AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL VERSKYN SKAKELS NA ANDER ARTIKELS DEUR DIESELFDE OUTEUR
My toenmalige letterkundekollega, prof. Willie Burger (tans hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria), het my destyds gevra om ’n gaslesing oor die metafoor vir sy letterkunde-honneursstudente aan te bied. Wat hier onder volg, is aantekeninge wat ek gemaak het ter voorbereiding van die lesing.
Die
metafoor: ’n oorsig
W.J. Botha
“Thomas did not realize at the
time that metaphors are dangerous. Metaphors are not to be trifled with. A
single metaphor can give birth to love.” (Kundera,
1984).
1. Enkele beskouings ten opsigte van die metafoor
Dirven (1994) wys daarop
dat die definisie van ’n metafoor eintlik self ’n metafoor is: die Griekse
woord meta-ferein
beteken “om oor te dra”.
Aristoteles: “Metafoor is die toepassing op een saak van
’n naam behorende aan ’n ander saak, die oordrag kan wees óf van genus na
spesie óf van spesie na genus, óf van spesie na spesie, óf op grond van
analogie” (Poetica: XXI,4).
Kittay (1987): “Metaphor is not a unit of discourse, but a use of discourse,
and as such belongs to pragmatics”.
Volgens Tourangeau (1982) behels die metafoor
die oorspronklike siening van twee onderwerpe, op ’n oorspronklike manier
voorgestel, en laat die metafoor ons verbande tussen twee domeine op ’n nuwe
manier insien: “(P)art of filling out a metaphor consists of viewing a
subject from the vantage point of a particular domain; … beliefs about the one
subject must be altered in several ways to fit the other.”
Tradisioneel: substitusie (m = l); vergelyking.
2. Kognitiewe
beskouing van die metafoor
Max Black (1962)
Die kognitiewe benadering
tot die metafoor het reeds sy beslag gekry in Black (1962) se interaksieteorie oor die metafoor.
Black wou met sy interaksiebeskouing wegbeweeg van die tradisionele
substitusie- en vergelykingsverklarings. Vereenvoudig gestel impliseer hierdie
beskouing dat by die gebruik van die metafoor twee gedagtes oor verskillende
dinge gesamentlik geaktiveer word en deur ’n enkele woord of uitdrukking gedra
word, waarvan die betekenis die resultaat van die interaksie is. Hy gebruik die
term “fokale woord” vir die betrokke metafoorwoord/frase wat
betekenisuitbreiding ondergaan as gevolg van die interaksie. In ’n gegewe
metaforiese konteks (byvoorbeeld reënboognasie) verkry die fokale woord (nasie)
’n nuwe betekenis, wat nie eintlik die betekenis daarvan in die letterlike
gebruik is nie, en ook nie eintlik die betekenis is wat enige letterlike
substituut sou hê nie. Die betekenisdomein wat deur betekenisuitbreiding as
resultaat van die interaksie tot stand gekom het, noem hy die metafoorraam: die
nuwe konteks. Om die metafoor te begryp, moet die ontvanger dus sowel die ou as
nuwe betekenisse van die woord saam interpreteer.
Vir die metafoor onderskei
Black ’n “system of commonplaces”, kennis wat die ontvanger nodig het op grond
waarvan sekere brokkies inligting deurgelaat word of gekeer word. In die geval
van die reënboognasie-metafoor
filtreer en transformeer die metafoor vanuit die “system of commonplaces”
inligting sodanig dat ’n nuwe betekenisstruktuur tot stand kom ten opsigte
waarvan nasie verstaan word: die
versmelting van verskillende etniese kleurgroepe met behoud van
kleuroutonimiteit. Die “system of commonplaces” verwys nie noodwendig na die
woordeboekdefinisie van die woord nie; dit kan selfs halwe waarhede of valse
opvattings ten opsigte van die betrokke woord se betekenis impliseer. Kortom:
die “system of commonplaces” is gemeenskap- of kultuurgebonde.
Kartering
Die kognitiewe benadering
tot die metafoor sluit nou by die interaksiebeskouing van Black aan, alhoewel
bepaalde terme binne die twee benaderings verskillende verwysingsmoontlikhede
het, byvoorbeeld die begrip “raam”. Binne eersgenoemde beskouing bied die
begrip konseptuele metafoor ’n funksionele beskrywingsraam vir die
metafoor. Die
metafoor word hiervolgens beoordeel as ’n konseptuele karteringsproses:
“(t)he basic logic of (a) donor domain (brondomein)
… is applied to a different area of experience, the receptor domain (doelwitdomein)” (Taylor, 1995).
Vergelyk die volgende voorbeelde:
Some say love (doelwitdomein), it is a river
(brondomein) / that drowns the tender reed.
Some say love
(doelwitdomein), it is a razor (brondomein)
/ that leaves your soul to bleed.
Some say love (doelwitdomein),
it is a hunger (brondomein),
/ an endless
aching need.
I say love (doelwitdomein), it is a flower (brondomein) / and you, its only seed
(brondomein).
Die betreklike bysinne en nabepalings by die
betrokke brondomein-naamwoordstukke (byvoorbeeld that
drowns the tender reed en andere) funksioneer
as verdere spesifikasies van die referente van die brondomeine, meestal ter
verdere verkonkretisering. Hierdie aspek sal nie verder bespreek word nie.
Taylor wys verder daarop
dat dié proses ’n aantal metaforiese uitvloeisels (“entailments”) tot gevolg
het – wat ons by konseptuele versmelting bring.
Konseptuele versmelting (“blending”)
Die kognitiewe struktuur
van ’n metafoor berus verder op die beginsel van konseptuele versmelting, “a
general cognitive process … that operates over mental spaces as inputs”
(Fauconnier & Turner, 1996). Oakley (1998) wys daarop dat konseptuele
versmelting sodanig werk dat dit agtergrondaannames in ooreenstemmende
taalvorme neerslag laat vind. Hy beskryf die proses soos volg:
“Working
over an array of mental spaces –
online conceptual packets built up as we think, talk, and understand – blending
occurs when two or more input spaces
in cooperation with a generic space project partial structure into a fourth space
known as the blend. The blend inherits partial structure from each input
space and develops its own emergent
structure.”
Gevolglik word die
metafoor teen die agtergrond van die konseptuele versmelting verstaan.
In die Black-beskouing
word in hierdie verband na die
“metafoorraam” verwys: die nuwe konteks. Die betekenisstruktuur
van die resulterende versmelte ruimte (“blend”) put egter ook uit ’n generiese
ruimte, “a distinct mental space operating at a low level of description which
can provide the category, frame, role, identity, or image-schematic rationale
for cross-domain mapping” (vergelyk Oakley, 1998). In
’n oppervlakkige vergelyking sou generiese ruimte aan Black se “system of
commonplaces” gelykgestel kon word. Die Black-term impliseer egter meer as
generiese ruimte. Dit omvat ook wat binne die kognitiewe opvatting as “raam”
bekend staan (“configurattions of culture-based knowledge ... knowledge which
is shared, or which is believed to be shared, by at least some segment of a
speech community” – vergelyk Taylor, 1995); asook die term “kulturele
script”, “de culturele waarden en normen voor een of ander
aspect of fragment van het gedrag van de mens in een bepaalde cultuur” (vergelyk
Dirven & Verspoor, 1999).
Konseptuele
metafore (subkategorie
van die konvensionele metafore)
Wat is vreemd aan die volgende
illustrasie?
Op grond van en gebaseer op die meeste mense se (geografiese) kennis van die ruimtelike kaartuitdrukking van windrigtings word noord is bo as ’n konseptuele metafoor ervaar – getransponeer vanuit die ruimtelike oriëntasie van die menslike liggaam. Daarom sal die bostaande voorstelling vir die meeste mense vreemd aandoen.
Dit is in ooreenstemming met die Lakoff &
Johnson-uitspraak (1980): “Our concepts structure what we perceive, how we get around in the
world, and how we relate to other people. Our conceptual system thus plays a
central role in defining our everyday
realities. If we are right in suggesting that our conceptual system is largely
metaphorical, then the way we think, what we experience, and what we do every
day is very much a matter of metaphor.”
Op grond van die bostaande insig
word drie soorte konvensionele
metafore onderskei, wat op die oog af na letterlike
taalgebruik lyk. Dit ontken nie die bestaan van kreatiewe metafore nie, maar
albei soorte kan dikwels eksemplare wees van dieselfde algemene metafoor.
Vergelyk die volgende respektiewelik kreatiewe en konvensionele metafore wat
albei gebaseer is op die volgende algemene metafoor: teorieë is geboue:
-
Sy teorie oor X
het baie gange (kreatiewe metafoor / taalmetafoor)
-
Hy het sy teorie
oor X baie sistematies gestruktureer (konvensionele
metafoor)
Onderverdeling van konvensionele
metafore
-
Strukturele
metafore
/ konseptuele metafore
Vergelyk
die volgende konseptuele metafore uit die Bybel:
Niemand het God nog ooit
gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in [liefde is ’n vuller] ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik (1 Johannes
4:12).
En ons ken die liefde wat
God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly [liefde is ’n
houer], bly in God en God
bly in hom (1
Johannes 4:16).
In hierdie voorbeelde word die ervaring van liefde (’n
abstraksie) verstaan en weergegee in meer konkrete begripservarings van vullers en houers, gebaseer op
prekonseptuele beeldskematiese ervarings in die proses van taalverwerwing.
Soortgelyk
word liefde (’n abstraksie) verstaan op grond van prekonseptuele kragervarings
– liefde is ’n krag:
Die liefde van Christus
dring [liefde is ’n
krag] ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir
almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het (2 Korintiërs
5:14).
Uiteindelik struktureer ’n hele konstellasie konseptuele metafore (die
besonderhede daarvan kan nie hier uitgespel word nie) kontekstueel die volgende metafoor in die Bybel: God is liefde.
- Fisiese (ontologiese) metafore
Fisiese metafore – word dikwels ook ontologiese [“the nature of being”] metafore genoem.
Ontologiese
metafore dui op metafore “wat entiteits- of substansiestatus
afbeeld op konsepte wat nie hierdie status het nie (bv. metafore soos IDEES IS
ENTITEITE en WOORDE IS HOUERS)”. Ontologiese metafore word veral gebruik “om
kunsmatige grense op entiteite te projekteer wat andersins nie ’n diskrete of
fisiese gebonde karakter het nie, d.i. wesentlik nie as substansies of entiteite bestaan nie (bv. berge,
straathoeke, heinings, pryse, woede, liefde, angs, ens.). Die kognitiewe
noodsaak vir hierdie projeksies is dat dit die mens in staat stel om na hierdie
ongebonde entiteite te verwys, hulle te kategoriseer, te groepeer en te
kwantifiseer; kortom: om op ’n rasionele wyse met hierdie konsepte om te gaan. Gebeure
en handelinge word metafories byvoorbeeld gekonseptualiseer as voorwerpe,
aktiwiteite as substansies en toestande as houers”. Personifikasie vorm ’n subklas van ontologiese metafore deurdat
nie-menslike entiteite as menslike entiteite gekonseptualiseer word en sodoende
dus binne die menslike begripsveld gebring word, bv. Tyd heel wonde.
- Oriëntasiemetafore
Oriëntasiemetafore struktureer nie die een konsep in terme
van ’n ander nie, maar organiseer ’n hele sisteem konsepte in terme van mekaar.
Heelwat basiese betekenisstrukture is terugherleibaar na die individu se
perseptuele en liggaamlike interaksie met sy omgewing. Kinders se belewing van
byvoorbeeld die beweging en vorms van voorwerpe, die tekstuur van objekte en
interaksies met ander mense lei tot basiese skematiese strukture (beeldskemas)
waarvolgens eerste fundamentele belewings georganiseer word. Oriëntasiemetafore verwys dus in
besonder na metafore waar die brondomein gekoppel kan word aan die mens se
belewing van sy ruimtelike oriëntasie. Hierdie basiese ruimtelike oriëntasie
van die brondomein word dan ook oordragtelik in die doeldomein weerspieël. Die
tipes metafore wat veral onder hierdie tipe metafoor ressorteer, is byvoorbeeld
metafore wat ’n voor/agter-, in/uit-, op/af-,
diep/vlak-, sentrum/periferie-, naby/ver-
en links/regs-oriëntasie as basis het.
Vergelyk die polarisasie t.o.v. verskillende
oriëntasies waar bo, voor en regs positief en onder,
agter en links negatief
gemerk word in Afrikaans talig vergestalt:
POSITIEF:
bo, voor, regs NEGATIEF:
onder, agter, links
voorspoed agterbaks
voorreg agteraf
vooraanstaande
agterstraat
voorkeur agterdog
die
boonste sport onderduims
boontoe
streef ondergrawe
bobaas ondergang
hou
die blink kant bo die onderspit delf
iemand
se regterhand linkse streke
iemand
met twee regterhande iemand met twee linkerhande
nie links wees nie
links
van die regering wees
Neuralenetwerkteorie
Vergelyk die volgende uitsprake van Lakoff
& Johson (Philosophy in the flesh):
“The first and most important thing to realize about categorization
is that it is an inescapable consequence of our neural makeup. We are neural
beings. Our brains each have 100 billion neurons and 100 trillion synaptic
connections. It is common in the brain for information to be passed from one
dense ensemble of neurons to another dense ensemble via a relatively sparse set
of connections. Whenever this happens, the pattern of activation distributed
over the first set of neurons is too great to be represented in a one-to-one
manner in the sparse set of connections. Therefore, the sparse set of connections
necessarily groups together certain input patterns in mapping them across to
the output ensemble. Whenever a neural ensemble provides the same output with
different inputs, there is neural categorization.”
“What metaphor does is to allow us to reason about abstract domains using
inferences from concrete domains that are highly structured in our experience.
It allows us to map inference patterns from concrete to abstract domains. All
metaphorical inference, it appears, is a projection of sensorimotor inference
patterns onto abstract domains. Neural projections from sensorimotor areas of
the brain to areas responsible for abstract reason appear to be responsible for
metaphorical thought: they permit us to take nonmetaphorical inference
mechanisms from the sensorimotor areas and put them to use in carrying out
abstract inferences. … The linguistic function of metaphor is secondary.”
Gebaremetafore
Eve Sweetser van die Department of Linguistics, University of California
at Berkeley, beweer onder andere die volgende wat gebaremetafore betref:
-
Handgebare impliseer meer genuanseerde
“betekenisse” as wat algemeen as “body language” bekend staan.
-
In ooreenstemming met een van die belangrike
beginsels van metafore – om abstraksies meer konkreet voor te stel – dien
handgebare onder andere as metafore.
- Die gebareruimte
(“gesture space”) konstitueer belangrike “betekenis-onderdele”.
3. Enkele slotgedagtes
- Die metafoor
is in die eerste plek ’n begripsinstrument, ’n kognitiewe werktuig wat in taal gemanifesteer
word – omdat die wyse waarop ons konseptualiseer, metafories van aard is.
- Die wese van
die metafoor is: “… understanding and experiencing one kind of thing or
experience in terms of another” (Lakoff & Johnson, 1980).
- Ons volstaan
met die volgende beskrywing van die metafoor, aldus Lakoff (1990:49):
Wat die metafoor tot stand bring, is nie soseer
’n besondere woord of uitdrukking nie. Die metafoor kom tot stand op grond van
ontologiese en epistemiese kartering wat vanaf ’n brondomein na ’n
doelwitdomein geskied. Dit is dus nie slegs taal wat die metafoor konstitueer
nie - maar ook denke en rede. Die taal vergestalt slegs die karteringsproses.
Opmerking: ’n Bronnelys word nie
hier weergegee nie omdat hierdie oorsig as onderrigaantekeninge gegeld het en
dit dus nie ’n wesenlike artikel is nie.