AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR
Identiteit, die Afrikaner en Afrikaans
Identiteit, die Afrikaner en Afrikaans
Willem J. Botha – emeritusprofessor (taalkundige – semantikus): RAU/UJ
1. Inleiding
“Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy.”
“Maar julle, ... , wie, sê julle, is Ek?”
“I am a man.”
“Ich bin ein Berliner.”
“I am an African.”
Die bostaande redelik bekende aanhalings is identiteitsuitdrukkings. Die woorde van Bart Nel dui op die ervaring van ’n oënskynlik onveranderde eie identiteit, ten spyte van die trauma van materiële en psigiese verlies tydens die rebellie van 1914. In die tweede voorbeeld (Matteus 16:15) word Jesus se woorde aan sy dissipels aangehaal te midde van verskeie uiteenlopende standpunte oor sy identiteit. Die derde aanhaling het op baniere voorgekom toe betogers vir menseregte in die VSA in 1968 vir hulle regte betoog het, eintlik vir ’n miskende groepsidentiteit in vergelyking met bepaalde identiteitsopvattings binne die Amerikaanse gemeenskap gedurende daardie tydperk. In 1961 verwoord President John F. Kennedy in ’n toespraak die Weste se verbintenis tot, en identiteitsvereenselwiging met, die Berlyners in die woorde van die vierde aanhaling. Dit het plaasgevind na die destydse oprigting van die Berlynmuur en die Weste probeer verhoed het dat Wes-Berlyn totaal geïsoleer word. Tydens die aanvaarding van die Suid-Afrikaanse Grondwet het die toenmalige adjunkpresident Thabo Mbeki op 8 Mei 1996 sy nou bekende toespraak gehou ter bevordering van ’n Afrika-identiteit, te midde van ’n hele spektrum sub-identiteite binne die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Die vyfde aanhaling kom uit dié betrokke toespraak.
2. Identiteit
Op die keper beskou, berus die ervaring van en die beskouing oor identiteit op die beginsel van vergelyking, soos blyk uit die voorgaande aangehaalde voorbeelde. Dit is ’n beginsel wat ook deurgaans geld vir kategorisering (dus: begripsvorming). Verskillende verklarende woordeboeke se betekenisbeskrywings in hierdie verband onderskryf dit – eksplisiet of by implikasie, byvoorbeeld: “recognize” (in ooreenstemming met ’n eksplisiete of versweë kriterium), “absolute sameness” (geprojekteer ten opsigte van ’n eksemplariese norm), “an instance or example” (geabstraheer uit ’n bepaalde versameling), “volkome ooreenstemming” (in ooreenstemming met ’n bepaalde kriterium), “eigen karakter, het individuele kenmerk” (geabstraheer uit ’n bepaalde versameling), en ander soortgelyke beskrywings.
Drie kognitiewe prosesse word by implikasie hierin betrek, naamlik ’n evaluerende, reflekterende en projekterende ervaring van identiteit. Hierdie belewenis van identiteit bring die onderskeiding van veral twee identiteitsvlakke na vore: ervaring van identiteit ten opsigte van die ego (self), en identiteit in verhouding tot die groep. Die ego-belewenis hang saam met ’n bewuste ervaring van die menslike bestaanskoördinate, naamlik die ek in tyd-ruimtelike samehang, terwyl groepbelewenis na die ervaring van (die eie of ander se) rolle en funksies binne bepaalde groeperinge verwys. Afhangend van die persoonlikheidsaard van die bepaalde individu sal eersgenoemde waarskynlik minder veranderlik as laasgenoemde wees, alhoewel die intrinsieke verhouding van die twee identiteitsvlakke nie hierdeur ontken word nie. Identiteitsdinamiek, die wye toepassingspektrum en die relatiewe konseptuele lading van bepaalde identiteitsbegrippe verhoog die kompleksiteit daarvan.
’n Verdere aspek wat in gedagte gehou moet word, is die feit dat die voorgenoemde ervaring van identiteit (en dus ook die rolle wat daarmee saamhang) veral op die vlak van die kognitiewe onbewuste lê. Binne hierdie vlak identifiseer Oakley (1998:357) die sogenaamde generiese ruimte as die bron waaruit sodanige ervaring spruit: “a distinct mental space operating at a low level of description which can provide the category, frame, role, identity, or image-schematic rationale for cross-domain mapping.” Die vermelding van “cross-domain mapping” suggereer nie net die vergelykingsbasis van identiteit nie, maar stippel ook die fundamentele werking van die metafoor uit – ’n belangrike begripsmeganisme vir onder andere identiteit. Dit moet saamgelees word met Lakoff en Johnson (1997) se uitspraak ten opsigte van die drie belangrikste bevindinge van die kognitiewe wetenskap in die sewentigerjare van die vorige eeu, naamlik: “The mind is inherently embodied. Thought is mostly unconscious. Abstract concepts are largely metaphorical.”
Die voorgaande metafooruitspraak hang saam met die ingrypende bevinding dat die metafoor ook onder die taalvlak funksioneer – dat die menslike verstand oor ’n verskeidenheid algemene konseptuele metafore beskik op grond waarvan abstrakte begrippe ten opsigte van konkreter (veral ruimtelike) begrippe verstaan word.
Omdat die verwysing na tale (hier Afrikaans) berus op ontologiese metaforiese benoeming, dien die volgende voorbeelde as illustrasie van hoedat konseptuele metafore onder die taalvlak funksioneer.
Vergelyk hoedat algemeen menslike ervarings van inhoudsvullers, inhoudshouers, instrumente en krag (geïmpliseer deur die gekursiveerde frases) byvoorbeeld onderskeidelik as konseptuele bron dien vir die verstaan van die volgende liefdemetafore in die Bybel:
“Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons [= liefde is ’n inhoudsvuller] sy doel volkome bereik.” (1 Johannes 4:12)
“En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde [= liefde is ’n inhoudshouer] bly, bly in God en God bly in hom.” (1 Johannes 4:16)
“Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde [= liefde is ’n instrument] net soos Jesus.” (1 Johannes 4:17)
“Die liefde van Christus dring [= liefde is ’n krag] ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het.” (2 Korintiërs 5:14)
Genoemde konseptuele metafore is enkeles uit die Bybel wat saam met ander (byvoorbeeld liefde is ’n besitting – 1 Korinthiërs 13:2; liefde is ’n geskenk – Hooglied 7:12; liefde is ’n offer – 1 Johannes 3:16; ens.) optree om ’n konseptuele konstellasie te vorm wat uiteindelik ook instrumenteel is in die verstaan van die abstraksie God in die taalmetafoor “God is liefde” (1 Johannes 4:8; 1 Johannes 4:16 ).
In die geval van Afrikaans is dit belangrik om daarvan kennis te neem omdat daar toenemend implisiet na Afrikaans as blokkasie/obstruksie verwys word in aantygings dat Afrikaans uitsluit of dat Afrikaans in die weg van transformasie staan. Herhaling en oorbeklemtoning van sulke aantygings vestig op die kognitiewe onbewuste vlak ’n kognitiewe stempel (“imprint”) op grond waarvan ’n diverse aantal taalmetafore tot stand kan kom, wat op hulle beurt weer die stempel [konseptuele metafoor: Afrikaans is ’n obstruksie/ blokkasie] versterk. Dit is onder andere ook hoedat propaganda funksioneer.
Lakoff en Johnson (1997) benadruk die konseptuele aard van die metafoor as hulle sê: “(t)he linguistic function of metaphor is secondary. It depends on the conceptual use of metaphorical mappings across conceptual domains.” Taal is egter die toegangsroete tot en die abstraheringsroete uit die kognitiewe onbewuste – “the vast system of concepts and cognitive mechanisms that operates beneath the level of consciousness, structuring both our experience and our mode of conceptualizing the world”, volgens Lakoff en Johnson (1997). Ooreenstemmend nuanseer Langacker (1993:1) die intrinsieke verhouding tussen taal en denke as hy sê: “(F)undamental cognitive abilities and experientially derived cognitive models have direct and pervasive linguistic manifestations, and, conversely, … language structure furnishes important clues concerning basic mental phenomena.”
3. Beheersende punt (“vantage point”)
Een van die belangrikste veranderlikes vir die beoordeling (en ervaring) van identiteit is die perspektief waaruit dit konseptueel (en dus ook talig) ervaar of beskou word. Eintlik moet ons liewer van beheersende punt praat omdat oriëntasie en beheersende punt elemente van perspektief is, en beheersende punt ’n enger gesigspunt impliseer wat saamhang met die konseptualiseerder se ruimtelike oriëntasie, ’n punt wat ook getransponeer kan word na psigiese ruimte. Dit is in ooreenstemming met Langacker (1990:5) se beskouing dat oriëntasie en beheersende punt elemente van perspektief is. Vergelyk byvoorbeeld die perspektiefverskuiwings in die aangehaalde voorbeelde in die inleiding: Bart Nel se tydsperspektief verskuif van toe na nou; Jesus vra ’n perspektiefoordeel van julle in plaas van hulle; die 1968-betogers dring aan op ’n “ruimtelike” perspektiefverskuiwing – van buite die identiteitskategorie tot binne die kategorie; President John F. Kennedy se vereenselwiging met die Berlyners bring ’n geprojekteerde Berlynse perspektief mee; Mbeki verskuif sy perspektief vanuit ’n sub-identiteit na ’n globale identiteit.
4. Afrikaans en die Afrikaner
Die relatiewe kompleksiteit van bepaalde identiteite maak die perspektiefervaring daarvan in ’n sekere sin voor die hand liggend omdat bepaalde ervarings of beskouings van ’n komplekse identiteit hoegenaamd nie al die begripsdimensies daarvan kan ondervang nie en uiteindelik berus op individuele seleksie deur die betrokke konseptualiseerder. So ’n komplekse identiteit is byvoorbeeld dié van die Afrikaner.
Voordat die verhouding tussen Afrikaans en die Afrikaner onder die loep geneem kan word, is dit egter eers nodig om iets oor die grammatikale herkoms van die woord Afrikaans te sê. Die woord Afrikaans is gedurende die tydperk wat algemeen beskou word as die ontstaansjare van Afrikaans na aanleiding van Nederlands gebruik as ’n adjektief wat “behorende tot Afrika” beteken het. Deur benoeming van die spesifieke taal-in-wording het die adjektief funksiewisseling ondergaan en ’n gedeadjektiveerde naamwoord geword. Afgeleide adjektiewe van die totstandgekome naamwoord Afrikaans het daarna betekenisvervanging en betekenisuitbreiding ondergaan sodat die Afrikaanse gebruik van die woord Afrikaanse nie meer “behorende tot Afrika” beteken het nie, maar dat dit dui op taalverwante benoemings soos Afrikaanse boeke, Afrikaanse skole ensovoorts.
Teen die agtergrond van die feit dat die woord Afrikaans eers net lokaliteitsaanduider was, illustreer die volgende kort oorsig dat die taal Afrikaans aanvanklik nie ’n wesenlike definiërende onderdeel van Afrikaneridentiteit was nie.
Aanvanklik (in die sewentiende eeu) word die woorde Africaan, Africaander en Africaner in die Kaapse stukke uitsluitend gebruik in die sin van “naturel” of “inlander”. Later word die begrip verryk met eksplisiete ruimtelike en etniese begripstoevoegings in die Patriot-definisie: “white man born in Africa”. Eers later word die begrip “Afrikaans” toegevoeg omdat daar aanvanklik ook heelwat konseptuele verwarring oor dié taalbegrip geheers het. Van der Merwe (1972:16) twyfel byvoorbeeld of die benaming “Afrikaans” hoegenaamd in die agtiende eeu reeds bekend was. Verskeie perspektiewe het verskillende benoemings tot gevolg gehad. Daar is byvoorbeeld vroeër van “Kaaps-Hollands” gepraat. Dié woord is gebruik om die dialek of “variant van Hollands op Kaapse bodem” te benoem – later verkort tot “Kaaps”. Gedurende hierdie tyd (voor 1850) verskyn daar ook enkele wisselvorme daarvoor – ’n illustrasie van verskillende perspektiewe: “de Afrikaansch-Hollandsche taal”, “Bastaard-Hollandsch” en “Boeren-Kaapsch”. Na die Groot Trek die binneland in en met die stigting van die Boererepublieke sou die geografiese verwysing “Kaaps” egter te eng wees en onder Afrikaansgesindes self nie meer byval vind nie. Namate die benaming “Kaaps-Hollands” onder Afrikaansgesindes begin verdwyn het, het dit buite die groep en by buitelanders bly vassteek. Nienaber (1949:98-100) wys daarop dat dit afgewissel is met ’n waarde-beoordelende benaming soos “Plat-Hollands” en skriftelike benoemings soos “Transvaals” (1887), “Afrikaander Taal” (1901), “The Taal” (na 1902), “Burensprache” (1904), “Boer Dutch” (ongeveer 1904), “Le Langue des Boers” (1911) en “Zuid-Afrikaansch”. Ten opsigte van die ideologiese begripsinhoud van Afrikaneridentiteit het Afrikaans as identiteitskenmerk dus aanvanklik nie gefigureer nie. ’n Taalbewussyn word by implikasie eintlik eers sedert 1870 gevoed, in die aanloop tot die eerste Taalbeweging.
Die ideologiese identiteitsbewussyn is ook gevoed deur bepaalde emosionele ervarings. Van Jaarsveld (1980:222) noem byvoorbeeld dat die anneksasie van Transvaal en die Eerste Vryheidsoorlog “elektriese skokke” was wat “deur die hart van alle Afrikaners gegaan het” en “’n gedagtestelsel” laat ontstaan het “waarin die Afrikanervolk as ’n geestelike eenheid sentraal gestel is”. Verdere historiese gebeurtenisse, politieke en kulturele ontwikkeling en die invloed van die kerk het die kompleksiteit van die identiteitsbegrip ‘Afrikaner’ verhoog. Uiteindelik het die begrip te ruim voorsiening gemaak vir enige individu om volledig daarin opgeneem te kon word. Politieke, religieuse en kulturele kragte het meegebring dat ’n bepaalde perspektief uiteindelik dié Afrikaneridentiteit moes ondervang. ’n Verbrokkeling van dié identiteitsperspektief was onafwendbaar na 1994. Op 9 Mei 2000 verwoord Chris Louw enkele van die konformerende wesenskenmerke van die genoemde dominante perspektief wanneer hy sê ons “is mos grootgemaak om ons emosies te beteuel” ... “om gesien en nie gehoor te word nie, om opdragte uit te voer sonder teëspraak” ... “om ... ons lewe op te offer vir ons land en vir die Groter Saak”.
5. Woordeboekdefinisies van die woord Afrikaner
Die feit dat die belewenis en beskouing van identiteit – en hier Afrikaneridentiteit – ’n beheersendepuntverskynsel is, word ook duidelik geïllustreer indien verskillende woordeboekdefinisies van die woord Afrikaner vergelyk word.
Van die eerste pogings om die kategorie “Afrikaner” formeel te omskryf, kom van die Patriot-Woordeboek, wat die woord Afrikaner in 1902 soos volg beskryf: “white man born in Africa”. Vroeëre woordeboeke, soos die Woordenboek der Nederlandsche taal wat in 1882 gepubliseer is, bevat nog nie die inskrywing Afrikaner nie. Die woord Afrikaner kom wel in Van Dale sedert 1917 voor: “in Zuid-Afrika geboren blanke van Europeeschen oorsprong”. Van die Afrikaanse taal is daar hoegenaamd geen sprake nie.
Voor en tydens die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) is die woord Afrikaner afwisselend ten opsigte van die woord Boer gebruik, verwysende na ’n “Hollandsch sprekende kolonist van Zuid-Afrika, inzonderheid die van de Transvaal en de Oranje-Vrijstaat”, volgens Van Dale in 1917. Vir die eerste keer kom taal ter sprake – en steeds nie Afrikaans nie, maar dan ten opsigte van die kategorie wat as “Boer” geklassifiseer is. Die Afrikaner-definisie in die 1999-uitgawe van die Van Dale groot woordenboek der Nederlandse taal beklemtoon steeds etnisiteit en ruimtelikheid, én die Boereverwantskap – met taal steeds nie as ’n definiërende faktor nie: “vooral in Z.-Afrika gebezigde aanduiding van een in Z-Afrika geboren blanke, m.n. van Boerenafkomst”. Daarnaas beskryf Van Dale groot woordenboek van hedendaagse Nederlands (1984) slegs etnisiteit en ruimtelikheid met die volgende definisie: “blanke in Zuid-Afrika”. Die Van Dale handwoordenboek der Nederlandse taal (1982) voeg verwantskap by met die beskrywing “blanke burger van Z.-Afrika, inz. van Boerenafkomst.” Die supplement by die eerste deel van die Woordenboek der Nederlandsche taal se 1956-definisie verswyg in die eerste gedeelte steeds Afrikaans, maar benadruk etnisiteit, lokaliteit en Boereverwantskap in verhouding tot “Nederlandsch” (tussen aanhalingstekens!), wat waarskynlik dui op die twyfelagtige Nederlandsstatus van die betrokke taal. Die inskrywing in die betrokke woordeboek het egter ook ’n tweede gedeelte waarin daar wel melding gemaak word van Afrikaans.
In die bostaande betekenisbeskrywings word die kategorie “Afrikaner” redelik vaag geformuleer: veral volgens lokaliteit/sublokaliteit, etnisiteit, herkoms en verwantskap, terwyl daar slegs in die tweede gedeelte van die definisie van die WNT-supplement van Afrikaans sprake is.
Die afwesigheid van die Afrikaanse taal as ’n definiërende eienskap kan daaraan toegeskryf word dat die Patriot-definisie ’n tydperk verreken waarbinne die eerste Taalbeweging nog nie ’n besondere impak gehad het nie, terwyl die ander definisies, in die mate waarin hulle taal erken, vassteek by Nederlands/Hollands se Suid-Afrikaanse status, en die amptelike erkenning van Afrikaans sedert 1925 nie eksplisiet verreken word nie. Die WNT-supplement onthul ook ’n ideologiese ondertoon met die beskrywing van ’n emosionele belewenis met die bewoording “hen die … zich Afrikaansch voelden”. Laasgenoemde definisie impliseer ook ’n “konseptuele versmelting” van Afrikaans en die Afrikaner.
Afgesien van die WNT-supplement verswyg die Nederlandse woordeboeke deurgaans die Afrikaanse taal as ’n kenmerk van die Afrikaner. Dit kom, daarenteen, in die bekendste Afrikaanse woordeboeke as ’n kardinale onderdeel van die betekenisbeskywing van die woord voor.
Uit die voorgaande oorsig blyk dit dat die konsep “Afrikaans”, onder andere vanweë die ontkenning van sy outonome status as taal, aanvanklik nie heg met die konsep “Afrikaner” verbind is nie. In ’n artikel getiteld “Het Afrikaans” (soos opgeneem in Nienaber, 1984) verkies Mansvelt in 1880 byvoorbeeld om konsekwent na die taal te verwys as “Kaapsch Hollands” en selfs “Kaapsch” (in sy eie woorde: “alias ‘Die Afrikaanse Taal’”), terwyl hy deurgaans na die sprekers daarvan verwys as “de Afrikaander”, en selfs by geleentheid skryf van “een Afrikaansch volk”, laasgenoemde waarskynlik eerder in die sin van ’n geografiese verwysing.
Mansvelt se “Afrikaander”-verwysing hou waarskynlik ook verband met die feit dat die woord Afrikaner se verwysingsbestek teen die middel van die negentiende eeu meer as net blankes ingesluit het. Von Wielligh (1925: 35) onderskei byvoorbeeld ’n destydse driedeling onder bruin mense, naamlik “Slamaaiers”, “Malbare” (met steil hare) en die “Afrikaner-volk” (met kroeshare), en volgens hom het die woord Afrikaner vir ’n blanke vanaf die eerste Taalbeweging ’n vaste vorm aangeneem. Van Besten (persoonlike mededeling) wys daarop dat alreeds in die agtiende eeu Afrikaner ’n naam kon wees: Hottentot Africaner/Hottentot Afrikaaner, Afrikaner; en later ’n van, Jager Afrikaner, maar ook ’n term ter klassifikasie: “slaaven jongen Andries, dewelke een africaner is”.
Voor en tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) is die woord Afrikaner ook afwisselend ten opsigte van die etnoniem Boer (verwysende na Afrikaners van die twee Boererepublieke) gebruik, wat volgens Ponelis (1998:19) onder Engelse invloed aanvanklik as ’n skeldnaam ontstaan het. In hierdie stadium was die woord Afrikaner konseptueel nog nie so sterk deur Afrikanernasionalisme gevoed nie, ook omdat die intrinsieke verhouding tussen die konsepte “Afrikaans” en “Afrikaner” nog nie so heg was nie. Daarom ook dat die kategorie, volgens die destydse woordeboeke, ’n omvattender verwysingspektrum gehad het. Die konseptuele voedingsbron sou later veral in twee afgeleide konsepte lê, geleksikaliseer as Afrikanerskap en Afrikanerdom – met noodwendige inperking van die verwysingspektrum en normatiewe prototipeskematiserings vir insluiting of uitsluiting met betrekking tot die kategorie “Afrikaner”. Die talle implikasies van sodanige skematiserings sal nie hier verder bespreek word nie.
6. Oorvleueling van identiteite
Beskutting teen ’n postmoderne wêreld is na 1994 grootliks opgehef, wat ook die konseptuele inperking van ’n dominante Afrikaner-identiteitsperspektief laat verbrokkel het. Dit het gepaard gegaan met ’n dramatiese verandering van die status quo. Sonder ’n bepaalde taalbelewenis sou dit nie moontlik gewees het nie. Dink maar aan die impak wat die wigte en teenwigte-metafoor gehad het tydens die onderhandelingsfase vir ’n nuwe Suid-Afrikaanse bedeling. Black (1962:42) merk tereg op dat “shifts in attitude ... regularly result from the use of metaphorical language.” Na 1994 het baie Afrikaners oor die aarde verstrooi geraak en baie Afrikaners was ontnugter. Dit het meegebring dat vanuit nuwe ruimtelike en psigiese beheersende punte na dié identiteitskwessie gekyk is en word. Die Afrikanerdebat het nuwe insigte en dimensies na vore gebring.
’n Aspek wat met perspektief saamhang en die begrip identiteit verder kompliseer, hou verband met die interseksie van identiteite. Identiteite oorvleuel dikwels in so ’n mate dat morfologiese manipulasie by benoeming van dieselfde referent soms drastiese gevolge kan hê. Vergelyk byvoorbeeld die betekenisverskil ten opsigte van Duitse Jode en Joodse Duitsers.
In die bedeling wat in Suid-Afrika tot stand gekom het na 1994, gebaseer op ’n vervangde ideologiese raamwerk, het die interseksie van identiteite meegebring in die sin dat selfbenoeming of kategoriebenoeming van ander ten opsigte van Afrikaansmoedertaalsprekers op grond van vereenselwiging drieledig geskied het: Afrikaan, Afrikaner, Suid-Afrikaner. Laasgenoemde is ’n meer neutrale benoeming op grond van burgerskap, maar word deur heelwat Afrikaansmoedertaalsprekers bo Afrikaner verkies om hulle te ontdaan van die (volgens hulle regverdige) stigmatisering van die woord Afrikaner. Hierdeur voel hulle om welke rede ook al “losgemaak” van die Afrikanerkategorie. Tesame met pejoratiewe etiketterings op grond van sommiges se negatiewe belewenis van die simbole “Afrikaans” / “Afrikaner” – en ook argumente ter ondersteuning van die uitbreiding van Engels as linqua franca – is dit tans van die ingrypendste werktuie in die redusering van Afrikaans se hoër funksies. Daar is (veral jonger) Afrikaansmoedertaalsprekendes wat hulle wil ontdaan van die taal Afrikaans omdat hulle dit beskou as een van die definiërende eienskappe van die kategorie “Afrikaner” waarmee hulle nie vereenselwig wil word nie.
’n Ander goeie illustrasie van die interseksie van identiteite is te vind in Mbeki se I am an African-toespraak. In die genoemde toespraak vereenselwig Mbeki hom deur die gebruik van die eerstepersooonvoornaamwoord ek baie intiem met verskillende sub-identiteite van ’n multikulturele en multi-etniese Suid-Afrikaanse samelewing deur onder andere die volgende uitdrukkings te gebruik: “I owe me being to the Khoi and San …; I am formed of the migrant who left Europe …; I am the grandchild of the warrior men and women …; I am the grandchild who lays fresh flowers on the Boer graves of St. Helena …; I come of those who were transported from India and China …” Deur sy perspektiefverskuiwings noop hy die aangesprokenes om konseptuele aanpassings te maak. Die bogenoemde taaluitdrukkings bewerkstellig dat die konseptuele integrasie van verskillende groepidentiteite gekarteer word op die ego-identiteit van die spreker. Die taaluitdrukking “I am an African” (binne die toespraakkonteks retories gebruik) onderlê dan uiteindelik ’n konseptuele metafoor wat die identiteit van Afrikaan via die ek na sub-identiteite van ’n diverse Suid-Afrikaanse gemeenskap projekteer. Soos wat dit die geval is met Afrikaneridentiteit, lê hierdie taalstrategie by implikasie die emosionele dimensie van groepsidentiteit bloot – want identiteit word ook gevoel!
Die ervaring van Afrikaans as simbool is hier bo genoem. Identiteit is nie los te dink van die simbole waarmee dit saamhang nie – sy dit beelde, ikone, slagspreuke, of wat ook al. Met verwysing na die terreuraanval van 11 September 2001 wys Lakoff (2001) byvoorbeld daarop dat die beelde wat ons sien en ervaar in ’n intrinsieke verhouding tot ons metafoorsisteem staan, ’n sisteem wat konseptuele metafore onderlê en dus ook op verskeie wyses in taal neerslag vind. In die volgende woorde beskryf hy hoedat die genoemde gebeurtenis konseptueel ’n bepaalde segment van die Amerikaanse identiteit aangetas het:
“The World Trade Center was a potent symbol, tied into our understanding of our country and ourselves in a myriad of ways. All of what we know is physically embodied in our brains. To incorporate the new knowledge requires a physical change in the synapses of our brains, a physical reshaping of our neural system. The physical violence was not only in New York and Washington. Physical changes – violent ones – have been made to the brains of all Americans.”
Soortgelyk mag dit wees dat Afrikaans as negatiewe simbool by sommiges ook dieselfde impak mag gehad het.
7. Slotwoord
In die voorgaande uiteensetting is betoog dat die ervaring van identiteit op die beginsel van vergelyking berus, dat identiteit vanuit ’n bepaalde beheersende punt gedefinieer word, dat konseptuele metafore meestal die taalvergestalting daarvan onderlê, en dat daar ’n hegte verband bestaan tussen die ervaringsbasis van beelde (simbole), identiteit en taal. Maar een vraag is nog onbeantwoord gelaat: Wat is die inherente aard van dít wat vergelykend beleef word, geperspektiveer word, of gekonseptualiseer word? Kortom: wat is die aard van die bestanddele (definiërende eienskappe) van ’n kollektiewe identiteit? ’n Onvolledige inventaris sou kon insluit: gemeenskaplike verbondenheid aan lokaliteit, gemeenskaplike geloofsoortuigings, gemeenskaplike optredes, gemeenskaplike houdings, gemeenskaplike voorkoms, gemeenskaplike gedragspatrone, gemeenskaplike gewoontes, gemeenskaplike denkwyses, ensovoorts, ensovoorts.
Taal maak egter daarvoor voorsiening dat ons ’n kognitiewe greep op hierdie abstrakte begrip kan kry deur ons ervaring van identieit ’n metafoorervaring te maak. Die woord identiteit is self ’n metafoor – so ook die benoemings van individuele identiteite. Lakoff en Johnson (1980:461) noem sodanige metafore fisiese metafore, ook bekend as ontologiese metafore (’n metafoorbenoeming wat ook vroeër in hierdie betoog vermeld is) – ’n soort konseptuele metafoor. Hierdie soort metafoor beeld entiteit- of substansiestatus af op begrippe wat inherent nie daaroor beskik nie, soos die genoemde versameling uiteenlopende kenmerke van identiteit. Sodanige metafore stel ons dan in staat om op grond van die kunsmatige grense wat op hierdie entiteite geprojekteer is, die tersaaklike begripsinhoude talig (dus in grammatikale strukture) op verskillende maniere te hanteer: om dit onder andere te kwantifiseer, te subkategoriseer, te verklein, te besit en te kwalifiseer.
En dit is presies wat in die verlede en tans met Afrikaans gebeur. As metafoor-entiteit word dit verder gepersonifieer as sou dit oor menslike eienskappe beskik om te verdruk, uit te sluit en te blokkeer. Selfs al word dit as werktuig in die hande van ’n agent beskou, bly die metafoorstatus daarvan prominent gehou as ’n geobjektiveerde negatiewe fokuspunt.
In die verlede was die Afrikaans-metafoor (as simbool) ook teenoorgesteld funksioneel in die instandhouding van ’n Afrikanerskapkategorie en is bepaalde individue voorgehou as sou hulle beste voorbeelde (prototipes) van die kategorie “Afrikaner” wees. Daar het egter nog nooit ’ń prototipiese Afrikaner bestaan nie op grond van die feit dat daar hoogstens ’n prototipeskema vir die kategorie ontwikkel is en geen enkele individu volkome die skema sou kon verteenwoordig nie. Die taal Afrikaans was egter een van die dominante definiërende eienskappe van die skema, maar nie ’n gewaarborge eienskap vir insluiting tot die kategorie soos beskou en geëvalueer vanuit ’n bepaalde dominante beheersende punt nie. Daarom was daar en is daar randfigure op die grense van die kategorie. ’n Geglobaliseerde en sekulêre wêreld en ’n nuwe ideologiese raamwerk waarbinne die Afrikaner (binne die Suid-Afrikaanse konteks) hom tans bevind, tesame met die gestigmatiseerde status van Afrikaans, Afrikaner en Afrikanerskap, het nuwe beheersende punte tot gevolg – beheersende punte wat moet dien as vertrekpunte vir die moontlike identifiserende veranderlikes vir ’n nuwe groepsidentiteit vir Afrikaansmoedertaalsprekers. Uiteraard sal sodanige kollektiewe identiteit moet losstaan van bepaalde groepe se unieke ideologieë, waardes en ander groepsbepalende veranderlikes.
Daar bestaan waarskynlik nog oorblyfsels van Afrikanernasionalisme binne bepaalde Afrikaanse kultuurorganisasies – en dit is nie noodwendig verkeerd nie, want die meeste van hulle deel nog die gemene deler Afrikaans wat ook die die bindingsfaktor van die eertydse Afrikanerkategorie was, gemeet aan die eise van Afrikanerskap. Word die Afrikaansmoedertaalsprekers se emosionele Afrikaansverbondenheid egter op ’n kontinuum beoordeel wat strek vanaf Afrikaans-weersin deur Afrikaans-apatie tot Afrikaans-passie, het die pendulum waarskynlik grootliks weg van ’n passie oor Afrikaans geswaai, veral by jonger mense wat aan ’n ander interpretasie van die Afrikanergeskiedenis blootgestel is – sou ’n mens gerapporteerde studentemenings as ’n maatstaf kon neem.
Die leemte vir Afrikaans wat deur die verbrokkelende ideologie van Afrikanerskap gelaat is, word waarskynlik tans sonder ideologiese bagasie gevul deur die Afrikaanse Taalraad, geweeg aan hulle visie/missie-stelling: “Kernwaardes: Eenheid in diversiteit: Die Afrikaanse gemeenskap deur die ATR tot ʼn eenheid saamgesnoer. Integriteit: In ons interne en eksterne verhoudinge behandel ons alle mense met respek, opregtheid en eerlikheid. Inklusiwiteit: Die ATR is ʼn inklusiewe organisasie wat alle mense saamsnoer rondom Afrikaans.” (http://afrikaansetaalraad.co.za/).
Tans en in die toekoms gaan die ATR waarskynlik ’n baie belangrike rol ten opsigte van die toekoms van Afrikaans se hoër funksies speel.
Dit is egter nodig om ten spyte van die ATR se lofwaardige werk ander faktore te noem wat Afrikaans nie ten goede kom nie, waarvan enkeles genoem word.
Daar is ander besluitnemers (in verskillende politieke en institusionele rolle) wat die toekoms van Afrikaans se hoër funksies in die verlede, tans en in die toekoms bepaal het, bepaal en sal bepaal. Van hulle is nie moedertaalsprekers van Afrikaans nie, ander wel. Daar bestaan rede om te glo dat van die Afrikaansmoedertaalsprekers wat hulle in hierdie rolle bevind, die opvatting huldig dat taal slegs ’n kommunikasiemedium is, wat natuurlik ’n ongekompliseerde besluit ten opsigte van Afrikaans vir hulle moontlik en maklik maak – ten koste van Afrikaans!
Die gebruik van Afrikaans geskied egter nie net op hoërfunksievlak nie. Op die algemene gebruiksvlak bestaan daar lekemenings oor Afrikaans wat nie sal “sterf” nie omdat dit ’n lewendige letterkunde het, omdat Afrikaanse musiek steeds gedy en omdat Afrikaans steeds gepraat sal word. Sodanige argwaan oor Afrikaans strek Afrikaans ook nie ten goede nie.
Sedert 1994 was daar nie net ’n geweldige aftakeling wat Afrikaans se hoër funksies betref nie. ’n Aspek van agteruitgang wat maklik misgekyk word, is die erosie van Afrikaans se grammatikale strukture in skriftelike kommunikasie by sommige taalgebruikers – veral wat die Afrikaanse sintaksis (sin) betref. Sommige dagblaaie laat hulle daardeur ken. Vergelyk maar die gebruik van bysinne – en veral betreklike bysinne – as selfstandige (outonome) sinne in hierdie verband. Stilistiese motiverings in sulke gevalle is meestal hoogs twyfelagtig. Dit kan onder andere daaraan toegeskryf word dat van die Afrikaansdepartemente by bepaalde universiteite kwyn, maar ook – en dit is miskien die belangrikste rede – dat van studente wat in professionele rigtings opgelei word waarin taal (hier Afrikaans) hulle basiese gebruiksinstrument is, nie meer taalkursusse as verpligte modules voorgeskryf het nie.
Daar kan voortgegaan word om nog faktore te noem wat Afrikaans negatief beïnvloed, maar daar word volstaan met ’n laaste opmerking in hierdie verband. Die ideologiese en politieke kragvelde waarbinne Afrikaans hom tans bevind, word dikwels geringgeskat – veral ook wat politieke gedienstigheid betref.
En wat Afrikaneridentiteit as sodanig betref, moet in gedagte gehou word dat postmodernisme – tesame met ’n radikaal-veranderde Suid-Afrika – die inherente broosheid van die kunsmatige grense aan die lig gebring het, grense wat ’n hele aantal (veral ontologiese) identiteitsmetafore in stand gehou het, metafore wat stabiliteit verleen het aan ’n selfbeeld en ’n groepsbeeld, kulturele, religieuse en ruimtelike plasing, asook sosiale en interpersoonlike verhoudings. Postmodernisme het ook in ’n multikulturele, veranderende en globaliserende wêreld hierdie kontoere van identiteit laat vervaag. Op grond van die herstrukturering van ’n onderliggende metafoorsisteem het postmodernisme ’n kognitiewe heroriëntasie teweeggebring, sodanig dat ’n kontemporêre versugting in ooreenstemming met Bart Nel sou kon wees: Ek is Bart Nel van toe af, maar ek is nie meer hy nie.
Verwysings
Black, Max. 1962. Metaphor. Models and Metaphors. Studies in Language and Philosophy. Ithaca and London: Cornell University Press, p. 2-47.
De Tollenaere, F. & A.J. Persijn. 1982. Van Dale handwoordenboek der Nederlandse taal. Negende druk, geheel omgewerkt en aangevuld. Utrecht [etc.].
De Vries, M. & L.A. te Winkel. 1882. Woordenboek der Nederlandsche Taal. ’S-Gravenhage [etc.].
Geerts, G. & T. den Boon. 1999. Van Dale groot woordenboek der Nederlandse taal. Eerste deel A-I. Dertiende herziene uitgave. Utrecht [etc.]
Knuttel, J.A.N. & C.H.A. Kruyskamp, 1956, Woordenboek der Nederlandsche taal. Supplement: eerste deel. ’s-Gravenhage [etc.].
Lakoff, George & Mark Johnson. 1980. Conceptual metaphor in everyday language. The Journal of Philosophy 77(8): 453-486.
Lakoff, George. 2001. 11 September 2001. http://website.leidenuniv.nl/~verhagena/11-sept-01/Lakoff.pdf
Lakoff, George & Johnson, Mark. 1997. Philosophy in the flesh. Berkeley (elektroniese kopie).
Langacker, Ronald W. 1993. Reference-point constructions. Cognitive Linguistics 4(1): 1-38.
Langacker, Ronald W. 1990. ‘Subjectification’. Cognitive linguistics 1(1): 5-38.
Logos Library System. 1995. Die Bybel. Nuwe Afrikaanse Vertaling, 1983 (elektroniese kopie). Bible Software 2.0. Washington: Logos Research Systems.
Louw, Chris. 2000. Boetman is die bliksem in. Beeld (elektroniese kopie): 9 Mei 2000.
Mansvelt, N. 1880. ‘Het Afrikaansch’, in: G.S. Nienaber, Vroeë opvattings oor Afrikaans as taal. Johannesburg. 1984, p. 57-72.
Mbeki, Thabo. 1996. The Deputy President’s statement, on behalf of the ANC, at the adoption of South Africa’s 1996 Constitution Bill, 8 May 1996. The African Renaissance. Konrad Adenauer Stiftung Occasional Papers, May, 1998, 5-7.
Nienaber, G.S. 1949. Oor Afrikaans. Johannesburg:APB.
Nienaber, G.S. 1984. Vroeë opvattings oor Afrikaans as taal. Johannesburg.
Oakley, Todd V. 1998. Conceptual blending, narrative discourse, and rhetoric. Cognitive Linguistics 9(4): 321-360.
Ponelis, Fritz. 1998. Standaardafrikaans en die Afrikaanse taalfamilie. Annale, Universiteit van Stellenbosch: Goodwood.
Van Dale. 1917. Van Dale’s Handwoordenboek der Nederlandsche Taal. Tweede herziene uitgave. ’S-Gravenhage.
Van der Merwe, H.J.J.M. 1968. Patriot-Woordeboek. Heruitgegee en van ’n voorwoord voorsien. Pretoria.
Van der Merwe, H.J.J.M. 1972. Die ontstaan van Afrikaans. In: H.J.J.M. van der Merwe (red.), Afrikaans - sy aard en ontwikkeling. Pretoria, p. 15-66.
Van Jaarsveld, F.A. 1980. Die ontstaan van Afrikanernasionalisme honderd jaar gelede. In: Tydskrif vir geesteswetenskappe 20(3): 220-231.
Van Sterkenburg, P.G.J. & W.J.J. Pijnenburg. 1984. Van Dale groot woordenboek van hedendaagse Nederlands. Utrecht [etc.].
Van Melle, J. 1960. Bart Nel. Pretoria: Van Schaik.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking