aspekte van perspektief beskou word.
Vervolgens word ter illustrasie aandag geskenk aan kognitiewe konstruering wat saamhang met deiktiese verankering en die graad van bepaaldheid waarmee ’n situasie beskryf word. Teen die agtergrond van die voorgaande uiteensetting word, na aanleiding van Botha en Odendal (1989), enkele opmerkings gemaak oor die woord die, wat op grond van veral sintaktiese oorwegings tot die kategorie bepaalde lidwoord gereken word, en wat op grond van deiktiese oorwegings verskillende grade van bepaaldheid vergestalt.
Aangesien die deiktiese herkoms van die hierin ’n belangrike rol speel, word vir eers ’n paar opmerkings oor die begrip ’deiksis’ gemaak.
Lank voordat die kognitiewe linguistiek sy beslag gekry het, reeds in 1934, gebruik Bühler die woord deiksis om te verwys na aspekte van ’n taaluiting waarvan die interpretasie afhanklik is van kennis van die konteks waarin dit voorkom. In 1968 beskryf Rommetveit deiktiese woorde as taalmeganismes wat besonderhede van die spreker en hoorder se gedeelde kognitiewe veld (ervaring) in die taaluiting inbou (vergelyk Rommetveit, 1968:197, soos aangehaal deur Miller en Johnson-Laird, 1976:395). ’n Beknopter definisie van deiksis kan soos volg gestel word: dit is die skakel tussen taal en werklikheid - binne hierdie bespreking die kognitiewe skakel. Die volgende woorde tree as tipiese deiktiese woorde op:
· persoonlike voornaamwoorde - op grond waarvan van persoonsdeiksis gepraat word;
·   tydverwysende woorde soos noudantoegister, ens. - op grond waarvan tyddeiksis sy beslag kry;
·     plekverwysende woorde soos hierdaarhierdiedaardie, ens. - wat plekdeiksis onderlê.
Ten opsigte van al drie deiktiese kategorieë tree die spreker as onontbeerlike kognitiewe verwysingspunt op, onderskeidelik indentifiserendtydverwysend en ruimtelik.
Met betrekking tot plekdeiksis word daar ook nog onderskei tussen eksterne deiksis en intrinsieke deiksis. Die onderskeid word aan die hand van die volgende voorbeelde verduidelik:
(1)    Die hond is agter die motor.
(2)    Die hond is agter die boom.
·   Die spreker se egosentriese ruimtelike basis en oriëntasiesisteem (voor/agterlinks/regsbo/onder) dien as verwysingsbasis op grond waarvan daar ruimtelik verwys kan word.
·  In verhouding tot die sprekersbasispunt tree die plekverwysingspunte (onderskeidelik motor en boom) op om ’n bepaalde referent ekstern te lokaliseer.
·   Indien die spreker se oriëtasiesisteem algeheel op motor oorgedra word, verkry motor ’n intrinsiek-deiktiese oriëntasie en kan verwysing na die gelokaliseerde referent geskied in ooreenstemming met die intrinsiek-deiktiese oriëntasie van motor. Gevolglik is die sprekersbasispunt irrelevant.
· Ten opsigte van die gedeeltelike oordrag van die spreker se oriëntasiesisteem op boom is dit interessant om daarop te let dat in die nie-Westerse tale soos Hausa en Djerma (wat in Nigerië gepraat word), die oriëntasieoordrag byvoorbeeld andersom geskied as wat dit die geval by Westerse taalgebruikers is (vergelyk Schwerdtfeger, 1982:60).
Botha en Odendal (1989:136) kom tot drie gevolgtrekkings op grond van die ontleding van die Van Wyk Louw-gebruik van die in voorbeelde soos onder andere die volgende:
(3)    “Die lewe ... dié sal ons saamgryp en verenig” 
           (’n geaksentueerde die anafories gebruik)
(4)    “Sy legioenedie het self gepraat”
           (’n ongeaksentueerde die anafories gebruik)
(5)    “Vir dié van ons wat oud sal word”
          (’n geaksentueerde of ongeaksentueerde die as PRE-DET-element)
(6)    “maar dié wat skoonheid en hoogheid dra as las”
           (’n geaksentueerde of ongeaksentueerde die as antesedent)
(7)    “Dis opstand dié. So’t ek dit nie verwag”
           (’n geaksentueerde of ongeaksentueerde die selfstandig gebruik)
·      Die geaksentueerde dié word naas hierdie ekstern deikties gebruik.
·  Sowel die geaksentueerde as ongeaksentueerde die word in hulle verskillende variasievorme van die prototipiese lidwoord intrinsiek deikties gebruik.
·      Die seleksie van die word pragmaties eerder as grammaties bepaal. 
Dit is veral die laaste gevolgtrekking wat in die lug hang omdat die kognitiewe rol van die spreker/skrywer nie bepaal is nie. In Botha (manuskrip) word die navorsing verder gevoer om juis die genoemde gevolgtrekking kognitief te nuanseer. Vanuit ’n kategorieperspektief word tot die volgende slotsom gekom:
Die kategorie waartoe die behoort, sluit onder andere demonstratiewe, anafore, antesedente, predetermineerders en lidwoorde in. Die bepaalde lidwoord kan as die prototipe van die betrokke kategorie beskou word. Die nie-prototipiese lede van die kategorie kom tot stand op grond van die feit dat die as ’n verwysingsmeganisme oor ’n wisselende graad van direktiewe krag beskik, dit wil sê die gebruik van die stel die spreker kognitief in staat om ’n situasie te konstrueer in ooreenstemming met sý konseptualisering van die relatiewe status wat die entiteit waarna verwys word, binne sy (die spreker) se verwysingsraamwerk het.
Hiermee word volstaan met kategorisering as betekenismeganisme. Vervolgens die tweede kognitiewe betekeniswerktuig.
Beeldskemas
Guinness et al. (1990:173) noem dat daar mense is wat beter in beeldskemas dink as in woorde: 
These nonverbal or visual thinkers have included scientists like Albert Einstein and Michael Faraday, who said that their great discoveries came to them first as pictures and spatial relationships, which they then translated into words.
Johnson (1987:xiii) benadruk die standpunt dat enige aanneemlike verklaring van betekenis en rasionaliteit erkenning moet gee aan die feit dat ons begrip van die wêreld onderlê word deur ’n beliggaamde struktuur en ’n  verbeeldingstruktuur.
Beliggaming is ’n kernbeginsel van die kognitiewe linguistiek. Dit kom daarop neer dat ons abstraksies modelleer op grond van ons liggaamlike ervaring van die werklikheid in terme van ’n verbeeldingstruktuur wat saamgestel is uit beeldskematiese strukture. Sodanige beeldskematiese strukture hou verband met die menslike liggaamlike ervaring van onder andere die volgende: ruimtekragsensasiebasiesevlakobjekte (vergelyk  MacLaury, 1991:65).
Hierdie prekonseptuele strukture word (verbeeldingsmatig - vergelyk Johnson 1987: xiv) veral op twee maniere na die abstrakte denke getransponeer, naamlik by wyse van analogie en metaforiek. In hierdie opsig bestaan daar ’n parallelisme tussen beliggaming en die prototipebeginsel vir sover konkrete ervaring dien as verwysingsdomein op grond waarvan ander (abstrakte) ervarings by wyse van ekstensie gekonstrueer word (vergelyk  MacLaury, 1991:65). 
Vir eers word kortliks aandag geskenk aan twee groepe beeldskemas wat nou saamhang met beliggaming, naamlik die ruimtebeeldskemas en die kragbeeldskemas.
Ten opsigte van die ruimtebeeldskemas wys Lakoff (vergelyk Taylor, 1989:134-135) daarop dat baie vlakke van ervaring metafories gestruktureer word op grond van ’n klein aantal beeldskemas, waaronder die volgende:
· Houerskema. Hierdie beeldskema profilieer ’n houer (met ’n binnekant en ’n buitekant) teen die agtergrond van driedimensionele ruimte. Metafories word hierdie beeldskema op ’n groot aantal nieruimtelike domeine toegepas, byvoorbeeld:
à linguistiese eenhede, gesprekke en diskoerse word as houers gekonseptualiseer: hy sit sy gedagtes om in woordeuit hierdie gesprek lei ek af ...; leë woorde; ensovoorts.
à    emosionele toestande word as houers gekonseptualiseer: hy het in ’n woedebui uitgebarsuit sy angsvalligheid blyk dit dat ...; in haar liefdes-/angs-/vrees-/haattoestand; ensovoorts.
Sonder verduideliking, maar met ’n voorbeeld by elkeen, word enkele ander ruimtebeeldskemas vermeld:
·    Oorsprong-roete-doelwit-skema. Die lewe word byvoorbeeld dikwels as ’n reis gekonseptualiseer: ons kom iewers in die lewesy lewenspad gaan langs steilteshy het baie bereik in die lewe; ensovoorts.
·    Nabyheid/afstand-skema. Vergelyk die volgende voorbeelde waarin ruimtelike betrekkinge op nieruimtelike domeine geprojekteer word: hy behou sy sosiale afstandin die nabye toekomsver in die verlede. Uit die laaste twee voorbeelde merk ons op dat tyd ook dikwels in terme van ruimte gekonseptualiseer word.
· Skakelskema. Vergelyk die volgende voorbeelde: hy het sy familiebetrekkinge verbreekhulle bly in kontak met mekaar; hulle het hegte vriendskapsbande gesmee; ensovoorts.
·  Voor/agter-oriëntasie-skema. Daar is reeds vroeër gewys op die projeksie van die intrinsiek-deiktiese oriëntasie van die spreker/konseptualiseerder op objekte buite sy ego-domein. Die berus fundamenteel op hierdie skema.
· Deel-geheel-skema. Metafories word hierdie skema byvoorbeeld toegepas op abstraksies soos interpersoonlike verhoudinge, waar dit gaan om verskillende konfigurasies waaruit die geheel bestaan, en die herrangskikking van dele van die geheel om nuwe konfigurasies te vorm, byvoorbeeld: hulle vriendskap (geheel) word verbreekhulle (dele) gaan uiteen, maar word later weer versoen (nuwe geheel).
·  Lineêrerangskikking-skema. Hierdie skema hou veral verband met ons konseptualisering van tydsaspekte (relatief ruimtelik gerangskik) op ’n lineêre as.
· Bo/onder-oriëntasie-skema. Hierdie skema skakel ook nou met deiktiese transponering, ’n aspek wat reeds aandag geniet het.
Lakoff (vergelyk Taylor, 1989:135) is van oordeel dat beeldskemas so diep gewortel deel van menslike ervaring is dat hulle universele prelinguistiese strukture daarstel. En die meeste skemas hou verband met ons ervaring van die menslike liggaam. Vergelyk byvoorbeeld die houerskema wat primêr die mens se ervaring van sy liggaam as houer vergestalt.
’n Belangrike aspek wat bekelemtoon moet word, is die feit dat hierdie ervaringskemas (beeldskemas) ’n gestalt-geaardheid het, dit wil sê hulle tree as koherente, betekenisvolle, verenigde  gehele op binne die menslike ervaring en kognisie (vergelyk Johnson, 1987:41). Hulle genereer dus koherensie vir, bewerkstellig eenheid in, en beperk ons betekenisnetwerk (aldus Johnson, 1987:41).
’n Alomteenwoordige ervaringsdimensie hou met kraginteraksie verband. Om die aard daarvan te verstaan, is dit nodig om na die gestaltstruktuur van die kragbeeldskema te kyk.
Talmy (1985:293) vestig die aandag daarop dat kragdinamika ’n semantiese kategorie konstitueer wat baie lank misken is, en wys daarop dat die wyse waarop “entities interact with respect to force” ... “plays a structuring role across a range of language levels”; en sê verder: 
The force dynamic system, finally, is a major conceptual organizing system. It incorporates schematic conceptual models of physical phenomena, which, by analogy, it extends to psychological and social phenomena.
Johnson (1987:44) benadruk die feit dat ons daaglikse bestaan gekenmerk word deur die ervaring van kragte wat ons uitoefen, kragte wat op ons uitgeoefen word, en kragte wat in ons omgewing op mekaar inwerk. Sodanige kragte baan as tipiese patroonmatige ervarings hulle weg tot in ons betekenissisteem, ons taaluitdrukkingstruktuur en in ons talige kommunikasie as sodanig. In hierdie opsig tree hulle dus as beeldskemas op. Hy noem die volgende aspekte wat verband hou met die prekonseptuele gestaltstruktuur van krag - wat dus die algemene gestaltstruktuur van krag konstitueer: kraginteraksie; vektorkwaliteit/direksionaliteit van krag; pad van beweging van krag; oorsprong of bron van krag; grade van intensiteit van krag; en struktuur of opeenvolging van krag.
En die fundamentele vertrekpunt van die kognitiewe linguistiek is dat betekenis (veral: linguistiese betekenis) gedra word deur gestaltstrukture soos dié. Die voorgaande gestaltstruktuur verteenwoordig ’n baie algemene en abstrakte struktuur. Johnson (1987:45-48) beskryf ook die volgende besondere beeldskematiese gestalts van krag en kragverhoudings wat ’n impak op bepaalde betekenis- en taalhandelingsdomeine het. Dit word sonder bespreking genoem:
·    Kragvoortstuwing/(-kompulsie)
·    Kragblokkasie
·    Teenkrag
·    Kragherleiding
·    Kragopheffing
·    Kragbemagtiging
·    Aantrekkingskrag
Alhoewel hierdie strukture prelinguisties bestaan, dien hulle nie slegs as agtergrond waaruit betekenis ontwikkel nie; hulle vorm self deel van betekenis en begrip - hulle is op sigself betekenisstrukture. En hulle linguistiese beslag kry hulle onder andere in die wortelbetekenisse van modale hulpwerkwoorde en in taalhandelinge (vergelyk Johnson, 1987:48). 
Voordat iets oor die wortelbetekenisse van modale hulpwerkwoorde gesê word, word kortliks na taalhandelingskragte verwys.
Elke taaluiting is ’n handeling. Daarom word elke taaluiting deur ’n taalhandelingskrag onderlê. In wese hou taalhandelinge verband met ’n spreker se intensie en bedoeling met die uiting.  Sodanige bedoelings (tegnies ’n illokusie genoem) hou verband met kraggestalts op die vlak van stellingshandelinge, ekspressiewe handelinge, evalueringshandelinge, direktiewe handelinge, gesagshandelinge en verbintenishandelinge. Ter illustrasie word ’n voorbeeld uit die drama Germanicus, deur N.P. van Wyk Louw, gebruik (júís omdat die drama die kanonieke gespreksituasie so goed simuleer).
Ten tye van ’n veldslag in Noord-Frankryk naby die huidige Nederlande word Germanicus deur sy soldate onder druk geplaas om na die suide (Rome) uit te trek en in ’n verraadsaanval Tiberius te verslaan. Sonder om in besonderhede uit te wy, kan genoem word dat dit dus hier gaan om teenkragte wat verbaal in die dialoog vergestalt word. In ’n poging om tyd te wen, rig Germanicus hom tot die soldate met die volgende twee woorde:
(8)    “Eers noord!”
Binne die bepaalde konteks vergestalt die bepaalde uiting nie net op ’n subtiele wyse twee taalhandelingskragte nie (naamlik ’n direktief en ’n verbintenishandeling), maar word daar ook uitdrukking gegee aan twee kraggestalts, naamlik kragvoortstuwing/(-kompulsie) (deur die bevel/opdrag) en kragherleiding (deur die implisiete belofte). Vergelyk Botha (1991) vir ’n vollediger bespreking.
Teen die agtergrond van kraggestalts word daar vervolgens na aanleiding van Johnson (1987:48-57) enkele gedagtes uitgespreek met betrekking tot die wortelbetekenisse van modale hulpwerkwoorde.
Modaliteit is ’n ingewikkelde begrip wat deur die jare talle filosofiese argumente na vore gebring het - argumente wat die betekenisse van modale hulpwerkwoorde byvoorbeeld reduseer tot ons ervaring van werklikheidmoontlikheid en noodwendigheidEpistemiese modaliteit hou verband met die beoordeling van ’n proposisie op ’n moontlikheid-sekerheid-skaal (vergelyk Botha et al., 1989:88-92), terwyl deontiese modaliteit verband hou met die direktiewe krag van die proposisie op die skale noodsaaklikheid/verpligtingvermoë/toestemming; en wens/intensie; dus sosiale en morele verpligting (vergelyk Johnson, 1987:50). 
Modaliteit is egter onteenseglik deel van ons wêreld/werklikheid.
Vergelyk byvoorbeeld in die betekenisse van die volgende drie modale hulpwerkwoorde die beeldskemas wat kraggestalts in die alledaagse lewe blootlê:
· moet - ons voel verplig deur kragte buite ons beheer; dus: kragvoortstuwing;
·    mag - ons word toegelaat om handelinge (kragte) van ons keuse uit te voer; dus kragopheffing;
·    kan - ons voel in staat om handelinge (kragte) op ’n sekere manier uit te oefen: dus: kragbemagtiging.
Die kognitiewe benadering bied ’n baie aanneemlike betekenisverklaring vir sowel epistemiese as deontiese vraagstukke. Sweetser (vergelyk Johnson, 1987:50) onderskei slegs twee kategorieë betekenisse ten opsigte van modale werkwoorde, naamlik wortelbetekenis (wat deontiese modaliteit insluit) en epistemiese betekenis. Sy beweer dan dat die verskillende betekenisse van modale werkwoorde metafories met mekaar skakel in dié opsig dat die fisiese ’n metafoor word vir die niefisiese (verstandelike, rasionele en sosiale). Sy baseer haar uitspraak op ’n onderskeid wat sy tref ten opsigte van drie verwante dimensies van ervaring: 
·  die sosio-fisiese domein, wat sowel fisiese interaksie as sosiale en institusionele verhoudings insluit;
·    die epistemiese domein, wat rasionele argumentasie, teoretisering en ander soorte verwante redevoering insluit; en
·    taalhandelingstrukture.
Dit beteken dus dat modale werkwoorde wat op die fisiese en sosiale wêreld van toepassing is, nie radikaal in betekenis verskil indien hulle binne die domein van rasionele denke en argumentasie gebruik word nie. 
Vergelyk ter illustrasie die volgende twee voorbeelde uit Dias deur N.P. van Wyk Louw:
(9)    “... maar sê een woord, dan sal my siel gesond word” (epistemies)
(10) “en elke man hier sal sy naam hier skrywe” (deonties)
Vergelyk in hierdie verband Botha et al. (1989) se ontleding van die voorkoms van modale hulpwerkwoorde in Dias, deur N.P. van Wyk Louw, ter illustrasie van die wyse waarop modale hulpwerkwoorde kraggestalt-interaksies kontekstueel tot stand bring.    
Die metafoor
Daar bestaan ’n inherente verband tussen die metafoor en beeldskemas. Lakoff (1990:39) gaan so ver om te sê dat omdat beeldskematiese denkpatrone deur metaforiese kartering op abstrakte denkpatrone oorgedra word, sekere abstrakte denkpatrone - indien nie almal nie - metaforiese weergawes van beeldskematiese denke is.
Hier word gepraat van die verbleekte metafoor, die sogenaamde ‘dooie’ metafoor - die metafore wat so alledaags voorkom dat ons hulle nie sonder meer as metafore herken nie, juis omdat hulle ’n hele netwerk verwante ‘letterklike’ betekenisse onderlê. Dit gaan dus nie hier om die innoverende (of kreatiewe) metafoor nie.
Die begrip ‘metafoor’ is self ’n metafoor. Die woord metafoor slaan op die Griekse werkwoord meta-ferein, wat beteken: “om oor te dra”. In wese skakel die metafoor twee ervaringsdomeine met mekaar (óf twee subdomeine van dieselfde ervaringsdomein) - vergelyk Dirven (1994:8/28).
Die volgende verduideliking geskied na aanleiding van Lakoff (1990:47-51) se liefde-voorbeeld.
Engels het talle voorbeelde (en so ook Afrikaans) wat tot uitdrukking bring dat liefde onder andere as ’n reis gekonseptualiseer word, byvoorbeeld:
(11)  Die verhouding kom nêrens nie.
(12)  Die verhouding is op die rotse.
           Ensovoorts.
Vergelyk ook enkele voorbeelde uit die Bybel waarin die woord liefde eksplisiet genoem word:
(13)  “met koorde van liefde het Ek hulle getrek” (Hosea 11:4)
(14)  “…  wandel jy nie meer volgens die liefde nie” (Romeine 14: 15)
(15)  “Jaag die liefde na” (1 Korinthiërs 14:1)
Wat dus hier gebeur, is dat een ervaringsdomein, liefde, verstaan word in terme van ’n ander ervaringsdomein, reise. Die metafoor kan dus verstaan word as ’n heggestruktureerde karteringsproses. Die kartering vind vanuit ’n bronervaringsdomein (reise) na ’n doelwitervaringsdomein (liefde) plaas (vergelyk Lakoff, 1990:48-49).
Sonder om in besonderhede uit te wei, word (met ’n voorbeeld by elk) enkele tipiese metafore genoem op grond waarvan ons betekenis aan die lewe gee. Lakoff & Johnson (1980) praat van “metaphors we live by”.  Vergelyk die volgende. Die  doelwitervaringsdomein word eerste genoem, en dan die bronervaringsdomein:
           Woede is vloeistof / hitte in ’n houer
(16)  Hy was so kwaad, hy het ontplof.
            Argument is oorlog
(17)  Hy het sy standpunt swak verdedig.
            Oorsake is kragte
(18)  Die oorwinning het hulle laat juig.
En so kan ons voortgaan. Wat egter van belang is, is dat hierdie verskillende metafore ook interaksioneel verband hou.
Ons volstaan met die volgende beskrywing van die metafoor, aldus Lakoff (1990:49):
 Wat die metafoor tot stand bring, is nie soseer ’n besondere woord of uitdrukking nie. Die metafoor kom tot stand op grond van ontologiese en epistemiese kartering wat vanaf ’n brondomein na ’n doelwitdomein geskied. Dit is dus nie slegs taal wat die metafoor konstitueer nie - maar ook denke en rede. Die taal vergestalt slegs die karteringsproses.
Samevatting: kategorieë, beeldskemas en metafore

Die drie kognitiewe betekenismeganismes tree nie elk in isolasie op nie. Hulle staan in ’n integrale verhouding tot mekaar op grond van die feit dat die mens sy wêreld kognitief orden in ooreenstemming met ’n verbeeldingsvermoë wat onderlê word deur ’n beliggaamde struktuur en ’n  verbeeldingstruktuur. Laasgenoemde strukture is skematiese strukture wat in verband staan met die mens se ervaring van die werklikheid. Hierdie strukture word metafories uitgebrei, verruim en geprojekteer om verskillende aspekte van betekenis, denke en taalhandelinge met mekaar in verband te bring.

Gevolgtrekkings

Wat in die voorgaande uiteensetting nie so eksplisiet gestel is nie, is die feit dat kontekstuele determinante die kognitiewe aard van betekenisgewing beïnvloed - juis omdat elke afsonderlike konteks ’n verskeidenheid veranderlikes daarstel wat subjektief of kollektief beleef word. Vanuit ’n kollektiewe perspektief kan onder andere die volgende aspekte wat ’n rol by betekenisgewing speel, genoem word: die ekologiese, kulturele en ideologiese agtergrond waarbinne die betekenismeganismes optree om betekenis te skep; ook bepaalde tydsdimensies en tydsdure, wat veral belangrik is met betrekking tot die proses van grammatikalisering.

 Wat kontekstualisering (dus betekenisgewing binne/vanuit ’n bepaalde konteks) betref, bied die kognitiewe taalbeskouing nuttige ontledings- en interpretasieraamwerke - instrumente wat oor ’n hele konteksspektrum toepassingswaarde het, onder andere die literatuur, die politiek, die regspraktyk, die sosiale aard van kleiner en groter taalgemeenskappe - trouens enige konteks waarin daar sprake is van individuele of gemeenskaplike taalgebruik. Sonder om besonderhede te verstrek, word slegs twee insiggewende voorbeelde van navorsing wat in hierdie verband gedoen is, genoem:

·    In 1992 verskyn George Lakoff se artikel Metaphor and war, waarin die metafoorsisteem wat gebruik is om die Golfoorlog te regverdig, ondersoek word.
·  In 1994 verskyn René Dirven se Metaphor and NationMetaphors Afrikaners live by. Hierin probeer hy die Afrikaanse metafoorsisteem blootlê op grond waarvan ’n (eertydse) sosiale organisasie plaasgevind het.

 Tans staan ons in Suid-Afrika in ’n tydperk waarin daar betekenis gegee moet word aan ’n nuwe sosiale orde. Beeldskematiese prelinguistiese strukture waaraan talig gestalte gegee moet word, sluit onder andere kragherleiding en kragbemagtiging in. Op grond daarvan vind beeldskematiese uitbreidings en projeksies plaas wat veral kraggestalts in die sentrum plaas, weergegee in onder andere: heropbou-en-ontwikkelingherverdelingherskryftoegang en beheerregstellende aksiemenseregtetransformasienaamsverandering; ensovoorts; ensovoorts. Suid-Afrika is in ’n proses waarin deur die ontwikkeling van ’n hegverweefde netwerk van metafore betekenis gegee word aan ’n nuwe Suid-Afrika!


Summary                                                                                                                     
Linguistics is the study of language, and language is a tool for conveying meaning. A traditional viewpoint emphasises the fact that linguistics, specially semantics, should regard meaning as something that exists in the objective world. But language is not only a tool for conveying meaning. It is an instrument with which meaning is created. From a cognitive point of view an expression’s meaning cannot be reduced to an objective characterisation of the situation described, due to the fact that the conceptualizer finds himself in the centre of the situation. Consequently different cognitive mechanisms are applied when meaning is created.
To mention three of the most distinct cognitive devices, one should consider the following: categorisation, preconceptual image schemata, and metaphorical projection.
Cognition underlies the ability to categorise; and categorisation induces perception, thought, speech, and action. From a cognitive point of view natural categories do not have clear boundaries; their boundaries are fuzzy, and members of a specific category are not indispensable constant members of that category. A prototypical member of the category acts as a cognitive reference point, and the surrounding less significant members are defined in accordance with the prototype: the central member, or best example of the category. Although basic-level categories are cognitively more salient, they are not experienced invariably as such, due to the fact that they are firmly established in human experience. And linked to the experiential basis of meaning, is vantage point theory, which implies that a speaker cognitively construes categories in accordance with his own locality and the way in which he experiences it. From this point of view the specific meaning of an utterance is determined by construal mechanisms such as the degree of definiteness with which an entity is perceived, background assumptions, relative prominence in relation to other entities, and the perspective of the conceptualizer. Consequently, deixis links closely with vantage point.
Cognitive linguistics also emphasises the embodied origin of imaginative structures of understanding, portrayed by image schemata and their metaphorical elaborations. Understanding links with imaginative structures that emerge from bodily experience in interaction with the environment. Image schemata function as preconceptual structures of experience that are metaphorically projected to constitute a network of meanings.
These mechanisms are cognitively interlinked - in such a way that conceptual blending takes place in the process of meaning creation. In this regard they function on various levels of language, representing the ecological, cultural and ideological background of the language community in which they function to create meaning.
Verwysings
Austin, J.L. 1962. How to do things with words. Oxford: Oxford University Press.
Botha, W.J. (Manuskrip). Aspects of the category die in Afrikaans.
Botha, W.J. 1991. Taalhandelingsdeterminante in die onderrig. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 9(1): 24-29.
Botha, W.J. en F.F. Odendal. 1989. Hierdie dieSuid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 7(4): 131-137.
Botha, W.J., C.J. Conradie en Rika Preller. 1989. Modale hulpwerkwoorde in Dias. In Conradie, C.J. (red.) 1989: 73-115.
Bühler, K. 1934. Sprachtheorie. Jena: Fisher.
Conradie, C.J. (red.) 1989. Onomheinde sin. Johannesburg: RAU.
Devine, E., M. Held, J. Vinson en G. Walsh (eds.) 1985. Thinkers of the twentieth century. Londen: Firethorn Press.
Dirven, R. 1994. Metaphor and nation. Duisburg Papers on Language and Culture, Vol. 22. Frankfurt/M: Lang.
Eilfort, W.H., P.D. Kroeber en K.L. Peterson (eds.) 1985. Papers from the parassession on causitives and agentivity at the twenty-first regional meeting of the Chicago Linguistics Society. Chicago: Chicago Linguistics Society.
Guinness, A.E. (ed.) 1990. ABC’s of the human mind. Pleasantville, New York: Reader’s Digest Association.
Jackendoff, R. 1983. Semantics and cognition. Cambridge, Massachusetts: MIT.
Johnson, M. 1987. The body in the mind: The bodily basis of meaning, imagination and reason. Chicago, Londen: University of Chicago Press.
Lakoff, G. & M. Johnson. 1980. Metaphors we live by. Chicago, Londen: University of Chicago Press.
Lakoff, G. 1987. Women, fire, and dangerous things. Chicago, Londen: University of Chicago Press.
Lakoff, G. 1990. The Invariance Hypothesis: is abstract reason based on image-schemas? Cognitive Linguistics 1(1): 39-74.
Lakoff, G. 1992. Metaphors and war: the metaphor system used to justify war in the gulf. In Pütz (red.) 1992: 463-481.
Langacker, R.W. 1990. Subjectification. Cognitive Linguistics 1(1):5-38.
Leech, G. 1981. Semantics (Second Edition). Bungay, Suffolk: Richard Clay. 
MacLaury, R.E. 1991. Prototypes revisited. Annual Reviews Anthropology 20:55-74
Miller, G. A. en P. N. Johnson-Laird. 1976.  Language and perception. Cambridge: Cambridge University Press.
Pulman, S.G. 1983. Word meaning and belief. Londen & Canberra: Croom Helm.
Pütz, M. (ed.) 1992. Thirty years of linguistic evolution. Philadelphia/Amsterdam: John Benjamins.
Radden, G. 1992. The cognitive approach to natural language. In Pütz (red.) 1992: 513-541.
Rosch, E.H. 1973. Natural categories. Cognitive Psychology 4:328-350.
Rosch, E.H. 1975. Cognitive reference points. Cognitive Psychology 7:532-547.
Schwerdtfeger, A.M. 1982. Deiksis: oriëntasie en konfrontasie in die ruimte. Klasgids 17(2): 52-63.
Smith, N. en D. Wilson. 1979. Modern linguisticsThe results of Chomsky’s revolution. Bungay, Suffolk: Richard Clay.
Talmy, L. 1985. Force dynamics in language and thought. In Eilfort et al. (eds.): 1985:293-337. 
Taylor, J.R. 1989. Linguistic categorizationPrototypes in linguistic theory. Oxford: Clarendon Press.
Vanparys, J. 1993. The categorization of illocutionary verbs. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Katholieke Universiteit van Leuven.
Wierzbicka, A. 1992. The search for universal semantic primitives. In Pütz (red.) 1992: 215-242.
Wittgenstein, L. 1953. Philosophical investigations. Oxford: Blackwell.



[1] ’n Verkorte weergawe van my professorale intreerede wat op 3 Mei 1995 by die RAU gelewer is.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking